Skoppensboer. Duane Aslett
Читать онлайн книгу.jou are toeslaan van al die vet in daai rooivleis, moet jy nie by my kom kla nie,” ontwyk Niel die vraag.
“Ja wel, ek kan nie glo iemand kies om ’n vegetariër te wees nie,” sê Rex met sy oog op Niel se Caprese Tramezzini. Die Appletiser staan hom ook nie juis aan nie. “Daar is niks lekkerder as ’n stuk steak nie.”
“Wys net hoe verbeeldingloos jy is.”
“Antwoord my vraag. Hoeveel weet jou gang?”
“Nie veel nie,” antwoord hy met ’n sug. “Hulle dink jy is ’n nuwe contact en dat ek jou op ’n ad hoc-basis wil intrek. Hulle weet definitief nie jy’s ’n poliesman nie.”
“Ek is nie.” Hy merk die verbasing op Niel se gesig.
“Nou wat is jy dan?”
“Ek bemark Chappies bubblegum. Didn’t you know?”
“Ha-ha, moer snaaks,” kap Niel terug. “As jy dan nie ’n poliesman is nie, hoekom doen jy dit? Dís meer puzzling as iemand wat ’n vegetariër is.”
“Ek het my redes. Wat is die plan?”
“O, so ek moet die plan uitdink? Julle het my genader, hoekom dink júlle nie die plan uit nie?”
Rex leun vorentoe. “Want behalwe vir jou prostitute, weet ons nie wie jy ken nie. Jy sal weet wie die beste kontakpersoon is om ons na Skoppensboer te lei.”
“En ek kan dit nie doen as ek nie weet wat jou expertise veronderstel is om te wees nie,” sis Niel deur sy tande.
“Wat bedoel jy?”
“As ek jou voorstel, moet jy tog iets na die party toe bring. Dink jy mens stap sommer net in en begin operate?”
“Ek is ’n toegelate prokureur.”
“’n Lawyer nogal! Nou weet ek jy’s mal. Hoekom kry jy nie eerder vir jou ’n lekker hoek-kantoor iewers in Sandton nie, en dan over-charge jy ’n paar van hierdie ryk vroue wat van hul boring mans wil skei.” Hy wys met sy duim in die rigting van ’n tafel waar die vroue in diep gesprek verkeer.
“Kan jy asseblief ’n bietjie minder ADD wees? Soos ek gesê het, ek is ’n toegelate prokureur, so ek kan help met geldwassery-skemas. Jy kan my voorstel as iemand wat die opbrengs van onregmatige aktiwiteite doeltreffend kan verbloem sodat dit as wettige inkomste voorkom.”
“Gmf. Jy klink soos ’n blerrie prokureur: ‘opbrengs van onregmatige aktiwiteite’. En niemand gaan jou sommer net so met ’n pot geld vertrou nie.”
“Nou, wat stel jy voor?”
“Ek het mos gesê julle het my genader, so …”
“Fine, kom ons los die deal en dan vat jy maar jou kanse in die hof.”
“Julle bliksems is supposed om die wet toe te pas en dan kom pers julle mense af!”
“Take it or leave it. Jou keuse.”
Niel dink duidelik na terwyl hy langtand aan sy kos eet. Sy eetlus is blykbaar nie meer so groot nie.
“OK, daar is iets waarmee jy baie street cred kan kry, maar dis baie risky. As jy uitgevang word, sal nie eers jou pelle jou kan help nie. Want die Oosblok- organised crime groepe is blerrie ruthless.”
“Vertel my!”
* * *
Volgens Niel was die plan eenvoudig.
“Daar is ’n hoop Amerikaanse dollars in Bulgarye wat iemand in Suid-Afrika wil kry. Jy moet dit gaan haal en as jy dit veilig hier kan kry, sal die deure makliker vir jou oopgaan.”
“Wie is dié ‘iemand’?”
“Trust my net.”
“Ek trust jou glad nie. So, wie is die ‘iemand’?”
“OK, dis Freddie Kruger, hy’s …”
“Jy praat stront!”
“Wat?”
“Freddy Krueger? Regtig?”
“Man, hy het sy naam gekry voor die Nightmare on Elm Street-flieks! In elk geval, wat ek wou sê, is: Die geld is aan Freddie verskuldig, maar die delivery het skeefgeloop en nou moet Freddie self die geld hier kry.”
