Middernag. Sidney Gilroy

Читать онлайн книгу.

Middernag - Sidney Gilroy


Скачать книгу
opgekommandeer om bokke op te pas of water aan te dra of deel van ’n impromptu sokkerspan te word. Soos die ander seuns word hy ná aandete nader geroep sodat sy pa en ooms die vet aan hul hande aan sy kaalgeskeerde kop kan afvee.

      Vir lank was sy pa en die ooms en die ringkoppe wat gekom en gegaan het sy voorbeeld van wat ’n man moet wees. Ephraim se kraal was ’n versameling mense wat Sollie as familie geken het. En hy het veilig gevoel daar. Want Nadjwa was veilig. Of so het hy gedink.

      Snaaks hoe ’n kind se hele wêreld met net een aksie onderstebo gekeer kan word. Of ’n paar sinne.

      Kwaai woorde. Skelwoorde. Wegjaagwoorde.

      Van toe af onthou hy net slegte mans. Soos die een wat die kind in die koelhouer verkrag en vermoor het.

      Hoofstuk 10

      Kloktyd Restaurant is besig, sien Sollie toe hy na die ingang stap. Die eetplek was voorheen ’n woonhuis waarvan die tuin omskep is met sementbankies en ’n verskeidenheid tafels van staal en hout. Duidelik ’n gunsteling onder die dorpenaars.

      Sollie vee oor sy voorkop toe hy onderdeur ’n staansambreel koes. Die kwik trek al verby 35 ºC en daar is nie ’n wolkie in die blou uitspansel nie.

      Eenkant by ’n tafel sit die kaptein, kolonel Bester en ’n fris blonde man wat met sy arms én bene gekruis sit. Sy hare is borselkop geskeer, só kort bokant sy ore dat sy kopvel pienk deurslaan. Sy gesig en die agterkant van sy nek is oortrek met oranje sproete.

      “Ivor Groesbeek,” groet hy en staan op om Sollie se hand te skud. Sy greep is so stewig dat Sollie voel hoe sy pinkie en wysvinger mekaar in die man se vuis ontmoet.

      “Speursersant,” voeg Groesbeek by toe hy weer gaan sit.

      “Sersant Mthembu.” Sollie knik in die ander twee se rigting. “Kaptein, kolonel.”

      Die vier mans kyk om die beurt vir mekaar. Wat Sollie eerste opval, is Groesbeek se oë, wat hy aanhoudend knip. Gryserig soos ’n vlies wat oor ’n blou albaster getrek is.

      “Ek het nou net met Palesa gepraat,” sê Maartin Brummels. “Daar is meer in Harrismith aan die gang as die lyk wat julle in die koelhouer gevind het, Mthembu.”

      Sollie se blik gly oor twee dossiere wat in die middel van die tafel lê. Die onderste een is ooglopend splinternuut. Daar val sigaretas op die dokumente toe Brummels dit na hom aanskuif.

      “Ek stem saam, kaptein. Ek vermoed dit al vandat ek vanoggend die lyk op die toneel gesien het. Ek moes net eers gaan nadink oor waar ek al voorheen iets soortgelyk gesien het.”

      Brummels hou sy hand omhoog. “Voordat jy verder praat … hier is MAS-19286 en MAS-19297. Die eerste een was Ivor se dossier, die ander een is vanoggend geopen. Ivor het reeds verklarings geneem, maar op die kolonel se versoek oorhandig ek nou al twee aan jou. Binnekant sal jy verklarings kry en die lys van geprosesseerde bewyse, wat nie veel is nie. Daar is ook foto’s van die slagoffers se huise en slaapkamers.”

      Sollie frons. “Maar dis ander saaknommers as die dossier wat ek vanoggend gekry het?”

      “Want dis ander sake,” praat Groesbeek uit sy beurt uit.

      Toe Sollie na hom kyk, sak die blonde man se blik na sy linkerhand. Die pinkie se kneukel is duidelik gekneus. Ook die kolonel staar peinsend na hom.

      “Is hierdie dossiere verwant aan Wardenstraat s’n?” vra Sollie.

      “Dit weet ons nie,” antwoord Groesbeek vinnig.

      “Nog nie,” korrigeer die kolonel hom.

      Sollie vou MAS-19286 oop. “Waaroor gaan hierdie sake?”

      Die gesig van ’n laggende kleuter staar uit ’n foto na hom. Sy lyk soos enige drie- of vierjarige: ietwat pokkelrig, rooi wangetjies en skerp tandjies wat spoegerig wys. Sy het fyn donker hare. Die man en vrou weerskante van haar is haar ouers, neem Sollie aan. Die drietal balanseer op ’n springkasteel. In die agtergrond is die buitelyne van ’n eenvoudige huis, soortgelyk aan duisende ander in die Vrystaat.

