Die Neus. Deborah Steinmair
Читать онлайн книгу.skielik vanuit die niet in haar blinde kol opdoem. Sy soek eers ’n ander, ondergeskikte raaisel om haar aandag af te lei van die kolos op die horison.
Wie kan dit verklaar? So was dit nog altyd; wanneer sy iets roep, kom dit na haar toe. Op daardie oomblik skel die telefoon. Sy hou dit teen haar oor. Meestal sien sy nie kans om haarself eerste aan te meld nie. Dis ’n manstem, of altans, so klink dit. Wie kan seker wees? Soos gesigte, dryfvere en hiërargieë, slaan geslag haar dronk. Die spanning, die spel, die jag, die oorgawe. Dis alles Grieks vir haar.
“Agathe Gruber? Dis Jesse. Ek het van jou gehoor en ek benodig jou dienste. Ek is op soek na iets kosbaars wat ek sewentien jaar gelede verloor het. Daar is miskien reeds ’n brief in jou posbus terwyl ons praat, maar ek reken jy gaan dit nie oopmaak nie. Moenie vra hoe ek weet nie. Daarom het ek nie die koevert toegeplak nie. Keer dit net in jou hand om en lees dit een maal vinnig deur. Ek hoop ons praat weer, Agathe.”
• AGT •
Dus stap sy maar weer met die leiklippaadjie af posbus toe. Die koevert dra die slakke se goedkeuring weg. Hulle het reeds daaraan begin knibbel. Dis onverseël. Sy haal dit uit en dop dit om. ’n Enkele vel papier val op haar stewel. In die drie sekondes voordat ’n windvlaag dit skep en bo-oor die heining stoot, neem sy ’n mentale foto:
Ek het op 8 Januarie 1990 om 16.30 my ring verloor in Marine Parade in Durban. Vertel my:
1) waarom en
2) hoe ek dit kan herwin.
Jesse, Privaat Sak X 131, Standerton 2430.
Janis Ian het gesing:
Jesse come home,
there’s a hole in the bed
where we slept.
Terwyl sy terugstap huis toe, spook die onseker handskrif by haar. Sy gaan staan botstil. Haar armhare kriewel. ’n Verheldering kom oor haar; die wolke skuif skielik weg en keer die son soos ’n gieter oor die landskap om. Elke voorwerp op die horison is skerp afgeëts. Sy ril. Dit duur ’n paar sekondes. Sy weet skielik:
• Die brief is geskryf deur iemand wat nie kan sien nie;
• Iemand wat ’n arm/hand makeer om die papier waarop hy/sy skryf, vas te hou.
Sy sit by die kombuistafel en skryf ’n brief. Sy is trots op haar handskrif: dis elegant, soos uit ’n eeu toe mense alle take stadiger en met groter sorg uitgevoer het. Sy skryf sorgvuldig, selfs al sal Jesse se oë nooit oor haar handskrif gly nie. Sy skryf:
Jy het meer as jou ring verloor. Jy het jou arm verloor. En jou sig. Eintlik het jy veel meer as jou arm en oë verloor. Ek raai dit was ’n bomontploffing. My gevoel is dat ’n munisipale skoonmaker jou ring in sy sak gesteek het. Hy wou dit verkoop, maar kon nie daarvan afstand doen nie. Hy kyk elke dag daarna. Hy word wel geteister deur skuldgevoelens. Dis ’n lieflike ring – ’n vrou het dit vir jou gegee. Die vrou wat jy in die ontploffing verloor het? Dis waarom jy dit terug wil hê? Ek dink die steen is ’n melkerige seegroen wat soms verdonker en soms ligblou word. Ek sal gaan nalees oor die ontploffing en die nadraai en ek sal jou ring opspoor, verkieslik sonder om te reis.
Sy sit terug en elke sinaps sing, soos altyd wanneer ’n mentale vonk oor verskeie bruggies gespring het.
Nou die nag, dit was maar net nog ’n slapelose nag, het sy gelê en luister hoe ’n skrywer oor die radio riglyne vir geslaagde misdaadromans opnoem. Haar lewe sou nie deug in daardie genre nie. Die leidrade of die gevolgtrekkings in ’n geslaagde misdaadroman mag glo niks met die bonatuurlike te doen hê nie. Nie dat sy reken intuïsie, heldersiendheid en telepatie is bonatuurlik nie. Net ontasbaar.
