Niggie. Ingrid Winterbach

Читать онлайн книгу.

Niggie - Ingrid Winterbach


Скачать книгу
is meer bossies, meer struikgewassies, enkele klipheuweltjies op ’n afstand, meer voëls, meer insekte, selfs op ’n afstand bokke, en op ’n rotsblok dassies.

      Op die vyfde oggend sedert hulle van die boer weg is, is daar selfs aasvoëls in die lug. Dan moet daar iewers kranse wees, meen Ben.

      Hulle kyk skuins op na die voëls in die lug.

      “Aasvoëloë,” sê Reitz, “waarmee hulle ons dophou.”

      “Aasvoëlvet, as geneesmiddel,” sê Ben.

      “Aasvoëlkrans,” sê Reitz, “waar aasvoëls broei.”

      “Aasvoëltee,” sê Ben, “laat die diere vrek.”

      “Aasvreter,” sê Reitz, “dier wat aas vreet.”

      “Aaskewer,” sê Ben, “kewertjie wat op dierlike reste leef.”

      “Bokdrol,” sê Reitz, “die drol van ’n bok.”

      “Bokdruiwe,” sê Ben, “verwant aan die bokduwweltjie.”

      “Bokmelk,” sê Reitz, “die melk van ’n bok.”

      “Bokdrolbessie,” sê Ben, “die sap is soet en klewerig.”

      “Daspis,” sê Reitz. “Die pis van ’n das.”

      “Jaspis,” sê Willem, “strate van jaspis en goud.”

      “Hemel, ou Willem!” sê Ben. “Hemelkruid – met sy soet geur.”

      “Hemelhoog,” sê Reitz, “so hoog soos die hemel.”

      “Hawer,” sê Willem, “perde se voer.”

      “Gawer,” sê Ben, “gawer as wat Peternella was, kon niemand ooit wees nie.”

      Selfs Willem glimlag.

      In die trant gaan hulle aan. Hulle oog op die lae, uitgestrekte bergreeks wat steeds vaster vorm kry. Moed bymekaargeskraap?

      Hulle moet afsaal. ’n Geweldige stofstorm oorval hulle. Hulle het dit aanvanklik nie op die afstand sien aankom nie. Sit saamgehurk teen die flanke van die perde. Maak hulle lippe nat met die laaste van die louerige water. Kou van die blare wat Ben by hom het.

      Toe hulle weer opgesaal het en op pad is, sê Willem skielik: “Kafferwaatlemoenkonfyt – die allerheerlikste wat daar is.”

      “Kafferakasia,” sê Ben, “of kaffer-wag-’n-bietjie, ’n soort boom.”

      “Kafferbees,” sê Willem, “bees wat aan ’n Kaffer behoort.”

      “Kafferbaai,” sê Reitz, “’n soort linne.”

      “Kafferbessiebos,” sê Ben, “’n rosyntjiebos.”

      “Kafferbier,” sê Reitz, “drank wat Kaffers drink.”

      “Kafferarbeid,” sê Willem, “werk wat nie geskik is vir wit mense nie.”

      “Kafferbokrooitjie,” sê Ben, “’n groot rooibruin skoenlapper.”

      “Kafferbeul,” sê Reitz, “’n beul wat Kaffers teregstel, of ’n verdrukker van Kaffers.”

      “Kafferkalmoes,” sê Ben, “meerjarige struikgewas.”

      “Kafferklip,” sê Reitz, “klip wat jy in gruis vind wat die aanwesigheid van diamante aandui.”

      “Kafferkaptein,” sê Willem, “hoofman van ’n Kafferstam.”

      “Kafferkopervlerkie,” sê Ben, “kleinerige, bruin skoenlapper.”

      “Kaffergraf,” sê Reitz, “dwarswal oor ’n pad om verspoeling te voorkom.”

      “Kafferkraal,” sê Willem, “verblyfplek van Kaffers.”

      “Kafferswawel,” sê Ben, “soort windswawel.”

      “Kafferpond,” sê Reitz, “naam vir ’n pennie.”

      “Kafferoorlog,” sê Willem, “oorlog tussen Witmense en Kaffers.”

      “Kafferkoringmuggie,” sê Ben, “klein galmuggie met helder vlerke.”

