Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.het haar altyd daaroor geterg dat sy skaars boe of ba sê in ander mense se geselskap. Adam . . .
“Waar’s jy, Adam?” prewel sy. “Jy’t belowe jy sal terug wees as die Aprilbolle begin blom. Dit hét geblom en is klaar uitgeblom.”
Die lelie in ’n pot op die sitplek langs haar is in Mei geplant. Dit maak al knop en steeds is daar geen taal of tyding van Adam nie.
Voor haar sien sy die padbord wat die rigting na die Dieretuinmeer aandui. Nie meer ver nie, dink sy verlig toe sy links draai by die verkeerslig. Nou moet sy net haar senuwees kalmeer. Die Brinks sal tog nie byt nie, Braam en Rachel is beskaafde mense.
Die veertienjarige Danny Brink, nog in haar tennisklere, draf by die kombuis in. Die geur van varsgebakte melktert het haar reguit soontoe gelok.
“Wanneer is dit reg, Ma? Ek sterf van honger!”
“Jy sterf altyd van honger, Danny,” lag Rachel goedig. “Gaan stort eers. As jy klaar is, is die melktert ook gaar.”
Danny draf uit net toe Braam by die motorhuis se binnedeur inkom. Hy piksoen Rachel op die wang. “Hmmm, ruik goed! Wat’s die okkasie?”
Rachel skakel die ketel aan vir koffie. “Het jy vergeet Adam se vrou kom ons sien? Sy behoort nou-nou hier te wees.”
Hy klap met sy hand teen sy voorkop. “Og, ouderdom!”
Net toe klink die getingel van die hek se klokkie uit die sitkamer op.
“Ek sal haar inlaat,” sê Braam. “Maak jy solank die koffie.”
Lilly, met die amarillis met sy belowende ligroos knop in haar hande, volg Braam ongemaklik die huis in. Die smaakvol gemeubileerde sitkamer laat haar nog meer ontuis voel. Op die plot lewe sy en Adam maar eenvoudig, net met die basiese. Alles ekstra word in die kwekery belê.
“Maak jou tuis, Lilly,” sê Braam hartlik toe hy haar ’n sitplek aanbied.
“E . . . ja . . . Dankie.” Maar sy bly onseker staan. Sy weet nie wat om met die plant aan te vang nie.
Toe Braam vraend na haar kyk, hou sy die pot na hom uit. “Dis vir . . .”
“Welkom, Lilly!” Rachel kom die sitkamer binne met ’n gul glimlag. “Mensig, wat ’n pragtige amarillis! Kyk net, die knop is reusagtig.”
Sy loop nader en soen Lilly op die wang. So ’n skaam mens, dink sy. Lyk of sy enige oomblik op die vlug kan slaan.
Lilly druk die pot in haar hande. “Vir jou . . . Dis van Mei se blombolle. Ek is jammer as ek steur.”
“Bog, jy steur glad nie. En jy bly vir ete vanaand.”
“Nee . . . ek kan nie, Betsie is by die huis. ’n Buurvrou kyk na haar. Ek wou . . . ek het gehoop om vir Braam raad te vra. Ek sal nie lank tyd opneem nie.”
Rachel en Braam vang onderlangs na mekaar. Dis duidelik dat Adam se jong vrou uiters senuweeagtig is.
Rachel glimlag gerusstellend. “Nou toe, ek gaan julle alleen laat.”
Sy draai na Braam. “Kom haal die skinkbord, dan kan julle in vrede koffie drink. Ek het nog ’n paar dingetjies om af te handel.”
Toe sy uitstap, gaan sit Lilly ongemaklik op die rusbank. Sy weet nie hoe om te begin nie. Adam het gesê Braam is een van die beste joernaliste in die land. Wat as hy haar uitlag?
Braam kyk ondersoekend na die gespanne vrou. “Wat is dit, Lilly?”
Sy kyk af na haar saamgeklemde hande op haar skoot, en toe sy na hom opkyk, dam trane in haar oë op.
“Dis . . . dis Adam,” fluister sy skaars hoorbaar. Dan begin ’n stortvloed woorde uit haar mond tuimel.
“Hy’s weg, so lank al weg. Vroeg in April . . . dit was nadat julle op die breakfast run was. Drie dae later is hy weg. Hy’t gesê dit sal die laaste keer wees, daarna sal hy ontslag kry by sy werk.”
