Die goudbaronne. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.“Dit mag dalk so wees, meneer Kit, maar die huis se oë gaan dood as die kaptein nie hier is nie. Elke aand laat ek al die ligte aansit, sê ek vir Rosie en Violet: Ons dek die tafel asof die kaptein self vanaand gaan aankom! Maar al die werk help niks nie,” sê hy beswaard. “Wanneer jy weer so lank uit die land loop, moet jy maar vir ou Simson saamvat, dit sal beter wees … Vir Rosie en die ander ook – hulle is vies vir my oor al die vals voorbereidings!”
Kit lag. “Dié keer bly ek langer, Simson. Ek reken ek het nou huis toe gekom om te bly.”
Die butler probeer om sy ingenomenheid te verberg. Hy buig formeel, draai om en loop na die voordeur, sy houding so korrek dat dit enige gesoute soldaat sou kon beskaam.
Kit proe ingedagte aan sy whisky. Waarom sou hy dít aan Simson gesê het? Dat hy gekom het om te bly? Hy het nooit so ’n besluit geneem nie. Dit het hom net te binne geskiet dat hy tuis was, dat hy moeg was van sy wêreldwye rondritsery.
Sy aandag word getrek deur ’n geluid in die straat, ver onder, anderkant die grensmure van Balgray. Dis die raserige gebrul van ’n motor wat in ’n hellevaart die bult opjaag. Kit frons. As hy dit nie mis het nie, klink dit soos die nuwe sportmodel-Benz. Tog, hy twyfel of so iets plaaslik beskikbaar is. Hy het self sinnigheid gehad in die spoggerige motor wat hy verlede jaar in Duitsland te siene gekry het. Sy belangstelling geprikkel, luister hy nou aandagtig na die naderende gedreun wat al hoe harder opklink. Wie sou dan so ’n voertuig besit?
Simson verskyn weer met die gaslamp op die veranda. Hy sit dit versigtig op die tafeltjie langs Kit neer. Hy merk dat sy werkgewer met gespitste ore na die motor se gebrul luister.
“Dis daardie Benz van Mannheims Ruhe se geraas, meneer,” sê hy nors. “Dis nou elke aand se ding. Gaan al maande lank so aan! Dis van Februariemaand af dat die ding hierso teen ons heuwel kom rondjaag.” Hy skud sy kop ergerlik. “Ek het ook al met Sam Naudies, hulle butler, daaroor gaan praat, en ai! dié het hom opgeruk van ’n kant af. Meneer weet mos hoe is die mense van daardie huis, vol trots! Dink hulle gaan in ’n ander hemel beland as ons mense. Vandat ek gaan kla het by Sam Naudies, word dit toe net erger. Nou jaag die man elke aand hier in ons straat verby na die uitkykpos op Munro-rylaan se draai. Dis aspris, glo ek!”
Wie sou die bestuurder wees? wonder Kit. Een van die seuns, moontlik?
Asof Simson sy gedagtes lees, gee hy Kit ongevraag die antwoord. “Dis die motor van die man met die af arm, meneer Karl Mannheim. Hy’t mos teruggekom in Januarie. Hulle sê dat die ding spesiaal vir hom gemaak is om met die een hand te dryf.” Hy kyk Kit berekend aan. “As meneer nou van sy kant miskien sy stem sou wou dik maak daaroor, sal dit sekerlik help …”
Kit se gesig verstrak dadelik. Hy skud sy kop. “Die strate behoort aan almal. Laat dit daar, Simson.”
Sy werkgewer se stugheid ontgaan Simson nie. Hy sê maar niks verder nie en laat die kaptein van Balgray weer alleen.
Die brullende klank van die motor klink nou skerper. Balgray is teen die kruin van die rant gebou, en kort voor die ingang na die huis is daar ’n gevaarlike skerp draai met ’n bykans loodregte afgrond aan die een kant. Wat sou die man besiel om so te jaag? Met sy een arm kan hy beswaarlik goeie beheer hê oor so ’n lewendige rytuig.
Ag, wat traak dit hom, dink Kit omgekrap, en slaan dan sy whisky weg. Hy het niks te make met die spul Mannheims nie. Trouens, vir baie jare al vermy hy hulle. Teen sy sin dwing hy sy gedagtes terug na daardie deel van sy verlede wat steeds pynlik is wanneer hy dit herroep. In die twaalf jare wat verby is, kon hy háár nooit vergeet nie. Elke keer wanneer hy na die huis teen die oorkantse heuwelkruin kyk, word hy opnuut bewus van sy verlange na haar. Van die boonste balkon aan die westekant van Balgray af kan mens Mannheims Ruhe op sy beste sien. Daar was ’n tyd toe hy soggens vroeg en saans laat daar gaan staan het om te sien waar sy soggens sou wakker word en saans weer haar kop sou neerlê. Wat ’n gek was hy nie! Met nikssiende oë staar hy na die gaslamp wat Simson neergesit het. Motte begin doelloos daarom draai. Een, meer waaghalsig as sy makkers, vlieg te na aan die warm lamp en slaan aan die brand. Daar is ’n ooreenkoms tussen hom en die motte dink hy: Sy versugting oor die jare na een vrou is net so sinneloos soos hierdie eentonige sirkelvlugte. Maar net soos die motte, kan hy hom nou nog nie daarvan weerhou om aan haar te bly dink nie. Miskien het die halsstarrige oog van die gees haar helder beeld in sy diepste wese ingebrand.
