Op soek na Tretchikoff. Anita du Preez

Читать онлайн книгу.

Op soek na Tretchikoff - Anita du Preez


Скачать книгу
Moira na my. “Moet ek die afskrif van my diagnose vir u of vir u mammie e-pos?”

      Arme ou. Ek kan nie help dat Moira haar so baasspelerig en formeel gedra dat mense dink sy is my ma of ouer suster nie. Ook nie dat ek party dae soveel jonger as my jare lyk nie. En dis nie die eerste keer nie.

      Ek dog Moira blaas ’n fuse. Moet sê, ek sou ook.

      Gelukkig vir dokter Griebenow kom ’n vrou by die deur ingestorm met iets in ’n bebloede kombersie, en hy vlie om en lei haar haastig deur na sy spreekkamer.

      * * *

      Toe ons by die huis stilhou, spring ek uit, druk die hok met Naas en al in Moira se hande en pyl reguit op die buurman se voorhekkie af.

      “Dink jy nie jy moet dalk net eers …” hoor ek Moira vra, maar dis klaar te laat. Ek hamer al aan sy voordeur. En weer.

      Toe hy uiteindelik oopmaak, is dit net op ’n skreef, maar dis wyd genoeg om uit te maak dat hy net ’n handdoek aan het en glad nie opgewonde is oor wat hy sien nie. Ek kan nie heeltemal dieselfde sê nie, en dit gooi my ’n paar sekondes van stryk af.

      “Nog steeds hier?” vra hy met een wenkbrou hooghartig gelig.

      “Die kwessie van die kat,” sê ek, heelwat minder kragdadig as wat ek wou. Te laat onthou ek ’n paar complicated goed. Soos dat ek mos nie regtig ek is nie, maar die een wat by my kom kuier het, en ek dus en derhalwe nie terselfdertyd sy buurvrou kan wees wat ’n probleem het met sy kat nie.

      “My vriendin … e …” Ek wys oor my skouer en is meteens intens bewus van my ongekamde hare, my kaal voete en die krapperige ou jas bo-oor my nagrok. En van die feit dat hierdie man seker geen duit omgee wat ek onder my jas aanhet nie.

      “Sê asseblief vir haar ek is jammer, soos wat ek reeds gister in my e-pos aan haar verduidelik het,” sê hy ferm. “Ek is verlig om te sien jy het gisteraand se val oorleef, maar as jy my nou sal verskoon, ek is ongelukkig laat en dis nogal koud,” voeg hy by voor hy die deur toedruk.

      En daar staan ek met my mond vol tande. En ek kan sweer hy weet wie ek is.

      “En toe?” wil Engela weet toe ek terug is in my kombuis.

      “Arrogante bliksem,” sê ek uitasem.

      “Moira sê hy sê dis stres?”

      “Ek weet nie wat dit is nie, maar hy gee mý beslis stres.”

      “Ek praat van die veearts, Lily.”

      “O … e … e … Ja, ek ook.”

      “Hmm,” sê Engela, “Moira sê dan die veearts is ’n besonder nice ou.”

      “Huh. Moira sál so sê. En sy hoef nie vierduisend rand te betaal vir sy diagnose of die duur kos te koop wat hy voorgeskryf het nie. Met antidepressantjies! I kid you not!”

      Ek tel spoed op, want ek moet op ’n manier afblaas.

      “En dit alles net omdat die verdomde man hier langsaan nie sy verdomde kat kan oppas nie!”

      “Hmm,” merk Engela op met ’n irriterende skelm glimlaggie, “die arrogante bliksem.”

      “Hou op snert kwytraak, Engela, en maak liewer vir ons koffie.”

      “Red my volk,” piep Naas. En ek voel onmiddellik aardig.

      “Die flippen voëlkos!” onthou ek. “Dit lê seker nog net daar op die toonbank by die …”

      “Jy het dit in die kar gelos, Lily,” praat Moira by die voordeur, “in jou haas om jou buurman by te kom. Ek het gou gaan kyk of die kar gesluit is. Toe lê dit daar.”

