Eindspel. Wilna Adriaanse
Читать онлайн книгу.Ellie kan nie glo hy vra dit van haar nie. Toe hy nie antwoord nie, sê sy: “Dit gaan oor jou. Jy sukkel met Williams en nou wil jy my gebruik om die pad weer vir jou daarheen te plavei.”
Albert gooi sy hande in die lug. “Fok, babes, dink jy dis vir my maklik om vir jou ’n guns te vra? Dink jy as daar ’n ander manier was, sou ek dit nie liewer gedoen het nie?”
“Was jy by Clara se verdwyning betrokke?”
“Hoe dom dink jy is ek?” Hy skud sy kop. “Daar was ’n tyd toe jy gedink het ek weet wat ek doen. Jy het my vertrou. Ek is nou nog nie presies seker wat verkeerd geloop het dat ek nou skielik vir niks meer goed is nie. Gee my net ’n bleddie kans.” Hy neem haar hand. “Ons het geweet daar is risiko’s aan verbonde. Waarom straf jy my alleen? Waarom nie vir Barnard of Zondi of enige van die ander wat geweet het wat aangaan nie?”
Sy trek haar hand uit syne en staan op. “Ek straf jou nie. Ek is net besig om met my lewe aan te gaan en hopelik ’n paar goed te verwerk.”
“Moenie loop nie. Kan ons nie net ’n paar minute soos gewone mense met mekaar gesels nie?”
“Waaroor wil jy gesels?” Sy bly staan.
“Hoe gaan dit met jou?”
“Dit gaan goed.”
Hy skud sy kop toe sy nie verder uitbrei nie en staan stadig op. “Jy het my destyds verseker jy weet waarvoor jy jou inlaat en nou speel jy die slagofferkaart met my. Ek dink dis baie onregverdig en as jy mooi daaroor gaan dink, sal jy saamstem.”
Ellie kyk na die aantreklike man voor haar. Haar pa het altyd gesê die grense is vir hom te vaag en dis gevaarlik. En dat hy nie van kritiek hou nie, en dis nog gevaarliker. Iemand wat dink hy is altyd reg, leer nooit uit sy foute nie.
“Ek moet gaan. Pas jouself op.”
“Mac …”
Sy kyk nie om nie. Sy woorde lê soos klippies in haar skoene. Het hy dalk ’n punt beet? Hou sy op die oomblik haar lyf slagoffer, terwyl sy presies geweet het waarvoor sy haar inlaat? Sy het nog nooit van ’n slagoffermentaliteit gehou nie.
Hoofstuk 6
Ken Visser se kantoor is in die Victoria en Alfred Waterfront. Die logo op die voordeur is die letters VE en dit vorm ’n krullerige eenheid. Visser Enterprises. Nick het nog altyd gedink dis ’n verbeeldinglose naam. Ken is in Zimbabwe gebore en sy pa woon steeds daar. Daar was al gerugte dat hy noue bande met die Zimbabwiese regering het, en Nick weet daar was beslis al ’n hele paar transaksies met hooggeplaaste Suid-Afrikaanse regeringsamptenare. Die Vissers se oorspronklike besigheid was die in- en uitvoer van wild, maar dis lankal nie meer so eenvoudig nie.
Die ontvangsdame sê Ken is in ’n vergadering en wil nie gesteur word nie. Nick knik, maar stap verby haar en klop aan die deur waarop Ken se naam staan.
Die meisie spring op en stap haastig nader asof sy hom sal kan keer om in te gaan. Toe daar nie antwoord kom nie, draai Nick die knop en stap in. Ken Visser sit agter sy lessenaar en oorkant hom sit twee vreemde mans. Êrens in Nick se agterkop sê ’n stemmetjie hy het al die een gesien.
Ken lyk verbaas. Dan sit hy agteroor in sy stoel. “Dis ’n verrassing, maar ek het ongelukkig nie nou tyd om te kuier nie. Maak ’n afspraak en dan kan ons gesels.”
Nick bly staan egter en na ’n oomblik kyk Ken na die ander twee.
“Gentlemen, would you please excuse us for a moment, and I apologise for the bad manners.”
Hulle stap uit en Nick gaan sit oorkant Ken.
“Jy kan bly wees ek is vandag in ’n goeie bui. Niemand loop in my kantoor in nie.”
“Ek is op soek na Enzio. Weet jy waar hy is?”
Ken skud sy kop. “Nee. Waarom soek jy hom by my?”
“Dis belangrik dat ek met hom praat.”
