Skoppensboer. Duane Aslett

Читать онлайн книгу.

Skoppensboer - Duane Aslett


Скачать книгу
het die inbraak telefonies gerapporteer,” antwoord een van die konstabels terwyl hy sy polisiesakboek nagaan. Januarie glimlag. Superintendent Van Ellewee was altyd streng oor die opskryf van sakboeke – en die liassering daarvan wanneer hulle volgeskryf is. Dit kan jou baie help wanneer jy in die hof getuig, het hy gewaarsku. Jy kan nie onthou wat jy verlede week vir brekfis geëet het nie. Hoe gaan jy dan maande of soms jare later onthou wat tydens ’n ondersoek gebeur het?

      Die deur van die woonstel langs Chantelle s’n gaan oop voor die polisiebeamptes kan klop.

      “Meneer Terblanche?” vra kaptein Januarie. Hy skat die fronsende man in sy vroeë twintigs. Stywe denimlangbroek met ’n stywer grys T-hemp wat aan sy slanke bolyf klou. Wit plakkies aan sy voete. Hare vol allerhande produkte deurmekaar gevryf. Seepgladde vel. Lyk of hy nog nooit ’n skeermes nodig gehad het nie. Propvol swart vullissak in sy regterhand.

      “Nee, Van Wyk,” sê hy terwyl hy Januarie op en af kyk. Daar spoel ’n sweem van oordeel oor sy gesig; hy het Januarie se uitrusting geweeg en klaarblyklik veerlig bevind.

      “Kaptein Januarie, van die Valke.”

      Die frons verdwyn en die man lig sy wenkbroue. “Die Valke?” vra hy met ’n nasale stem. “Maar hier is nie eens iets gesteel nie.”

      “Ons ondersoek ’n moordsaak hier in die kompleks, en vermoed die inbraak hou dalk daarmee verband.”

      “Moord? Wie?”

      “U sal hom ken as oom Basie.”

      Van Wyk slaan sy hand oor sy mond. “Wie sal oom Basie wil doodmaak?” vra hy toe hy weer tot verhaal kom.

      “Dis wat ons wil vasstel. U sê niks is gevat nie?”

      “Coenrad!” skree Van Wyk oor sy skouer. “Hier is groot moeilikheid, skat! Die Valke is hier!”

      “Hoe nou?” vra ’n man wat iewers vanuit die woonstel die sitkamer binnegestap kom. Hoewel Januarie Coenrad in sy vroeë dertigs skat, het hy reeds ’n bles kol op sy kop. Sy oorblywende hare is kort geskeer – met ’n nommer-een-kam, skat Januarie. Sy atletiese bou word beklemtoon deur sy moulose T-hemp en kortbroek.

      “Oom Basie is doodgeskiet. Ek het jou mos gesê hierdie kompleks is going to the dogs. Ons moes lankal getrek het.”

      “Kalmeer, Leendert.” Die man stel hom as Coenrad Terblanche aan Januarie voor en nooi die twee speurders binne.

      Leendert plak die swart sak langs die voordeur neer.

      Januarie se oë dwaal oor die sitkamer wat, hoewel klein, modieus ingerig is. Die groot skildery bo die rusbank van ’n naakte vrou wat op haar rug lê, trek sy aandag. Die straight ou se pornografie is die gay ou se kuns, of in dié geval seker andersom, dink hy. Besef dan die twee staan hom in afwagting en aanstaar, effense glimlagte op hul gesigte.

      “H’m, u het genoem dat niks gesteel is nie, meneer Van Wyk?”

      Van Wyk rol sy oë. “Noem my Leendert, asseblief! Nee, hulle het die diefwering gebreek en die skuifdeur na die balkon het oopgestaan toe ons inloop, maar verder is alles net soos ons dit gelos het.”

      “Wanneer het u die inbraak ontdek?”

      “Ons was op ’n vierdag-cruise van Durban af Bazaruto toe en het vanoggend teruggekeer. Toe ek hier instap, kon ek dadelik sien hier was iemand in die woonstel gewees. What an invasion of privacy! Weet nie hoe ek vanaand geslaap gaan kry nie. Sal maar ’n paar Comprals moet drink.”

      “Is dit nie pynpille nie?” vra Januarie.

      “Werk vir my vir slaap. Twee van hulle sit my lights-out.”

      Coenrad rol sy oë agter Leendert se rug.

