Die Neus. Deborah Steinmair
Читать онлайн книгу.is aan. Sy hoor die omroeper se stem asof van ver: “Dink daaraan, luisteraars: advertensieagentskappe en politieke propagandiste spandeer ’n fortuin om ons almal se warm knoppies te vind, daardie skakelaars wat onder ons vlakke van bewussyn versteek is, wat ons besluitneming vorm terwyl ons vasklou aan die idee dat ons ’n ingeligte keuse maak en onderskeidende verbruikers is.”
Sy is ’n donsveer; die radiostem laat haar loskom van die plafon. Sy daal stadig neer, terug aarde toe. Word weer bewus van die growwe mat onder haar wang.
Sy lees die die ou koerantberigte en memoriseer in die lees. Haar geestesoog neem foto’s. Sy het geen skandeerder of program wat ’n word search kan doen nie, maar haar metode werk goed genoeg. Later knyp sy haar oë toe en spoedlees die berigte totdat die woord of frase waarna sy soek, uitspring. Sy onthou waar dit gestaan het, in die hoeveelste kolom hoe ver van onder op watter bladsy, links van watter foto. Dis ’n gawe, soos party mense wat hul neus met die punt van hul tong kan raak.
Sy lees oor die raaiselagtige dood van ene Rosalie Schwarzbraun van 28ste laan, Villieria, Pretoria, in Oktober - 1966.
Rosalie het saam met haar baba in ’n huis teen die hang gewoon. Wie die kind se pa was, is onbekend. Daar was ’n trust waarvan Rosalie se oom die eksekuteur was. Haar enigste verwant.
Op 16 Oktober 1966 tref Rosalie se oom, mnr. Myer Spiewak, haar dood tussen die bamboese agter die huis aan. Sy was verwurg. Sy was nie verkrag nie en al wat vermis word, is die hangertjie met twee haarlokke daarin wat sy om haar nek gedra het.
Rosalie het afgesonderd gewoon. Daar was geen vriend, geliefde of tuinier om te verdink nie. Dit het daardie oggend gereën en in die klam grond van die bamboesbos was haar eie voetspore en die spore van haar oom wat op haar afgekom het, asook ’n onbekende voetspoor, van ’n sportskoen. Die laaste twee pare voetspore is later gemaak, toe die grond al droër was. Selfmoord is uitgeskakel – dis onmoontlik om ’n mens se eie lewe met jou kaal hande te neem. Daar was geen verdagtes nie, behalwe mnr. Spiewak. Die polisie het hom eindeloos ondervra. Die huis was die laaste teen die hang, die hoogste huis. Daar was ’n redelike afstand tussen hulle en die huis onder hulle, en die enkele huis langsaan was in daardie stadium onbewoon.
’n Stokou boosheid steek voelers uit na die klein haartjies in haar nek. Die gebeure is nie los van haar lyf nie, het die briefskrywer gesê. Sy lê in die hangmat op die sonstoep. Die pou, Flaubert, staan op die staanlamp langs haar skouer. Sy maak haar oë toe en probeer die huis teen die koppie visualiseer. Sy sien net ’n dowwe koerantfoto. Sy lê en fokus tot sy in ’n halfslaap verval. Sy hoor uiteindelik vaagweg ’n stem. Dis al wat sy kan bykom; ’n stem wat streel. Sy besef dit was nog altyd daar, ’n klankskadu in haar binneoor. Dan, uit die bloute, ruik sy grond: klam, donker aarde. Dit maak haar koud. Flaubert kom sit op die hangmat langs haar, sy groen stert vol pers oë ’n millimeter van haar lyf af.
• DRIE •
Claude is haar buurman en die naaste ding aan familie wat sy het. Hy is ’n goeie kop korter as sy en stewig gebou, met fris bobene en voorarms. Sy kan net ’n stukkie van ’n persoon op een slag sien. En sy ken Claude al soveel jare dat sy hom nie regtig meer sien nie. Sy het geen geheue vir gesigte nie. Daarom knoop sy gesigte wat sy wil onthou, aan die beeld van ’n bekende gesig. Gesigte op papier, in boeke en tydskrifte, kan sy lees en onthou, want hulle kan makliker afgeneem word: ten minste is die landskap stil, daar beweeg nie verwarrende emosies oor die gelaatstrekke nie. As sy daaroor nadink, sou sy sê Jon Bon Jovi lyk ’n bietjie soos Claude: soos ’n vakerige leeu. Claude is net blasser. Hy is karamelkleurig met liggroen oë en ’n goue mopkop. Sy ma was van Worcester en sy afwesige pa glo van Frankryk. Hy het in kinderhuise en soms in pleegsorg grootgeword. Hy het geleer om vir homself te sorg. Hy is ’n dieselwerktuigkundige en werk vanuit sy oorgroeide agterplaas. Daar is niks wat hy nie kan regmaak nie. Hy hou haar Polyfillavilla met gom en strooi aanmekaar. Hulle is al twee buitestanders op hierdie plattelandse dorpie. Claude is seker in sy dertigs, maar hy tree baie jonger op, met sy Calvin Klein-onderbroeke wat bo sy denims uitsteek en die slang wat hy praat. Sy taal val êrens in die generasiegaping of in die rivier tussen twee provinsies. Hy affekteer graag snarse van sy ma se Kaapse Afrikaans, al was hy nog baie klein toe sy weg is. Hy gebruik sy hande terwyl hy praat en maak fluit-, skarnier- en enjingeluide met sy mond om sy stories lyf te gee.
