Middernag. Sidney Gilroy
Читать онлайн книгу.hy die brood dubbel vou en deur die tee vee. Hy het nie melk bygegooi nie. Ook nie suiker nie. Sedert die nuus dat hulle tweede baba op pad is, hou hy die bankrekening en koskaste met valkoë dop.
Gisteraand toe sit Nyandi weer met pen en papier. Nóg ’n lysie.
Hy dink al daaraan om vir haar te sê dat hy naweke moet werk. Dan kan sy hom, en die bankkaart, nie weer winkels toe sleep nie. Hoe kos ’n stootwaentjie buitendien drieduisend rand? Van wanneer af word doeke uit peperduur bamboesmateriaal gemaak? Hoeveel sjampoes, kombersies, bottels, skoonmaakmiddels, hempies, kousies, poeiers en blikke verskillende soorte melkpoeier gaan die Corolla nog Phahameng toe moet aanry? En hoe lank gaan die geld hou?
Hulle besoeke aan Dis-Chem is ’n nagmerrie, hy moet altyd ’n tweede trollie gaan haal.
“Nog rome?” vra hy as sy vrou mik na die bokant van die rak. Haar rok lig tot bo haar knieë en haar boude en maag veg om haar gewig op haar tone te balanseer.
“Dié een is hypo-allergenic.”
“Hypo-what? Wat is dit?”
“As sy dalk ’n veluitslag kry. Hierdie is baie goed, dit word op televisie geadverteer. Deur ’n velspesialis. Dit doen wonders vir brandboudjies. Agnass sê ook so.”
“Ons hét rome gekoop, Nyandi. Baie,” frons hy as sy twee bottels in die trollie laai.
“Ons moet voorbereid wees, Sollie! Jy’t al vergeet hoe dit met Entle was.”
“Maar jou datum is nog maande weg. Kan ons nie later eers kom koop nie?”
“Moenie laf wees nie,” gebruik Nyandi haar slim-stem. “Jy werk en ek kan nie bestuur nie. Ek’s die ma, ek moet betyds sorg dat alles reg is.”
Sollie vat ’n sluk tee en vryf oor sy voorkop. In die straat voor hul huis begin jillende skoolkinders en fabriekswerkers in oorpakke verskyn. Die ontwakende township se klanke word deur sy selfoon onderbreek. Hy ken die nommer.
“Mthembu!”
“Kaptein?” Met die foon teen sy oor skarrel hy na die verste hoek van die erfie, weg van die kamervenster af.
“Waar is jy?” blaf Maartin Brummels in sy oor.
“Ek-k-k is by die huis, kaptein. Dis skaars s-s-sesuur, kaptein.”
“Hoekom fluister jy?”
“My vrou s-s-slaap nog. Ek wil haar nie w-w-wakker maak nie. Sy is s-s-swanger.”
“Ja, ek weet.” Daar is ’n gevroetel en geklingel en geskop in die agtergrond. Klink soos ’n gesukkel met ’n deurslot. “Jissis!” swets Brummels terwyl ’n hond verwoed blaf.
“Kaptein?” vra Sollie onseker.
“Nie jy nie, Mthembu!”
Die rumoer aan die ander kant van die lyn word stil. Dan skielik: “Toe, Koevoet, uit! Jy maak my fokken mal.”
“Kaptein? Ek hou s-s-steeds aan. Waarmee kan ek h-h-help?”
“Pak jou tas. Ons moet ry.”
Hy wag vir die woorde voordat hy sy tong daarmee vertrou. En dan, as die besef insink: “Waarheen gaan ons ry, kaptein?”
“Harrismith. Daar is ’n moordsaak wat vanoggend ingekom het waarvoor ons dringend benodig word. Kolonel Bester, die stasiebevelvoerder, het die docket gereed. Ek wil hê jy moet die ondersoek hanteer. Daar is ’n kantoor wat jy kan gebruik.”
“Waarheen moet ek eerste gaan, kaptein?”
“Die crime scene, waar anders? Forensies van Bethlehem is alreeds daar, saam met ’n konstabel Jantjies wat as toneelbestuurder optree. Basic training, so jy weet wat dit beteken. Ons beter daar kom, dis twee en ’n halwe uur se ry.”
“Kaptein, as ek mag vra …”
“Wat, Mthembu?”
“W-w-waarom ek? Maluti-a-Phofung het sekerlik tog speurders. Dis hulle gebied.”
“Niemand het ’n gebied nie, julle is nie fokken eiendomsagente nie. Dis een provinsie.”
“Oukei, kaptein.”
