Die goudbaronne. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.om te praat voor Mamma my in die rede val?”
Sy knik.
Hy huiwer nog, dan sê hy: “Een nag op Sorgenfrei, lank terug, het ons drie, ek en Heinrich en Mamma, daar in die bakkrans teen Patryskop gesit en kyk hoe die maan oor die Lootsberg seil. Ek het gevoel of my hart wou bars van blyheid, want dit was vir my of die maan ook aan Sorgenfrei behoort het, die hele wêreld aan Sorgenfrei behoort het, want Sorgenfrei was toe vir my die middelpunt van die aarde.”
“Ek weet,” sê sy sag. “Toe ek jonk was, het ek ook dikwels so gevoel.”
“Ek was so trots, Mamma, ek wou bars van trots omdat dit ons grond was, ons plaas.” ’n Paar oomblikke bly hy stil, die herinnering helder in sy geestesoog. Hy kyk na sy ma en glimlag. “Later daardie nag, ná ons kerse uitgeblaas het, het ek en Heinrich soos altyd in die donker lê en gesels. Ek het hom vertel van die gevoel wat ek gehad het in die bakkrans. Ek dink ek het skuldig gevoel omdat ek altyd jaloers was op hom, juis oor Sorgenfrei, die plaas wat hy eendag sou erf.”
’n Skor lag ontglip Deborah se lippe. “Hoe ironies … As ek toe –”
Kurt hou sy hand op. “Ma het belowe om te luister!”
Sy knik en vou haar hande verskonend saam.
“Heinrich het my toe vir die eerste keer vertel dat dit vir hom anders is as vir my en Ma. Hy het gesê dat hy beswaard voel oor die idee dat hy eendag op Sorgenfrei moet boer. Ek onthou nog goed hy’t probeer spot oor sy vrese, hy het gesê: ‘Ná al die jare, selfs met Deborah as ons leermeester, is ek nog steeds nie ’n wafferse ruiter nie.’ En toe, Mamma, toe sê hy: ‘Ek is nie ’n boer nie, Kurt. Ek sal nooit een wees nie. Eendag sal dit jy wees wat na Sorgenfrei sal moet omsien.’”
Kurt vee die los haartjies wat uit haar streng chignon ontsnap het weg uit sy ma se gesig. “Vandat ek kan onthou, wou Heinrich ’n priester word, Mamma. Dit is nie ’n nuutjie nie. Dit was van daardie nag af dat ek in my hart geweet het dat Sorgenfrei eendag my deel gaan word, en dit het my bly en trots gemaak. Dis nes dit vir Mamma ook is, ons is van meet af aan Sorgenfreiers, Mamma, die plaas is in ons harte en saam kan ons dit beter maak. ’n Pronkplaas soos dit was toe oupa Heinrich daar geboer het.”
“En die myne? Mannheim Enterprises? Jou oupa Kurt het selfs nog voor jou geboorte –”
“Verduiwels, Ma!” roep Kurt ongeduldig uit. “Dis die twintigste eeu. Oupa Kurt is dood, waarom …” Hy sug. “Hoe kan julle ouer mense so wette neerlê, ’n patroon uitdruk waarin julle ons kinders se lewens wil dwing. Het ons dan nie die reg om eie besluite te neem nie?”
“Dwing? Kurt, het ek jou ooit in ’n rigting gedwing?” sê sy skor, beskaam oor die vrees wat in haar stem deurslaan.
“Nee, Mamma, nee …” Hy vou albei haar hande in syne toe. “Dit is wat ek vir Ma probeer sê: soos Sorgenfrei vir my belangrik is, net so belangrik is die myne vir my. Dis dan in my bloed, net soos dit in Mamma s’n is. Ons twee praat nog altyd dieselfde taal.” Sy jong gesig is vol entoesiasme. “Ek en Mamma gaan saamstaan, ons gaan ’n span maak soos min. Ma het self gesê – die dag ná die krieketwedstryd, onthou Ma? – dat ons ’n span gaan word wat niemand sal kan klop nie!”
Verwonderd staar Deborah haar seun aan. Sy woorde bring hoop vir die toekoms wat onlangs vir haar so donker gelyk het. Hoe wonderlik sal dit wees om haar kennis te deel met hierdie kind van haar, die een mens wat haar nooit sal verraai nie!
“Maar ek vra mooi, Mamma, moenie Heinrich op so ’n manier van ons laat weggaan nie. Ons drie is te na aan mekaar! Laat hom toe om sy roeping te volg. Hy het eintlik nie ’n keuse daarin nie, Mamma, want dis tussen hom en God.”
Sy kyk weg van hom en bly roerloos sit totdat hy uiteindelik half onseker sy hande van hare wegneem. Asof sy daarop gewag het, kom sy stadig orent. Sy loop styf van die lang sit na die middel van die vertrek. Haar hand vind ’n skakelaar. Die lig wat so skielik die donkerte verdryf, dwing hulle om hul oë teen die felheid te knip.
