Skoppensboer. Duane Aslett

Читать онлайн книгу.

Skoppensboer - Duane Aslett


Скачать книгу
diefwering nie; dit is immers nie op die tweede verdieping nodig nie. Hy trek die skuifdeur langs die venster oop en loop buitentoe. Hoe het die indringer op die balkon gekom? Hy kon nie van bo af gekom het nie. Vier verdiepings toring bo dié woonstel uit. Het hy moontlik van een van die aangrensende balkonne af oorgeklim? Hy sal later ondersoek instel. Hy wil nie nou die bure se emosies opjaag nie.

      Hy stap weer die woonstel binne. Geen tekens van ’n struweling nie. Roof was blykbaar nie die motief nie, want daar is verskeie waardevolle items gelos: ’n skootrekenaar in die sitkamer; ’n selfoon op die bedkassie; juwele, Fossil-horlosie, iPod en ’n Ray-Ban-sonbril lê oop en bloot op die spieëlkas. Die onopgemaakte bed wys dat een persoon daarin geslaap het – tot hoe laat?

      ’n Klam handdoek in die badkamer en waterdruppels in die stort wys dat iemand laat gisteraand of dalk vroeg vanoggend gestort het. Die res van die woonstel is netjies, behalwe vir ’n paar stewels wat half onder die bed ingeskop is. Hy hoor iemand by die voordeur.

      “Ha, CSI is hier,” sê hy spottenderwys.

      “Ja, and you think you’re the FBI,” kap die bruin vrou terug.

      “Ag, OK, Vi, truce.”

      “Hoe lyk die toneel, Myron?”

      “Hier’s nie veel nie. It boggles the mind.”

      “Nou wat maak die Scorpions dan hier? Julle cherry-pick mos julle se sake,” spot sy verder.

      “Se gat! Die Skerpioene is gone.”

      “Ja, and from the ashes rises the phoenix,” spot Violet met dramatiese handgebare om die verrysing van die mitiese voël uit te beeld.

      “Hawks!”

      “Same thing, different badge,” mompel sy verder.

      “Die Hawks is beter as die Scorpions. En ek is hier, want die top brass is skittish. Hulle onthou Leigh Matthews se ontvoering alte goed. Ons moet dié saak reg hanteer. Hulle soek nie ’n media frenzy oor jong meisies wat ontvoer word nie.”

      “O sorry, Myron Byleveld, top cop, ek sal my bes doen.”

      “Gmf, ek bly Januarie, maar ek sal die ‘top cop’ vat.”

      Sy spring aan die werk terwyl hy hom steeds probeer verbeel hoe die toneel afgespeel het. Hoekom sou die meisie nie wakker geskrik het toe daar met die venster gepeuter is, of die blompot omgeskop is nie?

      Vermaas kom die vertrek binne.

      “Wat het jy, Verrie?”

      “Myron, die oorledene is ’n pensioenaris. ’n Wewenaar wat almal as oom Basie geken het. Hy het blykbaar maar altyd hier rond gesnoop en sy neus in almal se sake gesteek. Was glo ’n pyn oor parkering. As iemand op die verkeerde plek gestop het, het hy ’n briefie onder die ruitveër gelos. Lyk of hy maar baie verveeld was. Dit was ook sy gewoonte om laatnag hier rond te sluip om te sien wie in- en uitgaan.”

      “Maar dis seker nie genoeg rede om hom dood te skiet nie?”

      “Die distriksgeneesheer sal môre die lykskouing doen. Hopelik is die projektiel nog in goeie toestand vir ballistics.”

      “OK, check met al die neighbours of iemand iets gesien of gehoor het. Ons sal maar hier moet rondhang tot dié wat by die werk is huis toe kom. En nog nie ’n woord oor Chantelle nie, hoor. Ek soek nie die media op hol nie.”

      Vermaas verlaat weer die woonstel. Kaptein Januarie stap slaapkamer toe, waar Violet nog besig is.

      “Fingerprints?” vra hy.

      “Nog net een stel opgetel. Ek neem aan dis hare, want dis oral, maar ek sal moet check.”

      “Hier’s f- … boggerol!” keer hy homself.

      Sy glimlag.

      “Is jy klaar met haar BlackBerry?”

      “Ja.”

      Hy tel die selfoon op en druk die groen knoppie sodat die lys oproepe op die skerm verskyn. Die laaste oproep was om 22:40 aan ene Tanja R. Hy haal sy eie selfoon uit en skakel die nommer.

      “Haai, dis Tanja. Ek is nie nou beskikbaar nie, maar laat ’n boodskap en ek bel jou terug.”

