Skoppensboer. Duane Aslett

Читать онлайн книгу.

Skoppensboer - Duane Aslett


Скачать книгу
sou hom hard gestamp het met hierdie wetgewing,” sê Rex selfvoldaan.

      “Mafioso,” laat hoor Horst weer ingedagte. “Dit bring ons by jou volgende projek.” Hy leun terug in die stoel. “Rex, hierdie is die big league. Dis ’n versoek van die Valke. Ek dink jy is die beste man vir die projek. En dit bou op wat jy met Dos Santos se saak in die Kaap gedoen het. Maar ek is bekommerd oor die omvang daarvan. Dit is ’n uiters gevaarlike infiltrasie. Laat die Dos Santos-saak soos ’n teepartytjie lyk.”

      “Ek is nie bang nie.”

      “Ek weet. En dit is presies wat my bekommer. Hierdie laissez-faire-houding wat jy met betrekking tot jou lewe het.”

      Die kelnerin kom aangestap met hul koppies en ’n beskuitjie op elke piering. Die reuk van die varsgebroude koffie gee Rex ’n gevoel van genoegdoening. Daar is ’n rukkie stilte terwyl hulle melk en suiker ingooi. Horst maak eers seker die kelnerin is buite hoorafstand, dan:

      “Die Valke is op soek na ’n persoon wat as Skoppensboer bekend staan. Die probleem is dat hulle net weet dat dit een van die groot visse in georganiseerde misdaad is. Niemand kon ons nog sê wié nie.” Horst roer sy koffie om en om.

      “Hoe is dit moontlik?”

      “Ons weet te min, Rex. Ons ken net sy bynaam en weet dat dit iemand is wat baie invloedryk is. So, dis waar jy inkom.” Horst bly die koffie roer, en Rex kry steeds die gevoel dat daar iets anders is wat hom pla.

      * * *

      “Jy’s lekker diep in die moeilikheid.”

      Niel hou niks van kaptein Januarie van die Valke nie. En om dinge te vererger sit hy op die ongemaklikste stoel ooit, in ’n kamer sonder kleur. Die mure vertoon die een oomblik grys en die volgende bruin. Daar is slegs een muurbehangsel, ’n foto van die president van Suid-Afrika. Langs dit is ’n koperplaatjie wat aandui dat die foto van die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens veronderstel is om daar te hang, maar tans is daar ’n blok verf wat minder verbleik is as die res van die muur. Hulle kan self nie verdomp byhou met wie hul baas is nie. Die vloer is geteël met donkerbruin Novilon; hier en daar sit roomkleurige teëls omdat die bruines waarskynlik uit voorraad was toe herstelwerk gedoen moes word.

      Twee ander stoele staan in die vertrek. Een van hulle word deur kaptein Januarie gebruik wanneer hy sit, wat nooit baie lank is nie. Wanneer hy opgewonde raak, spring hy op om heen en weer te marsjeer soos ’n sersant-majoor wat sy troepe op ’n paradegrond uittrap. In die ander stoel sit sersant Vermaas, wat nog nie ’n woord geuiter het nie. Waarskynlik die “good cop”, want Januarie is beslis die “bad cop”. Tussen Niel en die twee speurders is ’n staal-opvoutafel wat oorspronklik grys was, maar nou deur roeskolle verkleur word. Op die tafel lê die polisiedossier van die ondersoek teen hom. Kaptein Januarie loop juis nou weer soos ’n kapokhaan op en af.

      “Jy gaat een of ander convict baie hêppie maak. ’n Mooi wyfie vir hom wees,” sê Januarie met ’n breë glimlag. “Mooi babyface soos joune. En jy’s in good shape. Gim seker elke aand by die Virgin Active, nè?”

      “Ek swem,” fluister Niel, maar dit voel nie of hy deel van die gesprek is nie.

      Inteendeel, alles voel vir hom onwerklik. Asof hy sy liggaam verlaat het en net ’n toeskouer is. Dit kán mos nie met hom gebeur nie!

      Skielik klap sersant Vermaas hard op die staaltafel en Niel hop soos hy skrik. Hy is dadelik kwaad vir homself. Hy mag nie wys hy is gespanne nie. Hy moet sterk staan, alles is nog nie verlore nie.

      “Ons het jou op ’n paar klagte, ou pel. Geldwassery, rampokkery, bedrog, korrupsie, vervalsing en uitgifte, diefstal van ’n motorvoertuig. Jy gaan lekker lank sit, pappie. Teen die tyd wat jou vonnis uitgedien is, vlieg ons rond in spaceships,” sê Vermaas met ’n grynslag.

      Die rillings hardloop deur Niel se lyf. Sy mond is droog. Hy voel lighoofdig. Hy mag nie sy bewussyn verloor nie.

