Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.“Wat maak dit saak? Vir my maak niks meer saak nie. Dink liewers aan jouself . . . en aan die gevolge van wat jy beplan.”
Die traliehek word ontgrendel en die ander wag kom binne. Adam hou sy arm uit om geboei te word. Sonder ’n verdere woord of terugblik stap hy uit.
Braam kom stadig regop. Trane brand agter sy ooglede. Ten spyte van sy belofte twyfel hy of hy Adam Williams ooit weer sal sien.
Hoofstuk 10
Spitstydverkeer op die M1 vanaf Sandton. Van Maandag tot Vrydag is die snelweg absolute hel, dink Braam gefrustreerd. Motors wat buffer teen buffer vorentoe kruip, met die verkeerstroom wat kort-kort stol.
Hy verwens homself. Hy moes liewer die Oxfordroete van Sandton af gevolg het, maar hy wou so gou moontlik terugkom by die kantoor om Adam se verslag te lees. Ná Louis Silberstein dit aan hom oorhandig het, het hy net vinnig in die prokureurskantoor se parkeerarea daardeur geblaai. Die kort insae wat hy daarin gehad het, het hom geskok.
In die dokument lê Adam Williams sy lewe bloot as deel van ’n spesiale taakmag van die weermag. Hy beskryf hoe hy as jong, idealistiese soldaat verbonde aan die mediese korps in Angola oorreed is om by dié eenheid aan te sluit en hoe hy weggestuur is na ’n spesiale opleidingskamp waar hulle gebreinspoel is met nasionalistiese ideologie en opgeblase propaganda. In kort het dit beteken dat hulle in die hoogste uitvoering van hulle taak bereid moes wees om moord te pleeg ter wille van die beveiliging van Suid-Afrika. Soos die res van sy korps het sy intensiewe opleiding as recce hom bekwaam as ’n gedugte sluipmoordenaar. Sy spesialiteit was verwurging, die garotmetode. Volgens sy eie erkenning kan hy ook binne ’n sekonde ’n man se nek breek.
Ná die opleiding van drie maande is hy en ’n paar van sy makkers na Israel gestuur, waar hulle verdere opleiding ontvang het by ’n spesiale eenheid van die Mossad, die Israeliese veiligheidsdiens. Kort nadat hy sy twee maande lange skoling in Tel Aviv voltooi het, is hy op sy eerste sending gestuur. ’n Linksgesinde aktivis in Londen genaamd Abraham Naidoo was sy eerste slagoffer. Daarna het hy bevel gekry om nog vier mense in die buiteland uit die weg te ruim.
Op dié punt het hy die ideologiese onderbou van sy werk begin bevraagteken en sy lewe in heroënskou geneem. Die wêreld se vrye nuusmedia het ’n totaal ander beeld geskilder van wat besig was om in sy vaderland te gebeur. Toe hy uiteindelik besef dat hy deel geword het van die bose kern van ’n regering wat miljoene van sy landgenote onderdruk, was hy siek tot in sy siel.
In 1982 het hy besluit om uit die weermag te tree. Hy wou homself losmaak van dit wat hy geword het. Maar met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy baie vinnig uitgevind dis nie so eenvoudig soos uit sy werk bedank nie. As recce was daar vir hom geen maklike uitkomkans nie. Afgesien van die dood was daar vir iemand soos hy haas geen ontvlugting nie. In dieselfde tyd het hy Lilly ontmoet. Dit het hom selfs dringender laat besef dat hy sy ou lewe moes skei van sy toekomstige lewe saam met haar.
Die verkeer kom weer aan die gang en Braam skakel sy motor aan. Terwyl hy teen ’n slakkepas voortkruip, bly sy gedagtes by Adam se verhaal.
Te midde van sy pogings om uit die weermag ontslaan te word, is Adam gekontak deur ’n ou kennis. Harm Hasslau, die eienaar van die sekuriteitsmaatskappy Lupus, het hom uitgelok om deel te word van sy organisasie. Volgens Hasslau het hy in die hoogste kringe van SAW-offisiere beweeg en as Adam by Lupus sou aansluit, sou hy dit kon bewimpel dat Adam vrygestel word van sy weermagpos. Wat hy nie geweet het nie, was dat Hasslau deel was van sy bevelvoerder, kolonel Van Den Berg, se plan. Dié wou hom nog dieper by sekuriteitsoperasies intrek, op só ’n manier dat dit vir hom onmoontlik sou wees om die weermag te verlaat.
Die verkeer kom weer tot stilstand. Agter Braam toeter motoriste aanhoudend. Wat de duiwel dink hulle sal dit help? wonder hy vererg. Dan hoor hy die geklater van helikopterlemme. Hy leun by sy motorvenster uit en kyk in die lug op. Drie helikopters huiwer oor die volgepakte snelweg. Sou hulle ’n misdadiger soek?
