Op soek na Tretchikoff. Anita du Preez

Читать онлайн книгу.

Op soek na Tretchikoff - Anita du Preez


Скачать книгу
prewel ek en gaan kry liewer die koffiebekers reg in die kombuis.

      Maar Thuli het snuf in die neus.

      “Waarvan praat sy?” vra sy vir Dricus.

      “Sommer iets vir ’n blokkiesraaisel,” antwoord hy droogweg. Iets waaroor ek al gewonder het, is nou vir my duidelik: dat Dricus meer van mooi mans as van vrouens hou. Nes ek.

      Nogmaals lui die dreamcatcher. Dit word al amper vir my oulik, dink ek terwyl ek afgetrokke agter die afskorting koffiepoeier afmeet. Die ding van die doringtakkies sit egter nie lekker in my nie. Nee. Nie die man nie. Ek gee ook geen duit om oor sy of Dricus se seksuele of gastronomiese voorkeure nie. Maar dat ek my darem so kon misgis met die estetiese aspek, is iets wat ek nie lekker kan afsluk nie. Hier trippel ek vanmôre in met my flippen sketsie waaraan ek heelnag gewerk het, met die idee dat dit vreeslik oorspronklik en nommerpas is. Doringtakkies? So passé soos doringdraad, was Dricus se mening mos. En hy weet van.

      Iets lui ’n ander soort klokkie in my agterkop. Barbed wire? Was daar nie so iets in die eeue oue TV-reeks Baywatch nie? Ek google dit vinnig. Maar natuurlik, nou onthou ek! Pamela Anderson! Die een met die yslike … En hier wou ek dit vir ’n hunk van ’n man … met MARTIN op sy arm … Agge nee, what was I thinking? Liewe genade – vir iemand met my agtergrond? Wys jou net, kuns is nie soos fietsry nie. Nee wat, ek het beslis nou heeltemal die plot verloor.

      Ek voel hoe ’n gloed van skaamte uit my nek uit opstyg. Dricus was reg. Trane prik my oogbolle en ek snuit my neus aan die vadoek. Die melk borrel oor in die mikrogolf die sekonde toe Thuli om die hoek loer.

      “Eeuw!” sê sy.

      En dis presies hoe ek voel.

      4

      Op pad huis toe besluit ek om eers by oom Heydenrych ’n draai te maak. My gemoed is nie reg vir alleen wees nie. Daarvoor het ek die hele naweek. Ek ry eers by die Longbeach Mall om, want ek weet hoe hy sukkel om sy gunstelingknertsie in Vishoek te bekom. Daarna gaan los ek my kar voor die huis en stap af in die straat tot onder by die ouetehuis.

      Oom Heydenrych is heeltemal by, sien ek toe ek by sy kamer instap.

      “As dit is wat ek dink dit is, kom jy of jy gestuur is,” sê hy toe hy die plat bruinpapierpakkie sien wat ek uit my handsak haal. “Mens vrek mos van die dors hier in hierdie droë dorp.”

      “Ja wel,” sê ek en hou dit na hom uit, “dis seker nie vreeslik korrekte prosedure van my om so iets vir oom te bring nie, nè?”

      “Prosedure? Wie de hel besluit wat is prosedure?” knor hy. Sy helderblou ogies kyk skerp op en ek sien vir ’n oomblik die man op wie sy Olga so verlief was. “Dis omdat jy nog altyd een van daai rare mense was wat geen erg het aan prosedure nie, dat jy somtyds so swaarkry. So, vat die glas langs my bed en my koffiebeker daar by die wasbak,” beduie hy, “en skink vir ons ietsie, want dit lyk vir my of jy ’n medisinale versterkinkie nodig het.”

      Toe maak ek so.

      Ons praat nie veel nie. Net so bolangs. Want oom Heydenrych is nie juis een vir woorde nie en ek is bly daaroor, want ek is self nie juis lus vir praat nie. Ook nie juis vir die amberkleurige vloeistof onder in die koffiebeker wat my asem wil wegslaan nie. Maar ek neem klein slukkies en ten spyte van die vrank smaak, salf die warmte wat in my keel afkruip die skerpheid van die dinge wat in my woel. En toe oom Heydenrych later nog ’n skeutjie ingooi sonder om te vra, protesteer ek nie. En ja, teen die tyd dat ek aanstaltes moet maak om te loop, lyk die lewe tog effens rooskleuriger.

      “Jy moet kophou, kinta,” sê oom Heydenrych en rol sy stoel flink vorentoe om die res van sy kosbare halfjackie heel agter in sy bedkas te bêre. “Jy kan nie dat hulle jou onderkry nie. Jy lyk maar so bloedjonk en onskuldig, maar jy is van sterk stoffasie gemaak, nes my Olgatjie.”

      “Dankie, oom,” sê ek en ek merk ’n tranerigheidjie in sy ooghoeke. “Ek kom gou weer.”