Sy sluk swaar. “Dit was . . . die vyfde April. Hy’t belowe hy sal terug wees binne een-en-twintig dae, as die lelies begin blom. Net twee weke, drie op die langste . . .” Trane loop oor haar wange en sy vee dit met die agterkant van haar hand weg.
Braam staan op en gaan sit langs haar op die bank, slaan sy arm vertroostend om haar skouers. “En nou’s dit al Junie?”
Sy knik. “Nege weke al . . . en ek het nog niks van hom gehoor nie.”
“Kom haal julle koffie, Braam!” roep Rachel uit die kombuis.
“Ek kom!” antwoord hy.
“Ek wil niks hê nie, dankie,” sê Lilly. “Ek kan nie eet nie. Ek dink net die hele tyd . . . iets moes met hom gebeur het. En ek weet nie wat om te doen nie, dis hoekom ek na jou toe gekom het. Adam het gesê jy . . . jy’s die beste . . .”
“Genade, Braam, wil jy die arme Lilly laat omkom . . .” Rachel sien dadelik aan die jong vrou se betraande gesig haar binnekoms was ’n fout. Sy sit die skinkbord op die tafel neer en gee haastig pad.
Braam staan op en skink vir hom koffie. Hy kyk vraend na Lilly, maar sy skud haar kop. Hy gooi vir hom twee suikers in en gaan sit weer.
“Het jy by sy werk probeer uitvind?” vra hy.
“Ja . . . Maar ek weet nie met wie om te praat nie. Ek verstaan nie Adam se werk nie. Daar’s nie net een werkplek nie en die mense met wie ek gepraat het, weet nie. Of miskien weet hulle, maar hulle wil niks sê nie. Die laaste keer toe ek probeer het, was daar ’n kolonel Van den Berg. Hy was vriendeliker en het gesê hy sal probeer uitvind. Dit was twee weke terug. Toe gister bel iemand . . . ek weet nie wie dit was nie, hy wou nie sy naam sê nie, net dat . . . dat Adam vermis word. Ek het gedink . . . gehoop jy kan miskien help.”
Braam sit sy nog ongedrinkte koffie neer. “Het jy enige idee waarheen Adam gestuur is?”
“Nee, hy wou nie sê nie. Maar . . .”
“Ja?”
“Die laaste keer toe hy lank weg was . . . dit was ’n jaar gelede, en later het hy gesê hy was in Angola. Maar hy wou niks verder daaroor praat nie.”
Daar is so ’n hulpeloosheid in haar dat dit Braam diep ontstem. Verdomp, wat dink Adam doen hy? Om so ’n weerlose vrou in soveel onsekerheid te laat!
“Lilly, ek kan nie beloftes maak nie . . . Adam en ek was eintlik net motorfietsvriende. Nes met jou het hy min teenoor my gepraat van sy werk.”
Hy onthou skielik hulle laaste gesprek in die padkafee naby Hartbeespoortdam. Maar hy kan Lilly skaars daarvan vertel, dit sal haar net meer ontstel.
Sy kyk pleitend na hom. “Asseblief, Braam! Ek weet nie watter kant toe nie.”
“Goed, ek sal probeer uitvind waar hy is. En nou gaan ek jou plot toe neem, jy’s veels te ontsteld om te bestuur. Dan tel ons vir Betsie op en julle slaap vannag hier.”
“Nee!” Sy skud haar kop heftig. “Miskien bel Adam en as ek nie daar is nie . . . En die kwekery, ek het hom belowe ek sal na die lelies omsien.”
Sy staan op. “Ek moet gaan, dit word donker. Dankie, baie dankie dat jy na my geluister het, Braam.”
Met ’n sug kom hy orent en stap saam na die voordeur. “Ek sal jou laat weet as ek enigiets uitvind,” sê hy toe hulle buite by haar motor groet.
Vir die soveelste keer kyk Lilly op haar horlosie. Dis nou al langer as ’n uur wat sy wag om die kolonel te sien. Haar parkeermeter het seker lankal uitgeloop, maar dis tot daarnatoe, besluit sy. Sy sal hier bly tot die man haar in sy kantoor toelaat, al sit sy die hele nag deur. Hierdie onsekerheid oor Adam kan sy nie langer verduur nie.
Sy staan op, strek haar rug, loop ’n paar treë in die gang af. Die vloer is groen, olyfgroen rubberteëls wat jou voetstappe verdoof. Op die mure is dieselfde teëls, tot halfpad van onder af geplak.
Dis lelik, dink sy. Dit herinner