      Hy druk die foon dood. Sal later weer probeer.

      Vermaas stap die woonstel binne. “Myron, hier’s van die stasie se ouens op die perseel.”

      “Waarvan praat jy?”

      “Hulle reageer op ’n klag van huisbraak.”

      “Maar ons is mos hier. Wie het hulle gebel?”

      “Die mense hier langsaan.”

      “Vir wat dan? En hoe het hulle geweet hier was ’n huisbraak?”

      “Die huisbraak waaroor hulle ’n klag lê, is nie hier nie. Dis langsaan.”

      * * *

      Rex hou die visitekaartjie op en bestudeer wat daarop geskryf staan. Op die agtergrond verskyn dieselfde letters en syfers, teen die silwer romp van ’n Dakota DC 3-vragvliegtuig. Hy laat sak die kaartjie en staar verslae na die vliegtuig. Die twee reuse-voorwiele onder die vlerke en klein agterwiel wat die stert net-net van die grond af lig, maak dat die vliegtuig se neus in die lug opgetrek is, soos ’n rykmansvrou wat afval ruik. Hy kan nie glo die drie lemme op elk van die twee motore sal genoeg wees om dié logge lyf deur die lug te trek nie.

      Die bemanningslede is naarstiglik doenig met die laaiproses. Die houtkratte wat hulle besig is om in te laai, moet olyfolie bevat. Of dalk wyn. Hy verlang meteens na die lugredery se Boeing, want die Dakota staan alombekend as die “Kotskoets”. Geen flieks op ’n persoonlike TV-skerm op dié vlug nie. En ’n sitplek ongemaklik genoeg om die vlug twee keer langer te laat voel as wat dit is. Maar dit kan hom nie minder pla nie. Dit is die vooruitsig om die Balkan-bergreeks met ’n Dakota oor te steek wat hom angstig maak.

      Dakotas kan slegs so hoog as tienduisend outydse voet vlieg aangesien hulle nie lugdrukbeheer het nie; iets wat die Federale Lugvaartadministrasie se regulasies bo daardie hoogte vereis. Verder het hulle nie toerusting wat voorkom dat die vlerke kan toe-ys nie. En as dít gebeur, word hulle lomp en moeilik beheerbaar, wat nie gerusstelling bring wanneer mens in ’n hoë bergreeks gaan rondneuk nie. Een van 35 Eskader se Dakotas het juis in Desember 2012 in die Drakensberge neergestort nadat dit skielik hoogte verloor en in een van die kruine vasgevlieg het.

      Hy wens nou hy was steeds Rex Reynecke, toeris. Die man wat hy in die kerkie ontmoet het, het egter reeds sy plek ingeneem met ’n vervalste passasierskaart wat hy by die skeepsfotograaf gekry en aan die bemanningslid oorhandig het toe hy aan boord gaan. Nou verskyn dié man se foto onder die naam Rex Reynecke op die stelsel – Rex Reynecke wat weer aan boord is na sy uitstappie in Korfu om die res van die sewe dae lange skeepsreis te voltooi – na Santorini, Mykonos, Katakolon en terug na Venesië. In Venesië sal hy en die werklike Rex Reynecke mekaar op die Piazzale Roma ontmoet, as die werklike Rex sy eie terugtog oorleef. Sodat hy die werklike Rex Reynecke se paspoort, wat hy met die werklike Rex Reynecke se ontvangserkenning sal opeis, aan die werklike Rex Reynecke kan terugbesorg, steeds in die verseëlde koevert van die passasierskip. Sodat die werklike Rex Reynecke dit kan gebruik met sy terugkeer na Suid-Afrika, om daar die sak vol geld wat hy in Bulgarye gaan optel het met Horst se hulp deur doeane te smokkel. Die amptelike rekords sal dus getuig dat Rex Reynecke ’n heerlike vakansie op die Griekse Eilande gehad het en nooit sy voete in Bulgarye gesit het nie. Aldus Niel Campher se verspot ingewikkelde plan om Freddie Kruger te beïndruk.

      Maar die werklike Rex Reynecke vind dit onoortuigend en deurmekaar. Hoekom hy besluit het om daarby in te val, weet nugter alleen. Anders as Rex Reynecke, die toeris, staan die werklike hy op die punt om aan boord van die Kotskoets te gaan, bloot om dit weer iewers in die Balkan te verlaat. En hy sou veel eerder ’n Corona op die passasierskip se dek wou drink terwyl hy oor die kalm Mediterreense See staar.

      * * *

      Kaptein Januarie wys sy aanstellingsertifikaat en stel homself voor


Скачать книгу