Skoppensboer. Duane Aslett

Читать онлайн книгу.

Skoppensboer - Duane Aslett


Скачать книгу

titelblad.jpg

      QUEILLERIE

      Vir Tammy

      1

      Katvoet kruip hy uit sy skuilplek terwyl hy die omgewing bespied vir tekens van gevaar. Instink dryf hom egter om nie té lank te talm nie, want in hierdie omgewing word vars kos nie lank gelos nie. Dan skiet hy vorentoe, met pote wat klein powwe modder opskop as hulle hom deur die slik dryf – tot op die denimlangbroek. Daar verander hy blitsig van rigting, na waar die reuk van vars bloed hom lok. Klein lugborrels wat aan die denim vasgeklou het, word vrygestel as hy daaroor klouter, sweef dan stadig die hoogtes in, na die oppervlak toe, waar hul individualiteit verlore sal gaan wanneer hulle met die atmosfeer herenig word.

      Die reuk van menslike urine verskerp as hy teen die broekspyp op beweeg en hy talm ’n oomblik lank by die kruis om die bron daarvan te verken. Hongerte dryf hom egter voort en hy ruik skaars nog die urine toe hy klouter oor die duikersgewigte wat om die middellyf vasgegespe is. Sy pote vind nouliks vasklouplek op die naakte vel van die midrif. Hy beur egter vorentoe, tot by die harige borskas waar rooi vloeistof uit twee ronde gate sypel om met die troebel water te meng. Hy steek vas en toets die vlees om een van die gate. Te taai. Hy probeer ’n ander hoek. Dan versteen hy.

      ’n Donker skaduwee wat nader sweef. Hy sak af, sy pote styfgespan, gereed om na skuiling te skiet as hy moet. Die skaduwee neem ’n vorm aan. Die baber draai egter weg en gly weer stadig die dieptes in, meer geïnteresseerd in die soeke na ’n wyfie om mee te paar as om uit te kyk vir kos. Hy ontspan eers wanneer die baber deur die donkertes ingesluk word, maar besef dié ryke fonds is nie meer sy eie nie. Binnekort gaan dit krioel as die ander ook hul honger kom stil.

      Hy versaak die taai vlees om die twee gate en skiet vorentoe. Uit ondervinding weet hy waar om die sappige vlees te kry. Teleurstelling wag egter op hom, want hy sien hoe klein vissies reeds om die lippe saamkoek. Hulle val weg daaraan sodat die tande geleidelik ontbloot word – die doodsglimlag. Ver bo hom dreun die enjin van ’n skiboot, met die skaduwee wat oor die slikbedekte bodem flits, tot die onderwater-stilte weer oorneem. Hy kies koers na die kant van die kop; die regteroor. Sukses!

      Hy slaan sy wit knyper om die sagte lob, skeur dan ’n stuk van Casper de Witt se oor af. Dieselfde oor wat oomblikke tevore sy laaste woorde gehoor het. ’n Strofe van dekades gelede, uit die pen van Eugène Marais:

      “Want swart en droef, die hoogste troef … oor ál wat roer, is Skoppensboer.”

      Nie die eerste keer dat Casper de Witt daardie strofe gehoor het nie. Inteendeel, voor vandag het hy hom in dié woorde verlustig. Die doodsberig. Met gevoel in ’n afgemete tempo voorgedra om die twee doodskote aan te kondig. Die double-tap, soos hulle dit genoem het. Twee skote kort opmekaar. Altyd in die naakte bors, want Skoppensboer wou sien hoe naby aan mekaar hy die twee wonde kon kry. Casper moes gereeld met die verchroomde CZ75 peuter om die resultate te verbeter. Die snelleraksie verfyn, met verskillende kompensators eksperimenteer, ander grepe aanskroef, alles sodat die twee gate nader aan mekaar gebring kon word. Hy het nooit kon droom dat hý vandag die teiken sou wees nie. Want Casper de Witt het twee groot foute begaan. Die eerste was om geld te verduister in een van die geldwassery-skemas wat hy vir Skoppensboer bedryf het. En die tweede was om te veel Klippies-en-Coke te drink – want toe word sy tong los.

      2

      Die swart Audi S5 sweef deur die draaie van Kalkbaai terwyl Rex Reynecke die pragtige omgewing bewonder. Die radio-omroeper van Kfm kondig Tammy se nuutste treffer aan en die onheilspellende kombinasie van klavier- en klokkespel verdoof die V8 waar dit Muizenberg se kant toe luier. Voor hy die N1 na Johannesburg aandurf, wil Rex die Kaap ’n laaste keer inneem. Die seelug wat deur die oop venster inwaai, herinner hom aan gelukkiger tye. Met Leigh. Sy was ’n strandmens. Lief vir die see. En vir seekos.

      In elke lag ’n sug van pyn, kom dit oor die radio. Hierdie kusstrook was Leigh se gunsteling. Vishoek – waar hulle kon sonbrand en in die branders baljaar. Simonstad – waar hulle die vlooimark vir winskope gefynkam het en hartseer na die standbeeld van Just Nuisance gestaar het, vasgevang in die storie van dié Deense hond se unieke lewe as seeman in die vloot. Kalkbaai – waar hulle nie genoeg kon kry van al die viswinkels se kos nie:

      “Die beste vis ter wêreld,” volgens haar.

