Stroomop. Adeline Radloff
Читать онлайн книгу.wilde perd aan leisels beet, en hulle jaag mekaar soos mal goed om die koffietafel terwyl klein Leon sukkel om by te bly met sy kort beentjies.
“Sebastiaan! Ben! Stop dit! Onthou, van lekker lag kom …”
Wag ’n bietjie.
Daardie twee stouterds!
Ben se “leisels”, sien sy nou, is gemaak uit ’n string van haar bra’s wat hulle aan mekaar vasgebind het. Asof hulle nie kaste vol speelgoed het nie! Hulle gryp elkeen blitsvinnig ’n cupcake en verdwyn by die deur uit, Leon wankelend agterna. Maar voor sy kan raas, stuur Judy ’n selfie-video.
“Oukei, oukei, aangesien ons nie almal saam kan wees nie, hier is die oomblik waarvoor julle al die hele oggend wag …”
Adrie kan nie glo wat sy hoor nie. Die hele punt van die affêre was dat Judy die big reveal by Adrie se huis moes kom doen. Gaan sy dit nou regtig oor WhatsApp uitblaker net omdat Melissa nie meer kan kom nie?
“Ons twintigjaar-matriekreünie se tema is … Matriekafskeid 1998!”
Die stemnotas begin dadelik instroom.
Christine: “Aaah. Love dit!”
Melissa: “Beste tema ooit!”
Judy: “Beste tye ooit!”
Net Adrie staan versteen, met wange wat so warm brand dat sy voel asof sy deur die gesig geklap is.
Hoe kán hulle dit aan haar doen?
Het hulle dan vergeet? Of gee hulle bloot nie om nie?
Sy kyk na die tafel wat sy so mooi versier het. Die huis wat sy met soveel moeite reggemaak het. Die cupcakes waaraan sy gister so lank gebak het.
Toe die frustrasie soos ’n brandende kool in haar bors begin voel, skud sy weer ’n paar dieetpille in haar hand uit en sluk dit. Dan neem sy haar foon, vasberade om vir ’n verandering vir haar ou vriendinne presies te sê wat sy dink.
Sy’s op die punt om haar mond oop te maak, toe sy ’n enorme knal hoor en dan die diep, rou kreet van ’n kind in pyn. “Sebastiaan!” roep sy terwyl sy paniekerig uit die kamer storm. “Sebastiaan!”
Lana
Toe Lana vir dokter Beukes en dokter Ezra in die hospitaal raakloop, het sy steeds die blomme in haar hand, haar vingers om die stingels geklem. Sy staal haarself, maak seker dat haar gesig niks verklap nie. Sy ken dokter Ezra nie baie goed nie, maar weet dat die gryskopvrou met die warm glimlag een van die beste psigiaters in die stad is.
Sy moet nou versigtig trap.
“Het ek nie gesê agt-en-veertig uur nie?” Dokter Beukes klink besorgd eerder as kwaad.
Dokter Ezra kyk vlugtig na die blomme in Lana se hand. “Hoe gaan dit met jou, dokter Marais?”
“Werk te veel en slaap te min,” antwoord dokter Beukes namens haar.
“Die lewe van ’n dokter,” skerm Lana dadelik.
Die ander vrou se kyk is so deurdringend dat Lana byna bang is dat sy regdeur haar kan sien. “Wel, jy weet my deur is altyd oop.” Dan vestig sy weer haar blik op dokter Beukes en knik in die rigting van die hospitaalkamer langs hulle. “Ek hou jou op hoogte.”
Terwyl dokter Ezra by die gang af verdwyn, loer Lana by die halftoe kamerdeur in. In die bed lê ’n vrou en slaap. Daar is dik wit verbande om albei haar gewrigte.
Dokter Beukes merk Lana se belangstelling. “Daar was nog nie ’n siel hier vir haar nie,” sê sy gedemp. Dan lig sy haar skouers gelate voordat sy wegstap. “Agt-en-veertig uur, dokter Marais,” sê sy oor haar skouer. “Agt-en-veertig uur.”
Lana knik. Glip dan by die halftoe deur in.
