Die leliemoordenaar. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.nadat sy Adam ontmoet het. Groot, sterk Adam wat met soveel teerheid en liefde al die pynlike insidente uit haar kop help verdryf het . . .
By hom het sy altyd veilig gevoel, maar waar is hy nou? Sonder hom is haar lewe sinneloos en kom dit terug, die donker gedagtes wat haar vroeër amper tot waansin gedryf het. Sy het nou vir Betsie, maar hoe sal hulle vorentoe regkom sonder Adam?
Nee! betig sy haarself. Nie nou daaraan dink nie. Sy moet positief bly. Adam sal terugkom. Hy hou altyd sy woord, hy sál terugkom.
Sy herhaal dit prewelend soos ’n mantra soos sy in die gang af loop. Dertig treë tot by die toe deur, waar sy gaan staan. Sy het haar voetstappe al ’n hele paar keer getel. Sy huiwer voor die deur. Wat sal gebeur as sy eenvoudig die deur oopmaak, inloop en sê: “Ek het nou lank genoeg gewag”? Die kolonel sal haar tog sekerlik nie skiet nie?
Sy sit haar hand op die handvatsel, maar bedink haar. Sy het gekom om inligting oor Adam te kry. Sy sal nie haar saak bevorder as sy die man die harnas in jaag nie. Sy draai om en loop terug na haar sitplek. Dertig treë tot by die regop houtbank.
Aan die bopunt van die gang gaan ’n hysbak se deure oop. Twee mans in uniform verskyn om die hoek. Hulle praat, lag oor iets wat gesê is, loop verby haar sonder om eens in haar rigting te kyk. Onsigbaar en onbeduidend, dink Lilly, dit was sy nog altyd.
Sy kyk op haar horlosie. Dis kwart voor vyf. Een of ander tyd moet die kolonel tog seker uit sy kantoor kom om huis toe te gaan. Sy sal hom inwag, hom voorkeer, agter hom aan hardloop soos ’n hond as dit moet.
Die laaste deur in die gang gaan skielik oop. Sy kom vervaard orent. ’n Man in siviele klere stap uit, maak die deur agter hom toe en sluit dit. Sy hou hom dop soos hy nader kom, maar hy loop ook by haar verby asof sy nie bestaan nie.
“Meneer . . . meneer, asseblief!” roep sy agter hom aan.
Hy steek vas en draai om, kyk haar vraend aan.
“Ek’s jammer, ek wil net weet . . . is die kolonel nog daar? Ek wag al so lank.”
Hy antwoord nie, maar lag dan. “Kolonel? Watter kolonel?”
Bloed stoot warm in Lilly se wange op, en daarmee saam ’n brandende woede. “Kolonel Van den Berg, uit wie se kantoor u pas gekom het.”
“Dis mý kantoor, dame. Kolonel Van den Berg is verplaas.”
Vrees laat trek haar keel toe. “Waarnatoe?” vra sy skor.
Die man haal sy skouers op. “Dis geklassifiseerde inligting. Ons verkeer in ’n staat van oorlog, indien u nie weet nie.”
“Asseblief, meneer, help my!” pleit sy. “Ek móét weet wat met my man gebeur het. Dis al drie maande wat ek niks van hom hoor nie en hy sou hoogstens drie weke weg wees. Kolonel Van den Berg was sy bevelvoerder, hoe kan ek hom kontak?”
Die man se oë vernou. “En wie is u, mevrou?”
“Lilly Williams. My man is kaptein Adam Williams.”
Hy kyk stip na haar. Weer kry sy die gevoel dat sy blik deur klere en weefsel skroei. Yskoue blou oë. Sy mondhoeke trek op in ’n soort glimlag, maar die ysigheid in sy kykers smelt nie.
“Laat u kontakbesonderhede by ontvangs, mevrou Williams. Ek sal navraag doen en u laat weet. Maar as die vrou van ’n soldaat behoort u beter te weet as om die militêre owerhede lastig te val in ’n moeilike tyd soos dié.” Met ’n stywe knik as groet draai hy weg.
Lilly gee ’n tree vorentoe. “Asseblief, meneer!”
Hy kyk haar aan asof sy ’n ongehoorsame kind is. “Daar’s niks meer wat ek . . .”
“U naam, sê my net wie is u.”
“Die naam is Hasslau, Harm Hasslau. Nou moet u my regtig verskoon.”
