Niggie. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.tafel moet sit.
“Versterkwater,” fluister Ben skielik, en Reitz plaas dadelik die koel, medisinale reuk.
Oompie skink dikmelk uit ’n kleipot op die tafel in blikbekertjies. Hy beweeg stadig en met groot oorwoënheid.
In die swak lig het Oompie se reënjas ’n groenerige skynsel – asof dit lank aan druppende water blootgestel is, asof dit mosbegroei is; asof hy daarmee onderwater geswem het.
Hoewel Reitz dors is, sit die suurmelk vas in sy keel.
Hulle sit by die groot, growwe houttafel, regoor die deur, maar Oompie sit nie saam met hulle nie, hy bly deurentyd besig. Hy werskaf by die stoof. Terwyl hy besig is, praat hy. “Julle het boeke,” sê hy. “Julle het groot boeke waarin julle skryf. Julle is manne met geleerdheid. Julle dra kennis van berge en dale. Van die kragte wat berge vorm. Van die voëls van die hemel en van die blomme van die veld. Van die diertjies en die insekte. Julle ken elkeen by sy soort en naam. Maar julle is nog nie aan die einde van julle lang reis nie.”
“Wys vir hulle ’n paar trieks, Oompie,” onderbreek Gert Smal skielik.
Dit lyk nie of die ou man hoor nie. Hy bly steeds by die stoof besig. “Julle swerf al lank rond,” gaan hy voort, sy rug steeds op hulle gedraai. “Julle is moeg geswerf. Julle het weggegaan van ’n leier wat julle nie goedgesind was nie. Wees voortdurend op julle hoede. God se weë is onnaspeurbaar, maar die mens se weë is verraderlik. God laat Hom ken deur sy skepping – maar die mens se motiewe bly altyd onleesbaar. Een van julle is gekwel. Dit hang met gevoelens van skuld saam.”
Reitz voel hoe die hare op sy arms orent staan.
Gert Smal raak rusteloos. Maak sy tande met ’n stokkie skoon.
“Wys vir hulle ’n paar trieks, Oompie,” sê hy weer.
Maar Oompie ignoreer hom soos wat ’n mens met ’n lastige kind doen.
Op hierdie punt het Gert Smal skielik genoeg gehad. Hy staan op. Hulle moet vertrek, sê hy. Hulle kan nie heeldag hier sit nie.
Oompie se gesigsuitdrukking verander soos handomkeer.
“Julle het nie dalk vir ’n ou man iets – lekkers – in die vooruitsig nie?” Hy vra dit weer skelm, wulps selfs.
“Ons sal kyk wat ons kan doen, Oompie,” sê Gert Smal kortaf. “Ons kan niks belowe nie.”
Voor hulle gaan, oorhandig Oompie ’n bottel heuning en drie kannetjies melk aan Gert Smal.
Toe hulle groet, val hy hulle weer om die hals. Groet lank en innig. Hou sy arms in seëning oor hulle uitgestrek toe hulle gaan.
*
Die tog bergaf is vinniger as bergop. Gert Smal spring energiek vooruit, soos ’n bok van klip tot klip. Kennelik vol energie na die ontmoeting. So nors en swygsaam as wat hy vanoggend was, so spraaksaam is hy nou.
“Die ou swernoot is so geil soos ’n bokram! Hy vat kort-kort vir hom ’n nuwe vrou.”
Gert Smal spring swierig van klip tot klip. “Op ’n tyd het hy baie vroue in die omgewing gehad. Ons kon nie voorbly om hom te voorsien nie,” sê hy.
“Goeiste,” sê Ben. “Hoe lank woon hy dan al hier?”
Maar hierdie vraag verkies Gert Smal om nie te beantwoord nie.
Reitz gee Ben ’n vinnige onderlangse blik.
“As hy en die nuwe bruid mekaar ’n slag deeglik bewerk het,” gaan Gert Smal voort, “dan spreek die ou skarminkel met ’n gevleuelde tong! In ’n geil tyd profeteer hy soms dat die heuwels klap.”
“En hoe dikwels gebeur dit?” vra Ben versigtig.
“Gotsverdomme,” sê Gert Smal. “Nie meer so dikwels nie. Nie meer so maklik om hom in die voorsiening te hou nie. Daar is nie meer soveel jong Kaffermeide in die omgewing oor nie. Almal afgesterf óf na kampe weggevat óf so vermaer dat hulle nie meer aansienlik is nie.”
