Meerminliefde. Lizet Engelbrecht
Читать онлайн книгу.“Ek hét ander plekke wat ek vir jou kan wys, maar nie van naastenby hierdie gehalte en afwerking nie. Kom ons stap eers deur die huis sodat jy ’n gevoel vir die plek kry. En verder is ek seker dat René haar aanvalle in die toekoms met groter omsigtigheid sal beplan.”
“Het albei plekke voltitel?” vra Kobus.
“Ja,” antwoord René, vies vir die neusoptrekkerige mansmens. “Albei is voltitelplekke en behoort aan dieselfde eienaar. Maar as jy nie van die huis hou nie, is ek seker dat Natasha vir jou iets meer gepas sal hê. Julle Gautengers is mos maar ’n spesie van julle eie. Wat van die huis daar bo teen die kop?”
“Hoe weet jy hy’s van Gauteng?” vra Natasha.
“Sy nommerplaat. Toe, gaan wys vir hom die huis teen die bult.”
“Die een wat so afgesonderd staan?” vra Natasha senuweeagtig.
“Daardie een, ja. Dit behoort vir Kobus te werk; ek twyfel ook of hierdie sy tipe huis is,” sê sy smalend vir Kobus en geniet sy frons. Sy vervolg vinnig: “Verskoon my, my huisfoon lui.”
René maak haarself uit die voete. Die man se oë ontstel haar en dan sukkel sy boonop om hierdie lawwe skuldgevoel te onderdruk elke keer wanneer hy ’n bloedstraaltjie van sy voorkop vee.
“Kom kuier vir my, ons het baie om oor op te vang,” roep Natasha agterna.
“Oukei, ek wou jou mense juis volgende week sien in verband met ’n nuwe huurkontrak en die opsie om te koop,” roep René oor haar skouer terwyl sy wegstap. Sy moet haar kothuis nóú haar eie maak, weet sy. Sy stap vinnig oor die plaveisel en verby die meermin-spuitfontein reg in die middel van die oprit.
Later daardie aand klim René in ’n stomende bad water en sak daarin af tot net die punt van haar neus uitsteek. Vandag het sy nie eens tyd gehad vir haar diere nie, maar môre vroeg sal sy met Donald en Tess gaan draf.
Die warm water, wat gewoonlik so ’n lafenis is, wil nie vandag op haar deurmekaar gemoed werk nie. Die gebeure van vroeër spook by haar en haar gedagtes weier om skiet te gee. Sy voel steeds ontsteld oor die knuppel-insident, maar meestal is sy bekommerd: Die bank het haar aansoek om ’n huislening afgekeur, en nou is die boedel afgehandel. Sy’t geweet dit sal eendag gebeur en dat sy dan bure sal kry, maar nie iemand so, so …
Die gedagte aan Kobus se flitsende blou oë laat haar orent vlieg. Sy voorkop het sleg gelyk, miskien moes sy darem vir hom ontsmetsalf gaan haal het. Sy swets saggies. Sy moet eerder op haar huispenarie konsentreer en van die vreemdeling vergeet. Sy twyfel in elk geval of hy die huis sal koop – mense koop deesdae met die oë, want min kan werklik ’n eiendom soos die een langsaan bekostig. Die gedagte kalmeer haar en sy sak terug in die water. In elk geval neem dit drie tot ses maande om ’n lening te kry en oordrag van eiendom te doen.
René sug hardop – sy weet dít immers. Sy sukkel al maande dat die bank vir haar ’n lening goedkeur. Kwansuis is sy nie kredietwaardig om ’n honderd persent lening te ontvang nie. Sy moet ’n deposito neersit – een wat sy wáár gaan kry?
Ses-en-dertig maande huur sy hier, en ses-en-dertig maande staan die herehuis leeg en wag vir die weduwee se boedel om afgehandel te word. Maar sy’t nie gewag nie. Nee, sy’t haar stukkie huurgrond omgespit en ingerig asof dit reeds haar eie was. Bome geplant wat nou weerbarstige tieners is met lang slap takke wat weier om te buig waar die wind hulle druk. Sy’t vir Wolf agter in haar erf begrawe. Als geverf. ’n Groente-en-kruietuin gevestig. Sy’t dit alles gedoen, want sy’t vas geglo wanneer die tyd reg is, gaan sy die kothuis koop. Sy’t al soveel gedroom van die dag wanneer sy haar motor afbetaal het. En daar’s nou net twee paaiemente op hom oor. Iemand anders kan die groot huis koop, maar hierdie tweeslaapkamer-paddastoel is hare. Sy kan nie weer trek nie!