      “Moenie laf wees nie,” het hy gespot. “Jy kon nog nie ál die vis in die wêreld geproe het nie.”

      Net pagters ons van stof en dons. Die lirieke herinner hom daaraan dat die lewe slegs tydelik is. Trane biggel oor sy wange. ’n Onsigbare hand klem weer om sy hart; die pyn waarteen hy so gereeld moet veg. Oor alles hou die wurm wag en stof en as is al wat bly.

      Hy trek die knoppie op die deurpaneel en die venster sny die see se reuke af. Hy skakel die radio af en dwing sy gedagtes in ’n ander rigting tot hy die afrit na die M3-snelweg neem. Die V8 brul toe hy die petrolpedaal intrap. Hy hoor die drukaanjaer se gefluit as dit die lug vinniger na die silinders forseer om die verbranding van petrol en suurstof aan te jaag. Voel hoe die krag van die versnelling hom teen die sitplek vasdruk. Dit bring effense verligting. ’n Glimlag wat om sy mondhoeke vorm. Die Kaap en al sy herinneringe lê agter hom. Voor hom wag die gewoel van Johannesburg.

      * * *

      Niel Campher sit op die Persiese tapyt in sy Sandton-dakwoonstel, ’n glas Johnnie Walker Blue Label onaangeraak voor hom op die koffietafel. Hy loer na sy polshorlosie – die kort wysertjie van die Breitling is net duskant die 7 en die lang wyser op 11. Vroegaand en hy is glad nie honger nie. Onder normale omstandighede sou hy reeds in ’n spogrestaurant aan sy voorgereg gesmul het. Maar vanaand is nie normale omstandighede nie; vanaand is hy erg ontsteld; vanaand voel hy hoe die lewe wat hy tot nou geken en aan gebou het, verbrokkel.

      Sy oë val op die BMW-sleutel wat langs die whiskyglas lê. Die rooi Z4 sal vanaand in die motorhuis bly. Hy sal nie soos ander Vrydagaande aan die onwettige straatwedrenne deelneem nie. Of die opgewondenheid beleef wanneer die polisie opdaag en almal die hasepad moet kies nie. Hulle kon hom nog nooit vang nie. Die pote was te dom daarvoor. Maar weer eens is vanaand … anders. Die feit dat die Z4 ’n gesteelde voertuig is, het dit in die verlede vir hulle nóg moeiliker gemaak om hom te vang. So hoe het vanaand gebeur? Hy was so versigtig.

      Sy oë dwaal verder oor sy dakwoonstel. Van die Pierneef-skildery na die groot 3D-platskermtelevisie. Die wynversameling teen die muur. Hy maak dit al jare bymekaar. Sal hy ooit daarvan drink? Die spyt druk in hom op. Al die gesoek en bewaar van goeie wyn, net om dit nooit te geniet nie. Hy moes dit gedrink het. Wat gaan nou daarvan word?

      Die gedreun en geborrel van die jacuzzi op die patio herinner hom aan goeie tye … met wilde vroue. Soos die keer toe hy drie gelyktydig daarin gehad het, poedelnakend. Sy eie driekamp met ’n blondine, ’n brunet en ’n rooikop. Die grand slam. Hy moes hard werk om hul inhibisies af te breek. Al sy sjarme inspan om hulle te bekoor. Te vlei. Tot die natuurlike drange opgevlam het, met alkohol die olie op die vuur. En was dit die moeite werd! Alles het daar in die jacuzzi gebeur, waar die vier van hulle met die grasie en tydsberekening van ’n gesinkroniseerde swemspan beweeg het. Met hand- en beenbewegings wat die liggaam vorentoe projekteer in die soeke na euforie. Tot al vier hygend na asem die jacuzzi verlaat het om hul energievlakke met vars vrugte en kaviaar op beskuitjies aan te vul. Skaam-skaam het die drie sy dakwoonstel die volgende oggend verlaat, nie een lus vir koffie of ontbyt nie. Hý het homself met ’n Harley-Davidson beloon.

      Hy raak bewus van hoe hard die mat onder sy sitvlak is en hoe sy rug pyn van die ongemaklike posisie waarin hy teen die rusbank aanleun. Ja, vanaand is nie normale omstandighede nie. Vanaand is daar groot fout. Want die poliesman langs hom stink na ou sigaretrook. En die boeie maak sy gewrigte seer.

      * * *

      “Tafel vir een?” vra die kelnerin by die Primi Piatti. ’n Mooi rooikop meisie met ’n vriendelike glimlag. Haar borsmaat opvallend in die styfpassende hempie met die lae hals.

      “Ek ontmoet iemand,” antwoord Rex en konsentreer om haar in die oë te kyk. “Is daar dalk ’n knorrige outoppie met ’n welige snor hierbinne?”

      “Ja,


Скачать книгу