“Ag, so,” sê Ben, en hy talm ’n paar oomblikke belangstellend by ’n insek op die grond voor hom. Reitz kan sien hoe graag Ben sou wou vertoef om die kewer van naderby te bestudeer, maar Gert Smal het nie lus vir talm nie.
“Die generaal hou die ou hier,” sê Gert Smal oor sy skouer – hulle sukkel om hom weer in te haal – “want hy het nie ’n goeie uitwerking op die manne nie. Hy maak hulle onrustig.”
“Op watter manier?” vra Ben, ’n entjie agter Gert Smal, altyd versigtig, want Gert Smal hou nie van vrae nie.
“Die manne begin dink hulle sien gesigte en hulle hoor stemme. Hulle dink hulle droom drome.”
Hulle stap ’n ruk in stilte.
“En bowendien,” sê Gert Smal, “hy is ons byeman. Hy het ’n manier met die bye. Hy praat met hulle. Hulle steek hom nooit.”
“Ag, so,” sê Ben, sonder om te geïnteresseerd te klink.
Nog later, toe hulle byna terug by die kamp is, sê Gert Smal: “Die ou is eintlik ’n groot toornaar. Hy was net nie vandag op sy stukke nie.”
*
Die aand om die vuur is Gert Smal aanvanklik knorrig, sy uitgelatenheid van die middag blykbaar reeds weer op ’n end.
Maar kort voor lank, na die Bybelvoorlesing en gebed, na die aandgesang, bring hy weer die bottel te voorskyn, en trek hy los met sy tirade. Dié keer is Ben en Reitz versigtiger met hoeveel hulle drink.
“Piet Cronjé se móér,” sê Gert Smal. “Die ou keer in 1889 vir Jameson by Doornkop,” sê hy, “en dis die enigste ding wat hy ooit gedoen het wat die moeite werd is. Paul Kruger koop al wapens dat dit klap in 1888. Geslepe ou bliksem. Alfred Milner begin die onderhandelingsproses in die rigting van oorlog stuur. Alfred Milner se móér. Twee en twintig duisend Uitlanders teken ’n petisie. Oom Paul moes hulle van die begin af kortgevat het. Nog voor hy en Milner in Bloemfontein bymekaar gekom het.”
Gert Smal spoeg ’n stukkie stok uit. “Milner was van die begin af bo Oom Paul se kerf – hy onderhandel kastig oor die tydperk vir die stemreg vir Uitlanders. Dit was maar ’n manier om Oom Paul te druk tot hy nie meer kon nie. Eers sê Oom Paul: Nee, sê hy, dit kan nie. Later kan hy dit nie meer vat nie en hy huil soos ’n verdomde vrou. Julle wil my land hê, sê hy,” sê Gert Smal bitter. Hy vat ’n sluk uit die bottel. Hy gaan voort.
“Terwyl hy nog sy trane wegvee, lag Alfred Milner in sy mou. Se moer. Milner se móér. Nee, sê Oom Paul na elke toegewing, nee, verder kan dit nie. Stuur die troepe, sê Alfred Milner. Hy het geweet, die swernoot het geweet. Op 22 September word die ultimatum gestel: die Uitlanders kry volle gelykheid en mag stem na een jaar. Dit kom daarvan dat Oom Paul hulle nie reg van die begin af vasgevat het nie. Party mense het gedink Oom Paul bluf. Hy laat Jan Smuts sy ultimatum opstel. Hulle vra vir arbitrasie. Hy moes geweet het, Oom Paul kon geweet het, daar sou geen arbitrasie wees nie. En Alfred Milner het gekry wat hy wou gehad het – hy het sy oorlog gekry.”
Gert Smal vat ’n helse sluk uit die bottel. Hy staar verbete in die vuur. Asof al hierdie dinge kort vantevore gebeur het, nie drie jaar gelede nie. Asof dit anders kon verloop het.
“Alfred Milner se héle verdómde Engelse móér,” sê hy afgemete, en vat nog ’n sluk uit die bottel. (Vanaand neuk Gert Smal nie nog met ’n beker nie.)
“Ons het ons leër op die been gekry,” sê hy. “Drie geslagte wat saamveg. Maar ons was nie gereed vir die oorlog nie. Net so min as wat die verdomde Britse leër gereed was vir die oorlog.”
Kort voor lank gaan Japie Stilgemoed en Kosie Rijpma slaap. Maar Esegiël bly deurentyd op ’n afstand in die skadu sit, net buite die lig van die vlamme. En die hond met die geel oë lê waaksaam by Gert Smal se voete.
“Esegiël is hans grootgemaak,” sê Gert Smal skielik, “hy het nooit sy eie mense geken nie.”
“Arme Kaffer,”