Die goudbaronne. Lerina Erasmus
Читать онлайн книгу.is ongewoon. Daar moet ’n bymotief wees, besluit sy. Karl het altyd ’n bymotief. Sy merk nou ook dat hy in aanddrag geklee is. Gewoonlik dra hy bloot sy ou tweedbaadjie tydens aandete. Sy ignoreer die kompliment, maar kyk hom takserend aan.
“Gaan jy uit?” vra sy koel.
Hy skud sy kop. “Ek het net uitgesien na jou geselskap.”
Sy is onkant gevang deur die skielike toenadering en bly hom ’n antwoord verskuldig. Sy lig haar wynglas en proe aan die wyn.
Karl merk haar ongemak en glimlag aanmoedigend. “Verbaas dit jou? Ons praat nou al weke lank – nee, maande lank! – skaars met mekaar. Dis onsinnig, Deborah, ons leef tog saam in een huis. Kan ons nie maar tot ’n vergelyk kom nie? ’n Wapenstilstand, as jy wil?”
Die onverbloemde wantroue op haar gesig laat hom met hernude erns pleit. “Ek weet dat jy my waarskynlik nooit sal vergewe oor wat ek kwytgeraak het voor Heinrich nie, maar dit sal nooit verder versprei nie. Voor hy weg is, het hy my dié belofte gemaak.”
Deborah kyk vinnig op na hom, maar haar blik bly kil. “Ek twyfel nie aan my broer se integriteit nie,” sê sy afgemete. “Hy is ’n heer, dis hoe ek hom en Kurt grootgemaak het. Wat jou betref … wel, dis ’n ander saak.”
Karl sit ’n lang ruk in stilte, dan knik hy nederig. “Jy het rede om my te wantrou,” erken hy, “maar hou ook in gedagte dat ek dit nog nooit tevore aan enigiemand anders verklap het nie. Ek sou dit nie kwytgeraak het, was dit nie dat jy my ook daardie aand voor jou broer verneder het nie. Jy het my afgemaak as ’n lamsak van ’n man.” Hy vee moeg oor sy oë. “Ek moes dit nie gedoen het nie, prinses, en ek is jammer daaroor. Ek vra jou nou opreg om verskoning. Dit was laakbaar.”
Stilswye beantwoord sy pleitrede. Soos ’n verslae kind kom hy orent. “Dan … dan is dit t-t-tot daarnatoe,” stotter hy. “Dit spyt my dat ek jou vanaand met my teenwoordigheid opgesaal het. Ek sal dit nie langer aan jou doen nie …”
Die diensdeur na die kombuis gaan oop en Sam verskyn met ’n silwersopkom. Agter hom volg die tafelmeisies.
Hul teenwoordigheid dwing Deborah om onderlangs met Karl te praat. “Hou op om ’n gek van jouself te maak. Sit, Karl.”
Hy huiwer, sug en gaan dan gedweë sit.
Die gereg word met geoefende presiesheid onder Sam se streng blik bedien, dan tree die drie meisies terug, elk op haar pos teen die buffet, wagtend om die swygende egpaar tot diens te wees.
Dis onsinnig, dink Deborah, hierdie vertonerige spektakel net vir twee mense, veral as die twee mekaar se teenwoordigheid skaars kan verduur! Sy tel haar soplepel op en sien haar verwronge gesig in die konkawe weerkaatsing. Sy voel skielik moeg. Waarom nou nog steeds voordoen? Waarom die geykte tradisies van haar skoonpa behou, ’n tradisie wat lankal reeds uitgedien was, selfs voor sy dood? Sy sit die soplepel terug, kyk op.
“Laat ons asseblief alleen, Sam, ek sal vir my en meneer Karl opskep,” beveel sy sag.
Sam kyk haar onseker aan, maar dan knik hy woordeloos vir die drie tafelmeisies in hul gestreepte uniforms. Hulle verlaat die vertrek en Sam volg hulle ’n rukkie later. Hy maak die deur agter hom toe.
“Bravo!” verbreek Karl die stilte. Hy lig sy glas vir Deborah. “Weet jy hoeveel keer in die verlede wou ek dit al doen? Net twee mense wat toegestaan word deur personeel wat ons aangaap en elke woord aanhoor, net om dit weer in hul woonkwartiere te gaan oorvertel.”
Sy ignoreer hom en staan op. Sy stap oor na die buffet, waar Sam die silwersopkom neergesit het. “Wil jy sop hê, Karl?” vra sy, haar rug na hom gekeer.
Karl kom ook haastig orent. “Ja, vanaand wil ek eet. Maar ek sal myself bedien. Ek het ook hande …” Hy lag sinies. “Pardon, ek praat bloot figuurlik. Dit moes eintlik die enkelvoud gewees het, nie waar nie?”
Deborah draai om. Sy het tog vir hul albei ingeskep en dra Karl se bord na sy sitplek.