“Watse deal was dit?”
“Man, ek weet nie! Dink jy ek en Freddie bespreek sy besigheid oor tee en melktert? Al wat ek weet, is die geld is in Bulgarye en hy soek dit hier.”
“Nou hoekom stuur hy nie een van sy eie mense om dit te gaan haal nie?”
“Want dis donkiewerk. En jy’s die ass.”
“Jy bedoel seker die mule.”
“Nee, in hierdie geval is dit ’n ass – want dis jy.”
Rex wou hom weer met die vuis bydam. Die klein snotkop ’n bietjie maniere leer.
“Hoe de moer gaan ek die geld hier kry?”
“Ek het lankal ’n plan daarvoor, maar kon dit nie uitvoer nie. Met jou contacts is dit egter kinderspeletjies.”
“En verskil Freddie Kruger enigsins van Freddy Krueger?”
“Ja, wanneer hy mense doodmaak, gebruik hy nie ’n handskoen met staalkloue nie.” Campher het egter nie uitgewei hoe Freddie Kruger sý slagoffers doodmaak nie. En Rex beplan nie om uit te vind nie.
Die plan was toe glad nie so eenvoudig soos wat Niel voorgehou het nie. Rex het drie dae gelede as toeris van OR Tambo na die Marco Polo Internasionale Lughawe in Venesië gevlieg, sy dekmantel as toeris deur twee goed gesteun: die Canon-kamera om sy nek, wat hy gedurig tydens die reis na Venesië geklik het, en die Schengen-visum wat hy as “toeris” deur Capago bekom het. Die vlug was lank, want hy kon nog nooit op ’n vliegtuig slaap nie. Teen ses voet twee is die beenspasie heeltemal te min vir ’n gemaklike nagrus. Hy het hom toe eerder met die flieks op die klein TV-skerm voor hom besig gehou. Die bejaarde vrou langs hom het dinge egter vererger toe sy haar skerm op die vlugbesonderhede ingestel het. Elke keer as Rex se oë daarheen gedwaal het, het dit gelyk of die vliegtuig op presies dieselfde plek op die aardbol was.
Nou staan hy aan boord van ’n passasierskip en kyk hoe ’n Oosterse sanggroep die “Macarena” vir die jolige skare uitvoer. Die skip se horing blaas, die passasiers skree van opwinding en die drywende reus verlaat die kaai. Sommige passasiers staan tou voor die vier reuse-ketelbraaiers waarop die sjefs besig is om die vleiskoekies vir hul hamburgers te braai. Rex span weer die Canon in ter wille van sy dekmantel. Agter hom skitter die Mediterreense See in die middagson, asook die waterkanale wat skoner van ver af lyk as van naby.
’n Entjie van hom af hoor hy hoe twee vroue ’n gesprek in Afrikaans voer. Lyk soos ma en dogter. Hy bestudeer hul gesigte; wil ’n punt daarvan maak om hulle te vermy. As hulle agterkom hy is ook Afrikaanssprekend, is sy anonimiteit daarmee heen. Die skip se amptelike fotograaf het hom reeds onkant betrap toe die passasiers hul paspoorte moes verruil vir hul persoonlike reiskaarte. Toe die fotograaf Rex se foto vir die reiskaart geneem het, het hy genoem dat hy ook ’n Suid-Afrikaner is. En iemand wat ’n foto van Rex het, kan baie moeilikheid veroorsaak.
“Ek is ’n vriend van Horst Faber,” het die fotograaf egter met ’n knipoog gefluister. Verlig het Rex sy paspoort oorhandig; die ontvangsbewys daarvoor vorm ’n integrale deel van Niel se breedvoerige plan.
Rex verlaat die vermaaklikheidsarea op die twaalfde dek en gaan by die trappe af tot op die vyfde dek. Hy sal die meeste van die tyd, tot hul aankoms in Korfu, in sy kajuit deurbring. Hoewel dit maklik sal wees om die twee Afrikaanssprekendes te vermy, wil hy nie hê sy gesig moet aan enige van die passasiers of bemanningslede bekend raak nie. Want op Korfu neem iemand anders sy plek op die skip in, met die hulp van die fotograaf. En niemand mag agterkom dat Rex Reynecke ’n gedaanteverwisseling ondergaan het nie, want dáárdie Rex Reynecke gaan geselsies aanknoop