      “Kafferkoring,” sê Reitz, “fyn diamanthoudende gruis.”

      “Kaffersendeling,” sê Willem, “sendeling wat onder Kaffers werk.”

      “Kafferpyl,” sê Ben, “’n knapsakkerwel.”

      “Kafferhalfkroon,” sê Reitz, “ander naam vir ’n pennie.”

      “Kaffernasie,” sê Willem, “nasie bestaande uit Kaffers.”

      En met dié speletjie vermaak hulle hulle, totdat hulle laatmiddag ’n groenerige gebied bereik, met volop doringbome en aalwyne en – tot hulle groot vreugde – ’n klein sanderige stroompie. (Sytak van die Oranje?) Hulle drink. Vul alle houers. Die diere drink. Teen skemer bereik hulle ’n klipperige heuwel met ’n gerieflike oorhangrots. Kan hier ’n groterige vuur maak, sonder gevaar om maklik gesien te word. Maak ’n klein bietjie pap. Flou koffie. Voor hulle eet aan die karige maal, vra Willem soos elke aand die seën. Nadat hy uit die Bybel voorgelees het, maak hy ’n diep dankbare gebed, waarin hy God dank vir sy barmhartigheid, en vir die water vandag om hulle dors mee te les.

      Hulle lê in hulle uitgeholde slaapplekke, digby die vuur. (Willem en Abraham ’n entjie verder, nader aan die agterkant van die rotsoorhang.) Ben en Reitz se joernale soos altyd onder hulle koppe as steun en vir die veiligheid van die boek, sou daar onverwags met die perde iets gebeur.

      Ben vra vir Reitz, sag, soos hulle gewoonte is om met mekaar te praat, sodat hulle Willem en Abraham nie steur nie.

      “Het jy al ooit gewonder, Reitz,” vra Ben, “hoe dit sal wees as een of ander hemelliggaam die aarde moet tref?”

      Reitz dink na. Vryf met die hand oor sy gesig.

      “Ek stel my voor,” sê hy, “dat daar eers ’n enorme gloed op die horison sal verskyn, soos ’n vuur – soos ’n onvoorstelbaar reusagtige vuur. Dan die slag. Gevolg deur die reusesiddering, en dan die hittegolwe, golf op golf, wat alles in hulle pad oopskroei en verskrompel. Hittegolwe wat die aarde bar lê.”

      “A,” sê Ben, “goeiste.”

      “Nog veel meer bar,” sê Reitz, “as enigiets wat ons ons kan voorstel.”

      “Meer as die verwoesting van die oorlog,” sê Ben met ’n laggie.

      “Véél, véél meer,” sê Reitz, “veel meer as die verwoesting wat ons op plekke gesien het.”

      “A,” sê Ben. “Onvoorstelbaar.”

      “Ja,” sê Reitz, “onvoorstelbaar.”

      *

      Die sesde dag sedert hulle van die boer weg is, bereik hulle in die agtermiddag ’n hoogtetjie – ’n effense plato – van waar hulle op ’n afstand ’n plaashuis gewaar.

      Hulle bekyk die kaart. Baie dofweg word iets aangedui wat ’n huis sou kon wees. Hulle beweeg versigtig nader. Maar hoe nader hulle kom, hoe duideliker word die verlatenheid van die plek. Daar is geen honde wat blaf nie, geen rook nie, geen beweging op die werf nie.

      Teen sononder saal hulle naby die huis af. Stel versigtig ondersoek in. Dit is ’n groot, stewige kliphuis, met breë klipstoepe aan die voor- en agterkant. Voor die vensters en deure is daar planke vasgespyker. Aan die agterkant groei ’n reuse-wingerdstok dig teen die huis, rank op teen ’n prieel. Ben meen dat dit meer as honderd jaar oud moet wees. Die voortuin is oorgroei van onkruid, maar die roosbome is nog sigbaar. Die vensters van die buitekamers is eweneens met planke toegespyker. Die hoenderhok is leeg. Die dam ’n entjie van die huis is halfvol, die water het ’n groen laag bo-op, daar is die swaar reuk van verrotting. Die vrugteboord is ook met onkruid oorgroei, die laaste laatsomer drag lê halfverrot


Скачать книгу