Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus

Читать онлайн книгу.

Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus


Скачать книгу

      Hy teug aan die beker koffie en sit dit vinnig neer toe hy sy mond brand. Oorkant hom by die kombuistafel sit Annie Beetge. Trane loop vrylik oor die gryskopvrou se wange.

      “Ek had ’n onaardige voorgevoel omtrent Lilly, maar dat sy Betsie geskiet het . . .” Haar stem raak weg terwyl snikke haar skouers laat ruk.

      Braam haal sy sakdoek uit en druk dit in haar hande. Hy wag stil tot haar snikke bedaar.

      “Verskoon my, meneer Brink, maar Betsie was soos my eie kinnerkie.” Sy snuif en vee oor haar oë en wange.

      “Ek verstaan, mevrou. Het Lilly . . . Kon u agterkom dat Lilly bedruk was?”

      Annie skud haar kop. “Nee, sy was bekommerd oor haar man, maar nie so . . . sy sou nooit só iets doen nie. Haar kind was haar lewe!”

      “Die oggend toe u die polisie ontbied het, het u vermoed dat iets verkeerd is?”

      “Haar telefoon het Dinsdagaand net heeltyd gelui. En toe sy en Betsie Woensdagmôre nie opdaag nie, toe sê ek vir Hans daar’s fout, ek gaan oorry. Ek kom toe daar aan en als is toe en ek klop en klop, maar niks nie. Sit af kwekery toe, want dis waar mens Lilly gewoonlik kry, maar daar was niemand nie. Toe bel ek die polisie. Van ek Dinsdag daai man by haar huis gesien het, het ek só onrustig gevoel. Iets aan hom was nie lekker nie.”

      “Weet u wie dit was?”

      “Ek ken nie sy naam nie, maar ek weet hoe hy lyk. ’n Groot man, had gedink hy kan miskien ’n halwe uitlander wees. Lilly was baie ontsteld toe ek gaan groet het, wit soos ’n lap. Dit moet iets wees wat die man gesê of gedoen het wat haar so omgekrap het. Maar toe ek vra wat aangaan, het hy my so goed as uitgejaag, met Lilly wat net daar staan soos een wat ’n spook gesien het. Nou’s hulle dood, sy en my klein Betsie-kind . . . Ek is seker dit was daai man!”

      Braam oordink haar woorde. Hy kan verstaan dat sy nie wil glo dis Lilly wat geskiet het nie, maar volgens die speurder is daar by die polisie geen twyfel nie.

      “Was die man in uniform, mevrou?”

      Annie skud haar kop beslis. “Nee, ’n pak klere en ’n jas. Duur jas, had ek nog gedink, so ’n kameelkleur . . .” Sy trek haar asem skerp in. “Nou onthou ek! Net voor ek ingekom het, het die man vir Lilly gesê hy’t vir haar iets gebring. Hy het met ’n toegedraaide pakkie in sy hand gestaan, so . . .” sy wys met haar hande, “omtrent so groot soos ’n boek.”

      Braam sluk sy laaste koffie en staan op. “Ek moet terug werk toe. Dankie vir die gesels, mevrou.”

      Haar oë skiet weer vol trane. “Dit was goed om met iemand te praat. Ek mis my Betsietjie vreeslik baie . . .”

      Hy sit sy arm om die mollige skouers en gee haar ’n drukkie. “Baie sterkte, mevrou. Ons sal mekaar seker by die begrafnis sien.”

      Sy staan op met ’n swaar sug. “Ja, ek en Hans sal daarvoor sorg. Ek bedoel nou, met dié dat Adam nie hier is nie. Ek dink nie Lilly had enigiemand anders nie. Sy’t my gesê sy het wees grootgeword.”

      Op sy terugpad sien Braam die hek na Adam se kleinhoewe is toe. Op die ingewing van die oomblik draai hy in en hou stil, klim uit en gaan voel aan die hek. Dis nie gesluit nie. Hy ry deur, maak die hek agter hom toe en nader die huis. Alles lyk verlate. Hy parkeer só dat sy motor nie van die hek af sigbaar is nie.

      Dit het hom altyd opgeval toe hy nog misdaadverslaggewer was, dink hy toe hy uitklim, die absolute verlatenheid wat oor ’n plek hang nadat mense daar gedood is. Hy loop met die sementvoetpaadjie langs na die stoep, buk onder die polisielint deur en klim die trappe op. By die voordeur trek hy sy trui se mou oor sy hand en voel aan die deurknop. Maar soos hy verwag het, is dit gesluit. Goed, dan moet hy op ’n ander manier probeer inkom.

      Hy loop om die huis, verby ’n reënwatertenk, bespied die vensters. Die agterdeur is ook gesluit. As dit moet, sal hy die slot breek . . . Dan merk hy ’n smal venster wat effe oop staan. Hy meet dit met sy oë. Hy behoort daar in te kom, maar dis hoog.

