Middernag. Sidney Gilroy
Читать онлайн книгу.Harrismith se strate gesmous word.
“Ek sal uitklim,” sê Godfrey toe dit blyk dat sy spanmaat van plan is om in die Nissan te bly sit. Hy neem sy flitslig saam met hom.
“Stoot hom na die kant van die pad toe,” beduie Fourie deur die venster. “Die eienaar sal hom weldra kom haal. Lê seker iewers sy roes en afslaap.”
Godfrey kyk op in Wardenstraat, na waar dit ’n entjie verder by du Plessisstraat aansluit. Die tuine, heinings en stoepe aan weerskante vertoon nou minder donker. Oor sowat ’n uur sal die son op wees.
Die fiets met waentjie is verlate. Op die kante van die koelhouer pryk vrolike prentjies en kleurvolle letterwerk: Frutti Tutti Pops te koop! Roomyse in vrugtegeure. Die saal van die fiets is blink gesit. Die stuurwiel hang sywaarts en die pedale rus op tienuur en vieruur, asof die drywer midde-in sy vaart in wasem verander het.
Toe hy naby die waentjie kom, ruik Godfrey iets wat hy al dikwels voorheen in sy lewe geruik het, ’n versmorende reuk wat soos niks anders ruik nie. ’n Reuk wat geen seep uit jou klere kan was nie.
Die briesie draai en die stank vul sy neusholtes. Kon die melkerige roomyse dan suur geword het? Dit word deesdae so warm dat die teer smelt. Toe hy oor die fiets leun, weet hy vir seker: niks ruik so sleg soos die dood nie. En vanoggend kom dit uit hierdie waentjie wat veronderstel is om roomyse te karwei.
Hy skuif die deksel oop en skyn sy flitslig na binne. Vroetel met die swartsak om dit oop te kry. Die inhoud laat hom terugsteier, terwyl sy maag opruk van naarheid.
Hoofstuk 3
’n Knal trek deur Gelderlandstraat 37 in Bayswater, Bloemfontein. Koevoet die boerboel vlug met platgetrekte ore van waar hy agter die grys bleskopman in sy japon gestaan het.
Kaptein Maartin Brummels het pas die laai van die staankas in die gang toegebliksem. Daar is nie meer Grandpa’s oor nie. Hy het een nodig. Gisteraand se rooiwyn en die oproep wat hy nou net ontvang het, vereis dit. Dit gaan ’n lang dag by Parkweg-polisiestasie word.
In die sitkamer steek hy sy laaste sigaret aan, skiet die leë boksie tot agter die televisiekas. Koevoet snuffel nuuskierig agterna. Brummels skroef die drinkbare jogurt wat hy uit die yskas saamgebring het oop en verstel sy japon sodat sy lieste darem bedek is. Lang, soet slukke uit die bottel volg. Hy kyk na die tyd op die televisieskerm. 05:43. Die leë bottel eindig op ’n hopie gefrommelde Grandpa-papiertjies langs sy uitskopstoel.
Wat het Harrismith se stasiebevelvoerder gesê? ’n Kind se lykie. Dalk vier jaar oud. In die hoofstraat gevind.
Sy Dinsdag begin soos ’n Maandag te voel. ’n Onbeholpe speurder in Harrismith soek al sedert die naweek na ’n dogtertjie wat uit ’n huis in Wilgepark verdwyn het. Haar ouers is rasend van bekommernis. Brummels het die berig gelees. Almal het.
Whitey van Coller van Oggendpos bel sekerlik Harrismith SAPD se lyne blou. Met sy pofferige vingers, ongeskeerde dubbelken en boepens aas hy vir sensasie.
En nou dit. ’n Dooie kind in ’n koelhouer op ’n roomysverkoper se fiets.
Die nuus uit dié stil dorpie was skokkend, om die minste daarvan te sê. Boere Bester, stasiebevelvoerder en oudweermagpel van Brummels, het onseker geklink. Boere is nie die tipe ou wat die media te woord moet staan nie. Hy het reeds angstig geklink toe hy Brummels Saterdagoggend geskakel het om hulp te vra met die vermiste dogtertjie.
Brummels het Anneri Woltemade se dossier telefonies met die ondersoekende beampte bespreek. Ivor Groesbeek, Harrismith se enigste speurder. Hy fokus uitsluitlik op die dorp, terwyl die ander drie speurders Qwaqwa, Warden, Kestell en Van Reenen bedien – op sigself ’n kakspul.
Ná Brummels afgelui het, het hy vir Mike gebel, buiten homself die langsdienende speurder by Parkweg.
“Mike, onthou jy ’n Groesbeek-knaap wat nou in Harrismith werk?”
“Ivor Groesbeek? Ja, kaptein, ek onthou hom,” het Mike uitasem gesê en uit die pad van die ander Parkrun-hardlopers getree. En toe rammel hy die storie af wat Brummels se geheue verfris het.
