Boos en Bisar. Chris Karsten

Читать онлайн книгу.

Boos en Bisar - Chris Karsten


Скачать книгу
en wegry. Maar daar was vir hulle geen genade nie. Met hul hoop en hul gesigte in die grond is hulle in die agterkop tereggestel.

      In die veld by die twee liggame is ook motorspore, diep in die modder, soos een wat in die modder vasgeval het, en baie voetspore. Brett en Richard se sokkies en bene is vol modder.

      ’n Groot groep polisiemanne, speurders en forensiese ondersoekers is op die afgesperde toneel.

      Richard se Polo word vermis, die twee vriende se selfone en ander besittings, soos Brett se kredietkaart, Richard se sportsak, en die klere en skoene wat hulle die vorige aand na die partytjie in Bakoven aangehad het.

      Die boewe

      Die Saterdagaand, terwyl Brett en Richard by die gesellige partytjie-ete van ’n groep talentvolle vriende in Bakoven aansit, ry ’n blou BMW vir kwaadgeld deur Kaapstad se strate. Uit die middestad vat dit die pad kuslangs, deur Seepunt, Clifton, Kampsbaai.

      Die vier insittendes was in die loop van die aand op verskeie plekke, het hul eie partytjies gehou, ook gesellig, op hulle manier, nie alte gesofistikeerd nie. Hulle kom uit ’n kultuur van armoede, drank, dwelms en bendegeweld op die Kaapse Vlakte.

      Shawaan Marlie (25) bestuur die kar, dit is sy wiele. By hom is Clinton Davids (23). Albei is van Kensington. Clinton se broer is ’n gerekende leier van die Americans-bende, Igshaan Davids (35), ook bekend as “Sanie American”.

      Die ander twee in die motor is Jade Wyngaard (19), ook van Kensington, en Nurshad David (18) van Crawford.

      Die vierstuks is op soek na ’n kar om te steel.

      Net ná middernag ry hulle in Victoriaweg en sien twee mans in Bakoven na ’n Polo stap. Hulle besluit om die Polo te steel, dit lyk na ’n nuwe kar. Hulle oorrompel die mans, boender hulle in die BMW en ry met die twee karre die nag in.

      Skaars vyf uur later is die BMW terug in Kampsbaai se strate. Maar die insittendes het verander. Shawaan is steeds agter die stuur, en Clinton is ook by hom. Jade en Nurshad is egter nou weg. In hul plek is Rameez Sayeed (23) van Newfields in Athlone.

       Hulle kom uit ’n kultuur van armoede, drank, dwelms en bendegeweld op die Kaapse Vlakte.

      Die adrenalien pomp in hul are. Hulle het met ’n vreemde kredietkaart by ’n bank probeer geld trek.

      Shawaan jaag. En skielik is daar ’n polisievoertuig by hulle en hulle word afgetrek. Dis Sondagoggend vyfuur. Die polisie wil weet hoekom hulle so roekeloos ry. Die drie mans is senuweeagtig. Die polisie ruik lont, en vat hulle polisiekantoor toe vir ondervraging. Hulle kry die kredietkaart, in die naam van Brett Goldin.

      Die drie word die hele Sondag afsonderlik deur speurders ondervra. Later die dag hoor die polisie dat Denise Goldin haar seun, Brett, as vermis aangegee het.

      Sondagnag maak die ondervraers ’n deurbraak. In die nag gaan wys Shawaan en Clinton ’n toneel onder dennebome in Mowbray aan die polisie uit waar die lyke van twee mans lê. Nog name word genoem.

      Terwyl die polisie die gebied afsper en vir leidrade begin deursoek, slaan speurders toe in Crawford in Athlone. Jade Wyngaard en Nurshad David word Maandagoggend omstreeks nege-uur in hegtenis geneem.

      Brett en Richard se liggame word lykshuis toe geneem vir die foren-siese outopsie. Dáár word vasgestel dat hulle nie seksueel aangerand is nie en geen tekens van verbode middels word gevind nie. Die skoknuus oor hul dood versprei vinnig deur veral die kunsgemeenskap van die Kaap en die res van die land, selfs oorsee. Die Maandagaand se opvoering van Hamlet word gekanselleer.

      Fahiem Stellenboom van die Baxter sê: “Dit is baie hartseer dat so ’n tragedie moet gebeur met ’n wonderlike, dierbare en dinamiese jong man wat so ’n wonderlike toekoms voor hom gehad het.”

      Dinsdag word Trevino Cairncross (25), ook van Crawford, in hegtenis geneem. Die polisie vermoed hy het van die slagoffers se eiendom in sy besit.

