Louisa du Toit Omnibus 10. Louisa du Toit

Читать онлайн книгу.

Louisa du Toit Omnibus 10 - Louisa du Toit


Скачать книгу
Dawid, ek gaan liewer meel en suiker afmaak.”

      Sy sorg dat sy die stoorkamer se deur agter haar toemaak. Daar is ’n tafeltjie en ’n skaal en skepskoppies in die groot sakke, en sy begin kardoese vul.

      Sy voel nie gelukkig nie. Dis tog ook nie hoe sy dit wil hê nie. Al moet dit wees dat sy op hierdie manier vir Dawid in die hande kry, is dit nie die regte manier nie. Moet sy afloer en afluister tot hy deur Molly op die ashoop gegooi word, en dan agterna loop om hom op te tel? En die band tussen hom en sy dogtertjie sal hy nooit heeltemal kan losmaak nie, anders as haar eie pa. ’n Ontreddering stuif in haar op, ’n ondraaglike weemoed oor wat in haar eie verlede gebeur het.

      Haar pa vra nooit eers na haar uit, stuur nooit op haar verjaardag ’n kaartjie nie. Hy het haar glo daardie enkele keer te siene probeer kry, en nooit daarna weer nie. Of hy ooit geld gestuur het, betwyfel sy sterk. Hy nooi haar nooit om te kom kuier nie.

      Moet dit so word met Dawid-hulle se dogtertjie met die fyn krulhaartjies en valletjiesbroekie? Dawid kan maklik praat, maar geen hof sal die kind vir hom gee nie. Molly drink nie en loop nie rond nie, sy speel behoorlik pop met die kind.

      Toe die stemme stiller raak, waag sy dit weer die winkel in. Sy kom agter dat hulle steeds gesels, net sagter nou, omdat oom Daan nie ’n man is wat graag sy stem verhef nie.

      Sy kan nie terug in die stoorkamer spring nie en moet ’n paar sinne hoor: “… nie tevrede, sy wil teen Tafelberg …” “… net miljoenêrs …” “Huur … paar kamers by die berg, daar sal tog … iets goedkopers …” “… jaag Pa my nou ook weg?” “Nee, maar julle … moeilikhede … nie gewoond … vrede in huis.”

      Toe Dawid haar sien, hou hy op met praat. “Nou ja, Pa, ons praat later. Bina gee mos te kenne sy wil nie na ons nonsens luister nie.” Hy draai na haar toe, en sy lagstem is terug: “Jy moet oppas, Japie loop en rondvertel die nuwe predikantjie kuier by jou.”

      Sy skrik tot in haar siel. Was sy nie juis daarvoor bang nie? As sy vir Japie nou beetkry, duik sy sommer sy adamsappel in. Maar hy sal dalk dink sy speel nooi-en-kêrel met hom. Sy sal vir Elzar moet waarsku, en gou ook. As sy hom môre by die biblioteek sien, moet daar geen lang geselsies wees nie. Mure en selfs boekrakke het ore.

      “Jy weet tog seker Japie praat nonsens,” sê sy vir Dawid.

      “Nee, hoe sal ek weet?” Sy oë kyk vreemd na haar, met ’n soort stil verwyt, asof sy hom in die steek gelaat het, asof hy en sy van mekaar behoort te weet, op ’n spesiale manier. Wat dink hy van hom? En wat dink hy van haar? En hoekom voel sy nie gebelg nie, net eindeloos verlore soos iemand wat totaal alleen op die aarde is?

      Dis waar, sy voel nie meer so alleen met haar probleem sedert sy van Elzar s’n gehoor het nie. Maar sy durf sy vriendskap nie geniet nie, dit blyk nou duidelik.

      Aldus is Bina onseker oor hoe om op te tree toe sy die volgende dag, besig tussen die biblioteekrakke, Elzar se stem by die ontvangstoonbank hoor. “Ek het gou weggebreek, het nou-nou ’n vergadering van die Eiendomskommissie by die pastorie. Maar mevrou weet mos al, boeke moet ek hê. Al lees ek eers twee-uur in die nag, ek moet lees.”

      Bina weet nie of sy haar lyf skaars moet hou, of na vore tree en hom doodgewoon formeel groet nie. Sy besluit op laasgenoemde, en neem solank tant Rykie se boeke vorentoe. “O, môre, juffrou O’Connell,” groet hy, so effens hoogdrawend asof dit kastig sy posisie betaam, maar sy oë groet haar informeel. Hy beduie na die stapeltjie boeke: “Is dit u wat so liefdesverhale lees? Moet hulle tog nie glo nie, dis alles leuens.”

      Dis nie nodig om te reageer nie, want mevrou De Wet tree in. “Maar ek het vir dominee vertel van die meisie wat sulke besonderse boeke lees.” Sy klink trots, asof dit ’n dorpsprestasie is wat in haar werkplek ontspring het. Gawe vrou, ’n knap en diensbare vrou, maar die oë kan ook redelik rondloer vir interessante storietjies.

      “O, is dit sy?” Doodverbaas. “En ek was nogal nou die aand daar op siekebesoek, en sy sê my niks. Hoe gaan dit nou met mevrou Van Reenen? Volgens my sal ’n galblaasoperasie die enigste uitweg wees.” Sy tong klik ’n geluidjie van simpatie.

