Stroomop. Adeline Radloff
Читать онлайн книгу.lig. Hy weet nog altyd presies hoe om haar te hanteer. Anders as haar ma, push hy nie heeltyd nie en sy stille aanvaarding doen meer om haar aan te moedig as al die geboelie ter wêreld.
Hy is dalk reg oor hierdie trip ook. Soveel van haar gelukkige herinneringe draai om daardie onvergeetlike kampeervakansies uit haar kinderdae. Miskien, as hulle weer as gesin saam in die natuur is, kilometers ver van alles en almal, sal sy uiteindelik die woorde vind om aan haar ouers te verduidelik wat gebeur het.
Sy dra hierdie geheim al so lank.
Sy sit die aansoekvorms eenkant. Sy onthou nog goed waar alles is, so sy kan netsowel help pak.
Teen drieuur die middag is hulle lankal gepak en gereed om te vertrek. Teen vieruur is haar ma nog nie tuis nie. Teen vyfuur ook nie. Van waar sy by die kombuistafel sit en op haar iPhone musiek luister, kan Nixie sien hoe haar pa al hoe meer gespanne raak.
Toe sy foon uiteindelik lui, vang hy vinnig haar oog. Kyk dan weer weg.
Verby haar oorfone kan sy nie ’n woord van haar pa se gesprek hoor nie, maar sy hoef net na die uitdrukking op sy gesig te kyk om te weet wat hy sê. Toe hy die oproep beëindig, haal Nixie haar oorfone uit haar ore.
“It’s an important case, Nix.” Soos altyd begin hy dadelik om haar ma se gedrag te probeer verskoon. “Mom had a breakthrough. Evidence surfaced that could save her client’s family.”
“Always other families.” Sy wou ironies klink, maar haar stem kom bitter uit. Seergemaak.
Sy staan op. Loop dan vinnig uit sodat hy nie die ou hartseer op haar gesig sal kan lees nie.
Laatnag is daar ’n sagte klop aan Nixie se deur. Sy maak traag oop, seker dat haar pa daar sal staan met ’n troostende koppie tee, maar daar’s niemand nie – net ’n flitslig op die vloer. Sy kyk om haar rond, sien dat al die ligte in die huis afgeskakel is.
Ag nee. Hy sou tog sekerlik nie …
Sy skud haar kop, maar kry dit nie reg om haar glimlag te onderdruk nie. Dan skakel sy die flitslig aan en begin soek.
In die gang kry sy ’n pak marshmallows. ’n Paar treë verder is daar ’n pakkie Eet-Sum-Mors. Verder, ’n reuse-Aero. Koeldrank. Sy volg die spoor al die pad tot by die sitkamer en skud dan haar kop, half onwillig om te glo wat sy sien. Al die meubels is eenkant toe geskuif en in die middel van die vertrek is ’n tent opgeslaan, helder verlig van binne. In die vorm wat teen die seil afgeëts is, herken sy duidelik haar pa se silhoeët.
Sy kniel, steek haar kop by die tentflap in. “I’m not eight anymore, Dad.” Maar daar is geen angel in haar stem nie.
Hy ignoreer haar sarkastiese aanmerking, duidelik hoogs ingenome met homself. Dan begin hy die ou liedjie wat hy altyd voor slaaptyd vir haar gesing het met soveel oorgawe uitbulder, dat sy sukkel om nie te lag nie.
“You are my sunshine, my only sunshine …”
“Stop it, Dad.”
“You make me happy, when skies are grey …”
Sy kyk na haar pa. Na die tent. Die sitkamer. Die eetgoedjies en die koeldrank. Al die moeite wat hy gedoen het. En dan probeer sy nie meer haar glimlag keer nie.
Dis waar: Sy is nie meer agt jaar oud nie. Sy is ’n volwasse vrou met haar eie lewe, haar eie drome, haar eie geheime, haar eie mislukkings.
En tog, besef Nixie terwyl ’n gevoel van warmte deur haar spoel, is daar geen manier waarop sy nié vanaand weer soos ’n klein dogtertjie saam met haar pa kampeer-kampeer in die sitkamer gaan speel nie. Sy weet nou al hoe die aand gaan verloop. Hulle gaan smores op die klein gasstofie maak en gesels en lag tot hulle mae pyn. Sy gaan hom alles vertel wat gebeur het, en hy gaan alles verstaan. En dan gaan hy haar wys watter nuwe shadow puppets hy nou al weer uitgedink het, en voor sy dit weet, gaan sy diep in droomland wees, veilig en geborge in haar pa se liefde.