      “Anneri Woltemade,” verduidelik Brummels. “Sy het Vrydagaand uit Wilgepark verdwyn, die woonbuurt aan die regterkant van die N5. Ons het daar verbygery.”

      Hy kyk na Ivor, wat op sy beurt traag begin praat.

      “Die foto is in Januarie geneem, by Anneri se laaste verjaarsdagpartytjie. Sy is vier jaar oud en gaan na Die Besige Bytjie Kleuterskool in die dorp. Haar pa is ’n IT-konsultant wat vryskut werk en haar ma is ’n kassier by die Frontier Inn Casino in Bethlehem. Daar’s ook grootouers, maar dié is in Westerbloem. Sy weet nog nie dat haar kleinkind weg is nie.”

      “Hoe het Anneri weggeraak?” vra Sollie.

      “Vrydag kort voor middernag het Mariëtte Woltemade ’n harde knal in die huis gehoor. Sy het opgestaan om te gaan kyk. Haar man, Davey, het haastig sy wapen uit die kluis in hul slaapkamer gehaal en haar gevolg. Hy het haar in die kombuis gevind. Dit was die wind wat die agterdeur toegewaai het. Volgens Mariëtte was beide die agterdeur en sekuriteitshek gesluit, maar nou was dit oop. Die sleutels, wat hulle gewoonlik onder ’n matjie op die eetkamertafel versteek, het in die sekuriteitshek gehang. Hulle het gedink daar is aanvallers in die huis en Mariëtte is na buite om by die bure alarm te maak. Davey het agtergebly om die huis te deursoek. Hul seuntjie was nog veilig in sy bedjie in die hoofslaapkamer, maar toe hy in Anneri se kamer kom, was haar bed leeg.”

      “Is daar al enige vordering met die saak?” In sy gedagtes vergelyk Sollie die gelaatstrekke op die foto met die opgeblase, swart gesiggie in die koelhouer. Onverwacht en Rhynveld spook in sy agterkop: vermiste persone wat dood opduik.

      Groesbeek skud sy kop. “Die dossier bevat alles wat ons het. Oggendpos is vrot van die spekulasie, Facebook ook.”

      Sollie kyk op. “Oggendpos?”

      “Whitey van Coller het Saterdagmiddag by die Harrismith Inn ingeboek. Met ’n kamera en ’n dik notaboek. Daar is net een rede waarom hy in Harrismith sal wees.”

      “Jy weet hoe min die brigadier en die kommissaris van ’n uitgerekte sage op eNCA of in Rapport gaan hou,” sê Brummels terwyl hy ’n sigaret uit sy pakkie skud. “Daarom het die kolonel besluit om ons eerder vroeër as later te laat kom.”

      Sollie frons. “Wat van die Valke?”

      “Wat van hulle? Hierdie is nie ’n prioriteitsmisdaad nie, Mthembu.”

      “Nog nie,” sê Groesbeek.

      Sollie onderskep ’n waarskuwende blik van die kolonel in die blonde speurder se rigting.

      “Enige verdagtes?” vra hy.

      “Nee,” antwoord Groesbeek. “Ek het die ma en pa uitgecheck. Hulle is werklik net bekommerde ouers. Hulle is ’n normale middelklaspaartjie, geen uitermatige finansiële probleme of enige kinks nie. Die personeel by die kleuterskool het ook almal verklarings afgelê.”

      “Huishoudster?” Sollie dink onwillekeurig aan die kere wat Nadjwa huilend by haar buitekamer ingestap het as sy van steel beskuldig is.

      “Die huishoudster werk al sedert Anneri se geboorte vir hulle. Daar is geen tuinwerker nie, net tuindienste.”

      “Familie?”

      “Die Woltemades se familie woon almal in Gauteng. Hulle is nie mense wat gereeld kuiergaste by hul huis onthaal nie.”

      “Wat is geprosesseer?”

      Groesbeek tel op sy vingers af. “Ons is deur die huis. Ek het van Anneri se speelgoed en haar beddegoed in Bethlehem laat prosesseer, maar ek wag op die uitslae. Van wat ek onder die soeklig kon sien, was daar geen bloedspoor, geen chemiese spoor of fisiologiese materiaal soos semen in haar kamer of op haar beddegoed nie. Geen elektroniese toestelle of waardevolle items word uit die huis vermis nie.”

      “So die motief was nie roof nie?”

      “Korrek. Selfs die


Скачать книгу