      Hy kyk rond en sien ’n gietysterrak teen die muur waarop ’n paar vetplante staan. Hy tel die plante af, sleep die rak tot onder die venster en klouter daarop. Toe hy teen die ruit druk, gaan dit gladweg oop. Hy gryp die vensterraam en hys hom teen die muur op totdat hy kan inklim. Binne staan en blaas hy ’n paar oomblikke van inspanning. Hy is bra onfiks, iets waaroor Rachel hom gereeld aanpraat. Hy bevind hom in die spens. Daar is ’n muwwe reuk en die vertrek is yskoud.

      Hy loop deur die kombuis, tot in die sitkamer, kyk rond vir ’n boekrak. Daar is net ’n paar kinderprenteboeke op die TV-kas, te groot vir die pakkie wat Annie beduie het. Hy skud sy kop moedeloos. Dis soos om ’n naald in ’n hooimied te probeer soek . . .

      Kyk altyd in die vullisblik, onthou hy skielik die gesegde van ’n ou speurder by wie hy gereeld inligting oor moordstories gekry het. Hy loop terug kombuis toe, sien ’n pedaaldrommetjie in die hoek langs die Agastoof. Toe hy dit oopmaak, is daar sowaar ’n oopgeskeurde stuk bruinpapier tussen die rommel.

      Met ’n vadoek om sy hand gedraai haal hy die papier versigtig uit. Hy bekyk dit van alle kante, merk die breedte van die rug soos dit steeds vasgeplak is met kleefband. ’n Boek . . . Nee, eerder ’n video, besef hy.

      In die TV-kas is daar ’n netjiese stapel video’s. Hy kyk dit vinnig deur. Almal kindervideo’s, behalwe een waarop daar geen naam of kenteken verskyn nie. Hy draai die video in die vadoek toe. Hopelik kan dit die antwoorde gee waarna hy soek.

      In die privaatheid van sy huis, ná nog ’n oproep na die nuuskantoor, druk Braam die band in die videomasjien.

      Die beelde wat op die skerm afspeel, ontstel hom diep. As gesoute koerantman het hy al ’n hele paar keer pornografiese materiaal onder oë gehad. Daarom is dit nie soseer die inhoud wat hom skok nie, maar die wreedheid om so iets aan ’n man se vrou te wys. En dit Lilly Williams wat reeds so naby aan breekpunt was.

      Hy roep sy gesprek Maandag met haar op, oordink dit stap vir stap. Sy was by die SAW-kantoor, waar sy gepraat het met ’n man genaamd Harm Hasslau. Die vent het Adam geken, het vroeër saam met hom gewerk . . .

      Opeens is dit soos legkaartstukke wat inmekaar pas. Afpersing! Adam was tydens hulle laaste gesprek bekommerd oor wat vir hom voorlê. Hulle het die video gebruik om hom te dwing om op ’n sending te gaan, anders sou hulle dit vir sy vrou wys. En toe Lilly te veel lastige vrae vra . . . Hasslau moes gesien het hoe broos sy was, enigiemand kon dit sien.

      Wie is Hasslau? wonder hy. En “hulle”? Die sogenaamde vuilspelbrigade van die SAW? Dit lyk of hierdie web van onheil digter geweef is as wat hy hom ooit kon voorstel.

      Hy laat die video uit die masjien gly. Sy eerste instink was om dit te vernietig, maar hy het daarteen besluit. As hy Adam in Angola te sien kry, is hý die een om daaroor te besluit. Die video is ’n klinkklare bewys van hoe ver die regime bereid is om te gaan om mense wat hulle teësit se lewens te verwoes.

      Lilly en Betsie se dood spook heeldag by Braam terwyl hy die Cradock-verslag afhandel. Dis al ná vyf toe hy Tom Waters te siene kry, en die blos op die ouer man se gesig verklap dat hy ’n stewige alkoholiese middagete moes gehad het.

      Uit ondervinding weet Braam dis nie die beste tyd om sy redakteur te nader oor sy Angola-planne nie, maar die tyd is min. Hy het die verslag reeds vroeër aan die sekretaresse oorhandig, maar omdat hy weet Tom het dit nog nie onder oë gehad nie, vertel hy hom vlugtig van sy besoek aan Cradock.

      “Ek is oortuig dat onrus in die Oos-Kaap gaan uitbreek wanneer die slagoffers begrawe word, Tom. Gevoelens loop hoog in die gemeenskap. Goniwe was ’n sleutelfiguur en wyd gerespekteer. Die reperkussies wat sy dood veroorsaak het, kan net lei tot moeilikheid.”

      Waters tel die verslag op en blaai dit deur, lees hier en daar ’n paragraaf. Dan skuif hy sy swartraambril af op sy neus en kyk stip na Braam. “Die polisiebeamptes wat mevrou Goniwe genoem het, het jy met hulle gepraat?”

      Braam skud sy kop, maar sy brein werk vinnig. Hy sien dadelik ’n geleentheid om die redakteur om te praat.

      “Ek


Скачать книгу