Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.bekommerde frons. “Maar die ding krap my om. Adam en ek het gepraat destyds voor hy weg is. Hy was nie gelukkig . . .”
Die telefoon se gelui onderbreek hom. “Ek sal dit kry,” sê Braam.
Rachel sug. Sy weet maar te goed wat ’n oproep hierdie tyd van die aand beteken: die nagredakteur is op soek na Braam.
Sy is reg. ’n Paar minute later kom hy in, besig om sy jas aan te trek. “Jammer, ek moet gaan. Die verslag is by die kantoor.”
Sy sit haar glas neer en staan op. “Nou ja toe, dit gee my kans om my nasienwerk te doen.”
Sy loop tot by hom en gee hom ’n soen. “Wees versigtig.”
Sy motor staan nog in die straat geparkeer en sy loop saam met hom voordeur toe, sluit dit nadat hy uit is. Luister hoe hy die motor aanskakel en wegtrek. Teen dié tyd behoort sy al gewoond te wees aan haar man se vreemde werksure, maar vanaand wil die onrus haar nie los nie.
Tom Waters se kantoor is mistig gerook. Hy sit saam met die nagnuusredakteur by die konferensietafel waar getikte bladsye voor hulle oopgesprei lê. Braam gaan sit op die stoel tussen hulle.
Sonder om te vra, skink Waters ’n stywe skeut whiskey in ’n glas. “Jy sal dit nodig hê,” sê hy kortaf toe hy die glas voor Braam neersit.
Hy knik na Stanley Berkovitch. “Gee hom die feite.”
“Hierdie dokument is anoniem afgelewer net ná sewe,” begin die nagnuusredakteur. “Ek het gedink: anonieme verslag, dit kan wag tot môre. Teen halfnege het ons die Black Sash se bevestiging van dieselfde gebeure ontvang.”
Hy versamel die bladsye en sit dit in ’n slordige hopie voor Braam neer. Die opskrif vang dadelik Braam se oog: Brutale moord. Vier halfverkoolde lyke gevind. Veelvuldige meswonde.
“Cradock,” rasper Waters se growwe sigaretstem. “Vier aktiviste het die nag van 27 Junie spoorloos verdwyn. Hulle oorskot is gister buite Port Elizabeth gevind.”
Toe Braam opkyk, knik die witkopman vir hom. “Die informasie wat jy drie maande gelede verskaf het, blyk korrek te wees. Wie was jou informant? Kan jy meer uitvind by hom?”
Braam skud sy kop, glimlag wrang. “Nee, dis te laat. Adam Williams is net daarna op ’n hoogs geheime sending gestuur en het toe spoorloos verdwyn. Geen inligting beskikbaar by die owerhede nie. Sy vrou is rasend van kommer.”
“Die dokumentasie wat hy jou gegee het en wat jy vir my gewys het, het jy dit nog?”
“Ja, maar dis by die huis.”
“Wat het jou informant gesê?” vra Berkovitch.
“Dat Die Sein gegee sal word op aktiviste van Cradock – die bevel dat ‘ongewenste persone permanent uit die samelewing verwyder word’.”
Braam lees vlugtig die teks voor hom, kry die name van die vermoorde mans: Matthew Goniwe, Fort Calata, Sparrow Mkhonto, Sicelo Mhlauli. Adam was reg. Die Sein het hierdie vier se vonnis voltrek.
Waters maak keel skoon. “Jy vlieg môre Port Elizabeth toe. Ons soek feite, en vinnig ook. Onder geen omstandighede kan ons iets publiseer waarvan ons nie seker is nie. Die moorde kon immers ook die werk van die UDF gewees het. Ons sal ons regsverteenwoordiger moet raadpleeg.”
Braam lag ongelowig. “Kom nou, Tom, probeer jy sê perdedrolle is vye?”
Hy staan op. “Ek gaan hierdie fotostateer.” By die deur draai hy om. “Ek’s al te lank ’n nuushond om jou net ’n klomp los feite te gee. Jy behoort dit te weet.”
Waters knik. “En dis waarom jy die storie sal breek. Maar jy weet so goed soos ek dat die Mail onder die valbyl sit. Net met klinkklare feite kan ons dit waag om ’n storie oor die sogenaamde Derde Mag te publiseer.”
Berkovitch sit agteroor, vee oor sy oë. “Auschwitz en Dachau . . . van my familie het in daardie helkampe omgekom. Wat nou in hierdie land gebeur . . . koelbloedige, gewettigde moord.”
