Niggie. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.toe Gert Smal hulle wakker maak. Hulle moet opstaan. Hy het nie heeldag nie.
Willem en Abraham bly by die kamp. Reitz en Ben gaan saam met Gert Smal, wat energiek vooruitstap. Dit lyk of hy veel beter as hulle bestand is teen die oormatige inname van benewelende vog.
Van die kamp stap hulle met ’n klein paadjie tussen los rotsblokke deur af tot naby die rivier. Aan die oorkant is geen oewer nie – ’n kransmuur styg daar loodreg die lug in op. Hulle stap ’n hele ent af, met die rivier op hulle linkerhand, verby die populierbos, tot by ’n punt waar daar ’n skerp daling in die oorkantste wal is. By ’n vlak driffie steek hulle die rivier oor deur van klip tot klip te spring. Nou bevind hulle hulle aan die voet van ’n smal kloof, en swenk vandaar na links.
Reitz en Ben het moeite om by Gert Smal te hou. Hulle kla albei van tyd tot tyd onderlangs. Gert Smal wil ons dóódmaak ou Ben, sê Reitz. Hy sal aan wreder maniere dink om dit te doen, as hy regtig wil, sê Ben.
Na ’n hele ent se stap oor ongelyke terrein, word die klipperigheid geleidelik vervang deur grasveld met aalwyne en doringbome hier en daar. Mooi die onverwagse oorgang in die landskap – die groenigheid in hierdie oorwegend bar, rotsagtige omgewing. ’n Hele ent verder hoor hulle die gedruis van water. Moet ’n waterval verder op in die kloof wees, sê Ben.
Hy wys allerlei dinge uit. Die grassprinkaan met sy lang, skraal liggaam en toegevoude vlerke, wat geheel groen en roerloos op ’n grashalm sit. Hy wys die pen van ’n ystervark uit, die kuttels van die rooiribbok, die skuilplek van die kleinkolmuskeljaatkat en die rooimeerkat. ’n Hamerkop roep en bo hulle in die lug sirkel die roofarend.
Alles moet hy in die verbygaan uitwys, want Gert Smal duld nie dat hulle talm of vertoef nie.
Gert Smal, hoewel energiek, is vanoggend stuurs. Hulle pogings om versigtig uit te vra na waar hulle die heuning gaan haal, is vergeefs. Hulle het gou agtergekom dat Gert Smal nie van vrae hou nie – hy wil self die vrae vra.
Maar na hulle ’n hele ent weg is, sê Gert Smal skielik: “Oompie ken baie trieks. Hy kan ook dinge vooruit sien.”
Oompie? Reitz kyk na Ben, Ben haal in die stap sy skouers op.
“Trieks van watter aard?” vra hy omsigtig.
“Dit sien julle wel,” sê Gert Smal kortaf.
“En wat sien hy?” vra Reitz nog later, ewe behoedsaam.
“Enigiets,” sê Gert Smal, “hy sien enigiets.”
“Berei jou voor, Ben,” sê Reitz sag.
“Mag ’n mens hom iets vra?” vra Ben.
“Dis nie nodig om hom iets te vra nie,” antwoord Gert Smal bars.
“Wat wil jy weet, ou Reitz?” vra Ben, buite hoorafstand, in die stap.
“Aa,” Reitz vryf oor sy gesig, wat teen die tyd rooi en sweterig is. “Dis die vraag – wat wil ek weet?!”
Toe hulle ’n ent met die kloof op is, word hulle ineens van ’n ent hoër op met klippe bestook. Hulle val plat.
Gert Smal lê op sy maag, maak sy hande bak voor sy mond en skree rigting bergop: “Gots, Oompie, skei uit! Ons kom in verdomde vrede!”
Verdomde vrede, eggo dit deur die kloof.
Doodse stilte van bo. Maar die klippe val nie meer nie.
“Goeiste, ou Reitz,” sê Ben sag, “wat is ons nou te wagte?”
Kort daarna bereik hulle die middel van die kloof, en sien die hut in die omgewing van gelyk groen grasland.
“Dis waar die ou swernoot woon,” sê Gert Smal.
Op ’n afstand kom die ou man hulle tegemoet.
Hy kom hulle met uitgestrekte arms tegemoet, en hy dra ’n gekreukelde reënjas – soos die een (stel Reitz hom voor) waarmee die verslane Piet Cronjé na twaalf dae uit die bunker te voorskyn gekom het, die kluts so goed as helemaal kwyt na die vier en twintig uur se onophoudelike bombardement waaraan die Engelse hulle onderwerp het.