Hy draai sy ruit op teen die geraas en skakel die motorradio aan. Dis al ná ses, maar miskien vang hy nog die stertkant van die nuus.
“. . . en die staatspresident sal om agtuur vanaand ’n perskonferensie toespreek rakende die Noodtoestand wat vroeër vanmiddag afgekondig is.”
Dis die einde van die bulletin. Somber musiek vervang die nuusleser se stem.
Braam sit verskrik, sy gedagtes in ’n warboel. Hy besef maar te goed wat ’n amptelike Noodtoestand beteken. Strenger strafmaatreëls teen alles en almal wat nie in die regering se laer is nie. Hoe gaan dit die Mail raak?
Sy storie oor die Cradock Vier moet hy vannag nog uitkry, besluit hy. Al moet hy hom oor ’n mik werk.
Stanley Berkovitch lees die laaste bladsy van Braam se berig. Hy fluit deur sy tande. “Jy’s reg, hierdie is dinamiet. Ek weet nie . . . Tom moet besluit voor ek dit drukkers toe stuur.”
Braam leun vorentoe in sy stoel. “Is jy bang oor die Noodtoestand wat afgekondig is?”
Berkovitch knik. Hy haal sy bril af en vryf oor sy oë. “Jy’t ’n onheilsnes oopgekrap, veral met die name van die Cradock Vier se slagters. Prominente manne in die SAW . . . ek weet regtig nie.”
“Bel vir Tom en sê hy moet inkom.”
“Is jy gek? Dis amper elfuur!”
“Hy sal, as hy weet wat ons het. Verstaan jy nie, Stanley? Dis juis belangrik dat ons die storie in die oggenduitgawe moet hê. As dit eers openbaar is, kan niemand die inhoud verborge hou nie, selfs in ’n Noodtoestand. Ons is dit aan ons leserspubliek verskuldig.”
Die nagnuusredakteur kom traag op die been. “Goed, jy wen.” Hy hou die bladsye na Braam uit. “Gee dit vir die sub. As hy vinnig is, kan ons dit maak vir die tweede uitgawe.”
Rachel word wakker van ’n kielierigheid onder haar neus. Sy maak haar oë oop. Braam sit langs haar op die bed met ’n bos rooi rose waarmee hy oor haar wange streel. Hy glimlag breed.
Sy skuif nog half deur die slaap teen die kussings op. “Waar was jy? . . . Hoe laat is . . .”
Hy soen haar. “Nie te laat om te vier nie, Ragie!”
Hy tel haar kamerjas van die stoel op en hou dit na haar uit. “Kom, vroulief, ek het sjampanje op ys. Dit gaan warm word!”
Rachel vang na die horlosie, dis amper halftwaalf. Sy lag en skud haar kop, maar kom tog orent en trek haar kamerjas aan. “Partykeer is ek oortuig daar skort iets met jou kop.”
“Allermins. Kyk na my: voor jou staan ’n man wat die scoop van sy lewe geskryf het en weet die drukpers loop. My storie gaan die oorsese pers slaan, my lief. Dit gaan opslae maak!”
Hoofstuk 11
Die sirene wat huistoegaantyd aankondig, lui oorverdowend toe Rachel in die gang af stap. Kinders peul uit klaskamers soos baldadige lammers, opgewonde oor die naweek wat voorlê.
“Ma-a-a! Mamma!”
Rachel draai om en sien Danny aangestorm kom. Die kind loop nooit nie, dink sy geamuseerd. As sy nie huppel nie, hardloop sy.
“Ek gaan Kaap toe!” vertel Danny uitasem. “Ons span is gekies vir die wetenskapolimpiade!”
Rachel omhels haar. “Dis wonderlik! Het ek jou nie gesê julle gaan wen nie? Ek was juis op pad om jou te soek. Jy sal moet huis toe loop, my skat. Ek moet instaan by mevrou Smith se studieklas, sy’s siek en is vroeg huis toe. Sal jy regkom op jou eie, of wil jy liewer wag tot die klas verby is?”
Danny skud haar kop. “Ek sal regkom, Ma. Dis mos nie ver nie.”
“Nou toe. Daar’s ’n bakkie macaroni-en-kaas in die yskas, jy kan dit net opwarm.”
Danny trek haar neus op. “Ons het dit gisteraand gehad.”
Rachel lag. “Nou bly dan maar honger. Of maak ’n toebroodjie.”
Danny piksoen haar op die wang. “Ciao, Ma!” Sy draf weg met ’n uitgelatenheid