Niggie. Ingrid Winterbach

Читать онлайн книгу.

Niggie - Ingrid Winterbach


Скачать книгу
plek is interessant, ja,” sê Reitz, “maar dit maak my ongemaklik.” Hy swyg. Kyk rond. “Hier is iets in die lug wat my hare orent laat staan.”

      Ben kyk geïnteresseerd.

      “Dis nie na ons besoek aan Oompie nie?” vra hy.

      “Ek kan my vinger nie daarop lê nie,” sê Reitz, ontwykend. Vryf oor sy gesig.

      “Dit het nie iets te doen met wat Oompie gesê het nie?” hou Ben versigtig vol.

      “Daarmee ook, ja,” sê Reitz. “Maar dit het ook met die plék te doen. Hier en by die kamp.”

      Ben kyk steeds geïnteresseerd. “Dit word wel duidelik,” sê hy na ’n rukkie.

      Dit is twaalfuur. Die son skyn direk van bo. Reitz en Ben raak lomerig van die hitte. Hulle klere lê op die rotse uitgesprei om droog te word. Op die rotsplate sit akkedisse en bak. Groot rivierkrappe hou onder die plat rotse. Waterjuffers hang bewegingloos bo die wateroppervlak.

      Na ’n ruk wil Reitz weet waarom Gert Smal hulle na Oompie saamgeneem het. Hy dink daar moet ’n rede wees. Was dit miskien om hulle die skrik op die lyf te jaag, wil Reitz weet. Het hy dalk gehoop die ou man sê iets wat hulle in hulle spoor sal laat trap?

      “Goed moontlik,” sê Ben, “met ’n man soos Gert Smal.”

      “Die ou het ’n paar raak opmerkings gemaak,” sê Reitz, versigtig.

      Ben knik. Hy dink dis ook moontlik dat Gert Smal hulle saamgeneem het sodat hy deur Oompie se opmerkings iets omtrent húlle te wete kon kom – iets omtrent hulle planne en voornemens. “Maar,” sê Ben, “dit is baie belangrik, Reitz, om in hierdie tye ’n mens nie dinge te begin verbeel nie.”

      Dit sê hy terwyl hy met groot belangstelling ’n interessante kokervormige kokonnetjie op ’n takkie bekyk.

      “Gert Smal is kennelik ’n rustelose en onbehaaglike siel, Oompie het vir al wat ons weet uitsonderlike vermoëns, en ons kampgenote is elk duidelik op sy eie manier gekwes en nie meer geskik vir aktiewe diens op die slagveld nie – maar laat ons die dinge uitmekaar hou, en hoop die generaal is ’n redelike man,” sê Ben.

      Reitz moet saamstem. Hy neem hom voor om die dinge uitmekaar te hou en nie onnodig onrustig te raak nie.

      Ben verduidelik vir Reitz dat die kokonnetjie in sy hand die grashuisie is van ’n ruspe wat deurentyd daarin woon. “Die vlerklose, wurmvormige wyfiemot vertoef hierin,” sê hy. “Dit word ook graslepeltjie of hawermannetjie genoem.”

      Hulle lê ’n tyd lank sonder om te praat op die rotse in die koelte van die oorhangende takke.

      “Die skuldgevoelens, Reitz?” vra Ben na ’n tydjie versigtig, “waarvan Oompie gister gepraat het – moet dit vir jou rekening kom?”

      Reitz aarsel lank voor hy bevestigend knik.

      In die tyd dat hulle mekaar op kommando leer ken het, het hulle nie een ooit uitgebreid vertel oor die lewe wat hulle agtergelaat het nie.

      Toe hulle klere droog is, trek hulle dit weer aan en gaan terug na die kamp, waar Gert Smal hulle stuurs inwag. Vir wat het hulle so lank geneem? wil hy weet. Een of ander drosterplan bedink, sê hy. Maar probeer maar niks, waarsku hy, die generaal is nie iemand om as teenstander te hê nie.

      *

      Die derde aand nadat hulle by die kamp aangekom het, die dag nadat hulle met Gert Smal by die kloof op was, begin Japie Stilgemoed skielik na aandgodsdiens praat. Esegiël het die aand met aartappels by die kamp aangekom. Aartappels wat hy skynbaar self iewers geplant het. Dan moet hulle al lank hier wees, sê Ben vir Reitz.

      Japie Stilgemoed vertel dat by die kamp waar hy vroeër was, hulle op ’n keer patats gaan haal het. In die omgewing was alles afgebrand deur die Kakies – behalwe die patats. Hulle het die patats uitgeploeg en in hopies staangemaak. Toe het hulle dit in sakke gesit en op ’n wa gelaai. Dit was volmaan. Hy sal dit nooit vergeet nie – hulle het verby die plek gegaan waar generaal De la Rey die vorige jaar honderd en sestig waens van die Engelse vernietig het. Die stukke en brokke van die vernieling het nog in die omgewing in die maanlig verstrooi gelê.