Swaarmoedig sit hy sy glas neer en kom orent. Hy loop doelloos na een van die verandapilare en leun daarteen. ’n Vlermuis vlieg laag verby en uiter byna onhoorbaar hoog sy skril kreet. Kit word bewus van die koue, die dorheid van die Hoëveldse lug, gevul met die winterse rookreuk uit die vele kaggels en koolstowe van die goudbaronne se kasteelagtige wonings. Waarom het hy teruggekom? Bekwame sakebestuurders sien al lankal goed genoeg om na sy talle ondernemings in die stad. Hy is nie werklik hier nodig nie. Nadat hy sy afsprake nagekom het met Smuts en Botha, dié wat hy gemaak het voor sy vertrek na Europa, is daar niks wat hom eintlik hier hou nie. Maar waarheen dan? Die Kaap? Winter daar, met daardie onophoudelike reën? Wat sal hy nou juis daar doen? Daar sal die verveling hom sekerlik na drank dryf. Nee! Bly dan liewers hier, in Johannesburg. In hierdie chaotiese stadjie is daar minstens lewe, uitdagings. Sy destydse voorspelling is bewaarheid: Johannesburg het die finansiële hart van Afrika geword.
Hy loop terug na sy stoel en tel die gaslamp op om dit na binne te dra. Hy hét teruggekom om te bly. Hy gaan die swaarmasjineriefabriek waarin hy en Henri du Valois stewige aanvangskapitaal belê het, aan die gang kry. Dis ’n aansienlike waagstuk, dit weet hy, maar uitdagings was van meet af aan sy dryfveer. Daardie soort opwinding is al wat hom nog kan stimuleer. Sy besluit verdryf summier alle swaarmoedigheid. Johannesburg is op die ou end steeds sý stad. Hy was een van die baanbrekers, hy het die reg om nou in sy goue jare sy deel van die oes te eien. Hy dink weer vlietend aan haar en ’n skewe glimlag flits oor sy gesig. Verdomp! Deborah Mannheim en die spul van die Kamer van Mynwese het nie alleenreg op die stad se gesonde groei nie – hy sal hulle iets gee om oor na te dink!
Hoofstuk 7
Met flambojante behendigheid stuur Karl Mannheim die Benz teen die steil helling van Munro-rylaan af. Hy voel hoogs tevrede met homself, want hy weet dat hy sy geskenk goed bemeester het. Ná vanmiddag weet hy dat al die oefenlopies sy vaardigheid genoegsaam geslyp het. Met sy een hand beheer hy nou die motor met die presiese vaardigheid van ’n ervare renjaer.
Hy moes homself eers daarvan vergewis, want ’n tweede kans sal hy nie hê nie. Maar nou is daar geen rede meer om te wag nie, dink Karl in sy skik toe hy sy voertuig deur die hekke van Mannheims Ruhe stuur. Hy ry tot by die ou koetshuis, hou stil en klim uit. Hy het ook die presiese plek uitgekies, glimlag hy wrang, net skuins onder die Swart Ier se huis, want daar is die draai op sy skerpste … Net jammer dat die man altyd uitstedig is. Dit sou vir Karl ’n gevoel van poëtiese geregtigheid gegee het as Malloy dáár kon gewees het om te aanskou hoe hy, Karl Mannheim, die finale kaart neergooi – en daarmee die spel wen. Maar nou ja, dit maak seker nie saak nie, Malloy sal wel die een of ander tyd daarvan hoor.
Diep ingedagte vat hy die kortpad oor die gruiswerf, na die berkebos. Al wat oorbly, is om Deborah oor te haal. Sal hy dit kan regkry? Ná die debakel met Heinrich was daar skaars bedekte gramskap tussen hulle. Sy het ter wille van Kurt, wat toe nog op vakansie was, ’n valse front probeer voorhou. Maar sedert Kurt se vertrek is sy openlik vyandig, daarom het hy haar sover moontlik vermy.
Hy loop op teen die kliptrap van die ruim stoep, waaroor sy lenige figuur ’n spookagtige skaduwee gooi. Deborah sal nie voor ses terug wees nie. Hy het nodig om te rus, daarna sal hy hom met sorg klee. Vanaand sal hom al sy sjarme kos – as hy nog enigsins oor so iets beskik – om deur haar kors van kil woede te breek.
Dit is sy finale uitdaging: om vanaand vir Deborah oor te haal om die laaste rit met hom mee te maak.
Sy dra rooi, ’n donker rooi, die kleur van klaret. In die kerslig vertoon die rok donkerder, byna swart, soos bloed wat gestol het. Dis gepas, besluit Karl, hy sal daaraan dink as swart. Hy lig sy wynglas in saluut na Deborah, wat oorkant hom aan die verste punt van die lang tafel sit.
“Mag ek sê dat jy vanaand besonder mooi lyk, prinses.”
Deborah