1 Recce, volume 2. Alexander Strachan

Читать онлайн книгу.

1 Recce, volume 2 - Alexander Strachan


Скачать книгу
die Selous Scouts sou na 5 VK op Phalaborwa gaan, terwyl die SAS by 1 VK in Durban geakkommodeer sou word. Die rede vir die uitvlieg van die sensitiewe toerusting en uitrusting was om die “nuwe” Rhodesiese spesiale magte – nou Robert Mugabe se weer­mag – te kortwiek in hul aanwendingsmoontlikhede.

      Die Rhodesiese konflik het tot ’n einde gekom ná samesprekings in Desember 1979 by Lancaster House in Londen tussen die Rhodesiese regering, Brittanje, Mugabe en Nkomo. Al die partye het die Lancaster House-ooreenkoms onderteken en Rhodesië is tydelik onder Brittanje en die Statebond se beheer geplaas.

      Bestbier was steeds in Rhodesië met die verkiesing in Maart 1980, wat onder Brittanje en die Statebond se toesig plaasgevind het. Ná Zanu-PF se oorwinning is Robert Mugabe op 18 April 1980 as Zimbabwe se eerste minister ingehuldig. Mugabe het al die senior offisiere, onder wie Bestbier, ingeroep en hulle versoek om aan te bly en die land te ondersteun. Bestbier het elke dag sy volle Rho­desiese uniform gedra en hom as ’n Rhodesiër voorgedoen.

      Hoewel Suid-Afrika hulp verleen het tydens die eerste demo­kratiese verkiesing was die verhouding met die RSA baie gespanne. Die verwagting in Rhodesië was dat Suid-Afrika sou ingryp indien die uitslag van die verkiesing nie na wense was nie. Hierdie vyandigheid het algaande opgebou en ná die verkiesing het dit vererger, wat daartoe gelei het dat die meeste Suid-Afrikaanse bur­gers, asook baie Rhodesiërs, die land verlaat het. Al hierdie faktore het bygedra om die spanning in die land verder te laat oplaai.

      Loots en Van der Westhuizen het Bestbier opdrag gegee om hom gereed te hou om “met groot spoed onttrek te word”.

      “Ek het te alle tye genoeg geld en my paspoort by my gehad,” vertel Bestbier. “Een oggend in Augustus 1980, net ná die oggend­sessie by COMOPS, bel my vriend by Special Branch my. Hy het net gesê ‘André, get out … Now!’ Ek het gegroet en niks verder gesê nie, net genl Walls het geweet. Hy het my gegroet, maar niks gesê nie. Ek is met my handbagasie in groot haas na die lughawe in Salisbury waar ek ’n kaartjie op ’n SAL-vlug gekoop het. Die passasiers was reeds besig om aan boord te gaan. Ek was die heel laaste persoon wat in die vliegtuig geklim het.”

      Bestbier het die sleutel van die skakeloffisiere se motor – ’n ou Peugeot14 wat tot hul beskikking gestel is – onder die sitplek versteek. Toe hy in Suid-Afrika land, het hy sy kontak by die ambassade in Zimbabwe gebel om die motor te gaan verwyder. Hy het ook met sy sekretaresse by COMOPS geskakel en gehoor dat Mugabe se nuwe Special Branch 20 minute nadat die vliegtuig opgestyg het, by die kantoor opgedaag het om hom in hegtenis te neem. Hulle het uitgevind dat Bestbier ’n Suid-Afrikaanse offisier was wat die ou Rhodesië ondersteun het.

      In Pretoria het hy personeel van HSI, genl Loots en genl Malan oor die situasie ingelig.

      Ná sy ondervinding in Rhodesië is André Bestbier in Augustus 1980 na die Spesmagte-HK ontplooi as SO1 Ops15 onder Hans Möller (toe die SSO Ops Leër by die Spesmagte-HK). Dit is hier waar hy een oggend in Februarie 1981 na genl Loots se kantoor ontbied is. Loots het hom ingelig dat hy na 1 VK in Durban toe moet gaan om die bevel van die Recces by kmdt Jakes Swart oor te neem.16

      Bestbier beskou sy verplasing na 1 VK (en later 1 VR) as die beste ding wat in sy lewe kon gebeur omdat dit totaal nuwe hori­sonne vir hom oopgemaak het. Hy het twee jaar later op 30 Maart 1983 1 VR se bevel by Ewald Olckers oorgeneem en was vir vyf jaar tot Desember 1988 1 VR se bevelvoerder.

      Hy het uitgeblink op organisatoriese en bestuursvlak. In sy tyd­perk as bevelvoerder het daar ’n groot omwenteling plaasgevind in die verkryging van toerusting van hoë kwaliteit en uiters ge­vorderde toerusting vir die Recces. Hy het goed omgesien na alle vlakke van sy personeel wat sein, medies, onderhoudstaf en elke ander afdeling in die eenheid ingesluit het. Op sportgebied het hy in sy jonger dae deeglik sy merk gemaak deur die Springbokke en die Vrystaat as haker te verteenwoordig.

