Eindspel. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Eindspel - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
reg, maar van waar ek sit, het hulle min of meer die jackpot geslaan.”

      “En van waar ek sit, doen jy ook nie te sleg nie.”

      Clive lag. “Daai som sal jy vir my moet verduidelik.”

      “Jy kry dit blykbaar reg om ’n gesinslewe saam met hierdie soort job te laat werk. Hoeveel ouens ken jy wat dit kan sê?”

      “Het jy oor my gaan uitvind?”

      “Doen ons almal dit nie maar nie?”

      “Ek weet jy was twee keer getroud. Ek weet nie wie elke keer die jeukerige een was nie.”

      Nick glimlag. “Is dit ooit so eenvoudig?”

      Voor die ander man kan antwoord, bel die wagte van onder af om te sê daar is twee ouens wat sê hulle moet inkom.

      Al twee fluit toe hulle uit die hysbak stap.

      “Fok!”

      Nick kyk na die twee bloedjong mans. Wanneer het hulle skoolkinders begin inneem, of is dit hy wat oud geword het?

      “Maak toe julle monde,” sê Clive en beduie na Nick. “Kolonel Malherbe van Interpol. Dis Phillips en Mossie. Soos jy sien, moes ek ongelukkig die appies vat.”

      As ’n mens vinnig kyk, kan die nuwe aankomelinge ’n tweeling wees. Albei is lig, albei dra bril en hulle is ewe lank en het dieselfde skraal gesigte en lenige lywe. Die enigste verskil wat Nick kan sien, is dat Phillips ’n donsbaardjie het.

      Die drie mans skud hand. “Hy het vir ons gevra, want ons is die beste, kolonel.”

      “Sommer net Nick.”

      Albei knik. “Kaptein Barnard sê julle het ietwat van ’n probleem.”

      Die vier stap saam na Patrice se woonstel toe, terwyl Nick vir hulle vertel wat gebeur het. Voor hulle ingaan, trek die twee jonges eers hulle oorjasse, skoenbedekkings en handskoene aan.

      “Wie was almal hier binne sedert die voorval?”

      “Ek en twee paramedics.”

      “Net vir die rekord sal ons maar van julle drie ’n sampletjie vat. Niemand anders nie?”

      “Ek het die deur gesluit gehou.”

      Albei knik en dan verdwyn hulle in die woonstel in.

      Nick draai om en gaan skakel weer die koffiemasjien aan. Hy sal binnekort kos in sy lyf moet kry.

      Hoofstuk 7

      Dis stil in Kirstenbosch toe Ellie daar kom. Hier en daar is ’n werker besig, maar sy gewaar nie ander besoekers nie. Sy stap al met die kronkelpaadjie langs tot by die groot witstinkhout. Dis koel onder die takke en sy gaan sit op die bankie onder die boom. ’n Klam mistigheid hang in die klowe. Die aarde ruik na blare en nat grond. Herfs het aangebreek.

      Soms verbeel sy haar die pyn en verlange is ligter, maar wanneer dit soos ’n golf oor haar breek, voel dit steeds asof sy daarin sal kan verdrink. Dit neem haar asem weg, laat haar angstig soek na iets om aan vas te hou. Sy het toe nie met iemand gaan gesels nie. Dit is die laaste ding op aarde wat sy wil doen. Hoe verduidelik ’n mens aan iemand hoe die golwe jou moeg gespartel op die strand uitspoeg? ’n Strand waar die stilte jou ook wil oorweldig. Die niks. Nog ’n lugleegte en jy sukkel weer om asem te kry. En dan moet jy seker nog van die koue ook vertel. Want dit maak nie saak wat die temperatuur is nie, dit is asof sy nooit meer die koue in haar kan afskud nie. Dit wat die golf nie kan regkry nie, sal die stilte en die koue dalk.

      Hoeveel keer kan ’n mens jou selfoon optel om te bel voor die impuls verdwyn? Hoeveel truuks kan jou brein met jou speel voor die afwesigheid deel van jou geheue word? Die persoon is nie meer daar nie. Moet jy dit jou mantra maak? Op jou handpalms laat tatoeëer? Sal dit help dat die golwe jou nie so onverhoeds betrap nie? Maar waarom wil jy jouself herinner aan iets wat jy nie wil onthou nie? Dan dalk eerder die brein se speletjies.

