Vermis op Allesverloren. Anchien Troskie
Читать онлайн книгу.wegwys óf nog iemand moet aanstel. Maar die werklikheid is soveel wreder as drome. Die werk het eerder opgedroog.
Hy het darem die saak gekry van die tienermeisie wat vermis was. Sy het haar curfew met twee ure gemis. Angstige ouers: in die tyd waarin ons leef, moet mens eerder oorversigtig wees. Verveelde polisie: sy is jonk, paartie seker nog. Barrie het haar presies ’n uur nadat hy met haar ouers gepraat het opgespoor, sonder dat dit veel speurvernuf geverg het. In die huis van haar boyfriend – tien jaar ouer as sy, haar ouers onbewus van sy bestaan.
Die fooi vir ’n uur se werk was nie groot nie, maar die ouers was darem dankbaar.
Die rede vir sy stom telefoon, so vermoed hy, is omdat mense dink hy vra ’n belaglike hoë fooi, of dat hy reeds besig is met belangriker sake. As dit maar so was.
Hy haal ’n Fizzer uit die blik, sukkel die papier met een hand af, rol dit van die een punt na die ander en druk dit in sy kies. Hoe ook al, hierdie oproep oor die vermiste vrou van agt-en-sewentig jaar kom op die regte tyd. Sy gat is deurgesit van niksdoen.
En hy sukkel om sy mooi vrou in die oë te kyk. Omdat hy haar wêreld verklein het na ’n huis, ’n ou hond en ’n sukkelende speurder. En omdat hy weet sy weet dat hulle finansieel op ’n ramp afstuur. Sy het aangebied om weer te gaan werk. Sy wíl weer gaan werk. Maar hy het haar met allerhande beloftes en bewyse daarvan laat afsien. Omdat hy te blerrie trots is om te erken dat hy nie behoorlik na sy vrou kan omsien nie.
Is hy verkeerd? Is hy uit die oude doos, soos sy skoondogter hom al diplomaties meegedeel het? Sy skoondogter met haar radikale idees oor die huwelik. Toe hy haar verseker het dat sy seun – haar man – oor ’n paar jaar goed genoeg vir haar sal kan sorg dat sy nie hoef te werk nie, het sy met ’n mengsel van ongeloof en jammerte na hom gekyk. “Ek het nie met hom getrou om vir my te sorg nie,” sê sy graag, “ek kan vir myself sorg.” Of: “Die huwelik is ’n vennootskap, nie ’n dogmatiese instelling nie.” Dit sê sy ook graag. Dan skud hy net sy kop.
Maar wanneer hy na sy vrou kyk en haar vergelyk met die vrou wat sy was toe sy meer onafhanklik van hom was, wonder hy of sy skoondogter nie ’n punt beet het nie. En nou sit hy in ’n penarie. As hy sy vrou ondersteun in haar besluit om te gaan werk, erken hy dat hy as man misluk het. Dat hy nie behoorlik na haar kan omsien nie. Dat sy speuronderneming ’n mislukking is. En hoe moet hy dit erken? Hy het darem nog sy trots.
Dus bevind hy hom in ’n Catch 22-situasie. ’n Belaglike situasie, eintlik, want hy en sy vrou kon nog altyd oor alles gesels. Totdat hy hierdie simpel idee van speurder speel gekry het.
Die gedagte kom heeltemal uit die bloute. Só dringend is dit dat hy die stuurwiel vasklem totdat sy kneukels wit uitstaan. Die gedagte word ’n besluit: As hy hierdie saak suksesvol kan oplos, sal hy dit as ’n teken beskou dat hy met sy besigheid moet voortgaan. Dat hy daarin moet glo en moet volhard. Indien nie, sal hy aan sy vrou se stille versoek gehoor gee en die pos aanvaar wat die sekuriteitsmaatskappy hom aangebied het. En hy sal haar toestemming gee om weer te gaan werk.
Toestemming. Hy wonder hoe sy skoondogter en ook sy eie dogters oor dié woord sal voel. Hulle kom uit ’n nuwer era, hulle verstaan nie dat hy grootgemaak is met die idee dat sy vrou sy ondergeskikte is nie. Nie dat hy haar al ooit so behandel het nie. Of het hy? Nietemin, sy kan gaan werk. Miskien kan hulle die huis verkoop en ’n kleiner plekkie aanskaf. Met ’n tuin. Sodat die hond darem gras onder sy pote kan voel en hulle twee saam kan tuinmaak.
Hy knik, tevrede met homself en die wêreld. Dan is dit hoe hy dit gaan doen. Net so.
