Louisa du Toit Omnibus 10. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit


Скачать книгу

      “Vermy die plekke waar die plae val,” haal hy aan.

      Toe vra sy die vraag wat sy jare lank al wou: “Het oom self sulke plekke geken?”

      Hy antwoord nie direk nie. Hy hou stil in die klein rousteenwaenhuis waarvan die sinkdeur oopstaan. Alles is rondom netjies gepak, op die rakke en op die vloer, met oom Kola se gereedskap en sement en planke en blikkies vol skroewe en goeters. Dis warm gestowe van die direkte son op die plat sinkdak, waar die woonhuis tog darem ’n soort plafon het.

      “Om in ’n getroude mens sin te hê,” sê hy dan, terwyl hy uitklim met sy rug na haar, “is soos om elke dag ’n moedswillige boerbok aan te keer en kort vas te maak. Tou om die horings.”

      Sy ken sy manier van praat, bolangs maar met ’n dieper betekenis. Sy weet dus wat hy bedoel: die menslike hart. Hy het nou die middag die beeld gebruik, toe sy die kos by die kombuistafel sit en inwurg het. “En word die bok later mak, oom? Of net kopsku?”

      “Meer as kopsku.” Hy haal orige stukkies plank van die bak af en staanmaak dit netjies teen die brokkelrige muur. “Hy raak hatig.”

      Bina word lam van begrip. Dis die tweede skok, so kort op die eerste. Sy kan net flarde van gedagtes georden kry. Oom Kola het soms stukwerk by Tanna se oorlede man gedoen, op hierdie selfde plek. Was Tanna se arms toe nog glad en saf? Haar hare dig en in die krul? Sy ken mos die stokou trouportretjie teen die muur.

      Het die jong Van Reenen-vrou geweet van die verliefdheid van die nukkerige jong man wat so rondwerk, wat in die riet-en-kleihuis sy ma oppas? Of het hy sy binneoorlog in stilte gevoer? So hewig, dat hy geleer het om haar te haat, selfs toe sy weduwee raak, selfs toe die lewe hulle onder een dak saamgooi?

      7

      Dis sononder toe Elzar daar aankom.

      Hierdie keer stap hy deur na waar Bina vir Makkie aan ’t melk is. “Een keer in my lewe moet ek hierdie verskynsel van naby sien,” verklaar hy. “’n Mooi, moderne jong meisie wat ’n bok melk. Ek wens ek was ’n groot kunstenaar. Soos Johannes Vermeer, wat Het Melkmeisje geskilder het.”

      “Is jy ’n kunskenner ook?” vra sy. Nie te verbaas nie, want hy was op universiteit en het seker nie net leer preek nie.

      “Nee, maar Tanja …”

      “Aha, die aanstaande. En sy het jou van Het Melkmeisje vertel … hoe lank gelede?” Tanja; maklik om te onthou, dis naby “Tanna”.

      “Ek sal eerlik wees: onlangs. Ons foonrekening is hoog, ek sal maar my persoonlike oproepe betaal anders gaan die kerkraad kla.”

      “Niks minder as reg nie. Maar, laat ek raai: jy het haar vertel dat hier sowaar nog ’n meisie is wat ’n bok melk. Toe gaan sy navorsing doen.”

      “Hoe reg is jy.”

      “Ek is bly as ek haar tot navorsing inspireer.”

      “Ek en sy het ’n ewige redenasie oor goeie afdrukke van klassieke meesterstukke, of oorspronklike werk van onbekende skilders.”

      “En? Wie wen? Wat gaan teen die pastoriemure kom? Ek kan nie wag nie.”

      “Spot maar.” Hy sak op sy hurke langs haar neer. “Dink jy ek sal dit ook regkry?”

      “Met vuil hande?”

      “Hier loop die watervoor mos. Sê net.” Sy voete het met sy koms ’n ballerjaktak raakgetrap en die mentgeur van die gekneusde blare hang om hulle.

      “Dis Makkie wat moet sê. Sy ken net my vingers.”

      “Gelukkige Makkie.”

      “Jy staan op troue, dominee.”

      “O ja, ek vergeet.” Hy klap hom teen die kop. “Kan ek nou? Probeer melk, bedoel ek?”

      “Behalwe dat dit nie so maklik is soos dit lyk nie, is ek feitlik klaar. Sy begin opdroog.”

      “So, sy moet eers weer ’n slag trou en ’n boklammetjie kry voor sy nuwe melk het. Ek het darem familie op plase, hoor.”