Dit gaan wees nes altyd.
Net hulle twee.
Lana
Daar is niks beter as om vir uitgeputte en wanhopige ouers te vertel dat hulle kind oukei gaan wees nie. Dis nou tot die oorstelpte ma se oë vol trane skiet en sy dankbaar haar arms om jou gooi. “Dankie, dokter!”
Lana se liggaam span snaarstyf in die vrou se omhelsing, en sy voel hoe haar hart angstig vinniger begin klop. Maar hoewel sy intens bewus is van die fisieke manifestasie van haar ongemak, ondersoek sy, soos gewoonlik, nie die emosies wat dit veroorsaak nie. Emosie is iets wat mens onderdruk om produktief te kan wees, nie iets waarmee jy jou aan die neus laat lei nie.
Sy begin haar subtiel loswriemel uit die vrou se arms. “Sy slaap nou.” Lana se stem is saaklik – vir die meeste mense is dit ’n duidelike teken dat die tyd vir drukkies en trane verby is. “Ek stel voor julle kry ook rus. Besoektyd is môreoggend agtuur.”
Die ouers knik, so gehoorsaam soos kinders, half bedwelm van verligting.
En dan, voor hulle weer met hulle bedankings kan begin, hou Lana haar selfoon verskonend in die lug op en haas haar by die deur uit.
“Gaan huis toe.”
Die gesaghebbende stem laat Lana wakker skrik, haar lyf so vol vrees dat sy dadelik in ’n koue sweet begin uitslaan. Wat gaan …
Dit neem ’n paar oomblikke voordat sy besef waar sy is. O ja. Die bank waarop sy lê en slaap het, mag vreemd voel, maar sy sal altyd die reuk van ’n hospitaal herken.
“Ek wil jou vir minstens agt-en-veertig uur nie sien nie.” Dokter Beukes se stem is ferm, maar nie sonder simpatie nie.
Die hospitaal se hoof van chirurgie is ’n middeljarige donkerkopvrou met ligblou oë wat niks mis nie. Ten spyte van die oorweldigende moegheid in haar lyf, kom Lana haastig regop. Sy kan nie dat dokter Beukes agterkom hoe uitgebrand sy is nie; deesdae rus die vrou se blik heeltemal te lank op haar in vergaderings wanneer sy preke gee oor die gevare van werkverslawing.
Wat belaglik is, natuurlik. Werkholiste gebruik werk as ’n kruk, ’n manier om hulle van die lewe se kompleksiteite af te sluit. Dis iets heeltemal anders as ’n gefokusde en ernstige toewyding tot jou werk. Hééltemal anders.
Maar nou ja. Dit help seker nie sy stry nou nie – sy hét immers al weer op die bank in die dokterskamer oornag.
Sy pak op, neem haar sak, loop uit die vertrek uit.
Toe sy in die hospitaal se ontvangsarea kom, huiwer sy ’n oomblik. Vanoggend is die nag se vrese om die een of ander rede steeds in haar, die tentakels van haar nagmerrie nog verlammend om haar binneste geklem.
Miskien moet sy blomme koop en weer probeer. Haar nagvrese in die oë kyk. Sy’s buitendien huis toe gestuur, so dit kan seker nie skade doen nie.
Terwyl sy die blomme koop, is haar stem kalm, haar hartklop heeltemal reëlmatig. Dis glad nie moeilik nie. Dan klim sy in haar kar en kies koers begraafplaas toe, ’n pad wat sy teen dié tyd al in haar slaap kan ry. Haar asemhaling is stadig en diep. Daar is geen teken van stres in haar houding te bespeur nie. Maar toe sy eers in die begraafplaas se parkeerarea kom, is dit asof haar liggaam nie meer op haar brein se rasionele seine wil reageer nie.
Al wat sy hoef te doen, is om die deur oop te maak. Uit te klim. Oor die gras te loop en die blomme wat sy nou so krampagtig vasklou op die grafte neer te sit.
Dis glad nie moeilik nie.
Enigiemand kan dit doen.
Maar sy bly sit, op die plek gevries soos Lot se vrou, haar verlede die brandende stad waarna sy nooit moes teruggekyk het nie.
Diep waters
Vivian
In daardie sekonde tussen slaap en wakker is Vivian onmiddellik bewus daarvan dat haar lyf anders voel as gewoonlik. Losser en