      Hy haak my nader met een seningrige arm en druk my vas teen sy maer skouer. Hy ruik na Vicks en troos. “Jy beter,” sê hy, “dis nie asof ek aldag besoekers kry nie.”

      “Dalk moet ek oom bietjie kom haal om daar bo by die huis ’n draai te maak. Om vir Naas te kom kuier. Ek kan mos maklik die rolstoel hier op in die straat -”

      Hy sny my woorde af. Skud sy kop. “Too many memories. My ou hart sallit nooit hou nie, nee. Kom kuier jy maar liewer altyd hier vir my.”

      Toe onthou ek eers wat ek hom alles wou vra. Ek gaan sit weer op die bed.

      “Weet oom iets van die kat wat die man langsaan my aanhou?”

      “Kat?” wil hy weet.

      “Ja, oom, die man in die ander helfte van oom se huis. Die kunstenaar. Die Russiese een. Hy hou ’n kat aan. En ek is bang -”

      “ ’n Russiese kat?” Oom Heydenrych vryf sy ken aandagtig, soos iemand wat glo hy weet iets van so ’n kat, hy moet dit net onthou.

      “Ek weet nie watse soort hy is nie, oom, maar ek is bang hy byt vir Naas.”

      “O, Naas, ja!” Ek is dankbaar om te sien sy gesig verhelder. Dis mos nou iets wat hy goed ken.

      “Bleddie beste rugbyspeler ooit daai,” sê hy, meteens vol woema. “Kyk, hy kan vir jou ’n bal skop, hoor! Hierdie Saterdag is die groot game op Loftus mos. Wag! Ek wil net gou op die nuus kyk of hulle iets daarvan sê.” Hy rol sy stoel nader en skakel sy TV aan.

      Dis toe dat ek besef oom Heydenrych is weer wegwêreld. Ek was gelukkig om hom ’n rukkie vir myself te hê. En my vrae sal maar moet wag vir ’n volgende keer.

      Toe ek buite in die lang gang kom, lui daar ’n klok en al die deure gaan oop. En net daar is die euforie van die knertsie saam met oom Heydenrych iets van die verlede. Want dit is etenstyd en aan die vasberade manier waarop al wat leef en beef (letterlik) in die rigting van die eetsaal verby my beur en skuifel, is dit die hoogtepunt van die dag vir die False Bay Retirement Hotel se inwoners.

      Dis asof my voorland reg voor my kom staan. Hoe ek ook al hoe ouer en breër word. Met klikkende valstande en beige support hose wat plooi om my geswolle enkels terwyl ek tussen badkamer en eettafel en bed skuifel op ’n paar afskuwelike Green Cross-sandale met veelvuldige velcro-stroke. Hoe hou iemand soos oom Heydenrych dit uit? Geen wonder hy raak weg in sy eie wêreld nie.

      Ek skuur ekskuus-tog-ekskuus-tog voordeur toe. En toe ek buite in die vars lug kom en die opdraand vat huis toe, vis ek my beanie uit my jas se sak en trek dit af tot oor my wenkbroue, want ek besef ek is definitief nie honderd persent nie. My gestel hou glad nie van koue wind of brandewyn nie.

      Nog minder van die feit dat my buurman op pad uit is by sy voorhekkie net toe ek by myne moet ingaan.

      Ek mik eers reguit vorentoe, deur toe, en wens hy het my nie raakgesien in die skaduwee wat die huis gooi nie, want ek is nie nou reg om hom te ontmoet nie. Nee. Ek wil ’n helder kop hê die dag as ek hom aanvat. Met dié dat hy hierdie kamtige “ware” kunstenaar is.

      Toe skop iets binne my in. Seker wat hulle Dutch courage noem, en ek draai na hom. Ek is spyt nog voor die woorde uit is.

      “Is jy die eienaar van daai nare swart kat?”

      “Is jy my buurvrou?” wil hy weet. Ek kan nie sy uitdrukking lees nie, want sy gesig is half in die skaduwee onder sy simpel keps.

      “Nee. Hoekom?” lieg ek my los. Ek sal later besluit waarom. Dalk omdat ek kan sien hy onthou my nie eens nie. Dalk omdat Dricus en Thuli nie kon besluit of hy pas uit die tjoekie of die loony bin gekom het nie.

      “Wel, eerstens is sy nie by die huis nie en tweedens sal ek graag ’n gesprekkie met haar wou hê.”

      “O. Hoekom?” Ek kan hoor ek klink soos Naas op ’n lam dag. Nee, heelwat dommer, besef ek toe ek oor my eie stoeptrappie struikel en soos ’n os neerslaan. Of dalk eerder ’n koei. Behalwe dat geen koei so dom sal wees om by haar eie drumpel te gaan staan en omval nie. My linkerskeen


Скачать книгу