Dis nie dat sy bang is vir werk nie, die hemel hoor haar, sy skrik nog nooit vir werk nie. Dis net dat sy, vóór hierdie kothuis, nog nooit langer as agttien maande op een plek gebly het nie. As kind het sy en haar ma soveel getrek dat sy nooit ’n plek gehad het wat sy werklik haar huis kon noem nie. Maar hierdie kothuis is háár plek – hier het sy geleer om die verlede agter haar te laat. En hier het sy geleer dat sy ongeag haar moeilike kinderjare tog gelukkig kan wees.
Sy’s liéf vir hierdie plekkie – in haar hart is dit haar eie. Die enigste standvastige blyplek wat sy nog ooit geken het.
2
René sit haar lêer op Mandie se tafel neer. Sy voel vanmôre tam. Sy’t heelnag nagmerries gehad oor ’n blondekopman met ’n stukkende voorkop. En dan byt-byt Mandie ook nog vanoggend aan haar soos ’n uitgehongerde vlooi. Sy wens sy’t nie nodig gehad om haar vriendin se vraag te antwoord nie.
Sy haal diep asem en sê: “Mandie, ek stel nié belang nie. Regtig. Jy kan die blind date op jou maag skryf en met jou hempie uitvee, ek wil niémand ontmoet nie.” René woel haar vingers deur haar hare terwyl sy wegstap. “Ek verpés hierdie nat weer, my hare lyk soos Fiela se kind se boskasie. Gaan die son nooit weer skyn nie?” mompel sy en gaan skink vir haar en Mandie filterkoffie in.
“Ek ken jou, René, jy probeer nou net die onderwerp verander. Daar’s nie fout met jou hare nie,” kap Mandie terug toe René haar koffie aangee.
René proe aan hare, dan kyk sy op na Mandie, haar beste vriendin – eintlik haar enigste vriendin.
“Ag nee man, Mandie! Moenie my so aankyk nie,” raas René toe sy Mandie se gesig sien.
“Hoe kyk ek jou aan?” vra Mandie kamma onskuldig en klap ’n lêer met papiere hardhandig toe.
“Jy weet baie goed. Met daardie help-my-asseblief-ogies van jou. Jy’s erger as ’n straatkind, maar vandag gaan dit nie werk nie. Luister nou mooi: Ek stel nie belang om iemand te ontmoet nie! En in elk geval eis die werk al my aandag. Ek móét die direkteur vandag oortuig dat ek ondersteuning in die veld nodig het. Professionele ondersteuning. Ek’s oortuig daar steek meer in die koningsprotea- en suikerbosplundery.”
“Hoekom sê jy so?” vra Mandie nuuskierig.
“Ek sal later verduidelik. Is Carlos hier? En is die dokumentasie vir die vergadering gereed?”
“Jou baas is mos al heelweek uitstedig, jong. Wie weet wáármee hy hom besig hou,” sê Mandie en mompel: “Hy praat in elk geval nie met mý nie.”
“Carlos is deesdae ’n geslote boek, ja. Maar die dokumente?” vra René en lig haar wenkbroue strengerig. Ofskoon sy en Mandie vriendinne is, tree sy professioneel op by die werk – en Mandie kan maar party dae ’n regte loskopdolla wees.
“Gereed, Juffrou Tweede-in-bevel. Die papierwerk, en al die gerapporteerde proteaplundery oor die laaste agt weke is aangeheg.”
“Die hele Overberg: Stanford, Hermanus, Agulhas, Napier, Bredasdorp, als?”
“Presies soos jy beveel het, ja. Ek moet sê, daar’s baie gevalle aangemeld. Miskien het jy tog iets beet,” antwoord Mandie en drentel na haar lessenaar.
“Dankie, Mandie,” sê René verlig dat haar vriendin skynbaar nou die idee om haar aan iemand voor te stel laat vaar het.
“Jy weet, René …” sê Mandie en ruk haar papiere ergerlik rond.
“Nee, ek weet nie, maar ek het ’n idee jy gaan my nou vertel.”
“Ja, ek gaan! Jy’s my beste vriendin vir die laaste veertien, of is dit al vyftien jaar?” sê-vra Mandie.
“Vyftien,” antwoord René en weet wat gaan volg, daarom voeg sy vinnig by: “Waarin daar soveel onderbrekings was, dat ons eintlik seker nog nie eens drie jaar vriende is nie.”
“Nonsens! Onderbrekings ofte not, ons is die laaste vyftien jaar vriende. Niks en niemand gaan dit ooit verander nie.”
“Dankie, Mandie,” sê René sag, en sy bedoel dit. Mandie was nog altyd daar. Mandie is die een wat al die jare kontak gehou het. En wanneer hulle nader aan mekaar gebly het, was dit altyd Mandie wat die drade opgetel en die vriendskap voortgesit