      Sy wonder, as sy nog een geleentheid sou kry om met hom te gesels, waaroor hulle sou praat? Oor die alledaagse? Sê ’n mens die dinge wat jy nooit werklik in die lewe sê nie, omdat dit te soetsappig is, gee jy vir mekaar opdragte? Moenie oor my treur nie. Kyk mooi na jouself. Wees gelukkig. Werk hard. Probeer jy ou wonde heel? Hulle twee sou dalk net stil gewees het. Elkeen so half met hulle eie gedagtes besig, soos hulle dikwels laat saans gesit het. Daarom probeer sy ook nie nou dink aan iets om te sê nie. Sy sit maar net, met die boom se skurwe bas wat teen haar rug druk.

      Na ’n ruk haal sy die selfoon uit haar sak en soek haar ma se nommer.

      Dis egter ’n manstem wat antwoord.

      “Hallo, dis Ellie wat praat. Is my ma miskien daar?”

      “Eleanor, dis nou ’n verassing om jou stem te hoor. Dis oom Janus hier. Hoe gaan dit met jou? Ek en jou ma het net gisteraand van jou gepraat.”

      Geen van die meditasie-oefeninge wat sy die afgelope paar maande geleer het, kon nog daarin slaag om haar irritasie met dié man te stop nie. Selfs net as haar ma sy naam noem, voel dit asof sy ’n mond vol asyn sluk.

      “Dit gaan goed. Ek is ongelukkig ’n bietjie haastig en wil net gou met my ma praat.”

      “Sekerlik, hou aan, ek neem gou vir haar die telefoon. Dan groet ek eers. Kom kuier ’n slag. Ons verlang al na jou.”

      Ellie hoor hoe hy aan ’n deur klop. “Lief, dis Eleanor. Sy sê sy moet gou met jou praat.” Sy kan nie haar ma se antwoord uitmaak nie, maar hoor hom lag. “Ek sal my oë toehou …”

      “Ellie, waar val jy nou uit?” antwoord haar ma na ’n rukkie.

      “Is Ma besig?”

      “Ek is in die bad.”

      Die asyn raak méér as ’n mond vol by die gedagte dat hy in die badkamer ingeloop het waar haar ma kaal is.

      Ellie kyk hoe ’n eekhoring oor die gras hardloop, ’n oomblik vassteek, reguit na haar kyk en verder hardloop. Twee duiwe kom sit ’n paar treë van haar af en soek pik-pik na iets om te eet. Haal asem, herinner sy haarself. Haal diep asem voor jy met haar praat.

      “Hoe gaan dit met Ma?”

      “Dit gaan baie goed. En daar by jou?”

      “Met my gaan dit ook goed. Is alles by die huis reg?”

      “Ek is eintlik bly jy bel, want ons het ’n koper vir die huis en jy sal moet kom teken.”

      “Wat bedoel Ma daar is ’n koper, en van wie praat Ma as Ma sê ‘ons’ het ’n koper?”

      “Ek het jou mos laas gesê Janus se dogter is ’n eiendomsagent en sy het aangebied om te help met die huis se verkoop. Of ten minste net haar ore oop te hou vir moontlike kopers. Die mense was gister hier en hulle is mal oor die plek en wil so gou moontlik intrek. Wanneer sal jy kan kom teken?”

      Haar ma het steeds nie gesê wie die “ons” is nie, maar eintlik weet Ellie. Sy weet nie waarom sy gevra het nie.

      “Ek het vir Ma gesê Ma moenie oorhaastig wees nie en ek sal darem eers ’n paar agente wil kry om die huis te waardeer.”

      “Ek is nie ’n kind of ’n oumens dat jy namens my besluite moet neem nie. Ek kan darem seker vir myself besluit of ek my huis wil verkoop.”

      “Die huis is tegnies nie Ma s’n nie, maar behoort aan ’n trust.”

      “Ek gee nie om of die huis tegnies aan die koningin van Engeland behoort nie. Ek wil nie meer hier bly nie. Ons het ’n heerlike dorpshuis in ’n sekuriteitsoord gesien. Dis ideaal vir ons. Die tuintjie is net groot genoeg vir Janus om nog in die grond te krap. Ons dink daaraan om vir ons ’n karavaan te koop en ’n bietjie te gaan toer. Vriende van Janus behoort aan hierdie gesellige karavaanklub wat allerhande lekker uitstappies reël.”

      Toe ’n man by Ellie verbystap en stop om na haar te kyk, besef Ellie hoe hard sy asemhaal. Vyf tellings in, hou vir vyf, blaas


Скачать книгу