Die vertes in. Zirk van den Berg
Читать онлайн книгу.Hy vroetel met sy bosak se flap, knoop dit vas en los.
“Is dit nie jou geleerde vriend nie, daar by die agterdeur?”
Sy kyk en dit is inderdaad doktor Pitzer. “Dan het ek twee vriende hier … Verskoon my.” Sy loop vinnig na die deur toe, voordat die wetenskaplike op vlug kan slaan. “Herr doktor Pitzer! Kom, u is welkom.”
“Ek ken niemand hier nie.” Sy hand is nog op die deurknop.
“Ek ook nie.”
Sy trek hom aan die mou en lei hom na die hooftafel toe. “Dis my man, herr Kamke. En daar anderkant is reiter Bock, u onthou hom dalk van ons eerste dag op die trein.”
Die voormalige medepassasiers lig hulle hande, groet mekaar van ver af.
Lisbeth wag terwyl doktor Pitzer ’n paar teue bier neem. “Kom dans saam met my.”
Hy skud sy kop.
“Kom, dis my dag en ek vra u.”
Pitzer vee sy snor af. “Ek het nog altyd gedink dans is ’n mors van tyd en energie. Kyk hoe belaglik lyk almal, wip sonder rigting rond, dis niks meer as Brown se beweging nie. Ek sou darem graag wou glo dat mense tot meer in staat is as die eenvoudigste stofspikkeltjies.”
Die geleerde se meerderwaardige houding kwets haar, maar natuurlik sê Lisbeth niks. Sy vat haar bruidegom aan die arm en vra: “Kom!”
Hulle dans en eet en drink en mense begin haar soos ’n vriend behandel, hulle deel vertellings en maak beloftes. Haar twee medepassasiers is die enigstes wat nie dans nie, en hulle beland op die ou end aan dieselfde tafel met ’n leë stoel tussen hulle, en dit lyk nie of hulle hoegenaamd met mekaar praat nie.
Teen sononder stuur die hotelbestuurder bediendes uit om lampe op die tafels te sit en stormlanterns aan die boomtakke te hang.
Dapperder in die donker, kom die swart kinders nader. Lisbeth loop na hulle toe en vat een van die meisies se hand. “Kom. Almal van julle.” Sy lei hulle dansvloer toe. ’n Stilte sak oor die gaste neer. “Ons gaan een dans hê vir die kinders,” kondig sy aan. Die orkesleier kyk wantrouig na haar. “Toe, vir my,” pleit sy, en daarop gee hy die musikante die teken om te speel. Die kinders vat hande in ’n groot kring, Lisbeth tussen hulle. Hulle spring en huppel in die rondte, laggend. Party van die gaste begin op maat van die musiek op die tafel te klap. Vlamlig speel oor die kinders se glimlagte en Lisbeth se modderbespatte rok. Bokant die bome sprankel die sterrehemel.
Dit is byna middernag toe die musikante hulle instrumente wegpak, bediendes die tafels afdek en die gaste afskeid neem.
Hierdie keer gaan herr Kamke saam met Lisbeth kamer toe. Hy sak hard op die bed se rand neer, trek sy skoene uit en leun terug teen die kussings. Hy is ’n bietjie dronk, in ’n goeie luim. “Jy was wonderlik vanaand,” sê hy. “Ek het nog altyd geweet daar is iets spesiaals omtrent jou.”
Dít, besef sy, is nie halfpad so erg soos wat sy gevrees het nie. Sy blaas die kers dood, tree uit haar rok uit, trek die een kledingstuk na die ander uit, totdat sy naak voor hom staan.
* * *
Siegfried staan op aandag in die middel van die ondersoekkamer, met net sy onderbroek aan, en loer na sy klere wat op ’n stoel in die hoek gebondel lê. Hy wens hy kan dit weer aantrek. Dis maar net katoen, maar dit is ’n wapenrusting teen hierdie oë. Dokter Salzwedel en oberst Adendorff loop om hom en inspekteer sy liggaamsbou. Siegfried verwens sy lyf. Dit dra sy siel, maar verraai hom om elke hoek en draai. Die deur is oop, en laat die lig van agter op hom val. Van voor af stroom sonlig deur die venster. Hy probeer sy bors uitstoot, maar kan nie wegsteek dat hy fisiek klaaglik onderontwikkeld is nie. Dit kom daarvan om aan jou bed gekluister te wees terwyl ander kinders rondhardloop en boomklim.
