Middernag. Sidney Gilroy

Читать онлайн книгу.

Middernag - Sidney Gilroy


Скачать книгу

      

      Human & Rousseau

      Vir Anna

      Hy is te diep in. Veels te diep.

      Sersant Sollie Mthembu is tam. As hy sy oë toemaak en ophou spartel, is dit verby. Hy besef dit nou: hy sterf vannag. Reëndruppels val koud en hard teen sy gesig. Om hom woed ’n storm wat met elke weerligstraal die Drakensberg se steil kranse in die verte verlig.

      Die diep water van die Sterkfonteindam suig hom in. Sy bene kramp. Sy broek en hemp hang aan hom soos nat lakens. Heen en weer pluk die stroom sy hulpelose liggaam.

      Van hier af is die damwal ’n veraf droom. ’n Soliede swart streep op die donker horison. Hy snak na asem, gryp sy broek se belt agter sy rug vas en beur sy skouers na bo.

      Hoe lank kan hy nog uithou?

      “Help!” Hees verdwyn sy stem in die niet.

      Hy probeer sy skoene afwikkel. Hy moet harder skop. Hy moet sy kop bo water hou. Die tou sny in sy polse in. As hy sy oë toeknyp, sien hy Entle slapend in haar bedjie. Nyandi in die dokter se spreekkamer, Naledi se lyfie op die sonarskerm.

      Hy kan nie vannag sterf nie. Hy mág nie.

      Elke nuwe golf word ’n tsoenami wat ysig teen sy gesig klap. Dit spoel oor sy kop. Onder die water hoor hy sy eie hart teen sy oortromme hamer.

      Hy baklei met alles in hom. “Help my!”

      Elke asemteug word ’n mond vol water.

      In die verte sien hy liggies blink. Hy móét daar uitkom.

      As hy vannag sterf, sterf sy. Soos die ander twee.

      Hoofstuk 1

      ’n Week vroeër

      Die Besige Bytjie Kleuterskool se speelgrond wemel van kinders. Hulle sit laggend in groepies of spat jillend uitmekaar om oor klimrame en geverfde buitebande te klouter. Hittegolwe dans teen die hek waar dagtassies in ’n ry staan. Langsaan wag ’n moeë onderwyseres, dankbaar dat dit Vrydag is. Die Desembervakansie is nou net ’n herinnering en Januarie in die Noordoos-Vrystaat is ’n taai, lang, droë maand.

      Binnekort sal die parkeerarea oorkant die straat ’n stowwerige wolk word: Harrismith se ouers in motors.

      In die sandput, buite sig en weg van die rumoer, sit ’n donkerkopkleuter alleen. Behalwe vir die persoon wat voor haar hurk.

      “Geniet jy dit, Anneri?”

      Die kind draai die roomys in die rondte voordat sy die stokkie uit haar mond trek. Ja, knik haar kop. Wat van die oranje ys oorgebly het, is ’n pap, stroperige klont wat sy weer gulsig na haar lippe toe bring.

      “Wil jy nog een hê?”

      “Asseblief,” sê Anneri Woltemade gretig.

      “Ek kan vir jou nog ’n roomys gee.”

      “Nou?” Klewerige vingers vee oor haar hemp.

      “Nee.” ’n Gerusstellende glimlag, ’n hand wat oor die kind se wang streel. “Later eers.”

      “Wanneer?” Anneri gee ’n laaste lek en staar na die stokkie in haar hand.

      “Ek sê jou wat, dalk het ek nog roomys by my.” ’n Gevroetel in ’n sak, dan word leë hande gewys. “Gits, kyk nou net! Ek het gedink daar’s ’n paar oor, maar dis klaar.”

      Die kleuter se gesig is die ene teleurstelling.

      Weer gly die hand oor haar wang. “Moenie hartseer raak nie, Anneri. Dit is mos jou naam, of hoe? Ek het vergeet.”

