Ettie Bierman Keur 7. Ettie Bierman

Читать онлайн книгу.

Ettie Bierman Keur 7 - Ettie Bierman


Скачать книгу
Ek sal nie weer trou nie, sê ek jou nou. Ek het te swaar dae gehad, met die drank en die perde en die flerries …”

      Carina gaan liewer in en maak die deur toe. Arme tant Susie bedoel dit goed, maar selfs vir háár word hul inmengerige buurvrou soms te veel.

      Carina probeer nog ’n hoofstuk deurwerk. Sy weet sy oorreageer. Sy is waarskynlik neuroties, soos haar ma. Maar haar broer het met sy motorfiets verongeluk toe sy in matriek was en sy kan die trauma steeds nie vergeet nie. Die dae by die hospitaal, terwyl Wynand in ’n koma was … Hy kón nie herstel nie. En as ’n wonderwerk sou geskied en hy dalk wel eendag bykom, sou hy verstandelik gestrem wees. Die slag waarmee hy die lamppaal op die sypaadjie getref het, het sy nek gebreek …

      Soos verlede keer, dink Carina weer eerste aan ’n motorongeluk met die Volkswagen – veral nadat tant Susie gesê het Tinus het soos ’n laag vlieënde Boeing weggetrek. Sy oorweeg dit om kafee toe te loop, maar daar is ’n keuse van dosyne en sy weet nie waarheen hy gegaan het nie. Sy dwaal van venster tot venster, hardloop deur toe met elke motor wat verbyry. Sy gooi Tinus se koue koffie uit en maak varses. Wat doen sy as Tinus ook verongeluk? Hy is die enigste kind en sy ouers is nie meer jonk nie. Hoe bring sy die tyding aan sy pa en ma? Hoe troos sy hulle?

      Wie troos háár?

      Teen die tyd dat Tinus uiteindelik die voordeur oopmaak, het Carina haarself in ’n toestand opgewerk en al aan boedels en testamente begin dink. Haar naels is stomp afgekou. Sy huil histeries en sy kan nie normaal dink nie.

      “Waar was jy?!” roep sy uit.

      Tinus is gedaan. Die verkeer was druk, hy kon nie parkeerplek kry nie en die battery het weer gepla. Al wat hy wil doen, is afskakel en ontspan.

      “Hallo, lief.” Hy steek sy arms uit en wil Carina met ’n soen groet, maar sy ruk weg.

      “Waar wás jy?” herhaal sy skril. “Ek is al byna rasend. Tant Susie ook. Waar het jy die hele dag ronfgeflerrie?”

      “Gewát?”

      Carina weet sy is onredelik en dis nie woorde om ligtelik te gebruik nie. Maar sy huil so, sy kan nie helder dink nie. Sy is oorspanne en tant Susie het te veel idees in haar kop ingeprent.

      “Rondgeflerrie. Dink jy net aan jouself? Nie aan Wynand en my en my ouers, of aan jou eie pa en ma nie?”

      Tinus het Wynand geken. Hoewel haar broer ’n jaar ouer was, was hulle op skool vriende. Dit was Wynand wat hom aan sy kleinsus voorgestel het, wat albei goed genoeg geken en geweet het dit sal liefde met die eerste aanblik wees. As hy geleef het, sou Wynand seremoniemeester op hul troue gewees het, peetpa van hul eerste baba … Sy dood was vir Tinus net so ’n skok as vir haar. Hy het begrip vir Carina se nagmerries en haar vrees vir motors en motorfietse.

      Tinus sit sy hande op haar skouers. “Bedaar, Carrie. Ek is terug. Ek is veilig,” sê hy rustig, in ’n poging om haar te kalmeer.

      Sy stoot hom weg. “Drie uur laat! Ek dag jy lê ook iewers op ’n sypaadjie.”

      “Ek is veilig, my lief.”

      “Waar was jy? Tant Susie sê dis hoe mans maak – rondloop, vir tjops en kleingeld.”

      “Vir wát?”

      “Vir kleingeld en kwaadgeld. Vir skei en ander vroumense soek.”

      Tinus is nie van nature ’n geduldige man nie en hulle moenie met hom sukkel as hy moeg en warm en vuil is nie. Hy laat sy arms sak en raak nie weer aan haar nie.

      “Jy is net so neuroties soos jou ma, Carina,” sê hy ergerlik.

