Skoppensboer. Duane Aslett
Читать онлайн книгу.Dra sy ouderdom blykbaar goed.
Hy kry Horst Faber agter in die restaurant, waar hy fronsend ’n artikel in Beeld sit en lees. Sy groot gestalte wat een kant van die vierkantige tafel volsit.
“Môre, Horst, hoe lyk dit vanmôre?” groet Rex vriendelik. Probeer nog van daardie “oom” vergeet.
“Sit!” antwoord Horst, kennelik in een van sy buie. Rex glimlag innerlik vir sy hanteerder – Norst, soos hy agter sy rug genoem word. Hy skuif oorkant hom in. Dan val sy oë op die deur agter Horst. Twee groot oranje sirkels, een met ’n pyl, die ander met ’n kruis, wat aandui dat die mans- en damestoilette daaragter skuil. Sy gesig vertrek as die herinnering by hom opkom: sy tweede ontmoeting met Leigh toe hy nog in die koshuis was. Na die katastrofe van die eerste ontmoeting het hy homself voorgeneem om sy eer te herstel as hy haar weer sien. Toe kom dit te onverwags. Hy het by die nuwe restaurant in Potchefstroom opgedaag, gereed om saam met sy huiskomitee te kuier. Hulle het reeds by ’n tafel vir hom gesit en wag. Hy het hul aandag getrek, beduie hy gaan eers toilet toe, met ’n vinger na die twee deure links van die voordeur gewys.
* * *
Rex besef die huiskomitee gaan hom ’n strafdop gee oor hy laat is en hy wil dus nie nog tyd verspil nie. In sy haas neem hy nie behoorlik kennis van die twee simbole op die toiletdeure nie. Hy stamp die deur op regterkant oop en storm in terwyl hy solank sy ritssluiter aftrek. Twee wasbakke in ’n marmertoonbank beslaan die muur op linkerhand en ’n ry toilette is oorkant die wasbakke ingerig. Hy sien geen krippe nie, besef meteens hy is op die verkeerde plek. Voor hy kan omdraai, spoel een van die toilette en die grendel skuif oop. Dan stap sy uit – Venus self. Leigh Edwards glimlag as sy hom sien.
“Hallo, prim van Veritas-manskoshuis. As jy die damestoilette wil gebruik, moet jy seker eers weer jou outfit van nou die aand aantrek, of hoe?” spot sy terwyl sy die kraan oopdraai om hande te was.
Hy is sprakeloos. Voel hoe hy bloos. Haar oë dwaal na waar hy nog met sy hand op sy oop ritssluiter staan. Sy lig haar wenkbroue vraend. Hy spring om terwyl hy sy gulp toemaak. Idioot! berispe hy homself. En haar prim-opmerking was ’n lae hou. Een wat hom tot oorgawe dwing, die oorwinning hare nog voor hy kon skerm.
Toe hy terugdraai, leun sy met haar regterheup teen die marmerblad aan, arms gevou. Gewapen met haselneut-oë wat hom vaspen. Haar blonde hare stroom oor haar skouers, ’n oorwinnaarskleed. Verruklik.
Sy dra ’n noupassende roomkleurige romp wat net die regte lengte is. Daarby ’n wit bloesie en ’n baadjie dieselfde kleur as die romp. Haar hoëhakskoene is ook roomkleurig. ’n Fyn goue kettinkie en bypassende oorbelle rond die uitrusting mooi af. Sy is nie net beeldskoon nie, maar stylvol ook. Hy weet die stryd is verlore, maar hy moet iets sê.
“Gedag dis die manstoilette,” brom hy.
“Julle is die een met die pyltjie,” sê sy, steeds smalend.
“Ek het nie mooi gekyk nie,” kap hy terug. Dink sy regtig hy ken nie die verskil tussen die simbole vir mans en vroue nie?
Hy draai om en storm uit. Stamp sy handpalm teen die pyl-simbool op die ander deur. Dit vlieg oop. ’n Tiener wat by een van die krippe staan, hop van die skrik toe die deur teen die muur klap. Kyk grootoog na hom.
“Jammer,” brom Rex. Die seun trek sy gulp toe en stap ’n draai om hom, waarna hy vinnig uitglip sonder om hande te was, higiëne kennelik minder belangrik as om dié omgekrapte ou te vermy. Rex gaan staan voor een van die wasbakke. Gluur homself in die spieël aan. Wat is fout met hom dat die vroumens so ’n verlammende effek op hom het? Dit was die tweede keer dat sy hom gekelder het. Maar ook die laaste, want volgende keer sál hy sy naam in ere herstel!
* * *
“Hoe was die Kaap?” onderbreek Horst sy gedagtes.