      “Ja.” Sy sê die rympie op wat kennelik by haar ingeprent is: “An-ne-ri Wol-te-ma-de, Smit-straat 25. My pa se naam is Davey en my ma is Mariëtte.” Sy tel op haar vingers af. “My pa se nommer is 0-6-6-2-2-5-0-9-3-0.”

      “Oe, maar jy is slim! Sê vir my, hoe gaan dit nou by die huis? Julle het mos getrek. Is dit nader aan die skool vir jou?”

      “Nee.” Die woonbuurt se naam kom in lettergrepe uit: “Wil-ge-park.”

      “Natuurlik, ek weet waar dit is. Oorkant die rivier, nè?”

      “Ja.”

      “Het julle ’n groot huis?”

      “Nee, nie so groot nie.”

      “Het julle ’n hond?”

      Nee, word die koppie geskud.

      “En diefwering?”

      “Wat’s dit?”

      “Voor die vensters. Is daar tralies?”

      “Party.” Die kind beweeg onrustig. “Wanneer kry ek nou nog ’n roomys?”

      “Wel, ek moet dit eers gaan haal.”

      “Oukei,” sê Anneri teleurgesteld. “Gaan jy dit Maandag skool toe bring?”

      “Ek sê jou wat, waar is jou kamer by julle huis? Het jy nou jou eie kamer?”

      “My kamer is onder in die gang. Dis my boetie s’n ook, maar hy is ’n baba. Hy slaap by Mamma en Pappa.”

      “Jy het seker ’n groot venster wat straat se kant toe kyk?”

      Ja, knik die koppie.

      “Is daar ’n muur om die huis?”

      “Net ’n draad.”

      “So, jy sal kan sien as ek na jou huis toe kom om vir jou nog roomys te bring?”

      Verwarring bewolk die kind se gesig. Dan ’n glimlag toe die besef insink. “Ja, ek sal kan sien. Wanneer kom jy?”

      “Eers vanaand. Gaan slaap jy vroeg?”

      “Ja, wanneer Pappa sy storie wil kyk.”

      “Is Pappa se program agtuur?”

      Weer knik die koppie.

      “Dan bring ek die roomys vanaand slaaptyd vir jou. Ons gaan nie vir Mamma en Pappa sê nie, hoor? Ek glo nie hulle sal daarvan hou nie.”

      Die kleuter se oë raak groot. “Ja, want ek mag nie in die aand swiets of roomys eet nie.”

      “Dit sal net ons geheim wees, ek belowe. Luister nou mooi, Anneri. Vanaand as jy alleen in jou kamer is, kyk by die venster uit. Ek sal in die tuin vir jou wag.”

      Die kind se gesig verhelder. “Met roomys?”

      “Ek sal sommer twee of drie vir jou bring.”

      Die koppie knik en die ogies skitter van afwagting.

      “Soet wees, Anneri. Sien jou vanaand!”

DINSDAG

      Hoofstuk 2

      Dinsdagoggend net ná middernag is Harrismith grootliks in donkerte gehul. In die verte verrys die plat berg wat oor die landskap waak. Die hoofstraat is grafstil. Vier van die straatlampe is buite werking.

      ’n Kat verskyn uit die niet in die kurkerige mik van ’n akkerboom en klim teen die stam af. Hy draf ligvoets oor die straat tot op die breë sypaadjie. Hy beweeg vinnig en sekuur verby heinings en swartsakke. Onder die yl takke van ’n raasblaar stop hy eers om aan die effense windjie te ruik. In die agtergrond knor ’n trok op die N3-snelweg, verwissel van rat en brul verby.

      Die kat wag tot die klank verdof, glip dan onderdeur ’n tuinhekkie. Só donker is sy gestreepte pels dat hy onsigbaar raak tussen die struike, blombeddings en hope dooie blare. Wantrouig trap hy oor die tuinslang asof dit ’n styfgespande kabel is. Die grasperk is dor en steek sy gekussingde pote.

      Hy spring tot op die stoepmuur. Sy ribbes wys deur sy vel en daar is ’n duidelike holte waar sy maagvel na sy lieste span. Hy volg die muur om die huis, soekend vir ’n oop venster.


Скачать книгу