      Japie Stilgemoed staar lank in die vuur.

      “Dit was Julie 1901 as ek reg onthou,” sê hy, “die patats was ’n welkome afwisseling van ons daaglikse pap sonder vleis.”

      “Cronjé het sy oorwinning by Magersfontein aan De la Rey te danke,” sê Gert Smal, “sonder sy advies het die ou lelik afgekak.”

      “In daardie tyd het ek begin besef dat ons onsself in ons krag en in ons swakheid in moeilike en beproewende tye leer ken,” sê Japie Stilgemoed. Hy gooi nog ’n stomp op die vuur. Sy oë is intens, sy hare regop, sy hoë voorkop glad in die gloed van die vlamme.

      Gert Smal swyg; Ben knik stadig en instemmend, geïnteresseerd. Hulle wag vir Japie om voort te gaan.

      Kosie Rijpma sit vooroor gebuig, sy kombers oor sy skouers. Hy staar met groot intensiteit na die vuur. Sy gesig is stroef, sy oë diep in hulle kasse.

      “So,” sê Japie Stilgemoed, “is ons met generaal Kemp se walaers van Februarie tot Mei 1901 van Rooiwal, oor die Skeerpoortrivier, verby Hekpoort aan die Witwatersberg, deur Hartleyspoort, by Groblersnek aan die Magaliesberg verby, verby Vlakfontein en Dwarsfontein en Leliefontein, oor Vlakvarkpan, Tafelkop en Rietpan in die Lichtenburgdistrik. Deur Kwaggashoek, Syferfontein en Bokkraal. By Grootfontein het ons skerp noord geswenk in die rigting van Groot-Marico na Koedoesfontein, toe weer suidoos terug na Kwaggashoek, en deur die Swartruggens tot by Waterval.”

      Gert Smal kou aan ’n stokkie, sy aandag elders.

      “Ek dank die Here,” sê Japie Stilgemoed, “dat ek my by tye van die aakligheid van die dag kon afsluit deur te lees. Tot op hierdie dag is boeke my redding. Wat ek daarsonder sou doen, weet ek nie. Op iedere plek waar ons langs gekom het waar die Engelse boeke agtergelaat het, of waar ons boeke in verlate huise en winkels aangetref het, het ek iets gevind wat my weer verder op die pad kon onderskraag.”

      Reitz dink aan die joernale. Daarsonder sou dit ook veel moeiliker gegaan het al die maande.

      “Gelukkig het ons in dié tyd vrugte in oorvloed gehad,” gaan Japie Stilgemoed voort. “Ons klere was tóé al aan flardes – die manne het al klere van komberse begin maak. In Februarie het ons die slag van Majuba gevier. Maar ons moes ook generaal Cronjé se nederlaag by Paardeberg gedenk.”

      “Se gát!” roep Gert Smal. “Gedenk se gát! Cronjé se móér! Die held van Paardeberg!” sê hy minagtend, en spoeg so driftig ’n stukkie stok waaraan hy gekou het uit dat die slapende hond by sy voete wakker skrik en orentvlieg.

      “Foekeren! Foekeren!” sê jong Abraham vervaard, en Willem bring hom met moeite tot bedaring.

      “Om van die held van Droogleegte nie te vergeet nie,” sê Reitz sag vir Ben.

      Die hardhorende Japie Stilgemoed steur hom skynbaar nie veel aan die onderbrekings nie. Dit lyk asof hy volkome teruggeplaas is in die tyd waarvan hy mymerend vertel.

      “Ja,” sê hy, “vrugte het ons wel in dié tyd in oorvloed gehad. Ons het elke dag ’n sak vol lemoene gaan haal. Ons het gebad in die Krokodilrivier. Maar nog belangriker as die vrugte was die boeke wat ons op weg gevind het. Dit was soos skatte! Vir my was dit kosbaarder as voedsel – kosbaarder as goud!”

      Willem staan mettertyd op, neem jong Abraham na sy skuiling om te gaan slaap. Die hond met die geel oë slaap weer rustig by Gert Smal se voete. Buite die kring van die vuur is die naggeluide hoorbaar. Die geruislose sigsag gefladder van vlermuise. Die geroep van die uil en soms die geroep van ’n voël iewers by die rivier. Bo hulle hoofde die digte wemeling van sterre. Die nagte word kouer. Die koue lek-lek aan hulle rûe en niere.

      Dit het Reitz en Ben opgeval dat daar nooit hier waggestaan word nie. Tensy dit nog een van Esegiël se vele take is – bygestaan snags deur die hond. (Dit help nie om Gert Smal daarna uit te vra nie, want hy


Скачать книгу