Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie

Читать онлайн книгу.

Vermis op Allesverloren - Anchien Troskie


Скачать книгу
nie, ek wil weet waaroor Dominee en Ma praat, besluit ek. Ek maak die waskom vol water, laat die stuk boerseep daarin lê en gooi die wasgoed in. So ja, dis mos ingeseep. Toe sluip ek op my tone tot by die agterdeur en druk my oor daarteen.

      “Wat gaan jy maak as Erta haar ook tot ’n hoerery wend?” Dominee se stem.

      “Sy sal nie.” Ma.

      “Sy word groot, Maria. Sy sien, sy verstaan.”

      “Ek trek die leste vel van haar gat af as sy so iets doen, dit sê ek Dominees nou. En in elk geval preek jy vir die verkeerde mens. As jou kinders honger is, vra jy nie vrae nie, jy doen wat jy kan om kos op die tafel te sit. Al beteken dit dat jy jou bene moet oopmaak vir al wat ’n man in hierdie dorp is. Gaan preek eerder vir hulle. As niemand aan my deur klop nie, sal jy niks hê om oor te preek nie.”

      “Soos Pontius Pilatus was ek vandag my hande in onskuld, Maria Visser! Van jou en jou hoerkinders! Soos Pontius Pilatus. ”

      Daar is die geluid van glas wat breek en iets soos ’n stoel wat kraak. Ek hardloop terug na die waskom. Net toe ek my hande in die water steek, kom Dominee om die hoek, rooi in die gesig.

      Ek gaan kombuis toe. Kry vir Ma op haar knieë, besig om glasskerwe op te tel. Ek buk om haar te help.

      “Blerrie Dominees, ek moes hom ráák gegooi het,” mompel sy. “Dan het hy nie net gepoep nie.”

      Johannes het sy belofte gehou. Die volgende dag ná skool wag hy, Stefaans en die kleintjies my by die tuinhekkie in.

      “Trek gou ander klere aan,” sê Johannes, “dan stap ons stasie toe.”

      Pa sit by die kombuistafel, sy hand om ’n glas gevou. Ek gaan in om te groet en hy hou sy wang vir my uit. Ek sê vir Ma waarheen ons gaan en gryp sommer vir my ’n sny droë brood.

      Ek loop tussen Johannes en Stefaans; die kleintjies draf vooruit. “Wat is ’n hoerkind, Johannes?” vra ek.

      “Ek sal jou sê as jy groter is.”

      “Ek is mos groot!”

      “Elf is nog nie groot nie, Erta-Kepêrta.” Hy trek aan my een vlegsel en vryf oor my kop.

      “Hoerkind is die kind van ’n hoer,” sê Stefaans. “En ’n hoer is iemand wat haar bene oopmaak vir al wat ’n man is.”

      “Stefaans!” sê Johannes kwaad.

      “Hoekom wil jy haar nie sê nie? Dis beter dat sy weet.”

      “Nie só nie, man.”

      “Wat beteken dit as jy jou bene vir ’n man oopmaak, Stefaans, hè?” vra ek.

      “Dit beteken …”

      “Stefaans! Hou nou jou bek.”

      “Sy wil weet.”

      “Ek wil weet, Johannes.”

      Johannes gaan staan. Sy mond gaan oop asof hy iets wil sê. Dan maak hy sy mond toe, skud sy kop en stap vooruit.

      “Hè, Stefaans?”

      “Dis hoe hulle babies maak, man. Die man druk sy swingel in die vrou in en dan is daar ’n baby.”

      “Sies, man! Ek gaan vir Ma sê!”

      “Jy hou jou bek! As jy vir Ma sê, neuk ek jou met die sambok.” En toe, sagter: “Ma wil nie hê ons moet weet nie. Sy dink ons is nog klein en dom.”

      Ons loop ’n entjie in stilte, tot waar Johannes staan en wag.

      “Weet Pa, Stefaans?” vra ek.

      “As hy nie weet nie, moet hy donners dom wees.”

      “Dalk hou hy hom net dom.” Johannes skop ’n klip dat dit doer trek.

      “Maar …”

      “Dis nou genoeg, Erta,” sê hy. “En jy sjarrap hieroor. Jy vertel vir niemand nie, hoor jy?”

      “Jip, jy hou jou bek,” sê Stefaans en klap sy vingers soos ’n sweep.

      Sou Pa met sekerheid kon sê dat al ses kinders syne was? Dalk is ek nou te kras. Dalk oordeel ek te vinnig.