Die pasiënt lyk jonk en verwese. Daar is iets aan haar wasbleek vel, haar delikate gelaatstrekke, haar donkerrooi hare en haar weerlose mond wat Lana aan die bekende Victoriaanse skildery van Ophelia se dood herinner: ’n jong meisie op haar rug, haar fyn geborduurde rok oortrek met blomme, word in die dieptes afgetrek deur haar nat, swaar klere. Op die skildery lê die meisie natuurlik in ’n pragtige groen dam, omring met lelies en rose, terwyl hierdie arme vrou in ’n kliniese hospitaalbed lê. Daar is ook ander verskille: Die meisie op die skildery se hande is wit en ongeskonde; hierdie vrou se vernielde polse is verbind. Op die skildery is die meisie pragtig aangetrek, terwyl die pasiënt in ’n hospitaaljurk hier moet lê. En tog is daar iets aan die passiewe weerloosheid van die pasiënt voor haar wat Lana laat voel dat dié Ophelia ook haar eie blomme nodig het.
Daar is soveel verskillende maniere om te verdrink.
Sy rangskik die blomme in ’n beker water wat langs die bed staan. Dan loop sy saggies uit, versigtig om nie die pasiënt wakker te maak nie.
Adrie
Teen die tyd dat Adrie by Ongevalle instorm, is sy so paniekerig dat sy sukkel om asem te haal. Sy het Sebastiaan in haar arms, toegedraai in ’n bebloede handdoek, terwyl Ben huilend agternakom, sy hand oor sy neus gedruk. Leon is laaste in die ry, sy ogies groot en verskrik.
“Help! Asseblief!”
’n Dokter gee haar een kyk en kom dan onmiddellik aangedraf, ’n verpleegster ’n paar treë agter hom.
“Hy’t deur ons skuifdeur gehardloop.” Adrie se stem is so hoog dat dit glad nie vir haar soos haar eie klink nie.
Die dokter neem Sebastiaan versigtig uit haar arms en sy tel dadelik ’n huilende Ben op. “Hy’t op pad hiernatoe ’n Lego in sy neus gedruk,” sê sy vir die verpleegster wat haar staan en aankyk asof sy die vrotste ma in die wêreld is. Die vrou knik, neem hom uit haar arms, en volg dan die dokter na een van die noodspreekkamers, met Adrie agterna.
In die gang bots hulle amper teen ’n groepie mediese personeel met ’n pasiënt op ’n trollie. In die verbygaan hoor Adrie ’n paar woorde – “… car accident … collapsed lung … suspected head injuries … severe internal hemorrhaging …” – maar sy neem nie regtig in wat hulle sê nie. As jou een kind oortrek is van die bloed en jou ander kind ’n Lego-blokkie by sy neus op het …
Die gedagte is soos ’n skoot yswater in haar gesig. Haar ánder kind.
“Leon?”
Hy was dan nou net nog hier!
“Leon!”
Sy kyk wild om haar rond, maar daar is geen teken van haar kleintjie nie. Waar kan hy wees? Wat kon gebeur het? Hy was reg agter hulle, ’n paar sekondes gelede …
Sy probeer ’n verpleegster se aandag trek. “Het julle dalk ’n klein seuntjie gesien?” Maar niemand kyk eens na haar nie, hulle aandag is ten volle by die pasiënt op die trollie voordat hulle by die noodeenheid in verdwyn.
“Leon!”
Dit voel vir Adrie asof die tyd stilstaan: Alles voel stadiger en swaarder, asof sy deur ’n dik stroop in plaas van lug moet beweeg. Soveel kinders word by hospitale gesteel. Sy weet dit tog. Sy’t dit gewéét. Watter tipe ma los ’n klein seuntjie selfs vir ’n oomblik alleen? En Leon is haar baba. Skaars drie jaar oud.
Wat het sy gedink? “Leon!” Wat het sy gedínk?
Dis net, Sebastiaan was so vol bloed en Ben het so hard gehuil en sy was so bang en so moeg en …
Hy was reg agter hulle. Hy was hiér.
“Leon!”
Adrie hardloop die gange op en af, half duiselig en uitasem, met haar hart wat soos ’n wilde dier in haar bors skop. Hy kan nie weg wees nie. Nie Leon nie. Asseblief tog nie. Haar ou kleintjie. En hy’s juis so bang vir vreemdes, ag liewe Here, asseblief tog …
“Leon!”
Hy sit in die wagkamer langs ’n ouer vrou en teken. Die vrou lyk rustig en glimlag simpatiek toe Adrie hygend nader gestorm kom.
“Jammer