Middernag. Sidney Gilroy

Читать онлайн книгу.

Middernag - Sidney Gilroy


Скачать книгу
Ivor nie. Hier op die platteland is hy beter af. Hy’s oukei met papierwerk. Kapings. Veediefstal. Die odd mesvoorval wat ’n lyk oplewer. Maar nie ’n reeksmoordenaar nie.”

      “Ivor kan jou met die donkiewerk help,” beaam Brummels. “Maar die feit bly staan: geen korrelasie kan gemaak word totdat ons nie harde bewyse het nie. Fokus op wat voor jou is – Anneri Woltemade, Kiara Louw en ’n onbekende slagoffer.”

      Die kolonel wink die kelner nader. “Kiara se pa het ’n kantoor by sy huis in Bergsig. Ken jy die Groot Plaasjolkonserte, speurder?”

      Sollie knik. Natuurlik ken hy dit. Naas die jaarlikse skou en kunstefees in Bloemfontein is dit die grootste gebeurtenis op die Vrystaat se sosiale kalender. “Is Kian Louw daarby betrokke?”

      “Ja, sy maatskappy reël dit. Hy bestuur kunstenaars van regoor die land, meestal sangers en akteurs. Selfs orreliste en mense wat vir kinders optree.”

      “Ek sien.” Sollie lek oor sy droë lippe en vou die dossier toe. “Ons sal ’n STR-toets op die lykie en Anneri en Kiara se ouers moet doen. Die identiteit van die kind in die koelhouer moet bepaal word sodat ons Anneri en Kiara kan uitskakel.”

      “Of bevestig,” kug die kolonel. “Ek sal daarvoor sorg.”

      “Waarmee kort jy hulp?” vra Brummels.

      Sewentig ratte draai tegelyk in Sollie se kop.

      “Daar’s nog een huis in Wardenstraat wie se inwoner nie oopgemaak het toe ek daar was nie, kaptein. Nommer 2.”

      “Reg, ek sal daar omgaan.”

      “En maak ’n vriend van Ivor, speurder,” sê die kolonel toe hy opstaan. “Soos ek sê, hy is nie ’n slegte ou nie. Maar sake soos hierdie kort ’n man met murg in sy pype. Moenie dat Ivor se groot arms jou bluf nie. Hy is ’n softie.”

      “En jy nie,” klop Brummels Sollie op die skouer toe hy ook opstaan.

      Hoofstuk 11

      Whitey van Coller beskou vlugtig die afgebakende misdaadtoneel in Wardenstraat. Hy het reeds sy pen, notaboek en selfoon waarmee hy gesprekke opneem in sy gatsak gedruk. Hy meet die polisiebeampte voor hom. Konstabel Godfrey Jantjies is duidelik nie lus om vir Oggendpos ’n storie te gee nie. Hy sal een uit hom moet fnuik.

      “Ek kan nie hier met jou staan en praat nie, meneer,” sê Jantjies omgekrap. “Gaan bel die skakelbeampte in Bethlehem of gaan sien ons bevelvoerder by die stasie.”

      “Ek hét geskakel. Kolonel Bester is nie daar nie. En niemand wil sy selfoonnommer vir my gee nie.”

      Jantjies sug afgemat. “Die kolonel is besig, meneer.”

      “Kan jy my dan ten minste sê hoe lank hierdie straat nog afgesper gaan bly?” roep Whitey agter sy rug aan. “Die mense van Harrismith verdien om te weet!”

      Die konstabel draai in sy spore om. “Sien jy enige verkeer in hierdie straat, meneer?”

      Whitey lig sy wenkbroue verskonend. “Ek sê maar net.”

      Hy kry nie ’n antwoord nie. Net Jantjies wat oor sy skouer na hom waai asof hy ’n lastige brommer verjaag.

      ’n Vroulike beampte in ’n noupassende uniform gluur na Whitey se hande om die geel lint. Sy het hom vroeër toegang geweier.

      “Wie is die ondersoekbeampte?” vra hy.

      Stilswye.

      Whitey sug innerlik terwyl hy sy hande van die lint weghaal. Nes hy Maartin Brummels se tonele ken. Hy is nie dom nie, hy het vroeër die lisensieplaat op die Fiesta gesien. Bloemfontein is op die toneel – en dit beteken Parkweg.

      Hy oorweeg dit vlugtig om die langlenskamera om sy nek te lig en ’n foto van die toneel te steel. Besluit dan daarteen. Dikkes hier voor hom lyk asof sy ’n barshou kan klap en die kamera kos derduisende.