Voor die Royal Hotel hou Barrie stil. Hy klim uit en vee die sweet af wat in dun straaltjies oor sy voorkop loop. Die son bak genadeloos op alles neer. Hy staan hande in die sye om hom en kyk. Die hoofstraat heet Hoofstraat, en dis ook die enigste stuk (gelapte) teerpad in die dorp, sover hy kan sien. En blykbaar lê al die besighede in hierdie straat. ’n Bank, die Handelshuis, ’n kafee op die hoek, ’n Pep, die Koöperasie en die hotel. Die Royal is die hoogste gebou in die dorp, behalwe vir die kerktoring, wat ’n volle twee verdiepings hoog staan.
Uit die hoofstraat loop stofstrate soos are, met die huise wat in netjiese gelid staan en bak. Outydse huise in ’n outydse dorp. Dit lyk asof die tyd hier gaan stilstaan het, dink hy. Hy kyk af in die verlate stofstraat waar die kerk staan – Kerkstraat, as hy moet raai. Almal skuil seker binnenshuis teen die felheid van die son. Die wind waai futloos ’n paar stofdwarrels op. Die windpompe, troosteloos stil, troon bo die huise uit.
Bruin, bruiner, bruinste.
Die voorportaal van die hotel verras hom. Netjies, ruim en lig. Hy gaan voor die verlate toonbank staan, sien oplaas die klokkie en druk dit. Die vrou wat uit ’n aangrensende vertrek stap, is kort en plomp met donker kurktrekkerhare.
“Welkom by die Royal,” haar stem het ’n hees, aangename klank, “en in Allesverloren. Meneer Barnard?”
Barrie knik terwyl hy sy beursie uithaal en na sy kredietkaart soek.
“Ons kry nie baie besoekers wat vooruit bespreek nie.” Sy neem die kaart by hom en stoot dit deur die masjien. Die toestel gee ’n aardige skreeu, soos vingernaels op ’n swartbord. Sy sug, druk ’n paar knoppies en stoot die kaart weer deur.
“Gewoonlik is dit vakansiegangers wat van die grootpad afdraai om hier te kom oornag. Dié dat ons met hierdie ding sit,” beduie sy na die masjien. “Mense dra nie meer kontant met hulle saam nie. Toe het Schutte, die bankbestuurder, ons oorreed om dit te kry. Werk ook net wanneer hy lus is. Die masjien, nie Schutte nie,” lag sy en hou sy kaart en die strokie na hom uit.
Barrie lag saam terwyl hy teken.
Sy slaan ’n groot boek oop en draai dit na hom om ook daar te teken.
Geen rekenaar nie, let hy op.
Sy haal ’n sleutel van ’n outydse bord af, maar gee dit nie dadelik vir hom nie. “Jy’s die privaat speurder wat vir ant Erta kom soek, nè?”
Hy knik. “Jy ken haar?”
“Almal ken haar en haar familie,” sug sy en hou die sleutel na hom uit. “Kamer vier, op met die trappe, eerste deur regs.”
ERTA
Vyf middae ná mekaar, ek het getel, kom sit dominee Du Toit by die kombuistafel. Dan maak hy keel skoon, slaan sy Bybel op sy skoot oop en buig sy kop. Dan jaag Ma ons almal uit die kombuis.
“Wat maak hulle?” vra ek op die derde dag. Pa het die oggend vir Johannes en Stefaans by die huis afgelaai en weer in sy lorrie koers gevat, niemand wis waarheen nie.
“Hy praat met haar oor haar hoerery.”
“Stefaans!” Johannes frons diep. My ouboet is agttien, lank en fris en mooi met sy snorretjie en langerige hare.
“Dis wat hy doen.” Stefaans trek sy skouers op. “Hy lees en bid en preek en swaai sy vet worsvingers. Maar dit gaan nie help nie. Ma is wie Ma is.”
Stefaans is vyftien. Net so lank soos Johannes, maar minder mooi en minder lyf.
“Wat is hoerery?” vra ek.
“Dis …”
“Stefaans!” waarsku Johannes. “Kry die kleintjies, dan stap ons af stasie toe. Dan sien ons die vieruurtrein.”
Kosie was toe vier, Hendrik drie en Ma vol in die lyf. Ná my het sy ’n sewejaardroogte gehad. As Pa in daai tyd by die huis kom, het hy gevra: “Is jy in die ander tyd, Maria?” Dan skud Ma haar kop en Pa lig sy glas. “Prys die Here!” skree hy voordat hy ’n groot sluk vat.
“Kom, Erta,” sug Stefaans.
“Sy kan nie,” sê Johannes. “Ma het gevra sy moet die wasgoed inseep.”
“Maar ek wil!” protesteer ek.
“Miskien gaan ons môre weer,” troos Johannes, “maar nou moet jy eers vir Ma help. En jy bly weg van die kombuis af!”
Met die wegstap sê hy vir Stefaans: “Ek weet ook nie vir wat