Eindspel. Wilna Adriaanse

Читать онлайн книгу.

Eindspel - Wilna Adriaanse


Скачать книгу
het.”

      “Ek moes ’n rukkie wegkom.”

      “Juffrou McKenna … dink jy Allegretti het haar?”

      Ellie skud dadelik haar kop. “Ek het myself al ’n paar keer dieselfde vraag gevra, maar ek dink nie so nie. Hy het baie foute en het waarskynlik ook al ’n paar dinge gedoen waarvoor hy gestraf behoort te word, maar op sy vreemde manier was hy lief vir haar en hy sal haar nie ontvoer nie. Hy weet hoe traumaties dit vir haar sal wees. Sy is baie geheg aan julle, haar familie.”

      “Ons kon maar net ons bes doen.”

      “Het u al die polisie in kennis gestel?” Ellie weet nie of sy haar die blink in sy oë verbeel nie. En dis interessant dat hy haar nie vra waar sy gehoor het nie.

      “Nog nie amptelik nie.”

      “Dalk is dit tyd om dit te doen.”

      Nazeem vee weer oor sy gesig. “Dis nie so eenvoudig nie. Daar is allerhande dinge wat ek moet opweeg, waarvan haar veiligheid die belangrikste is. As ek geweet het wie haar het of waar sy is, het ek ’n beter idee gehad wat om te doen. Daar bestaan seker ook ’n moontlikheid dat sy weggeloop het. Dat dit háár plan was.”

      “Ek hoop eintlik dis die geval, maar ek sê weer, sy is baie lief vir julle en sy weet dit sal julle harte breek.” Ellie staan op. “Ek wil u nie ophou nie. Ek wou net kom sê het ek is jammer en ek hoop sy kom veilig terug.”

      “Mavis sal jou graag wou sien, maar sy lê op die oomblik. Die dokter het haar vanoggend ’n inspuiting gegee. Sy slaap en eet al sedert Vrydagaand niks. Jy kan dink hoe verantwoordelik sy voel.”

      Voor Ellie kan antwoord, kom ’n vrou by die voordeur in en toe Williams haar sien, roep hy haar. Ellie herken haar eers toe sy die sitkamer binnekom.

      “Sally, dis juffrou McKenna wat destyds vir Clara opgepas het.”

      Ellie het opgestaan en steek haar hand uit. “Ons het per geleentheid vinnig ontmoet. Ek is baie jammer om te hoor van u probleme.”

      Sally Veldman knik haar kop. “Dankie.”

      Mavis en Sally kom uit goeie gene. Hulle moes mooi meisies gewees het. Albei is steeds op ’n manier aantreklik, hoewel die jare spore op Sally se gesig gelaat het.

      “Het jy nog niks gehoor nie?” wil Williams weet toe sy omdraai.

      Sy steek vas en skud haar kop. “Niks.”

      “Ons gaan nie moed verloor nie.”

      Sally knik net terwyl sy wegstap.

      Williams kyk haar ’n oomblik lank agterna. Ellie wonder wat alles in daardie blik vasgevang is. Sy wonder of Sally hulle blameer vir Clara se verdwyning. Dis altyd die maklikste om iemand anders te blameer.

      By die hek steek sy haar hand na hom uit. “Baie sterkte.”

      Hy neem dit in albei syne. “Baie dankie dat juffrou aangekom het. Ek waardeer dit werklik baie.”

      Sy is al ’n entjie weg toe hy agter haar aan roep: “As jy dalk iets hoor, laat weet my asseblief.”

      Ellie draai om. “Ek maak so.”

      Nadat Nick die Rondebosch-afrit geneem het en ’n rukkie later in die straat indraai, herinner hy homself aan ’n hond wat van boom na boom hardloop om te ruik. Hy weet nie of hy na bekende of onbekende reuke op soek is nie. Dit voel net asof ’n oerinstink hom waarsku dat daar vreemde dinge op sy terrein aangaan waarvan hy kennis behoort te dra.

      Nick ry stadig, maar nie so stadig dat hy aandag sal trek nie. Sonder om rond te kyk probeer hy soveel detail inneem as wat hy kan. Motors voor die huis. Mense wat dalk in- of uitkom. Enigiets kan potensieel ’n stukkie van die legkaart wees. Hy is al verby die huis toe hy haar gewaar. Hy weet nie wat het hom laat omkyk nie. Dalk die rooiblonde hare wat in die son glinster asof daar koperdraad ingevleg is. Dit kan ook die manier wees waarop sy stap. Elke mens het ’n unieke manier van beweeg en iets sê vir hom hy het al daardie stap gesien. Hy ry stadiger terwyl hy nog ’n keer omkyk, maar die bestuurder agter hom druk op sy toeter. Weerskante van die nou straat is motors geparkeer en hy is verplig om te versnel. Hy ry om die blok en toe hy terugkom, is sy weg.