Sy bly staan met haar rug na hom gekeer. “Jy het ’n mondvol in so ’n kort rukkie gesê, Kurt. Te veel, miskien, vir so ’n laat nag. Laat my nou in vrede, asseblief?”
Die streng lyn van haar rug waarsku Kurt dat enige verdere toenadering van sy kant af haar privaatheid sal skend. Hy ken daardie ongenaakbare houding van sy ma maar te goed, daarom staan hy op en loop deur toe.
“Nag, Mamma. Maar nog net dit: Heinrich is Mamma se broer, maar ek en hy het saam grootgeword, en veral in die koshuis tydens en ná die oorlog het ons nader aan mekaar gegroei as bloedbroers. Hy voel vir my meer soos my tweeling as my oom. Moenie hom verder seermaak nie, want dan maak Ma my ook seer.” Die deur gaan met finaliteit agter hom toe nog voor sy kan omdraai.
Lank bly Deborah daar staan, haar oë steeds op die deur gerig. Toe loop sy na die rooshout-staanspieël. Met min belangstelling kyk sy na haar beeld. Sy sien ’n maer witkopvrou met ’n strak gesig, onverbiddelike oë, ’n vrou wat haar eie beeld agterdogtig bespied. Sy sug, draai weg en loop weer venster toe om lug te soek. Sy merk nou eers dat dit saggies begin reën het. Die klam, ryk reuk van die dorstige grond walm die vertrek binne. Dis soos die reuk van warm, vars gebakte plaasbrood …
Sy maak die venster so wyd oop as wat sy kan en trek diep teue van die reënlug in haar longe in. Met die koelte van die laatnag kom dan geleidelik ook aanvaarding. Môre is ’n nuwe dag, en met die vroeë oggendmis sal sy kerk toe gaan. Sy sal gaan vrede maak, eers met vader John en daarna met haar broer. Sy sal Heinrich sê dat sy hom nie sal teëstaan nie. Môreoggend vroeg sal sy hom haar seën gee. Dis goed, die uiteindelike bevryding wat berusting haar bring, dink sy.
Reëndruppeltjies val liggies op haar gesig, op haar lyf, op haar hande. Sy maak haar oë toe. Slaap … vannag sal sy slaap.
Hoofstuk 6
Dis asof hy nooit weg was nie, dink Kit Malloy, terwyl hy hom op die veranda gemaklik maak in sy geliefkoosde stoel. Hiervandaan kan mens die hele Johannesburg ver onder jou sien lê. Op dié laat wintermiddag in Julie is die stad in ’n blou rokerigheid gehul. Dit word ’n industriële stad – dis asof die besoedeling nou swaarder hang as verlede Junie, toe hy laas hier was voor sy vertrek na Europa. Kan dit wees dat meer as ’n jaar al verloop het? Die gedagte onthuts hom. Wat het hy met die jaar gemaak? Dis asof sy lewe net te vinnig en te sinloos verbyvlieg. Dis amper dieselfde gevoel soos wanneer jy ’n boek te vinnig gelees het, en die inhoud niksbeduidend en vervelig bly.
Tog, daar was geen gebrek aan opwinding nie, eerder te veel daarvan. Die afgelope seisoen in Frankryk was ’n rondomtalie van sosiale geleenthede, en dit was alles sekerlik aangenaam genoeg. En hy kon dit minstens saam met sy kind deurbring. Daarby is ook sy vriendskap met graaf Henri du Valois verstewig. Hy en Vickey het die winterseisoen op Épernay, die Du Valois-landgoed, deurgebring. Die galante Henri is ’n gevierde gasheer wat hulle koninklik onthaal het. Hy en Henri deel dieselfde hartstog vir perde en hulle het menige uur deurgebring op die Deux-Villes-renbane. Sy pragtige Vickey het haar oorgegee aan die frenetiese mallemeule van sosiale bedrywighede, waartydens sy menige van die jong Fransmanne se harte verower het. Kit glimlag en steek ’n sigaar aan. Nie dat Vickey ooit oor een van hulle ernstig was nie. Hoe selfsugtig en ongekompliseerd is die jeug nie.
Hy hoor die klingelgeluid van ys teen glas. Simson, die butler van die huis, kom te voorskyn met die swaar gelaaide silwer trollie waarop verskeie wynkraffies staan. Die getroue Simson regeer al soveel jare met ’n ysterhand oor Balgray. Hy weet maar te goed dat Kit gedurende die skemeruur selde iets anders as whisky drink. Ten spyte daarvan het hy deur die jare koppig die ritueel behou om bykans die ganse drankvoorraad van Balgray op sy trollie uit te stal, en te wag dat Kit sy keuse moet maak. Ter wille van hul jare lange klein charade, soek Kit met gemaakte belangstelling deur die kraffies tot hy sy hand op die fles whisky sit.
“Skoon, asseblief, Simson. Dis te goed om te verdun.”
Simson knik sy instemming. Hy skink Kit se drankie soos hy daarvan hou en oorhandig dit aan hom. “Ai, meneer, dis goed dat jy terug is. Die jaar was te lank vir ons hier in Balgray so sonder die huis se kaptein …”