Niggie. Ingrid Winterbach
Читать онлайн книгу.hulle dieper die land inry, beman met Senekal se kaart en die onontsyferbare een van die drie swart mans in inheemse kleding, met die dae wat nouliks merkbaar korter word en die nagte langer, volgens die kompas nou in ’n meer noordwestelike rigting, sien hulle in die daaropvolgende vier dae soggens sonsopkomste van ongewone prag en saans sonsondergange van ongewone glorie in purper, roos en goud – meer indrukwekkend, majesteitlik, dramaties as wat hulle in die afgelope maande teëgekom het in hulle omswerwinge.
Soggens sê hulle min. Stram na die nag se koue en ongemaklike slaap. Onseker oor wat die dag gaan oplewer. Vriend of vyand uit watter onverwagte oord. Onseker of hulle die regte roete volg. Voortdurend gespanne, op die uitkyk vir ’n lokval of hindernis. Vir enige verdagte stofwolkie op die horison wat klinkend óm en óm hulle sirkel in nimmereindigende uitgestrektheid.
Ook in die loop van die dag is hulle minder geneig om te praat. Willem hou jong Abraham voortdurend in die oog. Snags waak hy sorgsaam oor hom. Die jongman slaap selde rustig. Hy prewel en kreun en roep soms in onverstaanbare frases uit. Dan kom Willem se stem gerusstellend, deurbreek hulle onrustige drome. So laat hulle hulle ook gerusstel – Reitz en Ben. So slaap hulle asof met die ore gespits soos honde, gekeer na welke windrigting van waaruit hulle die geringste vermoede van ’n geluid gewaar – iets anders as die gewone naggeluide, die geskarrel van klein diertjies, die veraf roep van die jakkals en soms die uil, die geswiep van vlermuise, die sagte en soms onrustige gesnork van die perde.
Sy is daar bedags, vir Reitz, yl soos die maan se deursigtige skyf, en snags steeds dringender, die vermoede van die vrou, agter drome en in geluide en in die skitterende roetes van die verskietende sterre.
Op die vierde oggend kom hulle op ’n wa af met drie geraamtes daaronder. Twee volwassenes en dié van ’n kind. Tussen die mierneste in die harde veld met die skamele graspolletjies. Geen tekens van die oorblyfsels van trekdiere nie. Iemand moes daarmee weggekom het. Net die barre wa, klaarblyklik geplunder, want niks het daarin oorgebly nie, selfs die wiele gestroop. Nie moontlik om te sien hoe hulle dood is nie. Wa geplunder, beeste en perde daarmee heen.
“Dit moet die mense wees van wie …” Ben kyk of Abraham buite hoorafstand is, “die mans beduie het dat die keel afgesny is.”
Abraham sit en kyk met groot verstarde oë. Gee nie aanduiding dat hy hoor wat gesê word nie.
“Alles afgevat,” sê Willem.
“En die aasvoëls en aasdiere het seker die laaste opruimingswerk gedoen,” sê Reitz.
“Aasvoël eet die vlees, jakkals eet die vlees en bene, kraai wag vir aasvoël om die karkas oop te maak, baardaasvoël eet die murg in die bene, brommer lê haar eiers in die vlees, en mier eet die bietjies vleis wat oorbly,” sê Ben, half ingedagte.
Hulle klim van die perde af.
Willem lei Abraham weg om ’n entjie daarvandaan in die skamel skadu van ’n paar boompies uit te rus.
“Net hier is hulle vuurtjie doodgemaak,” sê Ben, en skop teen ’n groot verswarte klip.
“Aardig,” sê Reitz, en voel ’n rilling by sy ruggraat afgaan.
Jong Abraham lyk of hy ’n aanval van die ritteltits gaan kry. Willem laat hom voorkomend versigtig aan ’n bietjie brandewyn proe – geskenk nog deur die boer. Reitz durf die afgelope dae steeds minder in Abraham se rigting kyk. Hulle water raak min – hulle is knaend op die uitkyk vir ’n stroompie. Die meel is byna op. Gelukkig dra Ben kennis van eetbare knolletjies in die omgewing.
*
Nou begin dit voel asof hulle nie meer vordering maak nie. Hulle beweeg deur ’n bar gebied met klein bossies, lae heuweltjies op ’n afstand. Geen boom of stroom nie. Miershope en af en toe ’n klipsalmander.
Soos hulle verder noord beweeg, steeds dieper die onbekende in, begin hulle steeds minder praat, of begin hulle op ’n ánder manier praat. Toe hulle pas by die kommando weg is, was dit anders, maar na hulle besoek aan die boer was dit asof hulle geleidelik stiller begin word. En so met elke dag saam, dieper die land in, word hulle steeds minder geneig om hulle gedagtes met mekaar te deel. Miskien is dit dat hulle gedagtes, soos die plantegroei, kariger word.