Hy keer haar vinnig. “Nie hier nie!” Hy raap sy eetgerei op en loop langs die lang tafel af na waar haar plek gedek is. Daar dek hy dan ’n plek vir homself, aan haar regterkant. “Dit is waar ek al so lank wou sit, naby jou, nie met ’n halwe myl tafeldoek tussen ons nie.”
Karl is nie homself nie, besluit Deborah. Stilswyend volg sy hom en sit sy sopbord op die nuut gedekte plek neer.
Toe sy opkyk, is Karl langs haar met ’n bottel wyn en ’n wit servet oor sy arm – net soos Sam altyd gemaak het.
“Wyn, madame?” roep hy byna vrolik uit. Hy skink vir haar sonder om op haar toestemming te wag, daarna vir homself. Toe gaan sit hy. “Besef jy dis die eerste keer in ons getroude lewe, Deborah, dat ek en jy soos enige normale egpaar aansit? Sonder mense wat om ons rondhang?” Hy voel haar argwaan aan en glimlag dan treurig. “Jy het min vertroue in my, nie waar nie? Wonder waarskynlik van watter ‘getroude lewe’ ek praat … Dis waar, ons was maar min saam, daar was min oomblikke van toegeneentheid. Maar vanaand is anders. Weet jy, op hierdie oomblik ís ek gelukkig.”
Sy kyk hom ongemaklik aan.
Hy lag. “Vra jy dan nie waarom nie, prinses?”
Sy sug en haal haar skouers op. “Goed dan … Waarom, Karl? Wat maak vanaand so besonders?”
Karl lig sy glas. “Drink ’n heildronk saam met my, prinses, want ek glo – nee, ek hóóp van harte dat ek aan jou sal kan bewys dat ek nie ’n totale mislukking is nie!”
“Karl, asseblief. Laat ons nie –”
“Nee!” val hy haar skerp in die rede. “Moenie jou woorde terugtrek nie! Ek soek geen versagting vir myself nie en ook geen verskoning van jou nie. Ek verdien jou minagting. Ja, ek het jou oor die jare vasgeketting aan my, welwetende dat jy nooit my liefde vir jou sal kan beantwoord nie. Dit was ’n fout, ek besef dit, en ek vra ook daarvoor om vergifnis.”
“Om hemelsnaam, Karl, staak dit!” roep Deborah geïrriteer uit. Wat sou vanaand met hom aan die gang wees? Sy merk die skittering van trane in sy oë. Sou hy te veel gedrink het? Maar hy kom nie dronk voor nie. Karl was die laaste paar weke byna onnatuurlik nugter. Afgesien van ’n bietjie wyn aan tafel het hy selde gedrink.
“Deborah …” Sy hand hark senuweeagtig deur sy hare. “Ek het in die geheim – net goeie ou Sam het daarvan geweet – ek het die Benz baasgeraak!”
Sy staar hom nou met onverbloemde verbasing aan. Karl het tot dusver so min belangstelling in die nuwe motor getoon dat sy dit selfs oorweeg het om dit aan Kurt te gee voor hy weg is. Sy glimlag huiwerig.
“Dit is ’n onverwagse verrassing,” sê sy geforseerd en lig haar glas. “Geluk, Karl.”
Hy knik, skielik opgetoë soos ’n jongeling, en klink sy glas formeel teen hare. “Kan ek jou môre my vaardigheid gaan bewys? Vroeg, voor sonsopkoms. Ek wil jou die dagbreek gaan wys. Mens sien dit die mooiste van Munro-rylaan af.”
“Dagbreek?” roep sy verbaas uit en begin dan lag. “Van wanneer af staan jy voor dagbreek op?”
“Vandat ek in die geheim leer bestuur het. Anders sou jy agterdogtig begin word het. Ek het elke oggend uitgeglip, voor ses, net ná jy weg is myne toe. Vanmiddag laat was my laaste rit alleen. Volgende keer moet jy by wees, want ek wil my vernuf aan jou bewys. Ek wil bewys dat ek die uitdaging wat jy aan my gestel het, kon bemeester. Sal jy saam met my uitry? Of vertrou jy my nie genoeg nie?”
Deborah glimlag. Hy laat haar skaars ’n keuse, dit sou kleinsielig van haar wees om te weier. Dit moes hom moed en baie deursettingsvermoë gekos het. “Ek aanvaar jou uitnodiging.”
Sy hand sluit dankbaar oor hare. “Skitterend! Meer kon ek nie op gehoop het nie!”
Hy is so uitgelate soos ’n jong seun, dink sy toe sy hom ’n rukkie later in die kombuis hoor reëlings tref, hoe hy Sam aansê om ’n piekniekmandjie en sjampanje te pak vir hulle ontbyt.
Hy verskyn weer in die kombuisdeur. Sy wange toon ’n diep blos van opwinding. Hy stap