En nou lyk dit asof hy die militêre aksie ook gaan misloop. Toe hy gister van die troue af terugkom, het hy die barakke leeg aangetref. Die res van sy kompanie het skielik vertrek, na berigte van ’n Herero-mag onder hoofman Andreas by ’n plek genaamd Heusis, omtrent vyftig kilometer wes van Windhoek. Die gevegte in hierdie deel van die land is veronderstel om verby te wees, met die Herero’s oorwin, en die verwagting was dat hulle in die suide ontplooi sou word, in die voortslepende oorlog met Nama-kommando’s. Hy kan sy kamerade voor sy geestesoog sien, netjies geklede ruiters wat onder die Afrika-son galop en die vyand die stryd aansê … Hy het verwag dat hy gestuur sou word om by hulle aan te sluit, maar dit is blykbaar nie die plan nie. Miskien het iemand in iemand se oor gefluister, en nou staan hy hier in ’n vertrek wat na spiritus ruik, waar alles helder en strak is, met die reghoekige groen leerpanele in sommige van die roomkleurige metaalmeubels as enigste kontras. Selfs die vloer is wit geverf.
Oberst Adendorff tik met sy kierie teen sy stewels se punte, ’n slanke stuk ebbehout met ’n ivoorhandvatsel en ’n silwer filigraanband by die lasplek. Die offisier is bleek en skraal, met woeste swart wenkbroue om te vergoed vir die yl stoppels op sy kop. Die storie loop dat as ’n mankemente knie hom nie op kantoor gehou het nie, Adendorff pleks van generaal Von Trotha in bevel sou gewees het van al die troepe in die protektoraat. “Ek kan sien waarom jy my laat kom het,” sê hy vir die dokter.
Dokter Salzwedel, plomp en haarloos soos ’n weisswurst, haal sy draadraambril af en vryf sy oë. “Op die monstervorm het hulle hom opgeskryf as ’n soldaat – nie ’n halwe of driekwart nie, ’n hele een. Daar’s nie eens genoeg van hom om te keer dat ’n koeël ’n regte soldaat tref nie.” Met sy bril terug in posisie, gaan die dokter na sy lessenaar toe en maak ’n lêer oop, volg met sy vingers terwyl hy die blad deurlees.
“Was jy op dieselfde skip as Albert Pitzer?” vra hy vir Siegfried. En aan Adendorff: “’n Klasmaat van universiteit af, toeka se tyd. Ek het hom nou die dag in die Kafee Elbe gesien.”
“Ja … maar ek het doktor Pitzer eers later ontmoet, op die trein,” sê Siegfried.
“Dokter? Ek het nie geweet hy het sy studies voltooi nie …” Dokter Salzwedel lig sy wenkbroue, stoot sy onderlip uit en knik stadig terwyl hy die inligting oordink. Dan maak hy keel skoon, en bepaal hom weer by die saak voorhande. “Daar is geen melding dat jy tydens die oorvaart siek was nie. Waarom?”
“Ek was nie siek nie, dokter.”
“Nou hoekom het jy dan soveel gewig verloor?”
“Ek het nie, dokter.”
“Is ek nou veronderstel om te glo dat jy in hierdie toestand was toe die dokter jou ondersoek het in … waar?” Hy loer na die vorm. “Charlottenburg. Toe die dokter wat jou ondersoek het, besluit het jy is geskik vir diens?”
Siegfried antwoord nie. Traudl se pa is ’n man met invloed in Berlyn en wou sy dogter red van ’n knaende en ongeskikte vryer. Sy eie pa het werklik geglo die leër sal ’n man van hom maak.
Die dokter lig sy hande moedeloos en wend hom tot die offisier. “Wat moet ons met hom maak? Ek sal hom teen die deur kan laat lê om die wind te keer, maar dalk waai hy weg.”
Albei mans grinnik. Hulle is kennelik vriende. Toe oberst Adendorff ingekom het, was daar ’n vlugtige gesprek oor ’n skaakspel waarmee hulle besig is.
Hulle praat asof dit my nie aangaan nie, asof ek nie hier is nie, dink Siegfried. Is dit ’n geval dat die noodlot wraak neem omdat hy daardie vlugteling in die woestyn laat wegkom het? Hy het dit gedoen sonder om te dink, en kon sedertdien nie ophou dink daaroor nie. Is dit ’n onvergeeflike ding om jou land se vyand te laat wegkom? Of sou dit onvergeeflik gewees het om iets anders te doen? Sy gebrek aan optrede kon gemotiveer gewees het deur dankbaarheid, want die ontsnapte krygsgevangene het waarskynlik sy lewe gered. Of miskien was dit omdat hy die man se magtelose posisie herken het, en nog altyd self so magteloos gevoel het, dat hy genoop was om ’n swakkere te beskerm. Hy wens hy kan dit met iemand bespreek, maar daar is niemand wat hom nie sal veroordeel nie.
Die stemme in sy gemoed en die stemme om hom raak meer as wat hy kan verduur. “Hoekom gee julle my nie ’n kans nie?” bars hy uit.
Adendorff loop tot vlak voor hom, so naby dat Siegfried die haartjies in daardie wilde