“Nou toe, pak jou tas en kom stasie toe. Jy ry agter my Isuzu aan. Palesa is in haar Fiesta. Jy het mos nou jou eie kar?”
Hoofstuk 5
Voor Sollie loop die N5-snelweg plotseling teen die N3 dood. Die snelweë ontmoet in ’n T voor ’n berg met hoë sandsteenkranse. ’n Wit kruis is op een van die pieke aangebring en direk aan die voet daarvan lê die dorpie, half in ’n vallei en half oor ’n koppie uitgestrek.
Sollie bekyk die omgewing. Harrismith is ’n mengelmoes van woonbuurte en industriële gebiede, met ’n groot openbare park langs die Wilgerivier. So ver as wat die oog kan sien, waai wilgerbome in die oggendbries.
Hy volg die swart borrels rook van Brummels se Isuzu deur die strate. Die splinternuwe brug wat hulle oorsteek loop parallel met die oorspronklike, ooglopend ou een. Ondertoe vloei die Wilgerivier in diepgroen verby. Op ’n koperplaat teen ’n sandsteenpilaar staan Hamiltonbrug en die datum, 1910. ’n Ry silo’s en ’n paar groterige fabrieke voor ’n duikweg onderdeur ’n treinspoor kondig die dorp se vernaamste produkte aan: matte, melk en mielies.
Die strate en sypaadjies is breed en in die oudste gedeelte van die dorp is daar diep sementvore wat as afvoerkanale dien. Palesa in haar blitsvinnige Fiesta het Sollie en die kaptein ná die tolhek verbygesteek en is reeds by die polisiestasie in Piet Retiefstraat. Die vierrigtingstop is wyd genoeg dat ’n ossewa met gemak daarin sou kon draai, en op die vier hoeke is ’n kafee-en-viswinkel, ’n besigheidsperseel wat nooit ontwikkel is nie en bloot uit omheinde gras bestaan, ’n tweeverdiepingwoonstelblok uit die 1950’s en ’n poskantoor van sandsteen.
“Jirre, my rug is seer,” sê die kaptein toe hy uitklim en fronsend na die polisiestasie staar.
Dié is ook ’n ou gebou, sien Sollie, met die behuising wat die staat destyds vir polisiemanne verskaf het reg langsaan. Rooibaksteenwonings met drie slaapkamers en ’n badkamer, en reg rondom al die geboue ’n agt voet hoë draadheining. Nyandi sou ’n oorval kry as hulle hier moes bly, dink Sollie.
Hy volg die kaptein deur die houtdeure en soek na Palesa tussen die vreemde gesigte. Dan sien hy net haar rug soos sy uitstap buitentoe. Deur die venster by ontvangs kyk hy hoe sy in die Fiesta klim en straataf verdwyn.
Binne die gebou is dit koel, ’n welkome lafenis teen die versengende hitte. Die gange is donkerrooi en grys geverf. Die vorige bedeling se effektiwiteit en flair vir siellose dekor kan oral gesien word. Houthortjies. Groot, soliede binnedeure. Hoë plafonne. Waterverwarmers onder ’n spierwit laklaag teen die mure. Melamienteëls wat op plekke oopgaap. Lang, lang gange wat blykbaar ontwerp is om nêrens te eindig nie.
Die uniforms by wie hulle verbystap, kyk terug met ’n mengsel van nuuskierigheid en belangeloosheid.
Sollie volg Brummels na die stasiebevelvoerder se kantoor. Kolonel Bester is ’n vriendelike man met ’n breë gesig, wenkbroue wat soos ’n afdak oor sy deegagtige neus hang en ’n stewige handdruk. Plooie lê gegroef oor sy voorkop. Die steil hare, wat lyk asof hy dit self geknip het, is netjies plat gekam. Sy stem is diep en donker.
Die kolonel en Brummels ken mekaar goed, besef Sollie. Hy staan oorbodig eenkant terwyl hulle eers stories oor werk, Bloemfontein en Harrismith uitruil.
“Die toneel is in Wardenstraat, manne,” sê die kolonel. “My ouens het dit reeds afgesper. Dis minder as twee kilometer hiervandaan, julle kan agter my aanry. Ivor het klaar die dossier vir julle reggekry.”
Hulle ry in konvooi na Wardenstraat, wat nog breër as die ander strate is. Wye sypaadjies, sien Sollie. Talle bome. Vaal gras. Plastieksakke en koeldrankblikkies wat rondlê. Vuilgoedsakke wat voor mense se hekke ophoop. ’n Gebarste waterpyp.
Die kolonel groet en verduidelik