      Hy hou nie van die krieweling in sy nek nie.

      Hoofstuk 8

      Ellie staan só dat sy Clive se bakkie kan dophou en terselfdertyd sien as iemand by die gebou se voordeur uitkom. Sy was bly toe sy hier kom en sien hy is nog by die kantoor.

      Dis net voor vyf toe sy hom gewaar. Hy het gewig verloor en sy hare is baie kort geknip. Sy sien hoe hy haar gewaar en vassteek. Dan klim hy egter in sy bakkie en skakel die enjin aan, sonder om weer na haar te kyk waar sy oorkant die straat staan. Hy trek uit die parkeerplek en versnel toe hy in die straat indraai.

      ’n Paar meter later stop hy, en sy sien hoe die bakkie se truligte aangaan. Hy hou stil langs haar, leun oor en maak die passasiersdeur oop.

      Sy klim langs hom in, kry haar sit en gordel vas. “Dankie. Is jy haastig of kan ek vir jou êrens ’n bier gaan koop?”

      “Ek is op ’n dieet.”

      “Ek sien jy het gewig verloor. Wat dan van ’n glas water of ’n Coke Light?”

      Hy trek weg.

      “Net nie by Joe’s nie,” sê sy toe hulle om die eerste hoek gaan. “Ek het nie nou lus vir die hele klomp nie.”

      “Dan moet ek seker geëerd voel dat jy lus het vir my, of soek jy eintlik net ’n guns?”

      “Komaan, Clive, as daar een mens is wat behoort te verstaan dat ek moes wegkom, is dit jy.”

      “’n Fokken SMS, Mac! Is dit te veel gevra?”

      “Ek is jammer. Dit is werklik al wat ek kan sê. Ek wou baie kere bel of ’n boodskap stuur, maar ek was bang as ek hoor hoe julle sukkel, sal ek terugkom. Ek weet mos ek is op ’n baie ongeleë tyd weg.”

      Hy antwoord nie. Vat net die afrit na die Panorama-hospitaal en ry tot by die eerste winkelsentrum. Hulle klim stil uit en hy praat eers weer toe hulle oorkant mekaar in die eerste die beste restaurant sit.

      “Ek het gedink jy is dalk dood.”

      Sy sit haar hand oor syne. “Nou gaan jy my laat huil.”

      “Nee, fok, net nie dit nie. As jy wil huil, gaan doen dit in ’n ander man se dop, nie myne nie. Ek het ’n kak dag gehad.”

      Die kelner kom neem hulle bestelling. Clive bestel koffie. Toe sy haar wenkbroue lig, sê hy hy het nog ’n vergadering.

      Ellie bestel ook koffie.

      “Hoe gaan dit met Ansie en die kinders?”

      Hy vee oor sy gesig. “Ansie is moeg vir ander mense se stout kinders wat nie wil leer nie. Dan haal sy dit op ons twee uit en dan kom kla hulle by my. Sy sê dis vir hulle eie beswil dat sy wil hê hulle moet leer. Maar hulle is tieners en wanneer het jy al ’n tiener gesien wat verder kan kyk as wat sy neus lank is? Die toekoms is oormôre se probleme. Nou is dit eers vriende en dates en parties.”

      “Hoe gaan dit met Belinda in die hoërskool? Laat jy haar darem uitgaan?”

      “Dis ’n flippen nagmerrie. Die mannetjies kom daar aan vol hormone en smiles en gejelde hare. Kastig ’n boek kom terugbring, of een kom leen, of die Vader weet watse kak verskonings, en dan net gou bly vir koffie of koeldrank. Ek het soms so lus en jaag die hele lot weg en sluit die hek.”

      Ellie lag. “Jy kan dit nie doen nie. Ons almal moet êrens begin. Hoe het jy op daai ouderdom gelyk?”

      “Beslis nie so vol hormone nie.”

      “En met jou en Ansie?”

      Hy vee oor sy gesig. “Wat kan ek sê, ons haal steeds soms ons frustrasies op mekaar uit, sy reken steeds ek moet eerder ’n ander job soek voor ek glad nie meer die


Скачать книгу