Stralerjakkers. Leon van Nierop

Читать онлайн книгу.

Stralerjakkers - Leon van Nierop


Скачать книгу
>

      LEON VAN NIEROP

      STRALERJAKKERS

      Tafelberg

      VOORWOORD

      Stralerjakkers se 1 368 episodes, die meeste daarvan ’n halfuur lank, is tussen Augustus 1996 en Desember 2001 uitgesaai. In daardie tyd het ek meer as 1 000 briewe ontvang (dit was voor e-posse en SMS’e) waarin luisteraars hul opinies oor en waardering vir die storie uitspreek. Ek het drie dae lank weer na dié briewe gekyk, net om te probeer onthou waaroor mense so gaande was.

      Daarom het ek dit, spesifiek vir al die honderdduisende aanhangers, ’n sepie gehou. Het ek dit in dieselfde styl as die radioverhaal probeer skryf, al het ek dit aangepas van 1996 na vandag. Want die storie in sy huidige vorm is vir almal wat nostalgies na die radioverhaal en daardie tye terugverlang, en wat vandag nog die kenwysie, “Caravans”, deur Mike Batt en sy orkes, saamneurie.

      Stralerjakkers het ontstaan toe ek in Bergbron in Johannesburg gewoon het en daagliks deur Newlands gery het op pad na Auckland Park. Ek het die vrou met die blommetjiesrok en angeliere in die tuin gedurig oor die hekkie sien loer in een van Newlands se systrate, maar nie met die clichéagtige sigaret in die mond nie. Sy het ingedagte na haar omgewing bly tuur terwyl die woonbuurt aanhou verander het. En dít is hoe Girly Lubbe, wat onverbeterlik deur Elize Cawood gespeel is, ontstaan het. Elize was Girly, en sonder haar sou die verhaal nooit die hoogtes bereik het wat hy destyds bereik het nie. Dit was ’n eer en voorreg om ses jaar lank op ’n weeklikse basis ’n karakter soos Girly vir haar te kon skryf. Sommige van Girly se sêgoed kom direk van Elize af.

      Dit was die eerste Afrikaanse radioverhaal met ’n gemengde rolverdeling; ook die eerste verhaal wat waarlik sosiale en politieke probleme aangespreek het, want dit was in die dae van blikkieskos versamel vir die einde van die land se bestaan. Stralerjakkers was my manier (en ek dink dit geld vir baie luisteraars ook) om die veranderings in die land te verwerk en daarby aan te pas, met humor, deernis, hartseer, drama en bowenal liefde.

      Die reaksie was verstommend, en die spelers het hulle só in hul rolle ingeleef dat hulle soms as die karakters om die tafel in ateljee D2 van die SAUK – waar die verhaal opgeneem is – gekorswel, geskinder, gelag, gehuil en kommentaar gelewer het oor die land en daaglikse gebeure.

      Daar was verskeie gasspelers. Bles Bridges het ’n week voor sy dood as homself in die storie opgetree. Die episode waarin hy verskyn het, is op die dag van sy begrafnis uitgesaai. Daar was sportsterre soos Japie Mulder, sangers soos Steve Hofmeyr en mense wat in daardie jare in die nuus was. Hul verskyning het die storie ’n soort verslag van bekendes, die politiek en veranderings in die land gemaak.

      Maar dan was daar die spelers wat vir 1 368 episodes deel van die storie was. Sommige het ek ongelukkig vroeg verloor, soos toe A.J. van der Merwe, wat Tiaan gespeel het, na omtrent 300 episodes Kaap toe getrek het en André Odendaal (Etienne) lank uitstedig was. Hans Strydom, wat ’n soortgelyke karakter genaamd Dehan gespeel het, het Tiaan se funksies oorgeneem. Franci Swanepoel, onthou ek nog, was van die begin af nommerpas as die bekkige Karlien in die dae toe sy as jong meisie net vir die radio begin speel het.

      Nog ’n groot vreugde waarvoor daar ongelukkig nie plek was nie, was Tobie Cronjé as Girly se voormalige vryer Nols Neethling. So ook Anna-Mart van der Merwe wat ook vir ses maande in die verhaal gespeel het as Dehan se meisie. En dan was daar Woutrine Theron as die guitige, popelende aunt Bybie wat laer af in die straat geskinder het oor alles wat gebeur het, maar ook nie gebeur het nie. En Doctor Khaso as Girly se regterhand, Miriam.

      Ek het boonop baie nuwe jong spelers ontdek wat vir Stralerjakkers oudisies afgelê en daarna bekend geword en hul plek in die vermaaklikheidsbedryf gevind het. Mense soos Francois Henning (Snotkop) wat Ricky gespeel het; Sean Else wat Quincy vertolk het; die toe reeds ervare Anrich Herbst wat die rol van Buks gespeel het; Marina Coetzee wat ’n onvergelyklike Maxie was; en dan, die man wat diep in ons almal se harte gekruip het: die geliefde Johan van der Merwe, wat ’n paar jaar gelede oorlede is en destyds die karakter van oom Gert absoluut sy eie gemaak het. Sy kwinkslae, pratery rondom die teks en aanmerkings het ons dikwels minute lank so laat lag dat Woensdagmiddae se opnames baie langer geneem het as wat beplan is.

