'n Ander mens. Zirk van den Berg
Читать онлайн книгу.jammer om dit te hoor.”
Frank is ’n oomblik stil. Dit klink of hy dalk sy hand oor die gehoorbuis hou. Hy stuur seker die ander weg. Toe sy stem terugkom, fluister hy: “Jy vra nie hoe nie. Dit sou die natuurlike ding gewees het, as jy rêrig nie geweet het nie.”
“O . . . hoe’t dit gebeur?”
“Hulle sê sy’t versmoor. Dit moes gebeur het nadat ons daar weg is. Ek weet nie . . . dalk die dwelms. ’n Meisie soos daai . . . Dit sou wel gebeur het, indien nie op dié manier nie, dan op ’n ander.”
Maar dit het nie, dink Daniël. Jy het haar gesig in daai kussing gedruk terwyl jy haar gestreep het en jy’t haar doodgemaak. Hy is meteens honderd persent seker van sy saak.
“Ek wil net nie hê jy moet dink dit het iets met my te doen gehad nie,” sê Frank.
“As jy so sê. Dit het niks met my te doen nie.”
“Nee, dit het nie.” Frank laat die woorde ’n rukkie daar hang. “Sien ek jou vanaand? Ons het ’n paar mense hier en dit lyk of dinge dalk plesierig kan raak later aan.”
“Miskien. Ek sal sien. Dalk het ek iets anders aan. Verwag my as jy my sien.” Daniël sê tot siens en lui af. Hy staar na die straat. ’n Tienermeisie kom uit ’n kafee uit met ’n pakkie tjips. Hy het gesien wat gebeur het, en hy het niks gedoen nie. Daniël het al van tyd tot tyd insigte gekry, gedagtes wat hom tot in sy fondamente skud omdat hulle so waar en belangrik lyk, maar dit het hom nog nooit tot aksie aangespoor nie. Sy innerlike en uiterlike lewe volg heel verskillende agendas. Nou lyk hierdie apartheid nie meer doenbaar nie.
Hy dink al heeldag elke nou en dan aan Acker. Frank het al ’n paar keer na die polisieman verwys en dit was duidelik dat hy geen ooghare vir die man het nie. Daniël kan nie verstaan hoekom hy ook so moet voel nie. Jy kan vriende erf, maar vyande moet jy self maak. Om die waarheid te sê, op die oomblik lyk iemand wat Frank se vyand is na presies die regte soort mens om te bel.
Hy blaai deur die geskeurde foonboek in die hokkie. Daar is net ’n handjievol mense genaamd Acker, voor kolomme en kolomme van Ackermans. Frank het gesê die polisieman is Mike Acker. Geen van die Ackers het die voorletter M nie. Dis seker nie ’n goeie idee vir ’n polisieman om sy nommer in die boek te hê nie, besef Daniël.
Hy bel die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor en vra om met Acker te praat. Die kaptein is nie daar nie, sê hulle, dis Sondag. Hulle kan ook nie die nommer uitgee nie. “Sê hom ek bel oor Nazla Hassan, die meisie wat nou die nag in Langstraat vermoor is. Ek sal net met hom praat. Ek gaan by hierdie nommer bly vir vyf minute maksimum, okay?” Hy gee die nommer en lui af.
Frank het baie trawante in die polisie, maar Daniël dink nie dat vyf minute genoeg sal wees vir enigiemand om hom op te spoor nie. Daarna is dit weg voor. Hy vrek vir ’n Coke, maar besluit om nie nou in die kafee in te gaan vir een nie. Hy bly naby genoeg aan die foonhokkie dat hy die telefoon sal hoor lui, ver genoeg om ongemerk te kan wegglip as hy iemand sien wat nie lekker lyk nie. Hy steek ’n sigaret op en rook afgetrokke, staar na elke kar wat verbykom, wonder of dit dalk iemand is wat agter hom aan is.
Drie minute gaan verby, dan vier. Daar is honderde redes hoekom dit langer as vyf minute kan vat om vir Acker in die hande te kry, of hoekom die offisier nie sal belang stel om ’n onbekende informant te bel oor ’n saak waarmee hy tien teen een niks te doen het nie. Vyf minute. Bly of gly?
Die foon lui. Hy antwoord op die tweede lui.
“Dis Acker. Het jy gebel?”
“Ja.”
“My laaitie is buite aan’t wag dat ek die boulbeurt kom klaarmaak. Jy’t dertig sekondes.”
Dis waar Daniël die foon kan neersit. Hy kan sy kanse vat.
“ . . . Ons trek nou al by twintig.”
“Ek was dalk daar toe die meisie dood is. Saam met Frank Redelinghuys.”
Die verveelde toon verdwyn uit Acker se stem. “Skryf hierdie nommer neer.”
“Ek het nie ’n pen nie.”