      “Ja, dalk moet oom Kola, solank ek weg is …” Dit het uitgeglip.

      “Ek hoor van die weggaan, ja. G’n wonder jou hare is so blink gewas nie.”

      Sy voel selfbewus omdat dit nog nie vasgebind is nie. ’n Redelike boskaas.

      “Jou Tanna daar binne is so verhuil dat haar oë soos twee verdrinkte rosyntjies in haar kop sit. Jy kon my darem gister in die bib gesê het.”

      “Ek het jou mos gesê ek sal my eie reëlings tref, het ek nie?”

      “Jy was baie vaag. Maar toe sê meneer Duraan my netnou jy wil bietjie weg.”

      “Jy was daar by hulle?” ys sy. Dinge is juis nou so sensitief. Maar hy wou mos gisteraand al kom, toe oom Daan hom weggekeer het met die storie dat hulle moet slag.

      “Ek moes ’n draai maak. Dis my werk. Behalwe preek, doop, trou, katkiseer, begrawe. Nie die lekkerste deel, hierdie vredemakery nie, maar ek doen dit. Soos jy in die winkel kardoesies vul en toffies aftel.”

      “So, hy en tant Rykie het nog nie gery nie? Dit word laat.”

      “Nee, maar hulle was op die punt. Hulle slaap glo vannag eers by familie op ’n plaas, naby iewers. Ek het belowe om met hulle seun op te volg.”

      Hy gaan met Dawid praat. Oor vergifnis. Versoening. Hoe gaan Dawid dit ontvang? Hom dalk vererg? Hy is goedig van aard, maar hy is ’n Duraan en kan sy man staan, en geen mens laat buitendien graag in sy privaatsake krap nie, deur wie ook al.

      “Maar hoe kon oom Daan vir jou sê dat ek weggaan? Hy weet mos net dat ek verlof vat so lank as wat hulle weg is.”

      “’n Verstandige stap,” knik hy. “Maar nee, dis eintlik mevrou Duraan wat uitgevind het jy gaan weg. Sy het glo vanmiddag jou oom Kola oor haar foon hoor reëlings tref.”

      “Geluk, Elzar, jy begin verstaan ons tromme alte goed. Die nuustromme, soos in die oerwoude. Weet jy wat het ek alles van gister af gehoor? Dat ek en jy in die bib saamkoek, dat Tanna ’n galblaasoperasie moet ondergaan.”

      Sy begin vertel maar toe sy by Japie en die kardoes kom, lag Elzar so dat hy kantel en omval. Hy bly net daar lê, magteloos – sodat sy, ook laggend, die melkbeker eenkant op die kweek neersit en hom probeer optrek, haar vingers sterk om syne. Die sonbesie het hom stom geskrik. “Ja, toe, stil jy ’n slag,” praat Elzar in die boom in. “Ons het groter probleme hier benede.”

      “Jy hou jou aspris swaar,” verwyt sy.

      “Nee, ek is so swaar. My hart weeg ’n ton. As ek opstaan, gaan dit deurval op my voete. Dis die vingers van jou.”

      “Jy speel met my,” besef sy en los sy hand soos ’n warm patat. “Jy is net ’n ordinêre mansmens, hoor jy?” Maar sy is nie regtig kwaad nie, net ontsteld oor die aangename sensasie van hulle vingers wat so maklik verstrengel het.

      Hy staan op, stof hom af, vat die beker by haar, teug daaruit. “Hmm … ek voel hoe die kalsium en vitamines my binnestroom. Amper soos Popeye met die spinasie.”

      “Jy het ’n wit snor.”

      “Vee jy dit vir my af?”

      “O nee, netnou gryp jy my hand, en dan my hele lyf, en wat moet ek dan doen?” spot sy.

      “Jy lees my gedagtes.” Hy vee die skuimsnor met sy hand se rugkant weg, lek dit af. Nou sit daar op sy bolip net die donkerige stuwing van stoppels onder die vel. “Nou ja, ek wou nog altyd ’n moestas hê, maar Tanja …”

      Indien hy doelbewus die te intieme samesyn wou stopsit, het hy dit reggekry. Bina vind dit jammer. Sy het dit geniet om net bietjie te jil en selfs te flirt, om te vergeet van die wagtende ommekeer van haar afgebakende lewetjie. Met Dawid durf sy nooit so vrypostig raak nie, Japie is te simpel daarvoor.

      Juis


Скачать книгу