Marike se laaste dans. Deborah Steinmair
Читать онлайн книгу.is nie ’n joernalis nie. Ek was ’n sub, maar ons afdeling van die koerant het verlede week toegemaak. Ek is afgelê. I lost my job two weeks before Christmas – dit kom uit ’n liedjie van Rodriguez.”
“O, ideaal. Dan kan ek en jy onverstoord rondslenter en agter die kap van ’n paar byltjies kom.”
“Ek wil nie ongeskik wees nie …”
“Jy bedoel seker jy wil nie ongepoets wees nie. Ek reken jy is heeltemal geskik vir die taak.”
“Ek bedoel, hoe weet jy ek het nie beter dinge om te doen nie, soos werk soek?”
“Jy het my immers gesién. Dit beteken jy het vrae rondom my … einde. Of my lewe.”
“Ek het teorieë, ja. Jy spook al lank by my. As ek voltyds werk, het ek nie altyd genoeg tyd om dinge deur te dink nie. Ek het van kleins af ’n duisend teorieë in my kop, maar die gewone lewe wil dit altyd verdring. Om te dink, om een gedagte klaar te maak, is ’n ongelooflike luukse wanneer jy vir ’n maatskappy werk.”
“Dan is dít waarom jy jou werk verloor het. ’n Bestiering. En gaan koop asseblief vandag vir ons Earl Grey-tee. Wat pla jou omtrent my lewe?”
“Die ongeleefde deel.”
“Skote Petoors.”
Hoofstuk 10
'Kom ons fokof Joburg toe,” sê Die Skrywer op ’n dag.“Ek het baie vriende daar. Ons sal jobs kry. Got, hierdie valley is te benepe. Hulle leef ’n mens dood hier. Dis ’n klomp mompelende morone. Herkouende zombies. Masturberende nonne. Dis ’n bloedskandelike plakkerskamp. Ek is bang die AWB’s vergiftig my honde.
“Ons gaan bly in Melville. Jy sal aan die skilder gaan as jy hier wegkom, en skryf. Jy kan jou nie vir ewig hier op die plaas begrawe nie. Jy’s dit aan jou talent verskuldig. Jou kinders ly aan omgewingsarmoede. You dig? Hulle is briljante kids. Jy is dit aan hulle verskuldig. Moenie worry nie, ek sal vir ons almal kook. Ek is ’n huishen. Ek sal vir die kinders klavierlesse gee sodat jy kan tyd kry om te skilder.
“Ons kry ’n plek met ’n tuin, plant spinasie, tamaties, pampoen, kruie. Got.”
Hoofstuk 11
Marike slaan haar oë op na die berge.
“Dáárna het ek verlang, al die jare in die spierwit Wagkamer sonder uitsig. Somerdae in Kaapstad, met die mis oor die berg en die wind wat alles skeef waai, die see so verblindend blou. Duits en Japannees wat op straat gepraat word. Teen die einde het ek alles deur ’n gekraakte donkerbril waargeneem. Die blues op Bloubergstrand. Depressie bloei die kleur uit dinge, Maud.”
“Ek weet. Jy het op die regte tyd opgedaag. Ek was lank onder ’n wolk, maar vanjaar, skielik, het geluk my oorrompel. Dit was nie net gunstige omstandighede nie, dit was eerder ’n lawwe opwelling van vreugde, sonder rede. As ek in die oggende hier uitstap, wil my hart bars van liefde vir Tafelberg.”
Ek wil soos dikwels die dag begin met ’n gym-sessie, maar Marike sit haar seilskoenvoetjie dwars neer.
“Nee, goeie hemel. Dis heeltemal te vervelig. Wie weet hoeveel tyd het ek? Waarom op ’n trapmeule kleitrap, ’n stilstaande fiets se gal werk of die aaklige geroei na nêrens?”
“Soos Anne Sexton se bundel The Awful Rowing towards God?”
“Jy is knap met verwysings. Maar onthou, miskien leef ek in jou kop en haal maar dinge aan wat jy ken.”
“Jou reistassie op my sitkamermat is nogal solied.”
“Voorwerpe oorleef mense, Hartjie.”
