Stralerjakkers. Leon van Nierop
Читать онлайн книгу.“Die een net langs die prentjie van die swane in die leliedam,” beduie Girly. Fraai prentjie, die swane. Amper soos die skilderye van Portchie wat sy nou die dag in ’n tydskrif raakgelees het. Haar hele hart roep na daardie skilderye, maar met haar karige inkomste sal sy nie eers kan bekostig om geskenkpapier te raam nie, laat staan nog ’n oorspronklike Portchie! Daarom die afdruk van die swane. Dit is ’n troosprys.
Kamer 6 is een van haar spogkamers. Sy het op ’n kol oorweeg om haar hoofkwartier, dus waar sy slaap, daar in te rig, maar as eienares van ’n losieshuis moet sy op die grondverdieping aan die gevegsfront wees – by die voordeur waar alles begin, gebeur en voltrek word. Daardie kamer, mooi en ruim soos dit mag wees, is net te ver.
Nou eers volg Girly vir Tiaan. Die derde trappie kraak soos sy gewoonte is as ’n goeie mens op hom trap.
Sy is net betyds om te sien hoe Tiaan op die bed gaan sit. Hy sak sommer so in die matras weg soos iemand wat lank laas ’n sagte verebed onder hom gevoel het. Hy gaan lê en plaas sy arms agter sy kop.
“H’m.” Dit is ’n diep tevrede geluid wat uit sy bors kom daardie. En toe ’n langer “h’mmm!”
So in die lêende posisie kyk hy na die hangkaste langs Girly. Ook na die lessenaar wat sy op ’n vendusie aangeskaf het; ’n stoel uit haar ouma se voorhuis, ’n wasbak in die hoek en die groot venster wat in Greymont se rigting kyk.
“Jy gebruik net nie daardie wasbak om in te pie nie – mens ruik dit!” waarsku Girly. “Baie manne is te lui om snags badkamer toe te gaan, dan pie hulle sommer in die wasbak!”
Tiaan sit regop en lag. “Ek kan darem my blaas beheer, Girly.” Hy kyk om hom rond. “Hoeveel is die kamer?”
“Vierduisend ’n maand, maar sonder kos.”
“Hier’s nie plek om kos te maak nie.”
“As jy my sal kans gee, jonge man.”
“Jammer, Girly.”
“Ek maak wel kos as jy wil saam eet. Ontbyt Maandae tot Vrydae, en in die week aandetes – maar net Maandag tot Donderdag. As jy saam eet, kos dit R5 500 met BTW ingesluit. Dank die Liewe Heer dit is nog nie op nie.”
“Die R5 500?”
“Die BTW, bedoel ek. Maar dit kom seker nog.”
Tiaan glimlag. “Wel! As jy bereid is om die kamer aan my te verhuur, neem ek dit graag, Girly.”
“Alles goed en wel. Maar jy moet ’n deposit betaal voor jy intrek, en die eerste maand is vooruitbetaalbaar, baie dankie!” Sy hou haar hand uit.
Die “baie dankie” laat die voorwaarde altyd ’n snertsie vriendeliker klink.
Tiaan haal sy beursie uit sy agtersak. “Hoeveel is die deposito?”
“Die helfte. Tweeduisend.” Sy kyk na die rol note waaruit hy geld aftel. Wie by sy volle positiewe en sonder ’n skietding op sy regterheup dra nog soveel kontant met hom saam?
Hy oorhandig die honderdrandnote. Sy lek haar middelvinger nat en tel. Presies tweeduisend.
“Dankie, jonge man.”
“Tiaan, asseblief.”
“Dankie, Tiaan, en welkom in Girly se Losieshuis – die enigste volbloed-losieshuis in die omgewing, nes hulle in die outydse tydskrifstories gehad het.”
“Ek voel klaar tuis. Dankie, Girly.”
“Ek hoop jy’t iemand wat jou kan help om jou bagasie teen die trappe uit te dra.”
Hy skud sy kop. “Ek het nie baie bagasie nie.”
Nou ja toe.
Hy loop na die deur toe.
“Net voor jy gaan!” Sy plaas haar hande op haar heupe – die wildewragtag-vasstaan wat Karlien ken van toe sy as skooldogter geroskam is, want met daardie houding neem Girly standpunt in. “Het jy enige verwysingsbriewe? Plekke waar jy tevore gewoon het, dat ek kan bel om te enquire?”