      Bestbier se voorganger as bevelvoerder by 1 VK, kmdt Jakes Swart, het gedurende 1977 die SA Leër se senior bevel- en staf­kursus in Pretoria gedoen. Gevolglik was hy nie deel van die aanvanklike beplanningsproses oor samewerking tussen 1 VK en die SAS nie. Hy het dus nie aan die begin kontak met die SAS se bevelvoerder, Brian Robinson, of die Selous Scouts se bevelvoer­der, Ron Reid-Daly, gehad nie. Swart het egter wel heelwat kontak met ltgenl Walls gehad, veral tydens Operasie Bootlace/Uric wat ná sy stafkursus in die Gaza-provinsie in Mosambiek uitgevoer is (sien deel 1, hoofstuk 7).

      Die SAS het ’n groot tekort aan mannekrag gehad en die ontplooiings van 1 VK, 2 VK en 5 VK het hul hand in dié verband gesterk. Die Recces het gehelp met gebiedsoperasies en 1 VK het in uitgestrekte verantwoordelikheidsgebiede in die Gaza-provinsie geopereer en die gebiede wat aan hulle toegeken is, gedomineer. 1 Recce het nie slegs saam met die SAS in Gaza gewerk nie, hulle het ook heelparty suksesvolle operasies ter ondersteuning van die Mosambiekse weerstandsbeweging Renamo uitgevoer.

      2

      Operasie Acrobat17

      Aggressiewe optrede aan die Russian Front

      “Die terrs het op ons spoor geloop en gelukkig het ons ’n dogleg gemaak voor ons oplê. Een van die terrs se geweerloop het aan ’n tak gehaak en die geluid het ons gewaarsku. Ons het vuur oopgemaak en van hulle doodgeskiet en ’n paar gewond.”

      Só herroep SW Fourie ’n noodlottige kontak vroeg in Februarie 1978 toe lt Kokkie du Toit se span die spoorlyn in die omgewing van Madulo-pan in die Gaza-provinsie in Mosambiek ge­saboteer het. Daarna beweeg hulle na ’n afgooistrook (AS) vir ’n rantsoenaanvulling. Naby die AS neem die span ’n hinderlaagstelling in. Lt Douw Steyn, die span se vernielingspesialis, lê ’n paar Claymore-myne op hul spore en koppel dit met elektriese kabels aan die ontsteker. ’n Frelimo-groep loop onverwags in die hinderlaagstelling vas en Steyn detoneer die myne.

      ’n Hewige vuurgeveg volg en toe dit bedaar, vorm Du Toit sy span in ’n formasie om die doodsakker op te ruim. Hulle vee in ’n uitgetrekte linie deur die bos op soek na gewonde Frelimo-soldate – maar kyk een mis wat onder ’n bos ingekruip het.

      “Toe die vuur afbreek, het Kokkie vorentoe geloop en teruggekom met een van hul AK47’s,” vertel Fourie. “Hy het my ge­wys daar is ’n tak in die loop afgebreek – die terrs het waarskynlik gedink as iemand die wapen afvuur, sal die loop in sy gesig ontplof. Toe het Kokkie beduie ons moet regmaak om te beweeg. Ons het agter ’n dik boom gelê en hy het linksom beweeg en ek regsom. Hy het nog ’n teken na links gewys … dit was vir die ouens om uit sprei, want ons gaan deur die doodsakker vee.”

      Die gewonde Frelimo-soldaat onder die bos identifiseer Du Toit maklik as spanleier omdat hy die handseine gee en die span beheer. Hy vuur ’n enkelskoot op ’n kort afstand en tref hom in die sy. Kokkie du Toit sterf voordat hy die grond tref.

      “Toe Kokkie vorentoe draai, skiet die gewonde terr hom. Hy het omgetol en agter my geval. Ons het mond-tot-mond-asemhaling toegepas, maar hy was reeds dood. Die koeël is deur sy regterarm en hart en ek dink anderkant uit.”

      Fourie vermoed die gewonde Frelimo was dieselfde een wat vroeër die Claymore-myn se draad op die grond raakgesien het. “Die terr was tussen ons en die Claymore en hy het die draad al na die myn toe gevolg. Toe hy by die myn kom, het Douw dit gedetoneer. Die back blast van die Claymore het hom beseer. Nadat hy vir Kokkie geskiet het, het Joe de Villiers hom onmiddellik met sy wapen uitgehaal.”

      Hierna onttrek die span en dra hul gesneuwelde makker se lyk saam. ’n Helikopter was nie dadelik beskikbaar nie – helikopters was skaars in die Rhodesiese lugmag en deurentyd ontplooi. Die span word nou geforseer om aan te hou beweeg.

      Fourie onthou hoe hulle met die draagbaar gesukkel het: “Ons het sulke primitiewe draagbare gehad, daarom moes vier ouens vir Kokkie dra. Dit het ons met min ouens oorgelaat wat effektief kon skiet. Later jare sou die mediese toerusting verbeter en het hulle ’n draagbaar ontwerp wat net deur twee ouens gedra word wat boonop nog kon skiet ook.”

      Teen laatmiddag sak ’n digte mis toe wat dit onmoontlik maak vir ’n helikopter om Du Toit se lyk te kom haal. “Ons het tot don­ker geloop en


Скачать книгу