Skoppensboer. Duane Aslett
Читать онлайн книгу.ons het dan nie eens geweet van die bordeel nie!”
“Blykbaar upmarket-kliënte wat op sy discreetness staatmaak. Sy vroue is glo baie statig en praat nie uit nie. Ook natuurlik omdat hulle goed geld maak. Dis nou vir jou ’n oksimoron – statige prostituut.”
* * *
“Wat is ons ‘in’?” vra Rex en sluk die laaste van sy koffie weg.
“Piggyback,” antwoord Horst. Hy kan maar nie gemaklik wees met hierdie opdrag nie. Die risiko’s is baie hoog en hy het oor die afgelope paar jaar baie geheg geraak aan die jong man wat oorkant hom sit. Dalk te geheg. En Rex kan soms so onverskillig optree, amper asof hy die dood koggel. Uitdaag om hom te kom haal. Waarskynlik omdat hy voel hy het niks meer om te verloor nie.
En tog is dit juis hierdie eienskappe wat van hom so ’n goeie agent maak. Rex kan die versoekings wat talle ander agente in die verlede verlei het, weerstaan. Agente wat geswig het toe die druk te veel geraak het. Sommige is verslaan deur die monster van dwelm- of alkoholverslawing. Ander weer deur die minnares van gierigheid. Sodat hulle op die ou einde deel geword het van die misdaad wat hulle veronderstel was om te bekamp.
Soos die pa van die verlore seun het hy nagte om gebid vir hul terugkeer. Al sy energie ingespan om hulle weer op hul voete te help. Hulle deur rehabilitasieprogramme gelei sodat hulle weer in die samelewing kon funksioneer en kos op die tafel kon sit. Baie het gesmeek om weer agente te word, maar hy het botweg geweier. Want daar is gevolge vir ’n mens se dade. En die sloot van versoeking se wal is te steil om ’n tweede keer teen uit te klim.
“Piggyback?”
Die vraag bring hom terug na die hede en hy maak keelskoon. “Iemand wat reeds die regte konneksies het. Hy sal jou referent wees.”
“En hoekom sal hy dit doen?” Horst merk die twyfel in Rex se stem. Dalk is hy tog nie so onverskillig as wat hy gedink het nie.
“Nie alle misdadigers is bereid om tronk toe te gaan nie, Rex. Ons het iemand geïdentifiseer wat geswaai kan word. ’n Jong, onverantwoordelike snuiter wat van die goeie dinge in die lewe hou, maar nie ’n vinger wil lig om dit te verdien nie. En daarom sal hy saamwerk.”
“En wat laat julle dink dat hy nie die hasepad sal kies sodra hy die kans kry nie?”
“Eerstens weet sy ouers nie van sy kriminele aktiwiteite nie. Hulle dink hy is ’n briljante klein entrepreneur. En hy is hul oogappeltjie. So hy sal alles in sy vermoë doen om nie hul bubble te bars nie. En tweedens maak ons die deal te goed vir hom om die kans te vat. Hy gaan voort met sy gemaklike lewe en ons vereis net dat hy jou sy samewerking gee. Die alternatief is die tjoekie. Nie ’n goeie opsie nie.”
“Wanneer sal ons weet of hy gaan saamwerk?”
“Ek kan nie sien dat hy die aanbod van die hand kan wys nie, en die Valke sal sy gal vir hom werk.”
3
“Het ons ’n deal?”
Niel steek die sigaret met bewende hande aan. Hy rook nie werklik nie, maar hoop dat dit kalmte sal bring. Want kalmte is tans soos ’n mirage in die woestyn – bly nét buite bereik. Die Valke vra te veel van hom. Hy het hard gewerk om iets van homself te maak en hy gaan dit nie prysgee vir ’n klomp dom poliesmanne wat die kollig soek nie. In sy wêreld verdwyn verraaiers stilweg en spoorloos. Maar daarteenoor is die tronk nie ’n piekniek nie. Die probleem is hy weet nie of hy hulle kan help nie, al wíl hy.
“Kolonel, ek het geen idee wie Skoppensboer is nie. Ek het al van hom gehoor, maar min mense ken sy identiteit. En dié wat weet, verklap niks. Wat beteken dat dit iemand is wat mens tot elke prys wil vermy.”
“Ons wil nie hê jy moet Skoppensboer vir ons gee nie, Campher. Jy moet net een van ons agente se contact wees. Hom voorstel aan ’n paar sleutelfigure. Pa staan vir sy betroubaarheid. Help om die regte netwerke te infiltreer. Dis al.”
Dis al? Dis lagwekkend! Die man laat dit klink asof hy bloot toergids gaan speel. Hulle besef nie waarvoor hy hom sal inlaat nie. Dit is ’n skaakspel om die dood; een verkeerde skuif en alles is verby.