• NEGE •
Sy gaan kuier langsaan by Claude. Dit gebeur nie elke dag nie. Hulle sit op sy dek, die houtdek wat hy met sy eie hande gebou het. Hy skink appelsap uit ’n groen kartondoos van Pick n Pay. Hy weet sy hou van vars en organies en hy is ’n goeie gasheer, of ten minste, hy probeer. Sy reken hy weet daar is iets wat sy nodig het, anders sou sy nie deur die gat in sy heining geklouter het nie. Hy glimlag van oor tot oor. Soos hy dit sou stel: hy lyk amped. Hy buig en verklaar: “Dis ’n voorreg om ’n alien princess te verwelkom.” Sy kyk langs haar lang neus af na hom en probeer onthou hoe om te glimlag. Haar gesigspiere steur hulle nie gewoonlik aan haar brein nie. Sy reis soms na ander provinsies om in stowwerige argiewe na antwoorde te gaan soek, maar indien dit enigsins moontlik is, verkies sy om in haar eie agterplaas brûe in haar kop te bou. Soms met die hulp van haar buurman se rekenaar.
Hy is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie. Hy is cool. “Dude, is daar iets wat ek vir jou kan raaksurf of -hack?” wil hy weet.
Sy hou van goeie begrypers. Sy sit ’n velletjie papier voor hom neer. Daarop staan:
28ste laan 283, Villieria, Pretoria, rondom 1966. In wie se naam was die eiendom geregistreer? Inwoner Rosalie Schwarzbraun. Huurder of eienaar?
Sy onthou haar maniere. “En is daar dalk iets wat ek vir jou kan bykom?” vra sy, asof sy in ’n spens op ’n trapleer voor ’n rak staan. Hulle glo in quid pro quo.
Claude, opportunis, antwoord blitsig: “Môre se Lotto-nommers?”
Sy skreef haar oë teen die agtermiddagson, wieg ’n paar keer en praat stadig, vir dramatiese effek, want Claude waardeer ’n vertoning: “Jy weet nommers is nie my spesialiteit nie. Twee verskillende enkelsyfers wat met ‘s’ begin, drie wat met ‘v’ begin, twee daarvan ’n enkele syfer, een daarvan twee syfers waarvan al twee met ‘v’ begin. Dan nog een wat met ‘n’ begin, dubbelsyfer.”
Hy maak vinnig aantekeninge terwyl sy praat. Hy vlieg sommer op en stap rekenaar toe. Hulle is nie gesteld op formaliteite en etiket nie. Sy streel oor die gladgeskaafde oppervlak van sy dek. Dis sonder vernis; hy gee dit gereeld olie, met groot toewyding. Sy tuin is oorgroei, maar hy het sy eie, gekompliseerde standaarde. Flaubert staan op die heining vir haar en loer.
• TIEN •
Die grote Xavier Vercuyl kom binnekort hul nederige dorpie besoek as deel van ’n landwye boekbekendstelling. Daaroor rep hy geen woord in sy briewe nie, maar sy lees dit toevallig in die koerant. Sy praatjie is volgende Maandag in die stadsaal. Sy bewe ’n bietjie.
Daar is ’n vel papier onder haar kombuisdeur. Uit Claude se drukker. Sy gaan sit en lees:
Die huis was (en ek scheme dis nog steeds) geregistreer in die naam van Myer Spiewak van Ficksburg. Onse valley nogal. Ek neem aan dit het te doen met die onopgeloste moord waarvan jy gepraat het. Jy het gesê dit lui ’n klokkie. Het dit iets met jou history uit te waai? Hei, dit was nie te moeilik nie.
Vra maar as daar nog iets is, bra. Jy het vyf nommers in die kol gehad. Cool bananas, orakel.
Op daardie oomblik lui die telefoon. Sy tel dit op, luister vir ’n halfminuut na die bekende asemhaling en sê: “Mnr. Spiewak. Myer? Ek het jou hulp nodig. Ek reken dis tyd dat ons ontmoet.”
Die handstuk word aan die ander kant met ’n sagte klikgeluid neergesit. Dis ook ’n outydse telefoon, soos hare. Die ervaring is soveel anders as om op ’n selfoontoetsbord met een vinger doodgedruk te word.
Sy sit een voet voor die ander en stap na die boekrak. Sy trek haar skouers terug, blaaie na mekaar. Sy staan pynlik soos ’n ballerina op die puntjies van haar tone en wieg. Sy haal diep asem, strek en mik en skep die vrou, haar ma, se hoededoos met haar vingerpunte van die rak af. Die koevert wat bo-op gelê het, val ook agter die boekrak in. Gits.
Sy gaan sit op die mat op die stoep en keer die doos om. Dis so te sê leeg. En tog tuimel jare voor haar voete uit.
• ELF •
Vier foto’s wat nooit aan haar gewys is nie, dwarrel af na die growwe mat. ’n Onmoontlik blonde dogtertjie poseer in ’n wit valletjiesrokkie. Dan weer gestewel en gespoor met wolmus en slee. Die landskap agter haar is uitheems: skerp bergpieke, sneeu, kastele, grasvelde vol blommetjies, ’n