Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.nie. Hulle hopelose soektog vanaf Cradock tot Cookhouse. Haar vrees dat Matthew en die ander drie se lot dieselfde was as dié van die Pebco-manne, wat ook spoorloos verdwyn het. Uiteindelik die ongevoelige boodskap wat die polisie by ’n blote kind gelaat het: dat haar man se uitgebrande motor naby Port Elizabeth gevind is. Sy en die ander weduwees, tesame met hulle families, moes die grusame oorskot van hulle geliefdes gaan uitken. Dit was ook sy wat die media en die Black Sash daarvan laat weet het.
“Matthew was ’n doring in die apartheidsregime se vlees, omdat hy politieke bewustheid onder die plattelandse gemeenskap aangewakker het. Vir hulle was hy ’n kommunis en ’n terroris en ’n gevaar vir die staat, daarom moes hy en die ander tereggestel word,” het sy haar vertelling afgesluit.
Braam kon net stom knik. Hy weet: Die Sein is gegee en die laksmanne is uitgestuur om te moor.
Hy is skaars bewus daarvan dat die vliegtuig opstyg en die lug in seil, tot bo die malende reënwolke, en dan koers kies na die noorde. Hy maak sy oë toe om te probeer slaap, maar los woorde en beelde bly maal deur sy kop. Dis met verligting dat hy die aankondiging hoor dat vlug SAL 407 gereed maak om op Jan Smuts te land.
Rachel kom haal hom op die lughawe. Hy praat min, onwillig om haar te belas met die aaklige besonderhede van sy besoek. Hy is dankbaar dat sy nie uitvra nie. Teen dié tyd weet sy seker al dat hy uit sy eie en op sy eie tyd sal praat – ás hy praat.
Hy luister na haar nuus van die afgelope tyd. Danny het weer ’n A gekry vir wiskunde, en sy gaan haar skool verteenwoordig by die karatekampioenskappe. Volgens die instrukteur behoort sy binne twee jaar haar swart gordel te hê.
“Ek wens net sy wou meer belangstelling toon in haar musieklesse,” sug Rachel toe sy die motor van die snelweg af na Jan Smutsrylaan stuur. “Ek weet darem nie, Braam. Die kind het nog steeds haar kop net op een ding en dis om ’n polisievrou te word.”
“Wat is daarmee verkeerd?” vra Braam, sy aandag net deels by die gesprek.
“Dis nie juis ’n beroep wat enige ma vir haar dogter soek nie. Danny is tog intelligent genoeg om enigiets anders te word.”
“Daar’s nog baie tyd, Ragie. Tieners verander al om die ander dag hulle planne.”
Sy stuur die motor in Onder-Parkweg in. In die flou laatmiddagson glim die Dieretuinmeer aan die regterkant, silwergrys en koud. Die kaal wilgers op die wal lyk soos wasige spookbome.
“Die meer se water is so besoedel, die eende vrek by die hope,” kla sy. “Ek weet nie wat die munsipaliteit heeldag doen nie! Ek wil ’n petisie optrek vir beter diens.”
Braam lag. “My militante vrou! Het jy nie genoeg op jou kerfstok nie?”
“Ja, maar jy verstaan nie. As ’n kind daar inval . . .”
Sy word onderbreek deur Braam se auto pager. Hy tas vervaard rond, vind dit te laat in sy aktetas.
“Ek sal maar van die huis af moet bel om die nommer te kry,” sug hy.
Hy doen dit sodra hulle tuis kom. Hy herken die nommer as dié van die Rooi Kruis. Hopelik is dit dokter Ziegler, dink hy en skakel dadelik.
Die foon aan die ander kant lui lank en hy wil net neersit toe ’n saaklike stem sê: “Anna Ziegler.”
“Dokter Ziegler, Braam Brink hier. Jammer ek was nie betyds om . . .”
“Ja, ja,” knip sy hom kort. “Ek glo ons het u vriend opgespoor. Hy word tans aangehou in ’n tronk net buite Cuito in Suid-Angola.”
“Tronk? As politieke gevangene?”
“Dit weet ons nie. Maar ’n man wat voldoen aan sy beskrywing is volgens my kontak daar opgesluit.”
“Dokter, mag ek u môre kom sien?”
“Waarom?”
“Ek wil soveel moontlik van hom weet. Sy vrou . . .”
