Marike se laaste dans. Deborah Steinmair

Читать онлайн книгу.

Marike se laaste dans - Deborah Steinmair


Скачать книгу
ouer as ek.

      Hoofstuk 3

      Daar staan Marike langs die pad met haar tassie, soos Brel se Bedremmelde Frieda.

      Die verkeerslig word groen, maar ek trek af en hou met skreeuende remme langs haar stil, sonder om my flikker aan te sit, tot groot ontsteltenis van ’n ry taxi’s agter my.

      “Mevrou de Klerk, kan ek u ’n geleentheid gee?”

      “Dit sal danig gaaf wees, Maud.”

      “Ken u my?”

      “Ek lees jou soms op die internet, my skat. LitNet en Die Burger is oral beskikbaar.”

      “Aan … die Anderkant ook?”

      “O ja. Dit vat net ’n bietjie langer om af te laai.”

      “Mevrou …”

      “Noem my Marike, mens. Ek’s nie seker hoe oud ek nou is nie en wie weet of ek nog ’n mevrou is.”

      “Waarheen gaan ons?”

      “Besluit jý, my skat. Ek is hartlik sat georganiseer. Ek is hier om te leer ontspan, soos oom Diederik moes leer huil.”

      “Van Melle. En oom Karel wat sy geweer saamgeneem het.”

      “Alhoewel daar nie hekke is nie. Maar dis ontstellend hoeveel hunkering daar steeds bestaan. Jy sal eendag weet: dis nie so eenvoudig om ’n lyf af te skud nie.”

      Sy sit haar voetjies, in skitterwit seilskoene, op die paneelbord van die nuwe motor wat my eksman vir my gekoop het.

      Sy stryk haar hare plat en frons teen die agtermiddagson.

      Sy steek ’n sigaret aan. Ek loer nuuskierig na die pakkie. Dis Sobranie Cocktail, die giftige gekleurde sigaretjies wat dramastudente in my jeug gerook het. Sy teug diep, dog elegant. Sy hoef haar seker nie meer oor haar longe te bekommer nie?

      F.W. het opgehou rook, dit weet ek uit Martie Retief-Meiring se boek oor die nuwe mevrou De Klerk, Elita.

      Hoofstuk 4

      Dit was ons geheim.

      Ek sou nooit droom om iemand daarvan te vertel nie.

      Ek wou dit hê en ek wou nie hê dit moes ophou nie.

      Toe ek skool toe is, was hy lankal vort, my geliefde, die loseerder in die buitekamer.

      In graad een is daar vir ’n ruk ’n halfgestremde kind wat haar wenkbroue met ’n skeermes afskeer, nog voor die punkbeweging. Die kinders vermy haar omdat sy spoeg as sy praat en skuimbolle opwerk as sy opgewonde raak.

      Ek luister in gefassineerde afgryse na haar gebrabbel. Ek verstaan waarvan sy praat.

      Sy lispel en bry en spoeg onsamehangende stories uit van ’n poliesman wat op die mat lê in sy onderbroek (ek kan my die toneel maklik voorstel, die onderboek is ’n Y-front, wit, vol klein ronde gaatjies).

      “Dan haaal hy thy DING yt … ath daar thulke WIT goed by thy DING ytkom, moet jy weet hy’th LUTHHHH …”

      Haar oë dop om en die skuimbolle waai. Sy is kort voor lank weg na ’n spesiale skool.

      Ek is eensaam nadat sy weg is. Nou is ek die enigste vrot appel in die koor van kindergesiggies soos die sterre se liggies die hemel se pêrels vir Jesus se kroon, so glo ek. Ek kyk deur dooie oë na die spelende kinders en dink: as julle maar weet hoe vrot ek is, stink, siek, sondig. As ek honde sien paar, wil ek opgooi. Ek is onherroeplik vervuil. Ek sou nooit ’n man kry nie, dit was duidelik.

      Ek kry dwanggedagtes; ’n honende stem in my binneoor herhaal honderd maal: “Liewe Jesus het ’n piepie, Liewe Jesus se piepie.” Om die sataniese stemmetjie te verdring, begin ek freneties lees, elke wakende oomblik, alles wat voorkom.