Sy vermoed ’n paar dae het verbygegaan vandat sy in die hangmat gaan lê het. Nou en dan is daar gapings in haar lewenslyn. Sy kom stadig terug van waar sy was toe sy ’n sleutel hoor draai in die slot van haar voordeur. Dis Claude; hy het sy eie sleutel. Hy gee eers vir Flaubert mielies. Hy skil en sny vir haar ’n papaja. Sy kom regop en vermoed haar japon gly oop, want hy trek die twee punte versigtig bymekaar en sê: “Dude, en dis nie eers my birfday nie.”
Sy praat, die een woord na die ander: “Daar is ’n nuwe moord om op te los. Dis ’n stokou misdaad en dit lui ’n klokkie. Ek vermoed my karige persoonlike geskiedenis het ineens inmekaargetuimel. Ek sal jou nog vertel.”
Claude bring vir haar ’n klip om vas te hou. Klein genoeg om in die palm te pas, lekker growwe sandsteen om oor te vryf. Klein stukkies breek af onder haar vingerpunte. Dit streel haar. Hy rangskik lang skywe rooi papaja soos wielspeke op ’n donkerblou bord. Dit doen hy versigtig. Sy vingers het swart ghries wat nooit weer uit die naelvliese gewas kan word nie.
• VIER •
Sy skryf amper daagliks vir Xavier Vercuyl oor baie dinge, maar nie oor die moord wat aan haar krap soos ’n wysie wat sy nie kan klaarneurie nie. Rosalie Schwarzbraun is ’n naam wat haar onderbewuste ken. Dis nie onbekend aan die binnekant van haar oor nie.
Xavier vind in sy besige dag tyd om omslagtig op haar briewe te antwoord. Sy woorde is vol toevallige poësie, insig en begrip. Hulle laat haar die een voet voor die ander sit. Altyd, altyd vind ’n mens maar iets wat dit vir jou moontlik maak om aan te gaan.
Ook: sy pak klippe. Dis terapie en obsessie. Haar agterplaas is vol muurtjies wat na nêrens lei nie. Dis landskapkuns wat nooit in glanstydskrifte gaan pryk nie. Dis vir haar eie heil. Soggens vroeg gaan versamel sy klippe in die rante en steier huis toe met haar oes in ’n groot mandjie. Flaubert verlaat nooit die grense van die erf nie, want buite is honde, katte en ander bedreigings. Hy sit op die hoekpaal en wag, ’n mashoof teen die horison.
Elke klip is met die hand uitgesoek en pas semiperfek in sy holte. Kleure en teksture word afgewissel. Die mosaïek kalmeer haar. Die reuk van klippe en stof lê lekker in haar neusgate. Haar vingerpunte het dit nodig om sekere teksture te voel, oor en oor. Sy dra altyd ’n paar van die sandsteenklippe binnetoe, om te vryf en om aan te ruik wanneer alles te veel word. Om soms aan te lek en die poeierige sand tussen haar tande te voel knars. Flaubert hou haar dop en pik-pik soms vir insekte en sade. Hulle het ’n ooreenkoms: hy mag naby haar wees solank hy nooit skree nie. Die histeriese kreet soos dié van ’n mishandelde kind het sy net een keer gehoor, die eerste dag toe hy hier aangewals gekom het van wie weet waar. Sy het bewend voor hom gaan staan, in sy korreloog gekyk en die ultimatum gestel: “Jy mag hier woon mits jy nooit weer skree nie, nie eers ’n enkele kreet nie.” En hy het nie.
Sy verval stadig in die trans of alfastaat of gekantelde fokus wat haar gunstelingplek op aarde is. Van ver af, deur die verkeerde kant van ’n teleskoop, kyk sy af op haar rooi, skurwe hande. Hulle voel, rol en pak sonder ophou. Haar gedagtes is in ’n ander provinsie, hulle klouter teen ’n ander kliprant uit. Pretoria in die sestigs. Sy weet nie of sy ooit in die destydse Transvaal was nie, maar sy vermoed so. Haar oorsprong is versluier. Haar eerste herinnerings begin hier, in hierdie huis in die Vrystaat, met die vrou, haar ma; ’n flenter senuwee met ’n mond soos ’n aandagstreep.
Om klippe te pak laat die objekte aan die rand van die prentjie in fokus spring. Periferiese visie. Met elke klip wat in sy holte pas, val ’n spatsel van die legkaart in plek, tentatief. Party moet met die hakskeen van die hand ingestamp word.
As sy ’n saak ondersoek, reis sy altyd na die toneel. Meestal in haar kop. Die milieu, die era, die rolspelers word ’n draaiboek in haar brein.
Hierdie saak ruik van die eerste oomblik af bekend. Sy kan nog nie beelde bykom nie, maar reuke, teksture, geluide en smake