Die goudbaronne. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.Voordat Deborah kan antwoord, los hy haar hand. “Sal jy my nou verskoon? Dis seker die opwinding … ek voel skielik geweldig moeg.”
Deborah knik, heeltemal uit die veld geslaan. “Natuurlik, gaan rus. Ek sal ook so maak.” Haar woorde is oorbodig, want hy het reeds die eetkamer verlaat. Sy kyk met misnoeë af na haar onaangeraakte bord sop wat lankal koud geword het. Sy lui die klokkie vir Sam, want ook sy het haar aptyt verloor.
Hoofstuk 8
Die nag verbleek gryserig teen die oosterkim toe die Benz uiteindelik die pad begin klim wat teen die steil hoogte uit slinger. Toegewikkel in haar pelsjas en mus, is Deborah dankbaar vir die isolerende hitte daarvan, want so vroeg op ’n Hoëveldse wintermôre bly die kwik tot ná nege laag. Wat het in Karl gevaar om teen dagbreek in Julie op ’n piekniek te wil gaan? Sy het dit vanoggend oorweeg om uit te draai, maar hy het haar onder die trap ingewag, so entoesiasties soos ’n stuitige skoolseun. “Dit gaan die beste dag van my lewe wees!” het hy uitgelate verklaar. Uitkomkans was daar nie meer nie.
“Prinses? Jy is so stil, is dit die koue?” roep Karl bo die enjin se kragtige gedreun uit terwyl hy behendig die voetrat manipuleer.
Deborah dwing ’n glimlag na haar mond en vertel ’n halwe waarheid. “Ek sit en verwonder my aan jou vaardigheid. Jy bestuur soos ’n renjaer!”
Karl lag met genoegdoening. “Jy weet nie hoeveel angssweet dit my gekos het nie, maar dit was die moeite werd, veral om jou nou hier langs my te hê!”
“Baie geluk.” Sy moet haar stem verhef bo die gebrul van die voertuig toe Karl weereens met sy voete die ratte oorskakel om vinniger te kan versnel. Die Benz glip gladweg soos ’n vis om die eerste steil draai. Deborah kan nie die spoedmeter sien nie, maar sy vermoed hulle ry sekerlik oor die veertig myl per uur.
“Jy beïndruk my regtig, maar …” probeer sy met ’n lighartige toon om wal te gooi, “maar as jy stadiger ry, sal ek dit waardeer.”
Karl lag uitgelate. “Jy het nog niks gesien nie, my geliefde prinses, ons is nog maar bloot aan die opwarm. Ek belowe jou, ek en jy gaan vlieg!”
Onseker oor wat hy bedoel, verander sy die onderwerp. “Waar sal ons Sam se piekniekmandjie oopmaak? Ons het gisteraand nie juis geëet nie, en die koue het my aptyt aangewakker. Sam het gesê dis alles warm disse. As ons te lank wag, dan sal dit koud –”
“Nee, ons sal dit nie kans gee om koud te word nie. Dis nou baie naby,” onderbreek Karl haar.
Sy kyk hoe vaardig hy die ratstang hanteer en merk senuweeagtig hoe gewillig die motortjie reageer en hoe gretig dit versnel. Hulle skiet om die kurwe van nog ’n steilte. Balgray se hekke lê nou voor hulle. Die huis op die kruin van die heuwel is in donkerte gehul – Kit Malloy se huis, waarin hy lankal nie meer woon nie. Tog, sien sy, in een vertrek op die boonste verdieping brand daar ’n lig.
“Kyk, prinses! Kyk, die son!” roep Karl triomfantlik uit.
Dit is inderdaad ’n aanskoulike gesig. Die glimmende skyf begin sy kop oor die oostelike rante wys.
“Weet jy hoe lank dit my geneem het om die presiese opkoms van die son vanoggend te bereken?” roep Karl.
In sy opgewondenheid het hy oënskynlik vergeet dat hy die motor op die pad moet hou. Verskrik sien Deborah dat die Benz die afgrond aan die linkerkant teen ’n gevaarlike spoed nader.
“Hou jou oë op die pad!” gil sy. Haar hand skiet uit en kry die stuurwiel beet. Sy probeer om die motor weer na die middel van die pad te stuur, maar sy het te veel na regs geswenk en die sykant van die motor skuur knarsend teen die klippe wat teen die wal gestapel is.
Karl lag uitgelate oor die skeurende geluid van die bakwerk en ruk weer die stuurwiel skerp na links. Die Benz skiet in dolle vaart die pylvak van die laaste skerp draai binne en jaag nou reguit op die afgrond af.
“Karl, in hemelsnaam, wat maak jy!” gil Deborah.