      Bina snap gelukkig dadelik: die gebakte eiers, wat Tanna gesê het nie met haar gal akkordeer nie. “O, sy is te bang vir die mes. Ek sal bly wees as dominee met haar praat.”

      “Ek sal tog weer eendag oorkom. Die program is net so bitter vol. So, watter interessante boeke kan u my wys? Dalk leer ek dit ook lees.”

      “Bina,” raai mevrou De Wet niksvermoedend en entoesiasties aan, “vat vir dominee na daardie spesiale rak waar ek altyd vir jou boeke uithou. Wag, ek bring nog ’n stoel.”

      Af en toe ruil die buurbiblioteke boeke uit en dan kom daar varses in. Of mevrou De Wet bestel nuwes, of ontvang skenkings van individue. Gewoonlik kan Bina nie wag om daar uit te kom nie, dis lekker apart. Sy kan selfs by ’n tafeltjie sit en blaai. Nou dink sy, ’n bietjie afgehaal: so onskadelik word ek geag. Ek kan maar met die jong dominee by ’n eenkant rak gesels, ek is mos net Bina wat woon by Kola Estruis en Anna Verrene, die kastige ou sondaars.

      Net so onskadelik, ja, soos by Dawid in die winkel. Oom Daan oorweeg dit half en half om weg te gaan, sonder om te besef dat dit haar in ’n onhoudbare posisie sal plaas. En Dawid is bekommerd oor Molly wat kan weggaan, maar nie oor Bina wat kan bly nie.

      Maar iemand beskou die posisie tog as potensieel skadelik, moet sy besef toe Elzar gedemp begin praat terwyl hulle voorgee om die bundel met Nederlandse kortverhale druk te bespreek: “Dit klink vir my asof mevrou De Wet ’n assistent nodig het. Die probleem is net die begroting. Maar dalk sien die dorpsraad hulle weg oop.”

      “En hoekom sal jy daaroor … dis die dorpsraad, nie die kerkraad …” Dan snap sy alles, binne een oomblik. Sy maak die boek toe en staan op. “O, ek verstaan. Jy wil jou invloed gebruik. Jy wil my graag hier aan die werk sien, weg van oom Daan Duraan se winkel af.” En van sy seun af. Dis nie nodig dat sy dit sê nie, dit spreek vanself. Dis nie omdat hy haar graag wil sien dat Elzar vanoggend hierheen weggeglip het nie. Hy is bekommerd dat sy as “jongedogter” van sy gemeente skeef kan trap. Die gemeente is sy arbeidsveld. Hy is die herder van die skapies. Hy moet betyds jakkalsdraad span, anders skep hy net vir homself probleme en werk. Hy het gister haar ligte blos gesien daar in die winkel, toe Dawid ter sprake kom. Daardie twee oë van hom, so kastig verwonderd, kyk niks mis nie.

      Hy ontken dit nie maar bevestig dit eerder toe hy ook opstaan, met ’n skuins blik na sy horlosie: “Ek is jou vriend, maar ek is eerstens jou leraar en raadgewer.”

      En sy koms winkel toe gister, so vou die prentjie verder voor haar oop, was ook nie ter wille van haar of die toiletgoedjies wat hy kom koop het nie. Dit was om ’n saak van huislike onmin dop te hou. Die storie van Tanna wat hy wel met ’n grappie in die kiem gesmoor het, het in sy gemoed vasgeskop. Hy weet dat waar ’n rokie is, ook ’n vuurtjie moet wees. Hy is geroepe en opgelei, hy is boonop na deeglike keuring hierheen beroep.

      Toe sê hy dit wat sy reeds gesnap het: “Voorkoming is beter as genesing.”

      Sy skud die boeke wat sy uitgesoek het, in haar arm reg. “Jou aanstaande,” sis sy gedemp, “sal niks by jou kan oorvat nie. Wees gerus. Jy sit vierkantig op die stoel. Die preekstoel,” voeg sy by en wys hom haar rugkant.

      Eintlik verdien sy ’n sarkastiese antwoord, iets soos “Weet jy ooit hoe die preekstoel lyk, as jy nooit daar kom nie?” Maar sy weet ook reeds dis nie Elzar se styl: sarkasme, vergelding nie. Hy is te gemaklik en menslik.

      Hulle is nou naby mevrou De Wet, en hy sê so ewe: “Dankie vir die raad oor die boeke, juffrou Bina. En sê vir meneer Duraan daardie goedjies wat ek in sy winkel gekry het, is kwaliteit.”

      Buite die biblioteek haal hy, kastig ongehaas, haar ongemerk in. Oom Daan se bakkie is nog nie daar nie en sy moet in die skaduwee van die boom op die sypaadjie wag. “Dink oor ’n pos in die biblioteek, of hoe?”

      “As jy my wil wegkry waar ek is, sê net so. Maar ek sal self weggaan as en wanneer ek wil. Ek het nie nodig dat ’n joppie vir my bewimpel word nie.” Tog sou sy bitter graag hier werk. Heeldag tussen


Скачать книгу