“Onthou dit dan asof jou lewe daarvan afhang. Dis dalk rêrig die geval.” Acker gee die nommer. Die eerste drie syfers is dieselfde as sy studentewoonstel in Wynberg s’n, en Daniël het dus net vier syfers om te onthou. “Gaan nou iewers anders heen en bel my van daar af. Dan sê ek jou wat om te doen. Moenie te lank vat nie. Kom weg daar van waar jy nou is . . . Laat waai!”
Die polisieman se houding maak Daniël banger as enigiets wat sover gebeur het. Sy hande bewe toe hy die kar probeer aansit. Eers met die derde probeerslag kry hy sy hande en voete gekoördineer en trek weg. Die hitte in die kar is ondraaglik. Hy sit die lugreëlaar voluit aan. Omtrent vyf kilometer verder stop hy by ’n kafee, koop die Coke waarvoor hy so lus is en bel van die openbare foon op die toonbank af.
Acker is dadelik die ene besigheid. “Ek lei van jou vorige foonnommer af jy’s in die noordelike voorstede iewers. Gaan soek ’n parkeergarage weg van die straat af. Los jou kar daar, loop stasie toe en vang ’n trein Kaap toe. Daar is ’n vertoonvenster tussen perron vier en vyf. Ek sal ’n stukkie papier naby die linkerkantste onderste hoek plak. Trek dit af dat ek kan weet wie jy is, en loop dan uit Seepunt se kant toe. Hou met Riebeekstraat langs en ek sal jou oplaai as ek seker is dis veilig. Moenie met enigiemand praat nie.”
“Is al hierdie James Bond-goed nodig?”
“Die vorige ou wat my gebel het met inligting oor Frank Redelinghuys is dood voordat ek met hom kon praat.” Die foon klik.
Die dag raak niks beter nie.
Daniël kry ’n woonstelblok met ’n parkeergarage nie te ver van die stasie af nie en ry op na die boonste vloer toe, los sy kar in die besoekersparkering. Hy vat sy oornagsak en loop stasie toe. Die trein kom eers oor veertig minute. Hy sit in ’n betonhokkie op die perron en luister na die brabbelende aankondigings in drie tale waarvan hy twee sou kon verstaan het as die luidsprekers hulle nie so verwring nie. Hy hoop dat wat hulle ook al sê nie met sy trein te doen het nie. Hy lees die graffiti op die mure. Dis als dom, meestal oor seks, met ’n skeut rassisme by.
Hy is al op sy derde sigaret teen die tyd dat die trein aankom. Hy gooi die stompie op die grond en trap daarop, klim dan in die wa. Mense sit in twees en dries. Die meeste van die vensters is wawyd oop. Dis ondraaglik warm terwyl die trein stilstaan. Hy vind ’n leë bank en skuif tot by die venster, kyk vorentoe. Toe hulle wegtrek, streel die wind deur sy hare. Dis eers kielierig, dan sprei ’n lekker lam gevoel deur sy kopvel. Hy sit met toe oë. As daar net ’n wind was wat sy gemoed só kon sus.
Hulle stop en ry, stop en ry. By Soutrivier klim ’n klomp raserige tieners in en gaan sit oorkant hom. Hulle praat te hard en lag te veel vir goed wat nie regtig so snaaks kan wees nie. Hulle gee voor hulle is taf. Hy ook.
Die spoorlyn is nou tussen fabrieke. Aan die regterkant blok ’n indrukwekkende Victoriaanse gebou die lug uit. Links is daar ’n lang, hoë baksteenmuur, meer modern, met betonpilare elke dan en wan. Te midde van hierdie eentonigheid staan daar mensgrootte Gotiese letters in groen geverf: The Human Cause. Dis al wat dit sê, onderstreep deur ’n strook gras. Die woorde maal in Daniël se gedagtes. Wie sou dit daar geverf het, en hoekom? Die daad op sigself lyk vir Daniël na ’n triomf vir die mensdom.
By Kaapstadstasie loop die passasiers soos diere in ’n drukgang met die perron langs en deur die dubbele ysterdraaihekke wat tot by die dak strek. As jy tussen die twee hekke is, kan hulle dit sluit en jy’s vasgevang in ’n staalhok. Daniël druk deur die tweede hek. Dan is hy in die groot ontvangsaal. Party mense skarrel haastig verby terwyl ander wag, babas huil en blêrbokse die armes se woede doef-doef uithamer. Tussen dit als deur fladder duiwe af en land skuiwend op die teëlvloer. Hy sien niemand wat hy herken nie. By perron vier en vyf maak hy of hy uit pure verveling na die toonvenster toe drentel. Dit adverteer tasse van die een of ander sintetiese materiaal. Dis duidelik dat niemand in jare enige moeite gedoen het om die uitstalling te verander nie. ’n Plastiekdraad vol flikkerende liggies is deur die tasse se handvatsels geryg. Net