Ons stap skouer aan skouer met Langstraat af. Amper niemand sien vir Marike raak nie. Voetgangers glip moeiteloos regdeur haar. Hier en daar steek ’n prewelende bergie viervoet vas en staar na haar. Soos die prewelendes, diegene geseën of gestraf met verbeelding, praat ek ook nou met myself op straat. Niemand steur hulle daaraan nie. Mens kan doen net wat jy wil in Kaapstad.
Marike het haar hoedjie by die huis gelos en frons onbevange in die oggendson. Daar is ’n blos op haar wange, haar kapsel het begin ontspan en silwer steek oral kop uit. Sy lyk sagter, haar gesig gaan oop soos ’n gousblom.
“Een van my gunsteling-kinderboeke was Ek en jy, Grootbroer. Ek en jy, Marike.”
“Moet nou net nie sentimenteel raak nie. Hoe was jou verhouding met jou ma?”
“Problematies. Ek het haar aanbid as kind en tiener en ek moes haar pynlik vermoor om my eie mens te word. Nou nog, dikwels. Met ’n stomp dolk. Maar dit gaan mos nie oor my nie. Ons probeer nou jóú ongeleefde dae inhaal.”
“Jou arme ma het haar bes gedoen. Ek het eenkant, sonder veel fokus, grootgeword. Ek het ongesiens voortgegaan met my lewe. Ek het wel altyd die gevoel gehad dat ek moes presteer om liefgehê te word.”
“Ek het nagelees oor jou. Jou slim pa het julle vroeg verlaat en is later doodgery. Dis ’n verlies waaroor jy nooit gekom het nie. Jy het nooit opgehou presteer nie. Jy het die samelewing se onmoontlike voorskrifte onder die knie gekry. Ek dink jy het die resep te nougeset nagevolg. Jou koek was ’n wenner, maar die medalje was nie die moeite werd nie.”
“Ain’t that the truth, girlfriend. Ja, ons kyk Oprah in die Wagkamer. Ek sal graag met die insig van die Anderkant vir Dr Phil ’n paar dinge wou vertel. Die man is te selfingenome. Hy glimlag te veel na my sin. Hy glo in resepte – daar is te min ruimte vir improvisasie.”
“Dis een van my gunstelingkonsepte. Hou jy van jazz? Ek dink chaos is SO bevrydend.”
“Ek dink ek is gereed om chaos te omhels, Maud Grobler.”
Hoofstuk 12
Dis 2001, Marike se laaste jaar.
Die Skrywer is sexy. Sy is rosig soos ’n perskeblom wanneer sy uit die bad klim.
Sy knoop ’n geruite hemp toe en los die boonste knope oop sodat ’n mens die duik tussen haar asimmetriese borste sien en die Dawidskruis van haar ouma, ’n Poolse Jood.
Dan teken sy vir haar wenkbroue, ’n dun en grasieuse boog soos ’n geisha, soos God in een van haar stories.
Sy trek ’n kam deur haar borselkop en glip ’n kakiebroek aan. Sy blink.
Sy voer ’n stadige danspassie uit met haar ferm boude.
Sy sing:
“Mense mense mense, nou’s julle laaste kans om te sien hoe ou Gina die ghoema dans.”
Sy het ’n platvloerse lag wat suiwer refleks is, soos ’n nies. ’n Mens kan dit tot in jou maag voel kielie, haar onbehoorlike lag.
Sy vind my snaaks op die manier waarop mense my dikwels snaaks vind: koddig. Sy lag vír my, nie saam met my nie.
Sien of ek omgee.
Ek het sekere gewoontes, maniere van doen en sê wat dit vir my moontlik maak om deur die dag te kom.
“Waar is die remote?” sal sy skel.
Ek haat die gebruik van remote in Afrikaans en sal van niemand verwag om afstandbeheer te sê nie. Daarom sê ek:
“Sy het ’n naam. Haar naam is Ramona. Vra waar is Ramona.”
Dit laat haar altyd sing, in ’n rokerige jazzkafee-stem wat ’n mens soos ’n streling op jou vel voel:
“Ramooooooouna, my hele halwe boud is joooouuuuuune.”
In sulke dinge verkneukel ek my eindeloos.
Sy het ’n kop vir rympies opmaak, een van my gunstelingdinge. Een van haar rympies is: “Ek hou van jou/ jy hou van my/ aanstons is ons onder die duvet.”
Die Skrywer is fantasties en onleefbaar. Sy strompel deur die vertrekke met elektriese hare.
Sy dra ’n vuil