Rex merk dat hy in ’n sakeluim is en antwoord net: “Duur.”
Horst se wenkbroue lig; klaarblyklik is hy onkant betrap deur Rex se skielike slegte luim. Dit skeel Rex min. Horst kan maar voel hoe dit is om aan die ontvangkant te wees. Horst se mond gaan oop, maar hy keer homself klaarblyklik om iets te sê.
“Koffie?” vra hy effens vriendeliker.
“Altyd,” antwoord Rex met ’n gedwonge glimlag.
Horst roep die kelnerin nader en bestel twee koppies koffie met warm melk. “Hoop jy’s gereed vir die volgende projek, dis ’n riller,” gaan hy voort, sy groen oë op Rex.
“So ons kan nie eens ons vorige sukses vier nie? Die Kaapse koerante het ons lof besing met Dos Santos se skuldigbevinding.”
Al wat hy egter van die groot man af kry, is ’n halwe glimlag, skaars sigbaar onder sy dik snor.
“‘Een van die eerste suksesvolle vervolgings van rampokkery’, het hulle berig. Dis min dat die media ons op die skouer klop. Gewoonlik is dit net hoe sleg en korrup die polisie is,” druk Rex verder.
“Net nie grootkop kry nie. Dit was nie net jou inligting wat die saak deurgetrek het nie, die ondersoekbeampte en ons beriggewers het baie gehelp.”
Rex vervies hom weer. Dis nie dié man se taak om hom nederig te hou nie. Hy besef alte goed dat die projekte spanpogings is en dat Horst ook ander mense se hanteerder is – agente én beriggewers. Mense wat Rex glad nie ken nie en ook nooit sal ontmoet nie. Hy verkies dit in elk geval so, want dan bly sy eie identiteit geheim.
Horst tuur vir ’n wyle voor hom uit en skud dan sy kop. “Rampokkery,” sê hy hardop, meer vir homself as vir Rex. “’n Nuwe misdaad. In die ou dae sou ons hulle vir diamantsmokkelary aangekla het en klaar, hierdie fênsie misdaad maak glad nie vir my sin nie.”
Rex probeer om nie te glimlag nie. Op twee-en-sestig is Horst ou-skool, uit die dae toe die kurrikulum nog tikmasjiene, telegramme en bankboekies ingesluit het.
“Dis nie ’n nuwe misdaad nie. Die Amerikaners het dit al van die vroeë sewentigs af op hul wetboek. Hulle noem dit RICO.”
“Ja, man, ek weet! Racketeer Influenced and Corrupt Organizations Act. Ek kan ook googles.”
“Google,” korrigeer Rex voor hy homself kan keer. Verdra dan maar die gluur wat hy ontvang.
“Waar is die handeling in dié misdaad? Dit maak nie sin nie.”
“Die handeling lê in die deelname aan die misdadige onderneming. Die beskuldigde hoef nie sy hande vuil te maak nie, solank hy homself net met die onderneming vereenselwig. Die Amerikaners kon Al Capone destyds net vir belastingontduiking vervolg, want as hoof van die onderneming het hy nie self die misdade gepleeg nie. Nou is deelname aan die kriminele onderneming voldoende.”
“Twee predikate misdade binne tien jaar. Hoekom twee, en hoekom tien jaar?” wonder Horst.
“Daar moet darem ’n patroon van rampokkery wees; twee misdade binne tien jaar kán op so ’n patroon dui, mits die vervolging ’n verband kan bewys. In Dos Santos se saak het die hof beslis dat die herhaalde en voortdurende handel in ongeslypte diamante ’n patroon van rampokkery daargestel het, en dat Tony’s Auto Spares voldoen het aan die onderneming wat deur POCA vereis word. Dos Santos se deelname aan die onderneming was voldoende vir sy skuldigbevinding aan rampokkery, al kon ons glad nie bewys dat hy ooit ’n diamant vasgehou het nie.”
“Julle youngsters met al jul akronieme,” vererg Horst hom weer. “Watse POCA is dit met jou, dis die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. En dan gebruik jy nog die akroniem vir die Ingelse naam van die wet ook.” Die rollende r’e en ronde o’s verklap Horst se gebrekkige Engels. “Wat word van vandag se jeug?”
Rex glimlag. Een oomblik is hy ’n oom en die volgende ’n jeugdige. Hy merk egter op dat Horst vandag buitensporig geïrriteerd is. Wonder wat die oorsaak kan wees.
“Jou inligting het baie gehelp om die betrokkenheid … jammer, die déélname … van die beskuldigdes te bewys. Ek is net bly ons hoef jou nie self te laat getuig het nie. Want dan was jou cover daarmee heen, en jou dae as agent seker ook.”
Rex