      Shawaan, Clinton en Rameez verskyn dieselfde dag vlugtig in die Kaapse landdroshof op voorlopige aanklagte wat verband hou met die besit van gesteelde goedere. Shawaan se bewoë pa, Mogamat, en sy broer, Razeen, is by die hof. Razeen Marlie sê: “Ons weet nie wat aangaan nie. Hy [Shawaan] is nie so ’n persoon nie. Dis moeilik om te glo dat hy betrokke was. Hy het ons altyd uit die moeilikheid gehou.”

      Clinton se ma sê hartseer: “Ek voel baie seer. Ek is ook jammer oor wat met daai mense [Brett en Richard] gebeur het.”

      Omstreeks twee-uur Woensdagoggend sien veiligheidswagte by die Vangate-winkelsentrum in Athlone ’n verlate motor op die parkeerterrein. Hulle bel die polisie. Richard se gesteelde Polo word opgespoor. Een van die veiligheidsgordels is afgesny.

      Later die Woensdagoggend verskyn die ses jong manne in ’n stampvol Wynbergse landdroshof, met swaar gewapende polisiemanne. Shawaan Marlie, Clinton Davids, Rameez Sayeed, Jade Wyngaard, Nurshad David en Trevino Cairncross word verdink van moord en roof met verswarende omstandighede.

      Die staatsaanklaer sê klere en ander persoonlike items van Brett en Richard is in hul besit gekry.

      Shawaan se ma sê huilend by die hof: “Hulle is lieflike seuns. Ons is ’n decent familie. Hulle is nie rubbish nie. Dit kan nie waar wees nie. Is ek besig om te droom? Hy [Shawaan] is my alles en altyd daar vir my. Ek kan op hom staatmaak.”

      Dieselfde Woensdag waarop die ses in die hof verskyn, neem die polisie nog drie mense in hegtenis. Eers vir Zubair Davids (21) en Yazeed Eyssen (25), en later die dag ’n jong vrou, Anushka Anthony (22).

      By Zubair en Yazeed kry die polisie ’n pistool. Forensiese toetse word gedoen om te kyk of dit die moordwapen is waarmee Brett en Richard koelbloedig in die agterkop geskiet is terwyl hulle nakend en weerloos op hul mae gelê het.

      Nou begin wilde bespiegelings in die media verskyn oor hierdie “Crazy”-moorde (genoem na Crazy Monkey). Was dit ’n bendemoord, ’n soort makabere inisiasie om nuwe lede by ’n bende in te lyf? Of het dit te doen met homofobie? Daar is verwysings na die massamoord op homoseksuele sekswerkers in die Sizzlers-klub in Seepunt. Of is hulle summier tereggestel oor dwelmskuld wat nie vereffen is nie?

       Was dit ’n bendemoord, ’n soort makabere inisiasie om nuwe lede by ’n bende in te lyf?

      Al hierdie bespiegelings is nie aangename leesstof vir Brett en Richard se naasbestaandes en vriende nie, maar hulle handhaaf ’n waardige stilte terwyl die polisie-ondersoek blitssnel sy verloop neem.

      Al wat die polisie amptelik sê, is dat hulle nie kan bespiegel oor ’n bendeverbintenis nie, al is Clinton Davids se broer ’n berugte lid van die Americans-bende. Die polisie beskou roof as die enigste motief vir die dubbele moord.

      Brett en Richard word op Saterdag 22 April in die Joodse deel van Wespark-begraafplaas in Johannesburg begrawe, ’n uur ná mekaar. Sowat 400 rouklaers, onder wie bekendes soos Tony Leon, (gewese) leier van die Demokratiese Alliansie, en die akteur Colin Moss, is om Brett se graf toe rabbi Ari Shishler sê: “Daar is geen woorde nie. Niks. Net stilte. Geen woorde kan die skok en woede beskryf nie. Woorde is nie genoeg om te verduidelik hoekom dít moes gebeur nie.”

      Samantha se lyf ruk soos sy huil en sy word styf deur haar pa, Peter, vasgehou. Denise staar net strak na haar seun se eenvoudige dennehoutkis.

      Rabbi Shishler sê: “Die harde werklikheid is dat ons in ’n wêreld leef wat nie beter raak nie. Ons grootste bydrae sal wees om ’n verskil te maak in hierdie land, om Suid-Afrika ’n beter plek te maak. Ons weet nie wat Brett gesien of gevoel het nie, ons kan ons net indink.”

      Leon sê daarna in ’n verklaring dié moorde laat Suid-Afrika en die res van die wêreld sidder. “Wat het van ons samelewing geword? Waar is die regering in hierdie krisistyd?”

      Denise Goldin sê die land se moeders moet “hel en verwoesting” saai en toi-toi voordat húl kinders ook weens sinlose misdaad begrawe word.

       Denise Goldin sê die land se moeders moet “hel en verwoesting” saai en toi-toi


Скачать книгу