      Daar was ook Rika Sennett wat Marcel ’n menslike en goedhartige karakter gemaak het. Sy was oorspronklik bedoel om ’n heks van ’n ma te wees, maar Rika het my altyd daarop gewys dat daar ’n menslikheid in Marcel is en dat ek saam met haar daarna moet soek. Marcel van Heerden was Paul de Winter, en ek sal nooit vergeet hoe hy sy seuntjie voor die tyd by die skool gaan haal het en dié dan die opnames saam met ons meegemaak het nie.

      Ek het self die rol van Olaf Stroebel gespeel en Johan van der Merwe sou my soms fisiek bydam wanneer die karakter so venynig teenoor hom geraak het, sodat ek later vir my eie veiligheid nie meer tonele tussen ons geskryf het nie!

      Stralerjakkers het die krag van radio en spesifiek radioverhale herbevestig, en toe dit voortydig beëindig is – ek is nou nog nie seker presies hoekom nie – het dit in ons almal se lewens ’n leemte gelaat, en ek meen in honderdduisende luisteraars s’n ook.

      Verskeie “verbode” temas is aangeraak. Aanvanklik was die reaksie heftig oor die gay Ricky, dat so iets “in Afrikaans op die radio uitgesaai word”! Maar dit, en ander maatskaplike kwessies, het maar net weerspieël wat destyds begin gebeur het (en vandag veelvuldig voortgaan) en wat mense alles moes doen om aan die lewe te bly. Maatskaplike verval het uiteindelik veelbesproke storielyne gegee wat die verhaal nog gewilder en meer aktueel gemaak het en geweldige, hoofsaaklik positiewe reaksie uitgelok het.

      ’n Tema waarvoor daar bloot nie plek was in die boek nie, is die twee vroulike prostitute wat langs Girly se losieshuis gewoon het. “Slette met ’n hart van goud! Oe, ek mis hulle nooit!” het ’n luisteraar gereageer op die geliefde twee meisies wat deur Rina Nienaber en Henriëtta Gryffenberg gespeel is.

      Dit is omdat mense aanhoudend bly vra het waar hulle die boek kan koop, en my gewaardeerde uitgewer, Etienne Bloemhof, en sy broer François kort-kort wou weet wanneer ek aan die versoek gaan voldoen, dat ek genoop is om die verhaal as roman die lig te laat sien. Stralerjakkers het ook al die vorm aangeneem van ’n kabaret wat op kunstefeeste aangebied is, met Elize Cawood op die verhoog as Girly; dit het reeds ’n roman opgelewer waarin Girly se voorafstorie vertel is, met die titel Skrikkelkind: Girly se storie; daar was ’n Girly-resepteboek; en toe kykNET in sy kinderskoene was, is 100 episodes in die ateljee verfilm en uitgesaai.

      Hierdie boek is geskryf vir die luisteraars wat die karakters en storie op hulle manier liefgekry het, en ek het die storielyne, sêgoed en kultuur van die radioverhaal net so probeer behou: hoe suksesvol of onsuksesvol, sal ek seker nou uitvind. Daarvoor moes ek honderde episodes herlees en selfs herbeluister – ’n uitdagende taak.

      Hiermee dan Stralerjakkers uiteindelik as roman. Dit was ’n onbegonne taak om 17 000 bladsye se storie in een boek in te pas, daarom dat so baie karakters en storielyne ongelukkig weggeval het.

      Wat oorgebly het, is die hoofstorie soos hy vir soveel jare uitgesaai is. Ek hoop die RSG-luisteraars, en dalk ’n paar nuwe lesers wat bykom, geniet dit.

      LEON VAN NIEROP

      Februarie 2017

      1

      As daardie yskas nog een keer grom! Dit is so ’n diep afsloofgeluid wat haar eksman, Gert Lubbe, se snorke na wiegeliedjies laat klink. ’n Kreun wat diep van agter die yskas se ysterderms kom, soos ’n ou man wat dekades lank al swaar dra aan sy sondes. Langer kan dit nie so aangaan nie! Selfs die losieshuis se inwoners dink al dis ’n wekroep uit die hiernamaals wat waarsku dat hierdie leierlose land binnekort finaal ineen gaan stort – die bietjie wat nog nie geplunder is nie.

      Girly Lubbe se hand kramp van irritasie. Sy strek haar vingers oop en toe, byna soos toe sy destyds die plak Moeggepraat vasgevat het wanneer sy haar dogter Karlien moes tugtig.

      Sy bring haar hand met mening op die rooster aan die yskas se agterkant neer – daardie dessitse plek waar die gegrom vandaan kom. Dan hoor sy net melkbekers klingel soos die yskas sidder, maar die gegrom hou darem op.

      Tot die volgende keer.

      Sy gaan


Скачать книгу