“Waarom weet jy nie waar hy is nie? Is dit nie jou job nie?”
“Wanneer laas het jy hom gesien?” kom Nick met ’n teenvraag.
“Ek weet nie. Woensdag of Donderdag, of dalk Saterdagaand by die klub. Dis nie belangrik genoeg om te onthou nie.”
“En wanneer laas het jy met hom gepraat?”
“Is jy doof of net stadig – hoeveel keer moet ek sê ek onthou nie?”
“Kan jy onthou waaroor julle gepraat het?”
Ken sit agteroor, vou sy arms en glimlag. “Seker ditjies en datjies.”
“Ek kry hom sedert gisteraand nie in die hande nie. As jy weet waar hy is, is dit dalk nou die regte tyd om slim te raak en my te sê.”
“Jy is die een wat in sy gat opgekruip is, nie ek nie. Wil jy nou vir my sê jy het hom verloor? Ek wonder wat die ouman daaroor sal sê.”
Nick ken hom lank genoeg om te weet hy mors sy asem en dreig sal niks help nie. Vir Ken Visser vang jy nie trompop nie. Hy is nie bang vir dreigemente nie. Jy sorg dat jy slimmer as hy is.
“Waar was jy gisteraand?” Soms hou hy egter daarvan om moedswillig te wees. ’n Mens kry nou en dan interessante reaksies.
“By die huis. Nie dat dit enigiets met jou te doen het nie.” Hy glimlag weer. “Jy kan my dierbare vrou vra as jy my nie glo nie. Ons was die hele aand in die bed.”
Nick staan op en stap deur toe. “As dit die geval is, wonder ek waarom kla sy steeds.”
“Fok jou, Malherbe. Wie gee jou in elk geval die reg om hier in te kom en my te kom ondervra?”
“Laat weet my as jy van Enzio hoor,” laat Nick oor sy skouer hoor terwyl hy uitstap.
“As hierdie ’n donnerse truuk van julle twee is sodat hy uit sy verpligtinge kan kom, gaan julle baie seer kry. Sê jy dit vir jou baas. Nou is nie die tyd om speletjies met my te speel nie.”
Die ontvangsdame gee Nick ’n vuil kyk toe hy verby haar stap. Die twee mans wat by Visser was, staan op van die stoele waar hulle gewag het en stap terug kantoor toe. Hy onthou skielik waar hy die een gesien het: in die klub saam met Enzio. Hy het ’n hoë pos in die regering.
Ouderdom maak nie saak nie, dink Nick toe hy in die bakkie klim; êrens in die diepste manwees bly ’n stukkie seuntjie wat graag sterk wil wees. Wat graag wil hê sy straaltjie moet die verste trek. Daar is seker mans wat dit ontgroei, maar hy vermoed die oorgrote meerderheid loop lewenslank met dié basiese behoefte. Hy het net gedink hy het dit al effens ontgroei.
Hy het bewyse dat Ken Visser nie juis die getrouste van eggenote is nie, maar die vent wil beslis nie hoor Gabriella kla oor sy vermoëns nie. Hy vermoed soms mans het sekere evolusionêre prosesse oorgeslaan.
Toe hy by die Waterfront uitdraai, besluit hy om na Allegretti se huis toe te ry. As vars polisieman het hy destyds ’n hoof gehad wat baie kwaai was oor ’n misdaadtoneel.
“Daar is nie ’n fokken kyk-weer-geleentheid nie,” het hy dikwels gesê. “Jy kry een kans. As jy dit opneuk, behoort jy die mensdom ’n guns te doen en onder die eerste bus in te loop. Want as jy dit nie verstaan nie, is jy nie ’n polisieman se gat nie en ook nie veel werd vir die groter samelewing nie.”
Dis dieselfde kaptein wat hulle geleer het dat ’n mens onmoontlik alles self kan doen en na jou instinkte moet luister.
“Jy moet jou span vertrou, maar as daai stemmetjie hier in jou gut nie wil stil word nie, al is dit in die nag, dan staan jy op en jy gaan soek daai ding wat hom aan die praat hou. Dan trap jy op tone en jy roer moere, maar jy hou aan tot jy dit gekry het. En as jy vir my sê jy het nie daai stemmetjie gekry nie, dan moet jy vinnig ’n career change maak. Die wêreld het seker altyd roomysverkopers nodig.”
Sy selfoon lui en hy sien dis Clive Barnard.
“Kan jy sesuur in Milnerton wees?”