      Sý mag haar ma kritiseer, maar nie ander mense nie. Dan is Carina lojaal en op die verdediging. “Los my ma uit. My ma makeer niks nie. Sy is net so normaal soos ek en jy.”

      “Solank die pille hou, ja.”

      “Slaappille en kalmeerpille. Almal gebruik dit. Is dit ’n sonde?”

      “Almal? Jy ook?”

      “Nee. Nog nie. Maar jy sal my na pille dryf. Jy self sal nooit ’n senuweeaanval kry nie, net veroorsaak dat ánder mense ineenstortings kry.”

      Tinus stap kamer toe, pluk sy hemp uit en trek ’n kortbroek aan.

      Carina loop agterna. “Hoekom het jy my nie laat weet jy is veilig nie?”

      “Daar was nie ’n telefoon nie en ek het nie gedink ek sal so lank weg wees nie.”

      “Ek het probeer werk.”

      “Ek is jammer. Jy kan nou jou tyd inhaal, want ek het ook ’n nuwe studiestuk om mee te begin.” Tinus haal sy boeke uit en pak hulle op die eetkamertafel. “Wat eet ons? Weer verbrande kool?” vra hy in ’n poging om vrede te maak.

      “Dis nie nodig om sarkasties te wees nie. Dis Saterdagaand. Sop en toebroodjies.”

      Carina is reg vir hom as hy kla omdat hulle verlede Saterdag dieselfde gehad het, en die vorige Saterdag en die vorige week …

      Maar hy stel blykbaar nie genoeg belang nie of wil nog ’n argument vermy.

      “Dit sal lekker smaak.”

      Carina is nie honger nie. Nadat sy Tinus se kos vir hom geneem het, gaan sit sy in die sitkamer met die manuskrip op haar skoot. Twee by een tafel werk nie. Hulle sal mekaar steur en sukkel om te konsentreer.

      Op skool was Carina se beste bloktyd vroeg in die oggend. Tinus, het sy agtergekom, klim soggens met die verkeerde voet uit die bed. Hy verkies om tot laat snags te werk. Sy het nie die vorige aand nag gesê nie, net stil opgestaan en gaan slaap, om hom nie te steur terwyl hy besig is nie.

      Die volgende oggend is sy klaar met nog twee hoofstukke toe hy vaak en half deur die slaap by die eetkamer instap.

      Carina blaai terug waar Gerrie besluit om ’n treinkaartjie Harare toe te koop. “Het jy ooit duimgegooi?” vra sy.

      “Nee.”

      “Of ’n spaarbussie gehad?”

      Tinus is nog nie mooi wakker nie. “Gaan dit oor die brandstof wat ek gemors het om na Annerie toe te ry? Dit was skaars ’n halfliter. Ons kan dit seker in ’n krisis bekostig.”

      “Nee, dit gaan oor die seun in die storie.” Carina sit botstil. “Na wié?” Selfs in haar eie ore klink haar stem hoog en onnatuurlik. “Na wie toe het jy gery?”

      “Annerie. Annerie van Wyk. Jy weet van haar. Sy doen saam met my haar klerkskap by dieselfde firma.”

      “Ek dag sy is getroud.”

      “Sy is.”

      “Ek dag sy is ouerig.”

      “Sy is jonger as Du Toit.”

      Carina haal ’n slag diep asem. Sy staan op, loop kombuis toe en skakel die ketel aan. Dit gee haar tyd om nie oorhaastig te antwoord nie.

      “Dit was op ’n ingewing dat ek besluit het om gou tot by haar te ry.”

      Carina haal melk en suiker uit. “Wat het jy by Annerie gaan maak?”

      “Gaan vra of sy my taak sal tik.”

      “Hoekom?”

      Carina besef dit was ’n dom vraag en Tinus benut die kans wat sy hom gebied het. “Omdat my eie vrou te besig is met ander mense om haar verpligtinge na te kom.”

      “Die taak moet eers volgende week in wees.”

      “Hierdie week.”

      “Vrydag?”

      “Maandag. Môre.”

      “Ek onthou nou. Handelsreg.” Carina voel skuldig. “Ek sou dit vandag vir jou getik het.”

      “Strafprosesreg. Jy sou nie. Vandat jy by Fokus begin het, onthou jy niks nie.”

      Sy beskuldigings is te na aan die kol. “Verpligtinge?”


Скачать книгу