      “En dan spin alles nog ook.” Hy druk met sy handpalm teen sy voorkop. “Ek was so seesiek soos ’n verdwaalde veldmuis op die skip. Daai motion sickness-pleisters wat mens agter jou oor plak, het absoluut niks gehelp nie. Ons moes eerder Stugeron gekry het, Coenrad. Ek het mos gesê daai apteker-bitch weet nie waarvan sy praat nie.” Wend hom dan tot Januarie: “My hele vakansie is opgeneuk. Ek lê in die kajuit en doodgaan en hý baljaar die hele skip vol,” met ’n kopknik in Coenrad se rigting. “Bring net nou en dan vir my ’n Coke en dan’s hy weer vort. No sympathy,” en Coenrad ontvang dieselfde oordeelsblik as wat Januarie vroeër vir sy uitrusting gekry het.

      “H’m, hoe het u nie die moordtoneel vanoggend gesien nie?” wend Januarie hom tot Terblanche.

      “Ons parkeer onder die gebou en gebruik die agterste trappe. Is oom Basie in sy huis vermoor?”

      “Nee, hy is op die voorste trappe geskiet. Mag ek asseblief die balkon sien?”

      “Sekerlik,” antwoord Leendert weer uit sy beurt. “Maar dis nog ’n gemors. Ek het nog nie klaar skoongemaak nie. Ons het ’n ‘Anchors Aweigh’-partytjie gehost voor ons Durban toe gery het en daar was toe nie tyd om skoon te maak nie. Ag, alles spin nog steeds.” Hy druk op die rugleuning van een van die eetkamerstoele.

      “Hoekom gaan lê jy nie ’n bietjie nie?” vra Coenrad in ’n simpatieke stemtoon. “Ek sal die balkon klaar skoonmaak.”

      “Ek dink ek moet, dis alles te veel. Dankie, skat. Verskoon my, kaptein. Sersant.” Hy stap in die gang af met die ander drie wat hom agterna staar.

      Coenrad wys na die skuifdeur en Januarie stap uit op die balkon. ’n Staalreling is aan die voorkant aangebring, maar ’n baksteenmuur, meer as kophoogte, skei Chantelle se balkon van haar bure s’n om privaatheid te verleen. Veelkleurige ballonne, waarvan die meeste lug verloor het, hang teen die skeidingsmuur onder ’n banier met die woorde Bon Voyage op. Leë glase wat klaarblyklik skemerkelkies bevat het, staan op ’n skinkbord gepak. Gebruikte blou papierborde met ’n wit-en-rooi reddingsboei en anker daarop gedruk, is gestapel op ’n tafel in die hoek, gereed vir die volgende swart vullissak.

      Die skeidingsmuur is maklik omseilbaar. Die inbrekers het beslis van hier af toegang tot die woonstel langsaan verkry. Maar hoekom al die moeite aangaan om hiér in te breek as hulle eintlik in Chantelle se woonstel wou wees?

      “Meneer Terblanche, ek twyfel of die inbrekers enige vingerafdrukke gelos het, maar ek sal graag wil hê dat Forensies seker maak.”

      “Sekerlik. Dis jammer oor oom Basie. Ek wonder of hy die inbreker verras het en hy daarom vermoor is.”

      Kaptein Januarie haal sy skouers op. Wil so min moontlik inligting verskaf. Hoe langer hy die media van dié saak kan weghou, hoe beter.

      “Dis wat ons probeer vasstel.”

      Leendert kom weer die sitkamer binne. “Ek kan nie slaap nie. Sodra ek my kop op die kussing neerlê, voel dit of ek in ’n tumble-dryer is. Ek sal eerder die balkon klaarmaak. Die gemors pla my grensloos.”

      “Wag net eers daarmee, Leendert,” keer Coenrad voor Januarie iets kan sê. “Die polisie wil eers kyk of hulle die inbrekers se vingerafdrukke kan kry.”

      “En wat van die nanny cam?”

      “My hene, ek het nie eens daaraan gedink nie!” roep Coenrad uit.

      “Nanny cam?” vra kaptein Januarie hoopvol.

      “Ja,” antwoord Leendert. “Ek vermoed al lankal ons bediende steel. Coenrad sê ek is laf. Toe installeer ek ’n nanny cam om hom te wys ek is reg. Dit record alles wat in die woonstel gebeur en word deur ’n motion sensor geaktiveer. Dit record slegs wanneer en vir solank as wat daar beweging is. Die kamera sou tog sekerlik die inbrekers se bewegings afgeneem het.”

      “Waar word dit gerecord?” Kaptein Januarie raak al hoe meer opgewonde.

      “Daar is ’n rekenaar in die derde slaapkamer, wat ek as my studeerkamer ingerig het. Dit word daarop opgeneem,” antwoord Coenrad met ’n sug, en Januarie kry die indruk dat die gebruik van die rekenaar vir dié doel nie die man se goedkeuring wegdra nie.

      Maar Januarie glimlag ingenome. Danksy dié twee se huismoles gaan hy


Скачать книгу