Maar Karl hoor haar nie. Sy oë is glaserig, asof hy van ’n bonatuurlike mag besete is. “Die son!” roep hy uit. “Kyk na die son … ek gaan jou soontoe neem, my liefste! Son toe! Ek en jy gaan vlieg … die ewigheid in!”
Die neus van die Benz skiet oor die afgrond. Dan duik dit in ’n dolle tuimelvaart na benede. Deborah probeer desperaat om die ingeduikte deur aan haar kant oop te maak. Sy voel hoe Karl se hand om haar nek sluit.
“Sustertjie! Liefste sustertjie –”
“Los my, Karl! Jy’s waansinnig!” skreeu sy woedend, maar hy hoor haar blykbaar nie.
“Moenie teen die dood veg nie, Deborah. Moenie jou teësit nie. Dit maak dit net pynliker. As jy jou liewer –”
Sy stem word verswelg deur die skreeuende geluid van skeurende metaal toe die Benz skrams teen ’n boom bots. Die motor begin in die rondte te tol soos ’n waansinnige insek – en slaan om. Die deur aan Deborah se kant bars oop en sy word soos ’n lappop uitgeslinger. Haar liggaam tref ’n haak-en-steek-bos. Die dorings steek deur die kwesbare vel van haar hande en nek, maar die momentum van haar val ruk haar los uit hul wreedaardige greep. Sy stort verder af en beland op ’n klipplaat onder die doringbos.
’n Oomblik lank nog hoor sy die oordonderende geluid van skeurende metaal en van rotse wat neerstort, asof hulle die Benz se hellevaart na benede begin naboots, maar dan begin haar ore te suis en alle ander klanke verdof. ’n Swart, wasemrige newel begin haar insuig. Sy veg daarteen, maar dit kry vinnig die oorhand en sy verloor haar bewussyn.
Uit ’n gapende kopwond stroom die bloed, helder en rooi. Dit dam op die klipplaat op, vloei om haar lewelose gesig, en syfer dan stadig die holtes van die skurwe rotse binne …
“Wat is dit, Simson?” vra Kit Malloy onthuts. Dis uiters ongewoon vir die butler om sy kamer so binne te storm sonder om te klop.
“Meneer! Ons dink daar was ’n ongeluk!”
“Waar? Waarvan praat jy?”
“Hier, meneer! Op die draai voor die huis, aan die ander kant van die pad. Ek dink dis op die nuwe grond wat meneer gekoop het. Die stalmanne was in die Nuwejaarsbos met die renperde. Hulle het gehoor hoe daai duiwelse gevaarte van die Mannheims weer by die bult opgejaag kom, toe hoe die ding van die pad af ry en val. Brinkman sê hulle het ondertoe gehol na die hek en hulle kon daar hoor hoe die bos en die klip saam rol, en toe hulle by die rand van ons nuwe grond kom, sê hy hulle hoor daar iets soos ’n kanon se klap, maar van bo af kon hulle niks sien nie, net die rook en die vlamme, want die motor het aan die brand geslaan!”
Kit spring op. Hy swaai om en ruk sy broek en baadjie van die staander af. “Gou, ’n hemp!” beveel hy skerp, en ’n minuut later draf hy die trap af na onder. Hy sal mooi moet dink hoe om die vinnigste en maklikste by die wrak uit te kom, want die afgrond daar is steil.
Die reuk van vlamme en rook dring geleidelik deur tot Deborah se benewelde verstand. Dit roep ’n herinnering van jare gelede op, een wat sy so lank probeer onderdruk het: Tot haar ontsteltenis bevind sy haar in ’n landskap vol skimme … soos haar verwarring toeneem, word verlede hede … sy is weer op die nagmerrietog na Lydenburg van twaalf jaar gelede! Weer vlug sy ylings deur die lang olifantgras – sy moet wegkom! Sy moet weg van die vlamme wat die wind begin aandryf.
’n Boerekommando jaag met brandende fakkels op die Rooi Kruis se konvooiwaens af, tente vat vlam. Vuurvonke spat. Die gras word ’n see van vlamme. Sy moet padgee. Karl! Waar is Karl? Hy is in Lydenburg – sy moet na hom toe! Half verblind deur haar eie bloed, rol Deborah om. Met die uiterste inspanning hys sy haarself orent. Duiseligheid dreig om haar weer te oorweldig, maar sy veg met alle mag daarteen. Sy móét na hom toe! Anders sal sy doodgaan, sy sal verstik, want die digte swart rook laat haar nou pynlik hoes. Deur betraande oë sien sy dat die rook van onder die krans kom waarop sy haar bevind. Sy sien ook dat vonke daarvandaan opspat, en die droë graspolle waarop dit land aan die brand steek. Sy kry die reuk van petrol …
Skielik word sy teruggeruk na die werklikheid, besef dat die vlamme van die brandende Benz af moet kom, wat