      Jare lank het ek geloop en tob oor die huwelik van Grootkoos en Maria Visser. Was hulle gelukkig, so op hulle eie manier? Was hulle lief vir mekaar? Seks was daar wel tussen hulle. Maar seks beteken nie liefde nie. Harde woorde was daar ook, meestal van Ma.

      Tog onthou ek ook teer oomblikke. Wanneer hulle oor die tafel na mekaar glimlag. Wanneer Pa sy oë nie van Ma kan afhaal terwyl sy in die kombuis doenig is nie. Wanneer hy ná ’n lang tyd by die huis kom en haar teen hom vashou. Ook wanneer hy weer moes gaan.

      BARRIE

      Vrydagoggend

      Die hotelkamer is ruim, met ’n dubbelbed en ’n outydse radio teen die muur bokant die kopstuk. ’n Lessenaar staan in die een hoek, met ’n televisie daarop.

      Hy sit die sak wat sy vrou vir hom gepak het op die bed neer. Hy haal sy notaboek en pen uit, krap in die sak vir iets koelers om aan te trek. Stap badkamer toe. Ledig sy blaas. Spat hande vol koue water oor sy gesig. Droog sy hande tydsaam en deeglik af.

      Terug in die kamer skud hy ’n sigaret uit die pakkie, soek na ’n asbak. Toe hy nie een kry nie, gaan haal hy die piering waarop ’n glas in die badkamer staan. Hy trek die geblomde gordyne oop, staan voor die venster en haal sy selfoon uit sy sak. Sy vinger huiwer bo die groen knoppie. Wat sê hy vir sy vrou wanneer sy antwoord? “Ek is hier.” En sy sal sê: “Ek is bly jy het veilig gearriveer.” En dan sal daar ’n stilte rek. Want hulle kan nie eens meer met mekaar kommunikeer wanneer hulle in dieselfde vertrek is nie, wat nog van oor ’n telefoon?

      Dit was nie altyd die geval nie. Hy onthou ’n tyd toe hulle nie genoeg van mekaar kon kry nie. Toe hy nie kon wag om by die huis te kom en met haar te gesels nie. Nie kon wag om te hoor waaroor sy wou gesels nie. Selfs toe hy nog lid was van die SAPD, toe baie van sy kollegas se huwelike gesink het as gevolg van werksdruk of drank, was hulle huwelik gelukkig. Wás gelukkig, totdat hy besluit het om ’n privaat speurder te word.

      Hy druk eerder ’n ander knoppie, wag dat die lys oopmaak en kies WhatsApp. Vyf name verskyn onder Chats: sy vrou, sy seun, sy twee dogters en skoondogter. Hy kies Vroulief, druk op die wit gedeelte en wag dat die toetsbord verskyn. Weer huiwer hy. Hy haat dit om op die ding te tik, sy vingers is te groot, hy druk gewoonlik die verkeerde toetse. Die alternatief is dat hy haar moet bel. Dan eerder met sy wysvinger tik, al is dit pynlik stadig.

      Ek is hier.

      Sy jongste dogter het die selfoon op Afrikaans gestel, so dis nie so moeilik om ’n boodskap te tik nie. Hy druk gewoonlik net die eerste twee letters en wag vir die regte woord om te verskyn. Dis dieselfde dogter wat Vrou na Vroulief op sy adreslys verander het. Fronsend, terwyl sy mor oor sy totale gebrek aan romanse. Hy wag, kop onderstebo, op haar antwoord.

      Ek’s bly jy’s vylg.

      Tipies, dink hy en probeer sy irritasie oor dié nuwe soort Afrikaans ignoreer. Wat is fout daarmee om ’n woord ordentlik te spel en uit te skryf? Hy sit die selfoon op silent en laat gly dit terug in sy sak. Bly staan voor die venster, sigaret in die mond.

      Die berg waaroor hy moes ry om hier te kom, moet agter hom lê, want die wêreld voor hom is plat. So wyd soos die Heer se genade. In die verte sien hy wel ’n paar koppies. Hy vat sy motorsleutels, druk die notaboek en pen in sy sak en stoot die deur oop.

      In die motor sleutel hy sy bestemming in Kaartkop in, en trek in ’n stofwolk weg.

      Sy gedagtes loop terug na die werkaanbod wat hy gekry het. Nie ’n slegte salaris nie, beter as wat hy in die polisie verdien het, en baie beter as wat hy nou verdien. Met pensioen, medies, vyftien dae verlof, siekverlof en ’n maatskappyvoertuig. Hy weet sy vrou hoop hy sal die pos aanvaar. En hy moet erken dat hy dit sterk oorweeg. Die lewe van ’n privaat speurder is nie altyd maklik nie, en dit sal lekker wees


Скачать книгу