      Ek is opgefok. Ek kom honderd maal tot bekering. My puberteit stel ek uit tot verdere kennisgewing. Ek is ’n vroom en heilige kind, ’n senuwrak. Die landskap in my kop kweek ek ordelik en in Engels aan.

      Toe ek die eerste keer Blake lees:

      O Rose, thou art sick!

      The invisible worm

      That flies in the night,

      In the howling storm,

      Has found out thy bed

      Of crimson joy:

      And his dark secret love

      Does thy life destroy.

      … staan alles in my regop en skree YETH!

      Hoofstuk 5

      In die motor is Marike stil en afgetrokke. Sy raak met tye deurskynend. Ek is nie gereed om haar te laat gaan nie, want ek brand met ’n duisend vrae.

      Ek probeer my beteuel, maar toe ons Kaapstad binnery, blaker ek tog uit: “Hoekom het jy mý gekies om aan te verskyn?”

      “Hartjie, ek wil jou nie ontnugter of onbelangrik laat voel nie, maar baie dinge is bloot toevallig. Jy was daar. Ek het maar gestaan en wonder waar om te begin, toe jy verbyry en my raaksien. In my lewe het dinge meestal volgens plan en protokol verloop, maar alles is meer lukraak nou. Dié slag, lyk dit my, sal ek moet leer improviseer.”

      Ons sit in my sitkamer. My kat, Rufus, het ons besoeker een kyk gegee en kromrug die hasepad gekies.

      Ek probeer kiertsregop sit soos Marike, eerder as om soos gebruiklik op my stuitjie te lê.

      Sy pluis aan my verrinneweerde stoelkussing. Sy skyn sonder plan te wees:

      “Dis nie asof ’n mens instruksies of ’n reisplan ontvang nie. Ek is nie eens seker of ek gestúúr is nie. Ek vermoed dis my eie hunkering, die spesmaas van ongedane sake, wat my gelanseer het. Ek beplan om maar hier rond te hang tot dinge duideliker word. Die oorgang is nie maklik om te navigeer nie, glo my.”

      “Waar kom jy nou vandaan, as ek mag vra? Ís daar ’n hemel?”

      “Ek sou so hoop, maskas. Nie dat ek al daar aangeland het nie. Ek was tot dusver in ’n soort niemandsland. Dit herinner aan ’n wagkamer in ’n stasie. ’n Enorme vertrek met mense wat gedurig kom en gaan en meestal wag.”

      “Sjoe. Sewe jaar. Het jy bekendes daar raakgeloop? P.W. Botha? Miriam Makeba?”

      “Nie een van dié twee nie. Ek reken hulle het reguit na die eindbestemming gereis. In die Wagkamer dool rustelose siele rond met ’n ontstelde gees wat nog nie gereed is vir die oorgang nie. Die pragtige Matie-student sit met die meisietjie wat deur haar verkragter doodverbrand is op haar skoot. Vermoorde musikante … jêm. Sluipvermoorde politici drentel nog verdwaas rond. Oral is hunkering en hartseer.”

      “Wat het jy hier kom doen? Kan ek help?”

      “Ek sal nou en dan ’n geleentheid waardeer. Ek het nooit juis motor bestuur nie. Ek weet nie of ek oor bomenslike kragte beskik nie, miskien behoort ek deur middel van konsentrasie van punt A na punt B te kan beweeg. Maar weet jy, ek was so lank gedompel in die Calvinistiese werksetiek, dis moeilik om te laat gaan en terug te val op towerkrag. En ek wonder nogal oor Luyanda Mboniswa.”

      “Jou moordenaar?”

      “Ek het gelukkig geen geheue daarvan nie. Ek weet hy is opgesluit vir die … moord.”

      “Wil jy hom gaan vergewe? Soos Nelson Mandela wat by Betsie Verwoerd gaan tee drink het op Orania?”

      “Nee, ek sou hom om verskoning wou vra. Ek is moeg, ons gesels later weer.”

      Daarmee vervaag sy en word deursigtig in die leunstoel, sodat net haar buitelyne – stippellyne – teen die bekleedsel bly huiwer.

      Hoofstuk 6

      Ek kan nie onthou of my innerlike dialoog by die boeties begin het en of dit van altyd af daar was nie.

      Voor


Скачать книгу