Hy raak ernstig. “Girly, as jy eers briewe nodig het, is ek dalk nie die regte persoon vir jou nie. Wat jy sien, is wat jy kry.”
H’m. Waar het sy daardie een al gehoor?
“Maar jou pa? Jou ma? Húlle kan tog oor jou praat.”
“My pa is dood en my ma besit ’n groot maatskappy. Ek kan haar nommer vir jou gee as jy oor my wil uitvra.” Hy sug. “En as jy dan werklik ’n brief wil hê, kan my ma se sekretaresse vir jou een skryf.”
Vreemd. Klink of sy ma ryk kan wees. Indien dit so is, hoekom dan nie by háár gaan woon nie? Hierdie is die enigste losieshuis tussen al die privaat hotelle en hostels, wat eintlik maar ’n ander woorde vir bordele is.
Maxie trippe-trappe-trone boontoe en loer by die deur in. Die madampie se broekies raak nou korter as die antwoord op ’n langvraag wat in die eksamen mis gespot is.
“Kan ek help, madam?”
Maxie rol haar oë wat hopeloos te swaar gegrimeer is. “Nee wat, Girly. Ek kyk sommer hoe ons nuwe intrekker lyk.”
“Tiaan,” antwoord die mooi gaan-saam-met-my-dans-toe-stem. “Tiaan Reyneke.”
“Maxie Maritz.” Haar stem sak sommer drie oktawe.
“Wat op pad was na haar kamer aan die onderpunt van die gang,” help Girly haar reg. Dit bly vir haar insiggewend dat die derde trap nooit kraak wanneer Maxie optrippel nie.
Maxie gooi haar linkerskouer vorentoe. Dit laat Girly aan die Marilyn Monroe-rolprent dink waar sy ook haar skouer vorentoe gegooi het toe sy gesê het: “Come up and see me sometime.” Of was dit nou ’n ander actress se woorde?
“Tot siens, madam.”
“Toedeldoe.” Uit is Maxie.
Tiaan kyk vraend na Girly. “So. Ek het die kamer?”
Polisiesirenes blêr buitekant soos die Flying Squad verbyjaag. Vir ’n oomblik kyk Tiaan half ongemaklik oor sy skouer.
“Jy kan hier bly, Tiaan, maar die eerste teken van oproerigheid, en jy’s uit Girly se losieshuis so vinnig soos ’n taxi ’n gap vat.”
“Ek sal nie amok maak nie, ek sal nie meisies hiernatoe bring nie en ek sal nie my radio hard speel of televisie kyk nie.”
Sy knik. “Dan het jy die kamer.”
Weer daardie glimlaggie soos ’n vlag wat nie behoorlik gehys is nie. Oeeeee! Sy sal Maxie uit hierdie kamer moet hou!
“Dankie, Girly. Ek hou baie van jou losieshuis.”
“Dan is dit goed so, Tiaan.”
Hy begin met die trappe af loop, terwyl Girly bo staan en wag. Tiaan besef dat sy hom dophou, gaan staan en kyk om.
“Nee, loop maar,” beduie Girly. Hoe kan sy vir hom sê dat hy nog net die trappietoets moet slaag voordat sy gemaklik met hom voel? H’m. Nes die tongtippietoets op TV destyds toe hulle daardie lekker margarien geadverteer het.
Tiaan bereik die voet van die trap. Hy het weer die derde trappie gemis!
Krrrrrr! grom die goormaag-yskas weer uit die kombuis.
Sy stap met die gang af en tel in die verbyloop die koerante op wat voor kamer 7 se deur lê. Liebies Labuschagne lees die oggendkoerant altyd reeds vroeg-vroeg, dan sit hy dit daar neer. Dit is gewoonlik vol gate waar hy artikels of advertensies uitgeknip het. Nugter weet wat hy daarmee wil maak!
Girly herwin die koerante, nes die bottels en ander goeters wat uit die swartsakke peul voordat die trollie-aasvoëls dit beetkry. “Recycle is my tweede naam!” sê sy graag.
Dan loop sy met die trappe af. Agter haar loer Maxie oor die balustrade. “Het jy hom gevat?” Haar oë is blink van opwinding.