“Kolonel, ek hoop net nie julle gee my die een of ander palooka wat dink hy is James Bond nie. Ek kan nie verantwoordelikheid vir sý lewe ook neem nie. In Suid-Afrika lei julle mos nie jul agente op nie. Julle hoop en bid eerder die ou survive op sy eie street-smarts en, as hy die emmer skop, recruit julle bloot die volgende naïewe student van ’n kampus af. Of die een of ander eks-poliesman wat sy hele pensioen weggebliksem het en dit nie in die grootmenswêreld kon maak nie.”
“Doen jy net jou deel en los die res vir ons,” sis die kolonel. “Die man wat ons wil instuur, is uiters bekwaam.” Dit verskaf Niel genoegdoening om te merk dat hy onder die man se vel kon inkruip. Hy kan sien die man moet sy humeur met moeite beteuel en dit beteken hy word nie oordonder nie; hy gee nie sy teenstander die oorhand nie, maar onderhandel as sy eweknie. Hy bly lank stil en gee voor dat hy die aanbod ernstig oorweeg. As hy dit aanvaar, sal hy ten minste beheer neem oor wat met hom gebeur – tronkstraf vermy en die indruk skep dat hy saamspeel. Soos ’n klein skootbrakkie wat op bevel sit, lê en omrol. Maar hy is slimmer as die pote. Hy sal hulle uitoorlê. Hul selfversekerdheid gaan hulle nog in die gat byt. Wat weet hulle van georganiseerde misdaad af? Hierdie kolonel dink hy weet alles, want hy maak ’n bietjie uit van tronkbendes. Geen wonder die land is ’n teelaarde vir misdaad nie. Idiote!
“Deal, kolonel,” sê hy eindelik. “So, wat gebeur nou?”
“Jy keer terug na jou woonstel toe.”
“Dis ’n penthouse,” sê hy terwyl hy die sigaret in die asbak dooddruk.
Die kolonel gluur hom aan. In die ou dae sou hy lankal ’n snotklap gekry het, maar die nuwe bedeling werk anders. Hy kan sien dat die kolonel hom steeds met moeite beteuel en dit bring ’n mate van genot, selfs in dié omstandighede.
“Keer terug na jou pénthouse en wag vir instruksies. Ons weet waar om jou in die hande te kry. En onthou, jy is Mammie en Pappie se klein blue-eyed boy. Niks sal my meer plesier verskaf as ’n lang kuier om hul seuntjie se doen en late met hulle te bespreek nie. Trap in jou spoor!”
Die bliksem! Frustrasie wel in Niel op. Hulle moet sy ouers uitlos, want hierdie saak het niks met hulle te doene nie. Hy wil die kolonel bydam. Maar dit is sy beurt om selfbeheer toe te pas, want sy ouers mag nooit, ooit uitvind nie.
“Ek sal saamwerk, kolonel.” Maar die planne draai reeds in sy kop. En die mirage verdwyn noudat ’n kalm oase op die horison sigbaar begin raak.
* * *
“Die piggyback is gereël, Rex,” sê Horst in alle erns.
Hulle sit in Walnut Grove in Sandton City, elk met Eggs Benedict en ’n koppie koffie voor hulle.
“Julle sal mekaar binnekort ontmoet en dan vat julle dit van daar af …” Na ’n rukkie stilte gaan Horst voort: “Hierdie is my laaste projek, Rex. Ek is moeg. En te oud vir hierdie jop. Sodra hierdie operasie klaar is, tree ek amptelik af.”
Rex is stomgeslaan. Hy verstaan nou waarom Horst die afgelope ruk so af gelyk het. Hy wil iets sê, maar die woorde ontwyk hom. Wat gaan hy doen? Want sonder Horst sal hy nie hierdie werk kan doen nie. Horst is meer as sy hanteerder. Meer as ’n kollega. Hy is ’n vertroueling. ’n Vriend. En dan dring dit tot hom deur – dit gaan ook sý laaste operasie wees. Maar wat anders sal hy doen? Hierdie werk het sy lewe weer sinvol gemaak. Hom rigting gegee toe hy soos ’n skip sonder mas op die oop see gedobber het. Dit was iets groters as hy, ’n bestaansrede as hy een móés hê. Daarsonder …
“Dan sal ek moet begin dink wat ek na hierdie projek gaan doen, Horst. Ek sal nie met ’n ander hanteerder kan saamwerk nie.”
“As jy aan die einde van die projek steeds so voel, is dit reg. Ek het nog ’n paar contacts wat my skuld, ons sal iets kry.”
“Wat gebeur volgende?”
“Ek sal jou kontak met die details sodra