Hy stap vinnig weg en verdwyn om die hoek na die hysbak. Lilly se bene voel lam. Harm Hasslau! Sy het hom nie herken nie, maar sy herken die naam. Daar is ’n foto by die huis waarop hy saam met Adam en ’n paar ander mans is. Hulle het jare gelede glo saam gewerk, en die foto is geneem op ’n visvangekspedisie in Sodwana, waar Hasslau ’n huis het. Hoekom maak hy nou asof hy nog nooit van Adam gehoor het nie?
Toe sy in die straat by die kwekery se gehawende afleweringsbussie kom, wapper ’n pienk strokie van die verkeersdepartement koggelend teen die ruit. Sy ruk dit af en voel die trane opwel. Sy móét met iemand praat, iemand wat sal verstaan . . .
Braam Brink, dink sy. Dis al ná vyf, maar hopelik is hy nog op kantoor. Die Mail is hier naby.
Braam sit die polistireenkoppie met masjienkoffie langs die huilende Lilly neer. Sy het onsamehangend haar kommer teenoor hom uitgestort en hy weet skaars hoe om haar te antwoord. Al sy versigtige navrae die afgelope weke het niks opgelewer nie.
“Die koffie is nie waffers nie, maar die suiker sal jou goed doen,” sê hy sag.
Sy vee haar trane af en sluk gedwee ’n paar slukke. “Jammer dat ek jou hier by jou werk kom steur.”
“Bog, ons joernaliste gaan nie so vroeg huis toe nie.”
Hy gaan sit weer agter sy lessenaar. “Die hele ding met Adam klink vir my al meer verdag, maar jy’s reg, navrae by die owerhede sal ons niks verder bring nie. Ek het ’n goeie kontak by die Rooi Kruis. Ek sal môreoggend soontoe gaan en hoor of hulle iets op rekord het.” Hy huiwer ’n oomblik. “Hulle het toegang tot hospitale sowel as tronke in die operasionele gebied.”
Sy kyk op na hom. “En as hy . . . dood is?”
“Dan sou die owerhede jou al laat weet het, dis die standaardprosedure,” sê hy beslis. “Vertel my meer omtrent hierdie ander man . . . Hasslau?”
“Ek weet net hy en Adam het op ’n tyd saam gewerk. Hulle is al twee op ’n foto van ’n visvangnaweek.”
“Hmmm . . .” sê Braam ingedagte. Die naam lui iewers ’n klokkie, maar hy kry dit nie geplaas nie. Hy sal definitief môre meer oor dié man moet uitvind.
Lilly staan op. “Ek moet gaan.”
Braam knik. “Ek stap saam met jou ondertoe. Waar het jy geparkeer?”
“Amper voor die gebou, ek was gelukkig.”
Hy sit sy hand op haar skouer toe hulle uitstap. “Moenie moed verloor nie. Ek sal my bes doen om uit te vind wat aangaan. Ek sal jou dadelik laat weet, dit belowe ek jou.”
Rachel pak ná aandete die skottelgoedwasser en skakel dit aan. ’n Huisvrou se vreugde, dink sy, hoe het sy ooit daarsonder klaargekom?
Agter haar gaan die yskas oop. Sy hoef nie om te kyk om te weet wie dit is nie. Braam is vanaand besonder rusteloos, sy ken hom nie só nie.
“Wat is die geleentheid?” vra sy toe hy ’n bottel wyn uithaal.
“Niks fout met ’n laaste glasie ná ete nie,” sê hy bot.
Sy kyk hom ondersoekend aan.
“Komaan, Ragie, moenie ’n spoilsport wees nie,” protesteer hy. “Ons gaan sit lekker binne en hou nabetragting oor die dag.”
“En wat word van my nasienwerk?”
“Ag, my slim vrou sal twee keer vinniger werk met so ’n bietjie versterking.”
Sy glimlag toe sy hom sitkamer toe volg. Vir haar is dit die beste tyd van die dag as hulle so kan sit en ontspan, maar dit gebeur nie dikwels nie. As sy nie vas is met skoolwerk nie, is hy met ’n storie besig. Nie dat hy haar eintlik vertel waaraan hy werk nie.
“Jy was later as gewoonlik,” sê sy toe sy langs hom gaan sit.
Hy knik, proe aan sy wyn. “Ek het gewag vir ’n verslag, daar’s glo onrus in die Oos-Kaap. Ook maar goed ek het agtergebly, want Lilly Williams het my kom sien. Die arme mens.”
Hy vertel haar kortliks van die gesprek. Rachel moet haar onrus onderdruk. As ondersoekende joernalis