Ivor Groesbeek het ’n ruk lank in Parkweg gewerk. Een van ’n string konstabels wat sersante in Bloemfontein kom word en soos cowboys hul hand aan speurwerk waag. Net om later stert tussen die bene terug te kruip na die godverlate dorpies waarvandaan hulle gekom het. Vrot speurwerk. Onvolledige dossiere. Sake wat op die nippertjie op tegniese punte deur landdroste of regters afgeskiet word.
Niemand kry ’n tweede kans by Brummels nie. Hy pos hulle sodra hy snuf in die neus kry. Ivor was geen uitsondering nie. As hy reg onthou, het ’n sielkundige verslag destyds die man se oorplasing na Harrismith aangehelp. Ivor het onopgeloste woede. Ivor ly aan posttraumatiese stres. Ivor werk te hard. Ivor gaan eendag net knak. Ivor moet met handskoene hanteer word. Ivor pas nie in Bloemfontein aan nie.
Iemand wat Brummels en Parkweg nie kan gebruik nie.
Bye-bye, Ivor.
En nou sit die skepsel steeds met Anneri Woltemade se dossier in sy hande en Boere Bester vra wéér om hulp.
Brummels is Saterdag saam met Ivor deur die verklarings in die SAPS 3M-vorm. Die saakdossier. Die ruggraat van die soektog wat verklarings, die voorgeskrewe polisievorms, patologieverslae en die ondersoekdagboek bevat. Uiteindelik sal die hele lêer voor ’n regter of landdros eindig – mits Ivor ’n verdagte kan uitwys wat tot ’n lasbrief vir inhegtenisname kan lei.
En dis waar die probleem lê. Volgens vanoggend se gesprek met Boere het Ivor se dossier nooit daai hekkie geclear nie.
“Scan en mail vir my alles wat jy het,” was Brummels se voorlaaste opdrag aan die onbeholpe speurder.
Hy kon sien die ouers se handtekeninge is amper krampagtig op die SAPS 55-vorm aangebring, die dokument vir vermiste persone wat die polisie toestemming gee om Anneri se foto en gegewens met die land se polisiestasies te deel. Die Woltemades het nie soos useless ouers voorgekom nie, die kind was nie misplaas of verwaarloos nie. Hy het geskat sy sou voor sononder gevind word. Sy is nie. En teen Saterdagaand het hy onwillig vir Ivor aangesê om Anneri se foto in sirkulasie te plaas.
Tot gisteroggend was daar niks behalwe die berig in Oggendpos nie. Dit sal in die B-gedeelte van Anneri se ondersoeklêer eindig. En in die A-gedeelte is tot dusver net ’n stapel verklarings wat Ivor Saterdag by mense in die dorp afgeneem het, van die huishulp tot Anneri se kleuterskoolonderwyseres.
Brummels ken Harrismith. ’n Anglo-dorpie aan die voet van Platberg, ’n kolos van dolomiet en sandsteen wat bo die vlaktes van die Vrystaat uittoring. Slegs ’n paar kilometer verder val die plato saam met Van Reenenspas met bykans 1 600 meter tot in KwaZulu-Natal. Die N3-snelweg omsoom die ou dorp en sny deur die nuwer woonbuurte, met die Wilgerivier wat lui aan die westekant verbykronkel. ’n Rustige middelklasdorp tussen sandsteenkoppe, uitgestrekte weivelde en die Drakensberge blou op die horison.
Eers ’n vermiste kind en drie dae later ’n moordtoneel. ’n Lykie in ’n swartsak.
En Ivor Groesbeek is die ondersoekbeampte.
Brummels wil nie die afleiding maak nie. Maar hy moet.
Sure, kinders raak weg in die Vrystaat, all the time. Geskeide paartjies wat mekaar wil bykom en met ’n kind verkas. ’n Alkoholis of ’n addict wat syne of hare verlê. Ja, kinders raak weg, om later aan die verkeerde kant van die stad of dorp tussen die drek gevind te word. Pasgebore babas wat in bondels bebloede handdoeke lê. Gewoonlik vind hulle die ma in die naaste informele nedersetting of skoolkoshuis, nooit baie ver weg van waar die kaal, ontblote lyfie gelos is nie. Ongewenste asems.
Maar nie vierjariges nie. Nie sommer nie. En nie in die toestand wat hierdie lykie gevind is nie.
En nie Anneri nie. Sy het ’n ma en pa wat oral na haar soek. Die hele blerrie dorp soek na haar. Naarstiglik. Sy kom uit ’n goeie buurt. Sy gaan na ’n kleuterskool waarvan die ouers in groepe op WhatsApp, saam met die Pink Ladies en Facebook en AfriForum en God-weet-wie-nog, haar probeer opspoor. Sy is nie ’n weggooikind nie.
Oggendpos