“Wat ek weet, het ek jou reeds gesê. Wat is die ander rede?”
Braam moet glimlag oor die kortgebakerde vrou se direktheid. “Goed, u vang my uit. Ek het gewonder of u kan reël dat ek saam met ’n Rooi Kruis-afvaardiging die tronk besoek?”
“As wat? Joernalis?”
“As dit sou help, ja. Maar dit kan bloot ook net as ’n vriend van Adam wees.”
“Hmmm . . . Kan jy môreoggend seweuur hier wees?”
“Ek sal daar wees. Dankie, dokter Ziegler.”
“Ja, ja. Is dit al?”
“Dis al.” Hy hoor aan die klikgeluid dat sy reeds neergesit het.
Rachel kom by sy studeerkamer in met koffie vir hulle en hy vertel haar van die gesprek.
“Gaan jy Lilly sê?” wil sy weet.
Hy knik. “Die arme mens is buite haarself van kommer.”
“Wil jy hê ek moet saamkom?”
“Nee, dis beter as net ek gaan. Ek dink sy voel geïntimideer deur jou.”
Rachel kyk hom fronsend aan. “Ek? Waarom op aarde?”
Hy lag. “Want jy is en bly ’n formidabele vrou.”
“Ag, bog! Kom, gooi nog hout in die kaggel. Ek gaan vir ons ’n stywe dop skink, sodat jy vir een aand van jou werksorge kan vergeet.”
Teen tienuur skakel Braam die soveelste keer Lilly se nommer. Maar steeds lui en lui die telefoon net. Miskien is dit buite werking, dink hy. Hy sal môre ’n draai by die kleinhoewe gaan maak.
Hoofstuk 7
Braam se onderhoud met dokter Ziegler verloop beter as wat hy kon hoop. Volgens haar vertrek ’n Rooi Kruis-afvaardiging die komende week na Angola. Sy sal reël dat hy saamgaan in sy hoedanigheid as joernalis, maar in ruil moet hy saam met die res van die groep ook ander tronke besoek en in die Mail daaroor rapporteer.
Braam belowe dadelik sy samewerking. Hoe hy verby Tom Waters gaan kom, sal hy hom later oor kwel. Buite die Rooi Kruis-kantoor soek hy die naaste telefoonhokkie en laat weet die nuuskantoor hy sal ’n uur laat wees. Hy wil eers die nuus oor Adam aan Lilly gaan oordra.
Die verkeer op pad na Honeydew se kleinhoewes is gelukkig nie te erg nie, want die meeste motors stroom nou in die teenoorgestelde rigting, stad toe. ’n Kwartier later neem hy die Elandslaagte-afrit. Nou moet hy net uitkyk vir die afdraaipad en daarna die negosiewinkeltjie wat Adam destyds aan hom uitgewys het.
Daar draai hy links op die grondpad. Dit loop afdraand in die rigting van die spruit, wat omsoom is met ’n digte populierbos. Die stof wat van die verpoeierde grondpad opwalm, laat hom sy ruit haastig opdraai.
Hy frons toe hy sien die hek staan wawyd oop. Lilly behoort darem beter te weet, dink hy. Dis gevaarlik, veral noudat sy alleen is. Deur die stofwalms sien hy ’n voertuig voor die huis geparkeer.
Hy ry stadiger en hou agter die motor stil. Dan sien hy die geel kleefband wat die polisie by ’n misdaadtoneel gebruik om die veranda. Toe hy uitklim, kom ’n fris geboude man op die stoep uit.
Braam hou sy perskaart op. “Brink, van die Mail.”
Die man knik ’n groet. “De Lange, speurdiens.”
Braam beduie na die afgesperde gebied. “Wat het hier gebeur?”
“Vrou het haar dogtertjie en toe haarself geskiet, Dinsdagnag. Ons is nog besig met die ondersoek, maar dit lyk nie na misdaad nie. Sy’s dood met die rewolwer in haar hand.”
Toe hy die ontsetting op Braam se gesig sien, vra hy: “Ken jy hulle?”
Braam knik. “Ek is ’n vriend van die gesin.”
“Ek wil nou hier klaarmaak, maar gaan gesels met die buurvrou op die plot langsaan. Annie Beetge. Sy het Woensdagmôre die polisie laat kom.”
“Ek