      Sy kon netsowel “Tipies!” bygevoeg het, dink ek, maar ek sê maar niks. Daar is genoeg stres in die vertrek. Hou my besig deur vir die pasiënt van sy nuwe kos in te gooi. En ek neem my voor om so gou moontlik daar bokant die yskas op te klouter en die klein venstertjie toe te maak – die een waar die kat inkom wanneer al die ander ruite toe is teen die wind en koue. Want my begroting sal beslis nie gereelde besoekietjies aan dokter Griebenow kan bekostig nie.

      “Nogal iets vir die oog, hierdie buurman van jou,” sê Moira toe ons almal koffie het. “Hy lyk baie beter as op foto’s toe hy nog die vreeslike bosbaard gehad het. Veral met sy hare bietjie korter en so amper blond gebleik van Vishoek se son.”

      Ek spits my ore. Dit verklaar natuurlik waarom Thuli en Dricus hom nie die dag in die studio herken het nie.

      “Wanneer het jy hom dan gesien?” vra Engela, soos ek gehoop het sy sal.

      “Nou net, toe ’n Uber hom kom oplaai het.”

      “En?”

      “Knorrige vent. Groet skaars. Wil by my weet of ek dan nie my e-posse lees nie.”

      “Hoekom sou Lily se buurman dan vir jóú e-posse stuur?”

      Dit neem my ’n rukkie om dit uit te werk. Toe draai Moira na my: “Nee, ek weet nie, miskien kan Lily vir ons verduidelik waarom haar buurman dink ek is sy?”

      “Wel … Lang storie.”

      “O koek, nee, wag,” sê Engela. “In daai geval, hou jou rede, Lily, ek moet net eers gou ’n draai loop.”

      “Reg so. Ek maak solank vir ons nog koffie,” sê Moira, en ek weet daar is geen uitkomkans nie.

      Nog minder toe Engela uit die badkamer kom met die blonde pruik triomfantelik omhoog.

      “Het die lang storie iets hiermee te make?” wil sy skoon uitasem weet.

      Moira sit vorentoe.

      “Glad nie so interessant soos julle dink nie, oukei?” keer ek.

      “Let us be the judge of that,” sê Engela. “Vertel?”

      Toe vertel ek maar. Nie alles nie. Net genoeg.

      “Nee-nee-nee! Jy kan mos nie die ding so los nie?” sê Moira toe ek klaar is. “Met die man wat dink ek is jy nie?”

      Ag toggatjie, dink ek. Ek het mos nou die aand al geweet hierdie liegtery van my sal stertjies groei. En hier is dit nou.

      “No big deal!” sê ek. “Wie gee om? Wat maak dit saak? Ek voel baiekeer self asof ek nie ek is nie!”

      Die twee kyk my ondersoekend aan. En gee ek-het-jou-mos-lankal-gesê-die-arme-Eric-kyke vir mekaar.

      “Oukei, oukei,” sê ek, “ek sal sake regstel. Sodra ek hom weer sien.”

      “Jy beter,” dreig Moira. “Daar is geen manier dat ek gaan stilsit terwyl doktor Alexander Oborin dink my naam is Lily Beekman nie.”

      My kop gryp so vas aan die “doktor”-gedeelte, ek kliek nie dadelik die implikasie van my vriendin se onwilligheid om ek te wees nie.

      * * *

      Hulle slaap nie dié keer oor nie. Hulle ry kort na middagete. My huis voel skielik so kaal en ek vreemd van alle vreugde ontdaan toe die twee weg is. Ek sleep my skootrekenaar nader. Laat ons maar sien? Die man se e-posse sou tog na my adres toe gekom het?

      Daar is baie boodskappe. En ja, twee van die Rus oor sy kat.

      Geagte buurvrou

      Eintlik is dit nie my kat nie. Die dier het eenvoudig besluit om by my te kom intrek. Ek is werklik jammer oor die ongerief. Daar is egter nie veel wat ek daaraan kan doen nie, want soos almal weet, laat katte hulle nie voorskryf nie. Ongelukkig moet ek dringend weg vir ’n paar dae. Iemand kom sorg daagliks vir die kat. Kan ons ’n plan maak wanneer ek terug is?

      Beste groete

      Alexander Oborin

      Ek herkou eers aan die eerste boodskap. Lees dit weer. Asof ek leidrade soek, waarvoor weet ek nie.

      Die tweede een het gevolg kort op die hakke van die eerste. Soos whiplash, of second thoughts. Dit laat my glimlag, want


Скачать книгу