Aan sy voete het Oompie tuisgemaakte sandale van gras en leer, kunstig geweef, met dik leersole.
Toe hy by hulle kom, groet hy hulle met groot hartlikheid. Hy kyk hulle lank en indringend in die oë. Asof hy in hulle wildvreemde gesigte iets vertrouds wil eien. Sy pupille is klein en swart, sien Reitz, amper onsigbare spikkels – klein tonneltjies wat na sy binneste donkerte lei.
“Vriende,” sê hy, “ek was julle te wagte!”
Eers met klippe bestook, en nou hartlik verwelkom.
Oompie is van onbepaalbare ouderdom en kort, maar stewig gebou. Sy oë is klein en lig. Sy vel is olierig en effens blas. Sy baard is yl; sy hare is lank, sluik en vetterig. Iets Oosters aan hom, dink Reitz. Hy gee ’n reuk af soos galsterige botter.
Hy neem hulle na sy hut en laat hulle op ’n bankie in die son sit.
Hy self sit op ’n groot los klip.
Vandag is vir hom ’n besondere dag, sê hy. Dit is die geboortedag van sy ou vader, wat reeds etlike jare gelede die tydelike met die ewige verwissel het.
Reitz merk hoe klein en vlesig sy hande is, haarloos, met skerp gepunte vingers, en ’n blouerigheid onder die nael. Hy is soos iemand uit ’n ander tyd; uit ’n ander ryk – ’n Oosterse ryk.
Waar hy aanvanklik dringend in hulle gesigte getuur het, staar hy nou terwyl hy praat onafgebroke oor hulle skouers, die vertes in – sodat sowel Reitz as Ben nie die versoeking kan weerstaan om een of twee keer vlugtig om te kyk nie, na ágter hulle. Na waar Oompie in die verte staar terwyl hy praat.
Hy praat oor sy oorlede vader. Hy praat oor die oorvloed van die skepping en geheimenisse van die natuur. Hy praat mymerend en soms met bewoënheid. Hy bly lang rukke stil.
Wat Reitz opval, is die intensiteit van sy gesig. Terwyl hy praat, trek sy gesig jou soos ’n magneet.
Gert Smal kou deurentyd aan ’n vuurhoutjie.
“Hoe lyk dit, Oompie,” onderbreek hy skielik die man. “Onlangs iets gesien?” Hy vra dit met ’n mengsel van agting en skamperheid. Hierdie half respekvolle toon val Reitz op, want dit is so ver hy kan oordeel, ongewoon vir Gert Smal.
“Het julle tabak?” vra die man skielik. Sy bewoënheid ineens op ’n einde. “Het julle vir ’n ou man iets lekkers?” vra hy klaaglik, slu.
Gert Smal haal uit sy baadjiesak iets wat hy oorhandig. Oompie rol dit oop. ’n Rolletjie pruimtwak. Hy kou. Maak sy oë toe van die lekkerte.
Reitz wonder of Oompie Gert Smal se vraag gehoor of onthou het.
Gert Smal krap rusteloos met ’n stokkie tussen sy tande.
Oompie krap in sy hare. Spoeg ’n stukkie twak uit. Kyk voor hom op die grond.
“Dis droë tye, broer,” sê hy. “Selfs die bytjies weet dit.” Hy maak ’n dramatiese gebaar met sy regterhand. Kyk nie op nie. Op ’n afstand na regs sien Reitz vir die eerste keer die byekorwe, en ’n entjie verder, twee koeie wat wei en hoër op ’n paar skape.
Die kamp se vleis- en melkvoorraad, dink Reitz.
Oompie staan op. Lyk skielik oud en vervalle – ’n ou man in ’n verweerde, olierige reënjas. Wink hulle die hut binne.
Na die helder sonskyn neem dit Reitz se oë ’n tydjie om aan die skemerte in die hut gewoond te raak. Maar dit is die reuk in die hut wat hom die eerste tref, ’n vermenging van diervel, galsterige botter en iets anders, iets wat hy nie onmiddellik kan plaas nie. ’n Koel reuk, soos van swamme, of slyk; iets medisinaals. Ben, sien hy, snuif ook ongemerk om die geur te eien.
Die hut is warm binne. Daar is ’n bed aan die een kant, ’n growwe houttafel met stoele, en ’n stoof aan die ander kant – teenoor die deur. Op ’n houtrak teen die agterste muur is daar ’n verskeidenheid glasflesse en melkkannetjies.