      “Ag, kom nou,” praat hy mooi. “Dis nie asof dit ’n blerrie staatsgeheim is nie. Spaar my die oproep?” Hy vroetel in sy skouersak. “Hierso, vat my Coke.”

      Die vrou kyk om na waar haar kollegas besig is om op te pak. Die feit dat hy aan die einde hier opgedaag het, noudat alles reeds verby is, moet haar gerusstel, want sy neem vinnig die blikkie uit sy hand.

      “Mthembu. Sersant Sollie Mthembu.” Sy draai om en stap weg.

      Terug in die kar haal Whitey sy selfoon uit. Sollie Mthembu, weet hy goed, is die swart speurder met die letsel oor sy wang. Die man was op die hele Bloemfontein se lippe met sy getuienis oor die Onverwacht-moorde. Sy gesig op die voorblad het menige koerantoplaag laat uitverkoop.

      Net toe Whitey sy redakteur wil skakel, verhelder die skerm met ’n inkomende oproep.

      Hy ken die nommer. Kian Louw, die grootbaas van Louw Produksies. Hierdie tyd van die jaar, so naby aan die Plaasjolkonserte, teister hy Oggendpos gewoonlik vir ’n artikel of twee om kaartjieverkope ’n hupstoot te gee.

      “Van Coller, goeiemiddag?” antwoord hy.

      “Whitey!” sing Kian in sy oor.

      Hy byt op sy tong. Waarom bel die man nie vir Anette by reklame nie, wat soek hy by hóm?

      “Yes, Kian. Hoe gaan dit? Alles op dreef vir vanjaar se groot konsertreeks?”

      “Klopdisselboom, my maat! Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat jy in Harrismith is. Het jy geweet Louw Produksies se hoofkantoor is ook hier?”

      Whitey oorweeg dit om die foon dood te druk. Is die man dan werklik so selfgesentreerd dat hy onbewus is van die drama rondom Anneri Woltemade se verdwyning?

      “Natuurlik weet ek waar Louw Produksies se hoofkantoor is. Moet ek kom koffie drink?”

      “Jy ken my,” lag Kian in sy oor. Hard en vals. “My deur staan altyd oop vir die media.”

      Enigiets vir ’n storie, grom Whitey vir homself toe hy aflui.

      Want hy het pas onthou van een spesifieke kunstenaar wat vir vanjaar se Plaasjolkonserte geboek is. Kid Koel. Sy maak haar groot terugkeer om die voorste plek wat sy jare lank in die Afrikaanse stersirkus beklee het weer op te eis.

      Kid Koel was op dwelms. As sy triomfeer en nie meer die geraamte is oor wie Huisgenoot laas jaar met ’n geweeklaag berig het nie, is hier ’n voorblad. Hy sal vir Kian sy pasella publisiteit gee, solank sy eie naam boaan die voorbladberig verskyn.

      Hoofstuk 12

      Nyandi skakel nes Harrismith agter die brug oor die Wilgerivier verdwyn. Sollie is op pad Wilgepark toe om Anneri Woltemade se ouers te gaan sien.

      Sy vrou het ’n lysie vrae: Waar bly hy? Eet hy? Het hy onthou om sy tandeborsel en sokkies in te pak? Deel hy ’n kamer met iemand? Hoekom whatsapp hy nie terug nie?

      “Drink jy genoeg water?” sluit sy die eerste fase van ondervraging af.

      Sollie loer vir homself in die truspieëltjie en toe vir die leë waterbottel op die sitplek langs hom.

      “Natuurlik, Nyandi. Dis flippen warm hier.” Hy gebruik die onderpunt van sy hemp om oor sy sweterige gesig te vee.

      “Ek sê maar net.” Sy klik haar tong. “Ek het ’n artikel oor ontwatering gelees. Baie leersaam. Dis hoekom Naledi net rooibostee gaan drink, sonder suiker.”

      “Ek dog jy gaan borsvoed soos met Entle?”

      “Ek gaan.” Weer die tong wat klik. “Maar sy moet water óók inkry. Ek dink ons moet kyk na een van daai filtreerstelsels wat mens aan die kombuiskraan koppel. Ek het opgelees oor swaar metale en fluoriede wat deesdae in al die dorpe en stede se drinkwater gevind word.”

      Sollie luister met ’n halwe oor. Nes met haar eerste swangerskap lanseer Nyandi haarself tydig en ontydig in beterweterige preke in. Alles goed waaroor sy in die berg bababoeke en -tydskrifte lees. Asof hyself niks van babas


Скачать книгу