      “Kan ek asseblief water kry?” Die skorheid in sy eie stem verbaas hom.

      Albei polisiemanne lag bloot vir hom.

      Skielik vlieg die deur oop en ’n lang man met grys hare stap die vertrek binne. Die twee polisiemanne spring orent. “Kolonel!” groet hulle.

      “Uit!” blaf hy. “Ek wil met die verdagte praat,” gee hy dan ’n halwe verduideliking.

      Kaptein Januarie se houding verander meteens. “Vir wat, kolonel? Hierdie is mý saak!”

      “Januarie!” Die man se stem bewe van woede. “Trap jy nou mooi in jou spoor, want Vermaas sal jou senior wees teen die tyd dat ek met jou klaar is. Verstaan jy my mooi?”

      Die twee speurders storm uit, met Januarie wat egter buite die deur omdraai. “Hierdie is nie die laaste nie, kolonel, ek sal na die generaal toe gaan as ek moet. Ek het my gat af gewerk om hierdie bliksem te vang!”

      Die kolonel klap egter die deur in sy gesig toe. Hy gaan sit in een van die stoele en blaai tydsaam deur die saakdossier.

      Na ’n lang ruk verbreek Niel die stilte met ’n senuagtige: “Wat gaan aan?” Hy voeg haastig ’n “kolonel” by om so gedweë en respekvol moontlik voor te kom. Iets sê tog vir hom hy gaan van hierdie gesprek hou.

      “Campher,” sê die kolonel eindelik. “Ek dink jy sal saamstem dat jy nie tronkmateriaal is nie.”

      Niel knik. Hoop vlam in hom op. Die kolonel kom orent en gaan staan voor die venster. Sy grys kuif blink in die sonlig. Dan haal hy ’n sakdoek uit sy broeksak en vee sy bril se lense daarmee skoon.

      “Jy lyk nie na die tipe wat by die tronkbendes sal inpas nie.” Hy inspekteer sy handewerk in die sonlig. “En weet jy wat noem die gevangenes iemand wat nie by ’n tronkbende aansluit nie?” Druk die bril terug op sy gesig.

      “Ja, kolonel, ’n Fransman.”

      “’n Fransman, Campher. En wat dink jy gebeur met die oorgrote meerderheid Fransmanne in ons tronke?”

      “Hulle oorleef nie, kolonel.”

      “Hulle oorleef nie, Campher. So het jy al ooit gewonder by watter bende jy sou aansluit, as jy moes tronk toe gaan?”

      Niel bly lank stil. Die kolonel staar steeds by die venster uit, hande agter sy rug gevou. Hy wag geduldig op Niel se antwoord. Maar Niel wil nie antwoord nie. Wil nie aan die tronk dink nie, want hy voel hoe ’n angsaanval hom wil beetpak. Die kolonel kom sit weer oorkant hom. Hy staar hom lank in die oë. Tot Niel ongemaklik raak en afkyk, die stilte vir hom ondraaglik. Hy besluit hy sal noodwendig ’n antwoord moet gee.

      “Seker die 26’s, kolonel. Hulle is die ouens met geld … in die tronk.”

      Die kolonel grynslag onheilspellend. “Nee, Campher. Ek dink nie so nie. Met jou looks sal een van die 28’s jou seker as sy wyfie claim.”

      Hoekom dink hulle almal dat dít sy voorland is?

      * * *

      “Hoe lyk dit, kolonel?” Januarie sit met ’n glimlag op sy gesig. “Het hy geval daarvoor? Ek dink ek sou ’n Oscar kon opraap met my performance.”

      “Ek vermoed hy sal saamwerk,” antwoord die kolonel.

      “Ek dink nie hy het daai twist op die good-cop-bad-cop-roetine gespot nie,” voeg Vermaas laggende by.

      “Hy oordink nou die aanbod. Ek het gesê ons soek net die gesteelde BMW terug, aangesien dit nou aan die versekeringsmaatskappy behoort. Vir hulle sal ons sê dit is verlate iewers gevind. Toe verduidelik ek dat ons geen getuienis het wat bewys dat sy ander besittings die opbrengs van misdaad is nie, maar as hy nie saamwerk nie, sal die Batebeslagleggingseenheid ’n siviele aksie teen die goed bring aangesien hy nog nooit in sy lewe ’n dag se eerlike werk gedoen het nie. So hy kan met niks opeindig nie. As hy egter sy samewerking gee, kan hy vanaand al na sy woonstel terugkeer en sy leefstyl voortsit.”

      “Ek wed hy kon dit nie glo nie!” sê Vermaas.

      “Nee,


Скачать книгу