Waters staan op en trek sy baadjie aan. “Ek gaan huis toe, Stanley. Jammer ek kan jou nie daardie voorreg gun nie.”
Hoofstuk 5
Braam het tot die vroeë oggendure gesit om die verslag te lees en te herlees. Teen drieuur het hy in die spaarkamer gaan rus soek om Rachel nie te steur nie. Maar die slaap het uitgebly, die grusame feite was in sy brein ingebrand. Sesuur, toe hy die eerste gekwetter van voëls buite hoor, het hy opgestaan en gaan stort.
Nou staan hy voor sy studeerkamer se venster en drink die sterk, geurige swart koffie met ’n gevoel van behaaglikheid. Sy oggendkoffie gee hom altyd meer helderheid, al sê Rachel dis ’n slegte gewoonte wat hy goedpraat. Buite ontwaak die stad, hy hoor vaagweg die gedreun van vroeë verkeer in Jan Smutsrylaan. Onder in die straat blaf ’n hond knaend, en die ander honde in die buurt val in ’n koor in. Die koerantafleweraar is op pad.
“Was jy die hele nag op?” vra Rachel agter hom.
Hy draai om en glimlag gerusstellend. “Nee, ek het darem so ’n bietjie skuinsgelê. Koffie? Ek het vars gemaak.”
Sy skud haar kop en kom nader, kyk speurend na hom. “Wat is dit, Braam?”
“Ek kan nie daaroor praat nie. Nog nie.” Hy sit sy hand teen haar wang. “Moenie bekommerd wees nie, Ragie.” Sy knik, maar hy sien die onsekerheid in haar oë. “Ek moet ’n paar dae weggaan.”
“Waarheen?”
“Port Elizabeth. Hopelik kan ek op die middagvlug plek kry.”
“Sal ek vir jou pak?”
“Dis nie nodig nie, ek gooi net ’n paar goed in. Maak jy ontbyt vir jou en Danny. Ek sal later iets eet.”
“Ja, gemorskos.” Sy tik op sy midderif. “Oppas, ek voel al klaar ’n boepie.”
“Professionele probleem, my skat.” Hy soen haar. “Ek wil vanoggend kyk of ek iets by die Rooi Kruis-kantoor kan uitvind oor Adam.”
Sy sug, draai weg. “Ek wens . . .”
“Wat?”
“Jy vra te veel vrae, Braam, die land is ’n kookpot. Wat gaan ek doen as jy vir negentig dae opgesluit word?”
Hy lag goedig. “Jy, my liewe vrou, gaan so ’n kabaal opskop dat hulle my summier sal vrylaat. Dis my werk, Ragie, om vrae te vra. En as joernalis gee dit my die reg en vryheid om . . .”
“Ag, jy praat loutere twak! Het ons algehele persvryheid hier?”
Hy haal sy skouers op. “Verwag jy dat ek moet stilbly? Dan is ek nie die nerf van ’n koerantman werd nie. Kom nou, gaan maak ontbyt. Ek wil ’n bietjie met Danny gesels voor ek gaan.”
Dokter Ziegler is van Switserse afkoms. Sy moes blond gewees het, maar haar ylerige hare is nou grys. ’n Groot bril versteek haar oë en laat haar nogal uilagtig lyk, miskien ook weens die dun, benerige mond. Braam weet egter uit ervaring dat sy oor twee belangrike eienskappe beskik: ’n meedoënlose vasberadenheid om te veg vir die verontregtes en daarby ’n vlymskerp tong wat sy nie huiwer om te gebruik nie.
“So, die vyfde April is die man weg op sy sending?” vra sy op haar kortaf manier, haar aandag gevestig op die rekenaarskerm voor haar.
“Dis die datum wat sy vrou aan my genoem het, maar ek weet nie of dit die dag is waarop hy vertrek het nie. Geen inligting is beskikbaar via die SAW-kantore nie.”
“Vanselfsprekend. ’n Mens kry nooit iets uit daardie spul nie.” Sy kyk op. “Geen Williams op die databank nie. Is dit moontlik dat hy onder ’n ander naam gestuur is?”
“Dit kan wees. Hy wou niks verklap oor die sending nie, maar sy vrou vermoed dit was na Angola. Ek weet hy was vroeër daar, hy was toe verbonde aan Koevoet.”
“Hmmm . . .” Sy byt ingedagte aan ’n duimnael. “Hier is niks nie, maar ek het ander bronne van