Die landskap raak geleidelik oper en platter. Die afstande tussen einder en einder kom groter voor. Hulle gedagtes dwarrel gewoon weg. Dit word yl en lig soos tolbos. Hulle sien die horison. Hulle sien die veranderende wolkformasies. Hulle sien die skaduwees van die wolke oor die landskap beweeg. Hulle sien die bossies, die klippe en die mierneste. Wat moet hulle hierby voeg?
Taaibos, sê Ben soms. Hardepeer en kriedoring, sê hy nadenkend, afgetrokke. Aalwee en bitteraalwee. Bitterboegoe. Kankerbos. Bitterwortel en kankerblaar. Huilbos. Hulle weet nie of hy meer iets spesifieks uitwys en of hy homself aan die name herinner nie.
Elke dag net nog ’n lekseltjie water, en saans die lippe met brandewyn natmaak. Bedags begin hulle blare kou. Uintjies en knolletjies. Oordag is dit warm. Snags is dit koud. Waar moontlik skuil hulle langs ’n rots, ’n groterige grondwal, enigiets in die plat uitgestrektheid wat effens meer beskerming bied, sodat hulle vuur kan maak sonder om gesien te word.
Hulle het die boer agtergelaat, met sy verhulde verdriet, asof hy hulle nooit van sy droom vertel het nie. Nog verder terug het hulle die kommando agtergelaat, asof hulle nie al die maande aan die slopende daaglikse roetine daarvan onderwerp was nie. Hulle raak los van die moer, van waarvandaan hulle gekom het, en van waarheen hulle op pad is. Hulle vorige lewe ontbind. Hoe gou gebeur dit, dink Reitz. Hoe gou het hulle alles agtergelaat. Hulle het nie meer naspeurbare wortels nie.
Willem se sorgsaamheid teenoor jong Abraham vorm ’n web van vastigheid, ’n stewige maar onsigbare net waarin hulle gevang word, sodra hulle wil verdwyn, sodra hulle wil oplos en ontbind soos warrelstoffies.
Vroeër was hulle taal ruier, hulle reaksies skerper; hulle was meer op mekaar ingestel. Nou is Willem hulle hoeder, of moeder, ewe veel as jong Abraham s’n. Dit is Willem wat bedags sê: Dis goed Abraham, hou moed. Siedaar, Abraham, hou moed. Rustig nou, Abraham, rustig nou. Ons is op pad.
Na vryheid, sê Ben een keer, en lag sag.
Die son skeef teen sononder. Sieal, sê Reitz. Siels, sê Ben, en: Stoksielsalig.
Abraham se diep swye raak dieper oordag; soms is hy bibberend teen skemer; snags word sy prewelings koorsagtig en meer dringend. Straks, prewel Willem in sy slaap. Rustig, prewel hy. Dit sal verbygaan, Abraham, prewel hy, met die tong swaar van benewelde maar waaksame slaap. Ook hulle word vertroos deur Willem se vertroosting van Abraham. Dit vorm ’n nagtelike skans teen die oorwig van bose drome en onderdrukte verlangens, en pynlike herinnerings aan ’n brose orde.
Een oggend is Willem se oë so helder soos spoelklippe en daar loop trane oor sy wange. Reitz kyk verskrik weg en merk dat Ben, toe hy dit merk, se gesig diep rooi word.
*
Toe die vlakte op sy wydste oopmaak en beskerming en skuiling die karigste is, toe is hulle swye die diepste. Toe neem die landskap oor en vat die gedagtes uit hulle hoofde en die woorde uit hulle monde. Hulle merk die gang van die son, hulle sien die plek waar die horison die hemel ontmoet, hulle hoor die geluid van die perde se pote.
So woordeloos swygend as wat die dag is, so skrikwekkend en chaoties is hulle droombeelde. Hulle hol saans steeds dieper lêplekke in die grond uit as beskerming teen die geniepsige koue in die vroemôre. Soos Hottentotte, sê Reitz. Hy raak banger vir slaap, hoe nodig hy dit ook al het. Want net vóór sonsopkoms, tydens die fase van diepste slaap, word hy soms hortend wakker uit drome met die mees onverkwiklike inhoude. Dooie oë. Dooie tande. Bloederige hare. Half benewel, maar te verskrik om weer in te slaap.
Die aarde hier was vroeër ’n reusemoeras gewees, sê hy een oggend, met iets soos verwondering.
Toe hulle ’n punt bereik na ’n paar dae waar die omgewing so bar en verlate is, so van God en mens en geskiedenis ontdaan, so stil dat die stilte bedags ’n aanslag op die binneoor is, toe sien hulle in die verte die yl hoepel van ’n lae bergreeks.
“Moet die Skeurberge wees,” sê Ben.